Risikogedrag van tieners by die gebruik van verdowingsmiddelsDwelm-dwaasheid |
|
ISIKOGEDRAG is gedrag wat jou blootstel aan ’n gevaar of gevare wat ’n slegte gevolg of gevolge kan hê. Een voorbeeld is rook, wat jou aan die gevaar blootstel om kanker te kry. As ’n mens oorgewig is, loop jy weer die gevaar om aan ’n hartaanval te sterf. Indien jy die wet oortree, skep jy die moontlikheid dat jy in die tronk kan beland, ensovoorts.Een van die kategorieë van risikogedrag by tieners wat deur navorsers aangespreek word, handel oor dié soort gedrag wat aangestig word deur gebruik van onwettige dwelms en ander verdowingsmiddels.Baie adolessente weet presies waaroor dit gaan. Soos ’n maatskaplike werker dit tewens al in die koerant Die Burger met verwysing na ’n sekere Kaapse woonbuurt gestel het: Daar is jong mense “wat dwelms en alkohol misbruik en nie belang stel in die beskikbare werk nie omdat dit nie is wat hulle wil doen nie”.Voorbeelde van gevaarlike gedrag wat op dwelmmisbruik kan volg, is onder meer:· Die gebruik van fisieke geweld as gevolg van afgestompte gevoelens van aanspreeklikheid. Die bedwelmde sal byvoorbeeld sy ouers of ander gesinslede te lyf gaan, selfs vermoor en/of gruwelik vermink, al is dit hoegenaamd nie in sy aard om so gewelddadig te wees nie.· Seksuele vergrype. Verkragting kan volg wanneer die persoon so irrasioneel raak dat hy nie meer weet waar fatsoenlikheid ophou en dierlikheid begin nie.· Die persoon stel homself vir die oomblik bloot aan ernstige of selfs lewensbedreigende gevare. Onder die invloed van dwelms kan hy hom verbeel dat hy vlerke het en van ’n hoë gebou afspring. Of in die waan dat hy “onuitwisbaar” is, kan hy doodluiters voor ’n aankomende trein inloop.· Die dwelmgebruiker stel hom op die langer termyn bloot aan onomkeerde skade aan sy brein en gestel. Al hoe meer skokfeite raak byvoorbeeld bekend oor die aaklige uitwerking wat die dwelm tik (metamfetamien) op verslaafdes kan hê—soos dat hul tande naderhand uit hul monde kan val, selfs al eet hulle net ’n eenvoudige ding soos ’n toebroodjie. Tik kan boonop nie net die sentrale senustelsel of die hart onherstelbaar beskadig nie maar ook die brein.Iemand wat die uitwerking van hierdie dwelm op die menslike psige bestudeer het, vertel: “Die deel van jou brein wat genietinge ervaar, is afgestomp. Jy kan beswaarlik nog genot in enigiets ervaar. Jy geniet nie meer jou gunsteling-kos nie. ’n Middag saam met jou vriende is geen plesier meer nie.”MAAR selfs al word adolessente duisend maal gewys op die ontsettende gevare van dwelms, neem die gebruik daarvan nie af nie. Waarom sou dit so wees? Hoekom is jong mense soms willens en wetens op selfvernietiging ingestel? Of besef hulle eenvoudig nie dat jy jou vingers lelik kan verbrand wanneer jy met vuur speel nie?’n Voormalige polisievrou wat vir die teen-dwelmeenheid gewerk het, het ook die verskriklike einde geken waarop dwelmverslawing meermale kan afstuur. Hieroor het sy haar op ’n keer só aan ’n verslaggewer van Die Burger uitgelaat: “Wat vir my die ergste was, is wanneer ek uitgeroep is na ’n toneel waar ’n kind dood lê van dwelms, miskien ’n oordosis of waar dwelms gif in gehad het. Dit het my gepla en pla my tot vandag toe dat kinders nie kan raaksien wat dwelms aan hulle doen nie.”Hoe ook al, ’n mens kan ’n paar onderliggende faktore identifiseer oor waarom tieners by dwelmgebruik betrokke raak:· Groepsdruk. Dit is ’n inherente deel van ons mens-wees dat ons tot ons “trop” wil behoort. Om uitgestoot te word, só word gemeen, sal tot ’n vereensaming lei waarmee ons eenvoudig nie sal kan saamlewe nie. Dit geld selfs meer so vir tieners wat nog besig is om op hierdie aarde vir hulle ’n eie plekkie in die groot see van ondermaanse siele te vind. As my maats ’n ding doen, moet ek bereid wees om die seestroom te volg, anders word ek op die strand uitgespoel en alleen agtergelaat. Dit is dikwels die gevoel.· Huislike omstandighede. Die adolessent wat tuis ’n gebrek aan liefde het, kan maklik na iets buite die huislike milieu soek om die gemis te probeer vergoed. Hy kan rebelleer en “eksperimenteer”, en die eerste kennismaking met ’n dwelm kan so ’n euforiese ervaring wees dat veral die diep ongelukkige jong tiener dit as ’n soort “uitvlug na die hemel” beleef. Die tragedie is dat die gewaande hemel op die ou end in ’n verskriklike hel ontaard.· Bittere nooddruf en armoede. Waar groot gebrek, ontberinge en miskien selfs ellende ondervind word, kan die sin vir waardes in die gedurige bestaanstryd vervaag. En die arm tiener wat met dwelms deurmekaar raak, het stellig nie die geld om daarvoor te betaal nie, maar hy sal tot bedrieg, steel of roof net om elke keer sy “fix” te kry.IETS van die geweldige impak wat die gedrag van die dwelmslaaf op lewenskwaliteit het, moet reeds uit die voorafgaande blyk. Een waarnemer sê: “Dit is inderdaad ’n toestand om van te huil, sonder dat ’n mens hoegenaamd met hierdie stelling probeer om emosioneel te klink. Voor jou staan ’n jong mens van wie jou sou verwag om in die fleur van sy of haar lewe te wees, maar in die plek daarvan is daar ’n liggaamlike en geestelike wrak.”Dwelms is chemikalieë wat dele van die brein aktiveer wat vir heeltemal ander doeleindes ontwerp is, naamlik om ’n gevoel van beloning te verskaf vir gewone behoeftes wat op gesonde maniere bevredig is. Die brein het weinig middele om ’n mens teen hierdie chemiese bedrog te verweer. Dan verfomfaai die dwelm boonop daardie dele van die brein wat te doen het met selfbeheersing, oordeel, emosionele reëling, motivering, geheue en die vermoë om te leer. En of die dwelmslaaf nou hopeloos verknog is aan tik, heroïen, kokaïen of wat ook al, die uitwerking op die brein bly dieselfde: daar is ’n onbeheerbare versugting om die dwelm te gebruik,’n drang wat vir jou belangriker is enigiets anders, insluitende jou gesin, vriende, skoolwerk, selfs jou eie gesondheid en geluk.
Illustrasie: National Institute of Drug Abuse / U.S. National Institutes of Health Die fisieke impak wat dwelms op die brein het sover dit aggressiewe, gewelddadige en ander soorte gedrag aangaan, verskil weliswaar van geval tot geval en van dwelm tot dwelm. Tog is daar sekere algemene liggaamlike tekens te bespeur by die tiener wat met dwelms deurmekaar is—dinge wat sy lewenskwaliteit aanmerklik benadeel. Hy kan: · stadig of waggelend loop en ’n swak fisieke koördinasie hê; · sy oë kan rooi en waterig wees, sy handpalms koud en sweterig, sy hande of kop of voete bewend; · sy gesig kan opgeswel wees, opmerklik rooi of opmerklik bleek; · hy kan baie naar wees, vomeer, baie sweet, baie hoes of snuif. Dit spreek eintlik vanself dat sulke simptome met volhehoue dwelmgebruik sal vererger tot ’n punt waar hospitalisasie noodsaaklik sal wees of die gebruiker selfs kan sterf. Maar dit hou natuurlik nie by die fisieke op nie. Psigologies ontaard die dwelmgebruiker só dat hy selfs ’n hele persoonlikheidverandering kan ondergaan. Sy persoonlikheidsteurnisse kan verskillende vorms aanneem, soos:
Sosiaal raak die dwelmgebruiker wesenlik ’n kluisenaar in sy eie huis, iemand wat geen belangstelling meer toon in sy gesin en die dinge van sy gesin nie. Sy enigste vriende, as hulle enigsins ware vriende genoem kan word, is ander dwelmgebruikers. Hy vermy al sy ou vriende wat geen deel het aan die dwelmkultuur nie. Sy sosiale lewe ly ook onder sy geheimsinnige en agterdogtige gedrag. Boonop kan hy nou chronies oneerlik wees, tot die punt waar hy geld en goedere van sy ouers en andere steel. Op skool raak hy ’n nikswerd, wat ook gereeld van klasse wegbly of laat by die skool opdaag. Emosioneel is hy in ’n maalkolk. Hy raak in sy gees so verpot dat niks anders meer vir hom saak maak as waar hy sy volgende dwelmdosis gaan kry nie. Hy lag wanneer hy moet huil en huil wanneer hy moet lag. Goed en kwaad, haat en liefde, eer en oneer word ’n blote mengelmoes van abstraksies in ’n psige wat nie meer die relevansie tussen oorsaak en gevolg behoorlik kan snap nie. Etiese standaarde het verbrokkel. Die sedelike norme waarmee die persoon grootgeword het en wat voorheen vir hom belangrik en sy lewe gerig is, bestaan omtrent nie meer vir hom nie. En religieus is hy óf ’n godloënaar of sy godsdiensbesef is só verwring om sy dwelmleefstyl te pas dat weinig mense buiten miskien sy dwelmvriende sy sienswyses deel.
NANCY REAGAN was die vrou van Ronald Reagan, gewese president van Amerika. In 1982 het sy ’n skool in Oakland, Kalifornië, besoek toe ’n skoolmeisie aan haar vra wat sy moet doen as iemand vir haar dwelmmiddels aanbied. Mev. Reagan se antwoord was: “Sê net nee.” Spoedig is Sê-net-nee-klubs wyd en syd in skole in die VSA gestig en jong mense het hulle saam daartoe verbind om nie met dwelms te ekperimenteer nie. Daar is getuienis wat daarop dui dat dwelmgebruik en -misbruik beduidend afgeneem het in die tydperk toe Reagan die president was.
Foto: White House Photographic Office / U.S. National Archives and Records Administration (public domain) Tieners wat onder groepsdruk verkeer, sal nietemin weet hoe moeilik dit kan wees om stroom op te beur as jou maats neig om met die stroom saam te swem. Hoe sê jy dan “nee” sonder om ’n uitgeworpene te word? “Dis juis beter om uit ’n groep gewerp te word wat in elk geval op die pad van selfvernietiging is,” vertel ’n kundige. “Staan jou man en weier om iemand toe te laat om jou lewe só te reël dat dit op die dood en verderf afstuur. Kry vir jou ander maats—dié wat jou waardes deel. Hulle sal maar te gewillig wees om jou in hul geledere op te neem as hul hoor hoe jy jou teen die groepsdruk van die selfvernietigende spul verset het. Sê nee vir dwelms—sê ja vir die lewe.” Toe tieners eenkeer in ’n opname gevra is hoekom hulle in die eerste plek dwelms begin gebruik het, het 55% van hulle gesê dit was weens druk van hul vriende. Hulle wou “cool” en gewild wees. Dwelmhandelaars weet maar alte goed dat tieners só dink, volgens die publikasie The Truth About Drugs, uitgegee deur die Foundation For A Drug-Free World. Die handelaar sal jou nader asof hy jou vriend is en aanbied om jou “uit te help”. Die dwelm sal jou konsuis help om “in te skakel” of “jou cool laat word”. Dwelmhandelaars, wat net belang stel in die profyt wat hulle maak, sal enigiets sê net om jou te oorreed om hul dwelms te koop. Hulle sal jou vertel dat “kokaïen jou die siel van die partytjie sal maak” en dat “heroïen ’n warm kombers is”. As jy tik gebruik, “gaan jy meisies by die dosyne hê”. Hulle gee geen flenter om of die dwelms jou lewe gaan ruïneer nie, solank hulle net betaal word. Al waarin hulle belang stel, is geld. Voormalige handelaars het al erken dat hulle hul kopers as “pionne in ’n skaakspel” beskou het. En soos iemand op ’n keer grafies in Die Burger geskryf het: “Dwelmsmouse is luise wat op ons kinders teer.” Maar ons moet sterk staan en botweg weier om onderdanig te wees aan ’n luis. Sê nee vir dwelms. Sê net néé. |
|
• Op ’n webwerf behartig deur tieners (http://www.teenink.com/) skryf ’n meisie hierdie roerende briefie (vertaling): “Ek is besig om te kyk hoe my eerste liefde stadig in ’n hel van dwelms wegsink. Ek het geen benul wat hy gebruik nie en ek hoop ek vind nooit uit nie. Maar hierdie liewe, goeie kind is nou ’n jeugmisdadiger. Hy het my altyd vertel hoe baie hy my liefhet. Nou hoor ek slegs van sy lang benewelde ylinge op Facebook oor hoe goor die lewe is. Asseblief, asseblief, ek kan hom nie meer red nie, maar as hierdie skrywe iemand kan red en oorreed om NOOIT aan dwelms te raak nie en as dit die een of ander meisie die verdriet van ’n gebroke hart weens dwelms kan spaar, het ek my deel gedoen. Asseblief.” |
|