|
IS een van die min reekse loopbane waarin
die wetenskap en die kuns ’n ewe groot rol speel. As die
kommunikasie van idees vir jou belangrik is, is dit miskien tyd om
die reklamewese as jou roeping te oorweeg.
Miljoene rande word jaarliks wêreldwyd in hierdie bedryf bestee.
Hier werk die beplanner, die onderhandelaar, die skrywer, die
kunstenaar en die bestuurder as ’n span saam om hul kliënt se
sakeprobleme te help oplos.
Dis ’n opwindende kombinasie van briljante idees en ’n intensiewe
kennis van die mark—en dus ’n aantreklike tuiste vir ’n groot
verskeidenheid mense. Hoewel gegradueerdes uit talle verskillende
terreine hier beland, is daar nou ook instansies wat
gespesialiseerde opleiding in die reklamewese se verskeie
spesialiteitsrigtings bied.
Maar hoe lyk die poste en take van die verskillende hoofde en
werkers in ’n tipiese reklame-agentskap?
• REKENINGBESTUURDER: ’n
Rekeningbestuurder (account manager) is verantwoordelik vir die
skakeling met die kliënt en die bestuur van die algehele proses. Hy
of sy is dus die tussenganger tussen die agentskap en die
adverteerder.
REGS:
Die tussenganger.
Só iemand moet die kliënt se behoeftes vinnig kan bepaal, inligting
blitsig kan verwerk, diplomaties kan optree en bowenal geesdriftig
wees. ’n Bekende persoon in die reklamebedryf het al die
rekeningbestuurder vergelyk met die dirigent van ’n groot
simfonie-orkes, wat moet sorg dat die klanke van die uiteenlopende
instrumente ’n geheel vorm om musiek te maak.
• REKENINGBEPLANNER: By party
agentskappe verrig die rekeningbestuurder dieselfde taak as die
beplanner, maar by ander het hulle verskillende funksies. Sy werk is
hoofsaaklik om dit wat die kliënt wil hê, te versoen met dit wat die
verbruiker wil hê.
Navorsing is die rekeningbeplanner se vernaamste gereedskap. Wat wil
die mark hê? Hoe beskou hulle ’n sekere produk of diens? In
samewerking met die kliënt, en dikwels ook onafhanklike
navorsingsinstansies, ontleed hy die persepsies, motiverings en
begeertes van die mark.
Met die resultate van die navorsing moet die rekeningbeplanner met
’n sinvolle strategie na vore kom om die nodige boodskap by die
verbruikers tuis te bring. Dit moet ook sin maak vir die mediamense
en die kreatiewe span. Ten einde hierdie mense, sowel as die kliënt,
te kan oortuig, moet hy die vermoë hê om ’n oortuigende voorlegging
te kan doen en slim te kan argumenteer.
• MEDIABEPLANNER EN -AANKOPER: Die
afdeling van die mediabeplanner en -aankoper in ’n agentskap
ontleed, selekteer en kontrakteer plek of tyd in die media (bv.
tydskrifte, die radio en televisie) wat die reklameboodskap die
beste sal oordra.
REGS:
Die mediabeplanner en -aankoper
besluit oor die soort media wat die
reklameboodskap die beste sal oordra.
Ons beleef vandag ’n media-ontploffing. Die verskeidenheid neem
daagliks toe. Kenners op hierdie terrein is dus vir die agentskap ’n
absolute noodsaaklikheid. Hier is twee rigtings waarin
gespesialiseer kan word, hoewel dit in kleiner agentskappe deur
dieselfde mens behartig word: mediabeplanning en media-aankope.
As mediabeplanner moet jy die beste kanale identifiseer om die
boodskap aan die regte mense oor te dra. Die geheim is om soveel as
moontlik van jou mark te bereik en terselfdertyd vermorsing te
voorkom. Vandag word meer boodskappe deur meer media aan minder
mense gestuur as ooit tevore. Die media-aankoper se taak is om die
beste geleenthede te vind om jou kliënt se boodskap oor te dra. ’n
Goeie kennis van die verskeie media en pryse is noodsaaklik. Jy moet
ook kan onderhandel vir die beste pryse en goeie betrekkinge met die
mediaverkopers handhaaf.
• KOPIESKRYWER EN KUNSDIREKTEUR: Die
kopie is die woorde in ’n advertensie. ’n Kopieskrywer se werk
behels egter heelwat meer as net die skryf van woorde. Hy of sy dink
die advertensie uit, in noue samewerking met die kunsdirekteur.
REGS:
Die slagspreuk “Die webwerf met pit” verduidelik waarom Mieliestronk
eintlik Mieliestronk genoem word!
Hierdie span werk allereers met idees. Hulle moet die beste en
oorspronklikste oplossings vind vir die opdragte wat deur die
bemarkers gegee word, deur gebruik te maak van woorde, prente,
musiek, klankeffekte en dies meer. Só iemand moet homself in die
teikenmark se skoene kan plaas. ’n Passie vir reklame en vir idees
is van kardinale belang.
As dit nodig is, werk hierdie mense lang ure, en daar is dikwels
frustrasies met die kliënte sowel as kollegas, maar die opwinding
van die werk kan met min ander vergelyk word.
•
GRAFIESE ONTWERPER: Dit is
vanselfsprekend dat ’n ontwerper ’n aanleg vir die visuele kunste
moet hê. Die werk behels die ontwerp van verpakking, logo’s,
briefhoofde, brosjures, verkooppunte en vele ander. Opleiding in die
moderne tegnologie van die rekenaar word vereis.
Só iemand kan ook kies om te spesialiseer op rekenaarverwante
terreine, die sogenaamde multimedia, met die ontwerp van webtuistes,
inligting-CD’s, skermbeskermers (screen savers) en ander verwante
promosie-artikels.
Só sien ons dat die advertensiebedryf interessante
loopbaangeleenthede bied aan ’n breë verskeidenheid van mense met
verskillende talente en belangstellings. |