Allerhande skakerings van rooi en die
belangrike rol wat dit in die natuur speel

Rooi om ’n rede

Skarlakenrooi ibis

BO: Die skarlakenrooi ibis (Eudocimus ruber) van die tropiese Suid-Amerika, asook Trinidad enTobago, is nie om dowe neute so rooi soos, nou ja, die spreekwoordelike kalkoen nie. Maar in sy geval is dit om ’n baie eienaardige rede. Daar word vertel dat die jonges van hierdie spesie grys en wit is, maar namate hulle grootword, verander hul vere na skarlakenrooi omdat hulle rooi krappe in die tropiese moerasse vreet.

Gewsysigde weergawe van ’n oorspronklike foto deur Adrian Pingstone,
wat dit tot openbare besit verklaar het (“released into the public domain”)

 

JY IS NA HIERDIE BLADSY herlei vanaf ’n ander bladsy met groot weergawes van die twee sterk verkleinde dierefoto’s hieronder. As jy weer daarna wil kyk, kan jy hier klik. Daardie groot foto’s is mos werklik iets besonders!

 

Mandril en akkedis... altwee maak van rooi gebruik in die spel van die romantiese liefdeOp die LINKERKANTSTE FOTO’TJIE HIERNAAS is ’n paaiboelie-bobbejaan wat eintlik ’n mandril genoem word. Hy’s ’n dierasie van Guinee en so afskuwelik soos die nag. Trouens, dis nie moeilik om te sien waarom hy ook die woudduiwel genoem word nie. Maar vir die wyfies van sy soort is hy die aantreklikste kêrel op aarde. Want die gewoonlik vaal Adoons verander vir hulle in ’n Adonis wanneer hy die slag verlief raak. 

 

Dan raak sy neus ál rooier en sy wange ál blouer, en flambojante rooi kolle slaan op sy gewrigte en enkels uit. Ook wanneer hy kwaad raak, kry die mandril-mannetjie kleur op kleur.

 

Maar dis nie net Adoons en sy gespuis wat hom met ’n vertoon van rooi en ander kleure gewild maak by die wyfies nie. Van hierdie feit kan ook die bekende en baie gewilde toergids André van Kruger Tours getuig.

 

André, wat self in die wonderskone Blyderivier-canyon woon, het tydens een van sy vele avonture in die Krugerwildtuin en elders die opgesmukte akkedis-mannetjie op die FOTO’TJIE REGS BO afgeneem. Dié flambojante reptiel se bruingekleurde wyfies is maar ’n vaal spulletjie, maar die verwaande meneer pronk alte kleurryk met sy glinstergroen lyf en rooi stert.

 

Rooi is dan ook waaroor die artikel hieronder eintlik handel. Dis immers een van die mees betekenisvolle kleure in die natuur, waar dit bes moontlik ’n veel belangriker rol speel as wat selfs navorsers ooit vantevore vermoed het...

•  Stel jy self belang in ’n uitstappie na een of meer van die wonderwêrelde waarheen toergids André jou kan lei? Indien jy internet-koppeling het, klik hier en kyk na sy portefeulje met talle aanskoulike foto’s. Besoek dan Kruger Tours se webwerf deur hier te klik. Jy kan ook vir André ’n e-pos stuur by hierdie adres: graskop@global.co.za 

V

OLGENS sekere volksgelowe is rooi die kleur van toordery. Vir die kenner van heraldiese wapens dui dit weer op edelmoed en standvastigheid.

As mense veral ’n paar jaar gelede van ’n Rooie gepraat het, het hulle tien teen een ’n Kommunis bedoel. As jy aan iets roois dink, dink jy moontlik aan lipstiffie of selfs aan ’n verleë, bedremmelde bloser met die velkleur van ’n kalkoen.

Rooi ligte of vlae met hul kleur van bloed spel wêreldwyd "gevaar" in enige taal.

Maar die mens kan homself nie die eer toe-eien dat hy die ontdekker van rooi as kommunikasiemiddel was nie.

Blomme spreek immers reeds van die vroegste tye in rooi en ander ryk kleure tot die bye van die veld. Vaal geveerde wyfievoëls word tot in hul wensbeentjies geroer deur die rasende rooi dosse van die pronkende mannetjies.

Dis meestal die insekte-familie—sekere sprinkane, kewers en vlinders—wat rooi as afskrikmiddel gebruik. Vyande moet met een kyk kan sien of hul prooi ’n smaaklike of ’n slegte happie gaan wees, en só is baie van die mooi kokette van ons wêreld inderdaad besig om te adverteer: Moenie my vreet nie, ek is giftig.

