|
DIE
veelbewoë Robbeneiland, wat so ’n kardinale rol gespeel het in
die swart bevrydingstryd in Suid-Afrika, is ’n eilandjie in
Tafelbaai. Dit lê sowat 8 kilometer van Kaapstad en is net
sowat 3,5 km lank en 2 km breed. Die naam is afgelei van die
talle robbe (robben in Nederlands) wat in vervloeë dae
daar voorgekom het.
Maar
sy geskiedenis strek veel verder terug as die Nederlandse era.
Geologies was Robbeneiland in die gryse verlede ’n deel van
die Afrika-vasteland. Mense het baie duisende jare gelede reeds
daar gewoon, toe die seekanaal tussen die eiland en die Kaap nog
nie bestaan het nie. ’n Mens kan jou indink hoe die antieke
Afrika-bewoners droogvoets van Tafelberg na Robbeneiland sou kon
geloop het.
Die
Nederlanders was ook nie die eerste Europeërs op die eiland
nie. Portugese het hoeka reeds daar aangedoen voordat die
Engelse admiraal Raymond dit in 1591 besoek het. Eers daarna, in
1601, het die Nederlandse seevaarder Joris
van Spilbergen gevolg. Dit was etlike dekades voordat Jan van
Riebeeck in 1652 in die Kaap voet aan wal gesit het.
Met
die koms van die Europese setlaars is gepoog om ’n rob- en
visbedryf op Robbeneiland te ontwikkel. Omdat die eiland so
afgesonderd is, is dit egter gebruik as ’n plek waarheen
ongewenste mense verban kon word—ongeneeslike siekes, soos
melaatses en kranksinniges (van 1846 tot 1931), maar ook die
Khoikhoi-leier Herry so vroeg as 1658 weens beweerde
veediefstal.
Van
Riebeeck het selfs sy veekuddes na die eiland "verban"
om hulle teen diefstal te vrywaar. Die kuddes het mooi op die
eiland aangeteel totdat ’n veesiekte uitgebreek het.
’n
Latere politieke gevangene op Robbeneiland was die Xhosa-leier
en
-profeet Makana. Sy verhaal is interessant, des te meer omdat
dit nie meer so bekend is nie.
Makana
is teen die einde van die 1700's gebore en was van betreklik lae
stand, maar deur sy persoonlikheid en sy leerstellings (hy was
nie amptelik ’n Christen nie, dog het die bestaan van God erken)
het hy dit reggekry om groot gesag oor die Xhosas uit te oefen.
Die blankes het hom Links genoem, omdat hy linkshandig was.
Hy
het in 1819 gehelp om die aanval op Grahamstad aan te voer.
Nadat hy verslaan is, het hy hom aan landdros (later sir
Andries) Stockenstroom oorgegee en is hy vir internering na
Robbeneiland gestuur. In 1820 het hy probeer ontsnap, maar in
die see verdrink.
Sy
invloed, word vertel, was so sterk dat die Xhosas meer as vyftig
jaar ná sy verdrinking geweier het om te glo dat hy werklik
dood was.
Robbeneiland
het later ’n sleutelposisie beklee in die verdediging van
Kaapstad en groot installasies is in die Tweede Wêreldoorlog
daar gevestig. Weens sy slegte rekord vir strandings is ’n ligtoring op die eiland opgerig.
Ná
die oorlog het die eiland as ’n opleidingsentrum vir die
Suid-Afrikaanse Vloot gedien. ’n Gereelde bootdiens is tussen
Kaapstad en Robbeneiland ingestel, en besoekers kon permitte kry
om die eiland te besigtig.
Maar
is 1961 is besluit om die eiland onder die jurisdiksie van die
Departement van Gevangenisse te plaas. Die eiland was daarna
dekades lank nie meer vir die publiek toeganklik nie en het ’n
beskermde seegrens van sowat 1,5 km gehad.
Dit
is hierdie plek van afsondering waarheen oud-president Nelson
Mandela in die jare sestig saam met andere verban sou word.
Maar
hoe het hierdie verbanning eintlik gebeur?
