Een van Rembrandt se talle selfportretteRoemryke
Rembrandt

 Meester van
 die lig

’n Rapsie meer as vierhonderd jaar het reeds verloop sedert Rem­brandt Harmenszoon van Rijn in ’n gegoede middelklas-gesin in die Nederlandse universiteitstad Leiden gebore is. Maar die lig wat hy met sy fabelagtige skilderye geskep het, is lank nie uitgedoof nie. Trouens, sy status as ’n onbetwiste meester het nog nooit getaan nie en sy artistieke nalatenskap word vandag meer waardeer as ooit...

 
“Christus in die storm op die See van Galilea” deur Rembrandt, 1633

BO: Een van Rembrandt se beroemde werke, Christus in die storm op die See van Galilea, 1633. Die skildery word sedert 1990 vermis toe dit saam met twaalf ander kunswerke uit die Isabella Stewart Gardner Museum in Boston, Massa­chusetts, in die VSA, gesteel is. Die diewe was as polisie­manne vermom toe hulle by die museum ingebreek het. Dit word as die grootste kunsdiefstal in die Amerikaanse geskiedenis beskou en die saak is steeds onopgelos. Aan die einde van 2008 was daar nog geen aan­duiding wat van die Rembrandt-werk geword het nie.
 

H

Y is vier eeue gelede gebore, die beroemdste skilder van die befaamde Goue Eeu van Nederland en die absolute meester van lig- en skaduwee-effekte in die skilderkuns.

Maar Rembrandt Harmenszoon van Rijn (1606-1669) het hom nie net as ’n formidabele skilder van godsdienstige tonele en portrette onderskei nie. Hy was ook ’n tekenaar en etser van formaat, terwyl baie van sy leerlinge later self beroemd geword het.

Dog hoewel Rembrandt in een stadium van sy lewe ’n welgestelde, suksesvolle Amsterdamse burger was, moes hy later veel meer beskeie lewe en is hy uiteindelik in ’n onbekende graf begrawe. Die ontberings wat hy in sy skemerjare ervaar het, is soms oordryf, maar ten tyde van sy dood kon hy dit bepaald nie te breed gehad het nie.

Die opgawe van sy besittings het immers weinig meer omvat as sy skildergereedskap, ’n bed met komberse, ’n paar stukkies klere en ’n Bybel.

Tog is die artistieke nalatenskap van hierdie groot kunstenaar onberekenbaar waardevol: volgens een berekening sowat 400 skilderye, 300 etse en 1200 tekeninge, waarvan baie vandag met omtrent geen geld gekoop kan word nie.

 

Talle warm debatte is weliswaar al gevoer oor die outentisiteit van baie skilderye wat lank aan hom toegeskryf is. Daar is steeds onsekerheid hoeveel daarvan werklik die werk van Rembrandt self, van een sy leerlinge of dalk van hom en ’n leerling saam is.

 

Hoe ook al, Rembrandt se status as ’n onbetwiste meester het nog nooit getaan nie. Hy word die meeste bewonder vir die warmte en menslikheid in sy werke. Sy groot belangstelling was die mens. Elke individu wat hy geskilder het, is met meelewing uitgebeeld, en vir hom was bedelaars en hooggeplaastes ewe belangrik. Sy gebruik van dramatiese ruimtes van lig wat met onreëlmatige donker ruimtes afgewissel word, is iets besonders.

 

Wat hy as belangrik beskou het, het hy geskilder sodat dit lyk of lig daarop skyn. Mindere besonderhede wat die aandag kan aflei, is in skadu gehul.

 

En hoewel Rembrandt nooit sy lewensverhaal in ’n boek opgeteken het nie, vertel sy 62 selfportrette ons meer van sy lewe as duisende woorde. In hierdie meesterwerke sien ons hoe hy ontwikkel het van ’n selfversekerde jong lewensgenieter tot ’n ou man met skerp, deurdringende oë en ’n gesig waaruit die ervaring van ’n veelbewoë lewe spreek.

 

R

EMBRANDT word op 15 Julie 1606 as een van nege kinders in ’n gegoede middelklas-gesin in die Nederlandse universiteitstad Leiden gebore.