Ook sekere paddas, spinnekoppe en selfs myte gebruik dié "rooilig"-waarskuwing om hul oneetbaarheid te verkondig.

(Daar is natuurlik ook insekte wat glad nie giftig is nie, maar die giftiges naboots en, om dit so te stel, agter hul opvallende kleure skuil. Roofvyande vermy hulle ook omdat hulle hulle as gevaarlike of bitter kos beskou, al is hulle nie.)

Skel pienk kaktusblomme... ’n stralende lokaas vir bye en ander insekte

BO: Kaktusblomme... ’n stralende, skel pienk lokaas vir bye en ander insekte wat vir die bestuiwing moet sorg. Ook skel pienk is natuurlik 'n skakering van rooi.

Foto: Jon Nickles / USFWS

Rooi en giftig! ’n Gifpylpadda in die reënwoud van Costa RicaEk is rooi—bly weg!
  
LINKS: Rooi en giftig! ’n Gifpylpadda in die reënwoud van Costa Rica. Byna alle paddas het ’n titseljie gif in hul velle. By die meeste soorte is die uitskeidings te swak om enige uitwerking op groot diere of mense te hê. Maar een groep—die gifpylpaddas van Suid- en Sentraal-Amerika—skei dodelike gifstowwe af. Hul velle bevat ’n mengsel van alkoloïde verbindings, wat jou kan doodmaak as jy net aan die paddas raak. Indiaanse jagters het hierdie giftigheid benut deur die uitskeidings van sulke paddas vooraan hul pyle aan te bring, vandaar die benaming gifpylpaddas. Met sy rooi mondering waarsku die paddatjie op hierdie foto dan ook voornemende aanvallers om hul pote, bekke of snawels tuis te hou... anders gaan dit hulle berou.

Foto: Jim Ross / NASA

Rooi en swart kom dikwels saam voor. Aangesien swart so doeltreffend met rooi kontrasteer, word geglo dat dié kombinasie die aandag oombliklik op die rooi gevaar vestig.

’n Liewenheersbesie (“lady bird”) in rooi en swartREGS: ’n Liewenheersbesie (“lady bird”) in rooi en swart.

Foto: PDPhoto.org

In die voëlwêreld dien die samevoeging van rooi en swart vere egter weer ’n heeltemal ander doel. Tropiese voëls trek miskien die aandag in ’n troeteldierwinkel, maar hul bonte veelkleurigheid is ’n volmaakte vermomming in die reënwoud waar die ligspatsels deur die blaredak sif.

Rooi (en natuurlik allerhande ander opvallende kleure) kom verder oorvloedig voor onder die visse op verskillende plekke in die see.

’n Rooi vis in die koraalREGS: ’n Ligrooi vis in die koraal.

Foto: NOAA

Dit is belangrik dat visse hul eie soort in die bonte menigte moet kan uitken, en hierin speel kleure en patrone stellig ’n groot rol.

By baie voël- en ander diersoorte is rooi die mannetjies se minnetaal (net soos die menseknaap wat na meisies begin loer, wie se hakskene konsuis sou rooi word!). In die broeiseisoen blaas die fregatvoëlmannetjie sy keelsak op en dit word skel rooi.

Maar geen windmaker-vryer kan ooit so opvallend wees as die mandril-mannetjie met sy rooi neus nie. Hierdie lelike bobbejaan van Guinee kry kleur op kleur wanneer hy kwaad of verlief raak. Dan raak sy neus ál rooier en sy wange ál blouer, en flambojante rooi kolle slaan op sy gewrigte en enkels uit.

Praat van ’n oulap se rooi wat mooi maak... maar ook net vir sy wyfies wat totaal deur die liefde verblind word!  

 …en redeloos wit

VIR die diere wat hierbo genoem is, is rooi baie belangrik. Dié wat as wit fratse in die wêreld kom, het dit egter baie moeilik in die lewe daarbuite. 

’n Albino-ystervarkLINKS: ’n Albino-ystervark.

Foto: R. Robinson / US NPS

Roofdiere sien hulle makliker raak, en daarby het dié pigmentlose diere brose pienk en blou oë wat baie gevoelig vir skerp lig is. Mutasies soos wit leeus en springbokke is wel aardige attraksies in dieretuine, maar soos die spreekwoordelike wit olifant wat geen nut het nie, is albino-diere die jammerlike weggooikinders van Moeder Natuur...

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad