Familieresepte—stuur ook joune onverwyld vir Mieliestronk sodat dit nie in die vergetelheid versink nie!

Soetsuurdeeg: wat
’n wonderlike brood!

Patricia Loxton en haar soetsuurdeegbrood

Met Patricia Loxton (foto BO) van die Strand se staatmaker-gebak begin ons hier met ’n nuwe rubriek vir almal wat ma en ouma se lekker kos met ’n passie waardeer...

“D

AAR’S ’n lekkerny in ons land wat ek doodbang is vir die volk verlore gaan raak as mens dit nie iewers aan die groot klok hang nie. En ek weet van geen beter klok as ‘Mieliestronk’ om dit te doen nie.”

Só begin die brief wat ons van Earle J. Loxton van die Strand ontvang het—en ons laat besluit het om ’n spesiale kampie op die Mieliestronk-werf juis vir tradisionele staatmaker-resepte in te ruim.

Het jy self ’n wonderlike familieresep wat jy hartstogtelik glo vir die nageslag behoue moet bly? Ons sal dit met graagte hier plaas—des te meer nog as jy vir ons ’n duidelike foto saamstuur van jou of ’n geliefde wat by die gereg afgeneem is. Wie weet, dalk publiseer ons nog later selfs ’n CD-ROM van al die tradisionele heerlikhede om doodseker te maak dat hulle nie in die vergetelheid versink nie!

Stuur dus jou eie bydrae onverwyld na dugeot (BY) iafrica.com .

Intussen skop ons hier af met die resep van Earle Loxton se vrou, Patricia.

Earle, ’n oud-stadsklerk, se geesdrif oor haar wonderlike gebak ken haas geen perke nie. Hy skryf verder:

“Ek het as ’t ware met soetsuurdeegbrood en -beskuit grootgeword en ná my ma Connie se dood was daar ’n langerige tyd dat ek daarsonder moes klaarkom. Toe trou ek ’n wonderlike vrou wie se ewe wonderlike ma dit ook gebak het en dit was net ’n kwessie van tyd toe bak vroulief dit ook met ’n passie om die mooi tradisie voort te sit.

“Kyk, mens, dis ’n meneerbrood hierdie waarvoor nie almal ’n smaak ontwikkel nie, maar wrintig, as jy hom eers agtergekom het, smaak ander brood na strooi, om dit liggies te stel. Geen ander brood hou ook so goed nie. Trouens, hoe ouer hoe lekkerder, soos goeie rooi wyn. Op Kenhardt in die Noord-Kaap het die NG-kerkraad een tyd niks anders by die Nagmaal gebruik nie en dit so ’n ware feesmaalgeleentheid gemaak!"

Hier volg Earle en sy Patricia se familieresep:

Om en by 15:00 op die dag voor bakdag:

Gooi 1 teelepel sout, 3 t suiker en een kleinerige fyn gerasperde aartappel in ’n 3 tot 4 liter-(verkieslik)-emaljekastrol of emmer met digpassende deksel. Gooi hieroor 5 koppies kookwater en laat afkoel totdat dit nie meer stoom afgee nie.

Gooi nou hieroor versigtig laag vir laag, volgraan en brood- of koekmeel (3 k volgraan, 1½ k brood- of koekmeel). Sit die deksel op en plaas die houer in ’n hooikis. Hierin moet dit heelnag lekker snoesig broei.

Om en by 06:00 die volgende oggend:

Die “suurdeeg” moet nou skuimerig wees. Roer deur en voeg nog 2½ k volgraan en 1½ k koek- of broodmeel by. Dit sal nou die konsistensie van stywe hawermoutpap hê. Plaas die kastrol./.emmer met deksel en al in ’n vlak bakpan in ’n louerige oond (verhit tot so 70º C en skakel af). Laat staan in oond totdat die deksel begin lig.

Meng intussen 2.5 kg wit (brood- of koek-)meel en die res van die pak volgraan in jou knieskottel. Voeg by 8 t fynsout. Maak ’n holte in die meel en gooi die skuimende suurdeeg daarin. Knie met louwater en 250 g Stork Bake-margarien tot ’n redelik stywerige deeg.

As jy boerbeskuit wil bak, knie nog 250 g margarien in en maak dan balletjies wat halfpad so hoog soos die broodpan is. Smeer die hande deurentyd met margarien. Smeer margarien bo-oor en maak toe met plastieksakke en afdroogdoeke bo-op die plastiek. Plaas in lou (± 70º C) oond (afgeskakel). Laat rys tot panne amper vol is, haal uit en verhit oond tot 180º C. Smeer ’n mengsel van 1 eier en ’n bietjie melk bo-op die deeg net voordat die panne in die verhitte oond geplaas word. Bak vir 1 uur tot 1 uur 10 min.

Hierdie bestandele sal ongeveer 6 middelslag-brode lewer en kan gehalveer word indien verkies, maar bak altyd genoeg sodat die bure ook in die vreugde kan deel!

Patricia se soetsuurdeegbrood

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad