|
S jy deur
enige internasionale reistydskrif blaai, sal tien teen een die aanloklikste foto’s sien van Franse kastele wat
in gragte vol helder water weerkaats word. En as ’n mens Frankryk
werklik besoek en in dié land rustig van kasteel
tot kasteel reis, kan jy des te makliker aan die mite van die
goeie oue tyd glo.
Tog het
die konings vir wie dié
manjifieke bouwerke gebou is en die mense wat daaraan
gearbei het, die kasteellewe beslis nie altyd so vreedsaam
gevind nie. Die kastele is naamlik aanvanklik
opgerig om vyande uit te hou; die primêre doel was
nie om luukse-woonplekke te bou nie.
Maar namate die gehate feodale stelsel van die
Middeleeue sy houvas op die landvolk verloor het, het die
kasteel met sy verskansings en uitkykpunte wel
geleidelik in weelderige landgoedere en jagtuistes
van die adellikes verander. Voorbeelde van sulke
Renaissance-kastele is dié by Chambord,
Fontainebleau, Chenonceaux en Azay-le-Rideau, wat
almal in die 1500’s gebou is.
Dit lyk of die Italiaanse argitektuur van die
Renaissance nie so invloedryk soos die ander kunste
was nie. Frankryk, wat nouer bande as die res van
Europa met Italië gehad het, was die eerste land wat
die Renaissance-styl toegepas het.
Ná die Franse invalle in Italië het die Franse
konings nie alleen kunstenaars saam met hulle oor
die Alpe teruggebring nie, maar ook ’n nuwe smaak
laat posvat vir die luukse, die elegante en die
skone.
In 1546 het koning François I (of Frans I) byvoorbeeld die ou Gotiese
koninklike kasteel die Louvre deur ’n baie groter,
deftiger een laat vervang. Die ou deel van dié
kasteel is een van die pragtigste voorbeelde van die
noordelike Renaissance-argitektuur. Dit is ontwerp
deur Pierre Lescot en sterk beïnvloed deur Bramante,
oorspronklike argitek van die Sint Pieterskerk in
Rome.

BO: Die
Lescot-vleuel van die Palais du Louvre.
Foto deur
Beckstet,
wat dit
op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die
wêreldwye web uitgeplaas het en gebruik vergun
ingevolge die
Creative Commons
Attribution ShareAlike 3.0-lisensie,
waarkragtens deling en afgeleide werke vergun
word op voorwaarde dat behoorlike erkenning
gegee word en dit slegs versprei word ingevolge
’n lisensie identies aan hierdie een.
Amptelike lisensie
Ander Europese lande het ook in die vroeë 1500’s die
Italiaanse style nagevolg, maar gou eie kenmerkende
ontwerpe ontwikkel.
Kom kuier saam by ’n klompie van die mooiste
Renaissance-geboue buite Italië.

BO:
’n Sprokiestoneel van die Château de Chambord
met sy grag (breë sloot water).
Foto
verkry van die
webwerf
van Travellingboard.net, wat verklaar dat
aangeneem word dat dit openbare besit is (“who states
that is considered to be in the public domain”)
Chambord
DIE
Château de Chambord
(kyk ook foto bo-aan
hierdie artikel) is ’n onverbeterlike
voorbeeld van die Franse Renaissance-styl, ’n
voortreflike kombinasie van die waagsaamste
Italiaanse idees geanker in ’n tradisioneel Franse
raamwerk.
Dit was eers ’n jaghuis, maar koning François I het dit
tussen 1519 en 1547 heeltemal laat oorbou as ’n
monument van sy glorieryke heerskappy. Mense wonder
dikwels of Leonardo da Vinci deel aan die ontwerp
gehad het. Die Franse koning het immers die
groot Italiaanse Renaissance-kunstenaar in
dié se later jare na sy hof genooi.
Dit is bekend dat die koning vir Leonardo gevra het
om planne op te trek vir ’n deftige koninklike
kasteel by Romorantin, ’n streek wat van wild
gewemel het. In sy planne vir dié plek het Leonardo
twee nuwe, ingewikkelde soort trappe aangedui.
Altwee is nou in Chambord te sien—dit is dus
heeltemal moontlik dat Leonardo met die ontwerp van
Chambord gemoeid was.
REGS:
Spiraaltrap,
Château de Chambord.
Foto deur
Christophe Finot,
wat ’n groter
weergawe op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die
wêreldwye web gelisensieer het ingevolge die
Creative Commons
Attribution ShareAlike 3.0-lisensie. Deling en
afgeleide werke word vergun mits behoorlike
erkenning gegee en dit slegs versprei word ingevolge
’n lisensie soortgelyk aan hierdie een.
Amptelike lisensie
Dié kasteel was op sy dag só ’n sensasie dat die
regent van Nederland met alle mag die planne wou
bekom, maar vergeefs. Die Britse koning Henry VIII
(Hendrik VIII vir dié wat wil volhard met
verdietsing van Engelse koninklike name!)
het die boustyl egter fyn afgekyk, of dalk die
planne in die hande gekry, en sy eie weergawe gebou:
kasteel Non Such.
Chambord se hoofgebou met sy 440 kamers lê in ’n
reghoekige binnehof en word deur ’n grag beskerm.
Die gebou word die donjon genoem, en is soortgelyk
aan die hooftoring van die Middeleeuse Engelse
kasteel.
Van ’n afstand lyk Chambord soos ’n prent uit ’n
feëverhaal met sy torings en spitsdakke, galerye,
pilare, friese (versierde horisontale stroke bo-aan
mure) en kandelabers—tereg die beroemdste kasteel
aan die oewer van die Loire.

BO:
Die Banqueting House, Whitehall, Londen.
Foto deur
ChrisO,
wat dit op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die
wêreldwye web uitgeplaas het en gebruik vergun
ingevolge die
Creative Commons
Attribution ShareAlike 3.0-lisensie,
waarkragtens deling en afgeleide werke vergun
word op voorwaarde dat behoorlike erkenning
gegee word en dit slegs versprei word ingevolge
’n lisensie identies aan hierdie een.
Amptelike lisensie
Banqueting House
EEN van die mooiste voorbeelde van die
Renaissance-argitektuur in Engeland is die beroemde
Banqueting House, deel van Whitehall-paleis in
Londen. Die oorspronklike Banqueting House is in
1619 in ’n brand verwoes, en koning James I het nog
in dieselfde jaar die voorste argitek Inigo Jones
opdrag gegee om dit te herbou.
Inigo, ’n Londenaar van geboorte, het wyd in Italië
gereis en die werk van die beroemde sestiende eeuse
Italiaanse argitek Andrea Palladio bestudeer, op wie
se idees Banqueting House gegrond is.
Die buitestruktuur is eers gebou, maar die
interieur, wat deur iemand anders ontwerp is, is
eers jare later voltooi.

BO: Inigo
Jones se argiteksplan vir ’n nuwe paleis by Whitehall
in Engeland ten tyde van die Renaissance. Die Banqueting House
is aan die voorste linkerkant van die
sentrale binnehof.
Krediet:
Histories (“Public Domain Old”)

BO: Banqueting House-interieur met
beskilderde plafon deur Peter Paul Rubens.
Foto deur
Michel wal,
wat dit op
hierdie bladsy
by Wikimedia Commons op die wêreldwye web
uitgeplaas het en gebruik vergun ingevolge
die
Creative Commons
Attribution ShareAlike 3.0-lisensie,
waarkragtens deling en afgeleide werke
vergun word op voorwaarde dat behoorlike
erkenning gegee word en dit slegs versprei
word ingevolge ’n lisensie identies aan
hierdie een.
Amptelike lisensie

BO:
Die Eskoriaal.
Foto (rande deur ons weggesny)
deur Håkan Svensson
Xauxa,
wat die
oorsponklike weergawe op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die
wêreldwye web uitgeplaas het en gebruik vergun
ingevolge die
Creative Commons
Attribution 3.0 Unported-lisensie,
waarkragtens verspreiding en wysiging vergun word op
voorwaarde dat behoorlike erkenning aan Håkan
Svensson
Xauxa, gegee word
Die Eskoriaal
TOE koning Philip II van Spanje op Sint
Lourensdag, 10 Augustus 1557, die blye tyding kry
dat sy troepe die Franse verslaan het, was hy so
dankbaar dat hy daar en dan besluit om ’n gebou ter
nagedagtenis van Sint Lourens op te rig.
Dit sou nie sommer so ’n gebou wees nie—uiteindelik is dit amper
’n hele dorpie wat uit ’n
klooster, kerk, paleis en kollege bestaan. Dit
huisves ook koninklike kamers en is die laaste
rusplek van die Spaanse konings.
Juan Bautista de Toledo, ’n Spaanse
Renaissance-argitek wat in Italië gewerk het, begin
in 1563 met die projek. Hy bou dit sowat 50 km van
Madrid op ’n bergreeks bekend as die Sierra
Guadarrama. Die hele kompleks is in die vorm van ’n
rooster omdat Sint Lourens op ’n rooster verbrand
is.
Koning Philip is ’n toegewyde Rooms-Katoliek en hy
besluit op ’n klassieke boustyl vir die klooster en
paleis. Met die dood van Juan Bautista de Toledo neem Juan de
Herrara oor. Hy verander baie aan die ontwerp, maar
voltooi uiteindelik die enorme projek in 1584.
Die kerk is in ’n aangepaste Griekse styl gegrond op
die idees van die Italiaanse argitek Bramante. Die
dak is ’n monumentale koepel wat in die middel sowat
18 m hoog is, duidelik geïnspireer deur Michelangelo
se ontwerp vir die Sint Pieterskerk in Rome.
Die buitekant is taamlik somber, maar die binnemure
so asemrowend dat niks van die Italiaanse
Renaissance hierby kers vashou nie. Dié koninklike
kamers is die ene tapisserieë en fresko’s. Koning
Philip se vertrekke is rojaal in die sestiende eeuse
styl versier.
Ook die biblioteek is enig in sy soort met sowat 50
000 boeke, baie daarvan uiters waardevolle versierde
manuskripte.
Die Eskoriaal het altesame 16 binnehowe, 86 stelle
trappe, 88 fonteine, 1200 deure en 2673 vensters.
Dit is werklik ’n merkwaardige monument van die
koning wat dit laat bou het en die unieke skoonheid
van die Renaissance-argitektuur.

BO:
Die Eskoriaal vanuit ’n ander hoek gesien.
Foto
deur Yolanda Piqueras Domínguez,
wat dit tot
openbare besit verklaar het (“released into the
public domain’)
|