|
Die
wêreld van ratte en hoe hulle ons masjiene aan die werk hou
Ge-RAT
vir die
moderne lewe |
 |
Om
iemand ’n rat voor die oë te draai, is een ding. Om ’n rat voor
iemand se oë te laat draai, is glad iets anders! Die eersgenoemde dui
op ’n bedrogspul; die laasgenoemde op ons hoogs gemeganiseerde moderne
lewe. Sonder ratte sou ons immers geen motors, fabrieke en duisende
soorte masjiene gehad het nie…
Geanimeerde
illustrasies in die openbare domein, synde beskikbaar gestel deur die
federale regering van die Verenigde State van Amerika. Dit geld
wêreldwyd.
|
|
ALK
het jy al gehoor dat iemand sê: "Ek was nie behoorlik gerat om
dié of daardie ding aan te pak nie." Wat die persoon bedoel, is
dat hy of sy nie die nodige toerusting, vaardigheid of voorbereiding
gehad om behoorlik by ’n bepaalde taak in te skakel nie. Want ’n rat
sorg mos juis vir skakeling in die heel letterlikste sin van die woord.
’n
Rat is ’n toestel wat gebruik word om in ’n masjien beweging of krag
oor te dra deur by ’n ander rat of ratte in te skakel. Tipiese ratte
is wiele of wieletjies met tande, of sogenaamde kamme, ál
met die vellings langs. (Die velling is die sirkelvormige buitekantste
rand van die wiel.)
’n
Rat is vas aan ’n as, wat in die reël ’n silindriese staaf van
wisselende lengte is. Die tande van die rat pas net mooi in die
tandopeninge van ’n ander rat, wat ook aan ’n as vas is. Wanneer een
van die asse dus gedraai word, druk die tande van die een rat teen dié
van die ander, wat die tweede as ook laat draai.
Die
meeste ratte is van ’n metaal of metaalmengsel, soos staal of brons,
maar soms word byvoorbeeld plastiek of ’n ander sterk sintetiese stof
gebruik om geraas te verminder.
Ratte
word gewoonlik gebruik in masjiene wat asse het wat naby aan mekaar geleë
is. Asse wat meters ver van mekaar is, word gewoonlik met
band-en-katrol-stelsels aaneengeskakel. In die geval van ’n fiets word
die trap- en wielrat met ’n ketting verbind.
LINKS:
Rat en ketting.
Ratte
word gebruik om snelheid of krag te vermeerder of te verminder, om die
rigting van die rotasie om te keer of te verander, of om ’n rotasie-beweging
in ’n reguitlyn-beweging om te skakel.
Twee
of meer ratte wat saamwerk, word ’n rattestel (Engels: gear train)
genoem. Wanneer slegs twee ratte gebruik word, draai die dryfrat in een
rigting en die gedrewe rat in die teenoorgestelde koers. Indien ’n
derde rat bygevoeg word, draai dit in dieselfde rigting as die dryfrat.
In
elke vorm van ratwerk hang die snelheid van die gedrewe rat af van die
getal tande in elke rat. ’n Rat met tien tande wat ’n rat met
twintig tande aandryf, sal twee keer so vinnig as die aangedrewe rat
beweeg. Daarteenoor sal ’n twintigtand-rat wat ’n tientand-rat
aandryf, teen die helfte van die snelheid beweeg.
Ratte
kan op verskillende maniere saamgestel en onderling aaneengeskakel word
om honderde soorte take te verrig. Die hoofsoorte ratte word hieronder
saam met hul illustrasies bespreek.
|
Verskillende
soorte ratte |
•
Reguit
tandratte
het tande wat parallel of ewewydig loop met (dieselfde rigting
volg as) die rat-as. ’n Klein reguit tandrat wat in die kam van
’n grote draai, word ’n rondsel (meervoud rondsels) genoem.
Een van die mees algemene gebruike van reguit tandratte is in die
dryfwerk van motorkarre. |
• Spiraalratte
lyk soos reguit
tandratte, buiten dat die tande teen ’n hoek of effens gebuig in
die rat ingesny is. Hier loop die twee asse nogmaals ewewydig.
Spiraalvertanding is veral geskik vir ’n stil en baie vinnige
werking en swaar vragte omdat die rat-tande mekaar by ’n
skerp hoek ontmoet pleks van by 90º soos by reguit tandratte.