 

Sy pa, ’n welgestelde meulenaar, wil graag hê dat sy seun goed geleerd moet kom om ’n geëerde beroep te beoefen. In 1620, toe die jong Rembrandt slegs veertien jaar oud is, word hy dus na die Latynse Skool van die Universiteit van Leiden gestuur om klassieke tale en geskiedenis te studeer. Die gebruiklike leeftyd vir ’n eerstejaarstudent is 17, 18 jaar.

 

Maar die eiewyse jong Rembrandt wil net een ding doen en dit is skilder, en hy verlaat die universiteit ná minder as ’n jaar.

 

Hy studeer daarna kuns, eers in Leiden onder Jacob van Swanenburch en toe in Amsterdam onder Pieter Lastman, waarna hy na Leiden terugkeer. Mense in sy tuisstad het so ’n hoë dunk van sy vermoëns dat hy op 22-jarige leeftyd reeds sy eerste leerlinge kan inneem.

 

In 1631 verhuis Rembrandt na Amsterdam, waar hy die res van sy lewe deurbring. Hier verwerf hy weldra roem as portretskilder, en trou hy in 1634 met die welgestelde Saskia van Uylenburgh , die niggie van ’n suksesvolle kunshandelaar. Rembrandt sal haar dikwels skilder.

 

“Die Verlore Seun in die Herberg”

BO: Rembrandt en Saskia poseer in sy “Die Verlore Seun in die Herberg” van 1635. In Lukas 15 in die Bybel vertel Jesus die gelykenis van die verlore seun wat sy erfenis verkwis en daarna na sy vader terugkeer. Hier is te sien hoe Rembrandt hom die verkwisting voorgestel het:  dit gaan alte jolig in die herberg met ’n vrou op die skoot van die rinkinkende verlore seun.
 

Rembrandt en Saskia se huwelik is besonder gelukkig. Danksy haar rykdom en Rembrandt se aansienlike inkomste as portretskilder kan hulle dit bekostig om goed te lewe. Rembrandt koop ’n groot huis in Jodenbreestraat, in die Joodse wijk (die huis is vandag 'n museum en staan bekend as Het Rembrandthuis).

 

Hy vul die huis met kosbare voorwerpe. Daar is juwele vir Saskia (hy skilder haar graag terwyl sy dié juwele dra), skilderye en etse deur beroemde kunstenaars, pragtige klere en selfs ou wapenrustings, wat hy dikwels gebruik om sy modelle te klee.

 

Hy het baie leerlinge en is ’n gevierde portretskilder. Hy kan trouens kwalik byhou om al die opdragte uit te voer wat uit alle oorde instroom.

 

Maar agt jaar nadat hulle getroud is, sterf Saskia in 1642 op ’n jeugdige dertig jaar, skaars ’n jaar ná die geboorte van hul seun Titus, die enigste van hul vier kinders wat nie jonk dood is nie. Vir Rembrandt is Saskia se sterfte ’n geweldige slag, en hy treur só oor haar dat hy ’n jaar ná haar dood nog ’n laaste portret van haar skilder.

 

Rembrandt se “Nagwag”Ander werk hou hom ook steeds besig en in dieselfde jaar van Saskia se dood skilder hy miskien sy beroemdste werk, die groot "Nagwag"—’n lewendige beeld van ’n groep wagte wat skielik op straat uit ’n huis storm LINKS. Ene kaptein Frans Cocq en sy manne vra Rembrandt om ’n groepportret van hulle te skilder en dit word ’n dramatiese skildery van ’n toneel wat ’n mindere kunstenaar maklik leweloos en geposeerd sou uitgebeeld het.

 

["Die Nagwag" is eintlik ’n verkeerde benaming, weens die baie donker vernis wat die skildery tot die 1940’s bedek het. Dit behoort in der waarheid "Die Kompanie van Kaptein Frans Cocq" genoem te word. Dit is ’n groepportret van ’n kompanie van burgerlike wagte onder bevel van Cocq en sy luitenant, Willem van Ruytenburch (in ligte klere).  Dié skildery is vandag in die Rijksmuseum in Amsterdam.]

 

Dis juis in die jare veertig van sy eeu dat daar ’n verandering in Rembrandt se werk begin plaasvind. Uiterlike drama en opwinding maak plek vir ’n besorgdheid om ’n innerlike geesteslewe en die dieptes van die siel vas te lê, nie net van sy modelle nie, maar in sy merkwaardige latere selfportrette.