In
Junie en Julie 1963 is sekere toerusting gevind in Rivonia, die
deftige noordelike voorstad van Johannesburg. Die toerusting was
bestem vir om in ’n burgeroorlog in Suid-Afrika gebruik te word.
In wat as die Rivonia-verhoor bekend sou staan, is tien mans
aangekla.
Daar
was drie blankes—Denis
Goldberg, Lionel Bernstein en James Kantor—en een Indiër, Ahmed Mohamed Kathrada. Die ses
swartmense was Nelson Mandela, Walter Sisulu, Govan Mbeki,
Raymond Mhlaba, Elias Molsoaledi en Andrew Mhlangeni. Die saak
is deur regter Quartus de Wet verhoor.
Altesaam
173 getuies is deur die staat geroep en ses van die beskuldigdes
het onder eed getuienis afgelê. Mandela, Sisulu, Goldberg,
Mbeki, Molsoaledi en Mhlangeni het skuld erken. Mandela is in
Junie 1964 lewenslange gevangenisstraf opgelê. Die ander,
buiten Kantor wat ontslaan is, het ligter vonnisse gekry.
Tot
sover die Rivonia-verhoor. Mnr. Mandela en andere se verblyf op
Robbeneiland, waar hy self klippe moes kap in ’n kalkmyn,
sal in die geskiedenisboeke aangeteken staan as ’n tragedie in
die Suid-Afrikaanse geskiedenis, uit watter hoek ’n mens ook
al daarna kyk. Mnr. Mandela is eers in 1982 van Robbeneiland na
die Pollsmoor-gevangenis oorgeplaas en in 1990 vrygelaat.
Mnr.
Mandela ly blykbaar steeds aan die uitwerking wat die wit
kalksteen op sy visie gehad het en word vandag nog deur
flitsende kameraligte verblind.
Vir die teenstanders van
apartheid het Robbeneiland die simbool geword van die triomf van
die menslike gees oor enorme lyding en ontberings. In die
buiteland was daar ook groot meelewing met die eiland se
politieke gevangenes.
Mnr.
Govan Mbeki, vader van pres. Thabo Mbeki, is in 1977, terwyl hy
nog op Robbeneiland was, met ’n eredoktersgraad in die sosiale
wetenskappe vereer. Dit is deur die Universiteit van Amsterdam
aan hom toegeken vir sy boek The Peasants’ Revolt, wat
reeds in 1964 in Engeland uitgegee maar in Suid-Afrika verbied
is.
Sedert 1997
is Robbeneiland met sy gevangenis ’n museum. Die eiland is nie
langer vir die publiek gesluit nie, en bote vol besoekers vaar
gereeld soontoe vanuit die Waterfront in Kaapstad. Opvoedkundige
programme vir skole, maar ook volwassenes, word deur die museum
aangebied, terwyl navorsing oor die eiland voortgesit word.
Baie is ook
reeds gedoen om die wildlewe van toeka se dae te herstel, met
baie pikkewyne en nog wat, en die noordelike dele is tot ’n voëlreservaat
verklaar.
En
die klippe wat uit Robbeneiland se steengroewe gebreek is, pryk
steeds in ’n gebou soos die ou Kasteel in die Kaap. Op die
eiland het gevangenes in vervloeë dae ook skulpe op die strande
versamel en gebrand om kalk aan die nedersetting op die
vasteland te verskaf.
Maar
dié is sommer ’n nietigheid. Robbeneiland se eintlike bydrae
tot die Suid-Afrikaanse geskiedenis is veel groter as wat jou
sou verwag van ’n rotsagtige lappie grond in die waai van die
baai in die winderige Kaap.
BO:
Robbeneiland met Tafelberg en die Kaap
op die agtergrond.
Kopiereg: SOUTH AFRICAN TOURISM / SUID-AFRIKAANSE TOERISME

BO:
En ver, ver suid van Robbeneiland gaap ’n rob in
sy yswêreld op Antarktika... so asof hy vere voel vir
die feit dat daar êrens ’n beroemde eiland is wat
na sy gespuis genoem is! Foto: Josh Landis
/ US National Science Foundation |