Oneweredige stootkrag word te bowe gekom met ’n dubbele stel
tandratte in die vorm van ’n V.
|
•
Keëlratte
of
koniese
ratte
het tande op
die oppervlak van keëls (kegels). Die tande kan reguit of
spiraalsgewys loop of hulle kan skeeftand wees (dikker aan die een
kant as aan die ander). Hulle word aangewend waar twee asse nie
ewewydig loop nie. Keëlratte word in die ewenaars (Engels: differentials)
van motorkarre gebruik.
|
•
Planeetratte
bestaan uit ’n aantal kleiner
tandratte wat inskakel by die binnetande van ’n buitewiel, asook
by die tande van ’n sentrale rat of sonrat. Hulle is dus soos
planete om ’n son! Planeetratte word hoofsaaklik in outomatiese
transmissies in motorkarre gebruik.
’n Variasie van
planeetratte is ook ontwikkel vir die
James Webb-ruimteteleskoop, wat volgens beplanning eers in 2011 in
’n wentelbaan om die aarde geplaas sal word. Die betrokke
tegnologie is egter so belowend dat dit nou reeds gebruik kan word
om die betroubaarheid van allerhande ander dinge soos pompe,
kompressors en ratkaste te verhoog.
Foto:
NASA / STI
|
•
Wurms
is
skroefagtige ratte wat inskakel by reguit tandratte of
spiraalratte, wat dan bekend staan as wurmratte.
Met só ’n skakeling word ’n veel groter vermindering van
snelheid bewerkstellig as met reguit tandratte of keëlratte. Die
vinnig tollende as wat die wurm bevat, is die dryfas; die wurmrat
is vas aan die gedrewe as, wat dan stadig beweeg. |
•
Met
kamratte
en tandspore word rotasiebeweging in lynbeweging
omgeskakel. ’n
Roterende reguit tandrat skakel in by ’n reguit staaf of spoor
wat eweneens reguit tande het. Die
beweging kan ook andersom plaasvind, met ander woorde lynbeweging
kan in rotasiebeweging verander word. Die beginsel om ’n
rat in die rondte te draai waardeur ’n
reguit getande staaf opwaarts gekrink word, word in domkragte
aangewend. |
•
Wryfratte
het geen tande nie. ’n Dryfwiel dra
beweging oor aan ander wiele deur teen hulle aan te druk.
Wryfratte werk glad, maar is dan ook meer geneig om te glip as
tandratte. Wryfratte het allerhande gebruike, soos byvoorbeeld in
draaitafels en naaldwerkmasjiene. |
Klein
maar getryn!
•
En
hoe klein kan ratte werklik gemaak word? Hierdie
miniatuur-ratjies, wat deur navorsers van AT&T Bell
Laboratories ontwerp is, is omtrent so groot soos ’n mensehaar
en word aangedryf deur lug wat deur openinge geforseer word. Baie
ingenieurs en wetenskaplikes meen dat sulke piepklein apparaatjies
mettertyd vervaardigingsprosessse en die mediese wêreld radikaal
kan verander.
Krediet:
AT&T Bell Labs / Vergunning US National Science Foundation |
Kettings en hul
skakels
SKAKELS
is dele van kettings. ’n Skakelketting is ’n beweeglike reeks
aaneengebonde skakels, wat dikwels van metaal gemaak is en dan ook
die vorm van ’n ring het. Skakels maak kettings buigbaar, terwyl
hulle tog ook stewig is. Kettings word baiemaal saam met slotte
gebruik om byvoorbeeld hekke te sluit, maar daar is ook kettings in
alles van fabrieksmasjiene en fietse tot juweliersware en selfs in
tekstielstowwe.
Kettings
behoort gewoonlik tot een van twee soorte, afhangende van waarvoor
hulle gebruik word:
1) Kettings
wat oplig, trek of beveilig: hierdie soort het skakels wat
torus-vormig is (oftewel die vorm het van byvoorbeeld die binneband
van ’n motor of fiets). Dit maak die ketting buigbaar in twee
dimensies, waar die vaste derde dimensie die lengte van die ketting
is.

BO: Aaneengeskakelde
ringe.
Illustrasie:
Clker.com
2) Kettings
wat ontwerp is om krag in masjiene oor te dra: hierdie soort het
skakels wat gemaak is om by die tande van die masjienratte in te
skakel en is slegs buigbaar in een dimensie. Dié kettings staan
bekend as rollerkettings. Kettingaandrywing kan in ’n verskeidenheid
van masjiene gebruik word, soos in fietse en motorfietse.

BO:
Fietsketting.
Illustrasie:
Clker.com
|
|