 

Toe hy jonk was, was sy skilderye hoofsaaklik groen-grys en kouerig van kleur, maar die kleure word ál warmer, pragtige goudbruin en bruin. Hy soek nie net mooi gesigte om te skilder nie, maar gesigte wat iets uitdruk: gesigte van mense wat swaargekry het, wat pyn geken het. In elke gesig kan ’n mens feitlik ’n hele lewe sien.

 

Saskia se dood is ook vir hom die begin van die pyn wat hy self in sy latere lewe sal belewe. Algaande versleg Rembrandt se geldsake tot die punt waar hy in 1656 bankrot verklaar word. Sy huis en al sy kosbare besittings word verkoop en hy moet ’n beskeie woning aan die Rozengracht betrek. Ingevolge Saskia se testament ontvang wel nog ’n klein inkomste uit haar boedel, maar slegs as hy nie weer trou nie.

 

Portret van Hendrikje StoffelsReeds omstreeks 1645 het Rembrandt ’n arm Amsterdamse meisie, Hendrikje Stoffels portret REGS, in sy huis geneem, wat tot met haar dood trou en offervaardig na hom en sy seun Titus sal omsien. Hierdeur kry Rembrandt se lewe weer ’n mate van vastigheid. Hy hou dus onvermoeid aan met skilder—dikwels portrette van Hendrikje en Titus.

 

Maar in 1662 ontval Hendrikje hom, en ’n paar jaar later sterf Titus ook. Rembrandt met sy dogter Cornelia, wat in 1654 gebore is, en ’n ou huishulp bly in sy stil, leë huis agter.

Tog skilder hy steeds, en in hierdie laaste jare van sy lewe ontstaan party van sy grootste en aangrypendste werke. Maar op 4 Oktober 1669 sterf hy en word sonder enige ophef vanuit die Westerkerk begrawe. Niemand weet selfs eens meer waar sy graf is nie.

Rembrandt se artistieke nalatenskap is ongelooflik groot. Ongelukkig heers daar, soos ons vroeër in hierdie artikel gesien het, onsekerheid oor baie van die skilderye wat vandag as sy werk beskou word. Daar kan nie gesê word dat hy dit eiehandig geskilder het nie, want soms is sy naam op die werke van sy leerlinge geteken.

Onder die baie leerlinge van Rembrandt wat self beroemd geword het, was Gerard Dou (1613-1675), Ferdinand Bol (1616-1680), Govert Flinck (1615-1660), Carel Fabritius, (1622-1654), Samuel van Hoogstraten (1627?-1678) en Nicolaes Maes (1634-1693).

En later, toe Rembrandt se naam beroemd was, het handelaars soms self sy naam op die werk van ander aangebring om ’n beter prys daarvoor te kry.

Maar tog meen die meeste mense wat sy werk bestudeer het dat daar nog honderde prente bestaan wat deur die meester self gemaak is. Hulle is in die groot kunsversamelings oor die hele wêreld versprei, in Amsterdam, Berlyn, Leningrad en ander plekke. En baie word as so kosbaar beskou dat ek en jy ’n hele leeftyd kan werk en nie eens een van hulle sal kan koop nie!

Rembrandt was Nederlands en miskien is dit gepas om opsommend af te sluit met ’n Nederlandse aanhaling—een van die baie loftuitinge vir Rembrandt wat vandag op die wêreldwye web te vind is:

"Zijn beheersing van licht en donker, waarbij hij vaak scherpe kontrasten neerzette, om zo de toeschouwer in het schilderij binnen te leiden, waardoor de hoofdzaak direct duidelijk werd, zijn levendige scenes vol dramatiek, en geheel zonder de strakke formaliteit die andere kunstenaars in die tijd vaak hanteerden, zijn zichtbare betrokkenheid en compassie voor de medemens, ongeacht rijkdom, leeftijd of afkomst, dit zijn zo een aantal kenmerken die maken dat Rembrandt over ter wereld begrepen en gewaardeerd wordt."

 

"Die Terugkeer van die Verlore Seun"

BO: In "Die Terugkeer van die Verlore Seun", wat Rem­brandt omstreeks 1662 geskilder het, is ’n heeltemal ander benadering te bespeur as die losbandigheid en uitgela­ten­heid wat “Die Verlore Seun in die Herberg” van 1635 kenmerk.

 

   Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad