Follow this link to skip to the main content

 

 

     

    

    
Die heel raarste lewensvorms
op planeet Aarde

  

Water.  Hierdie spektrum-eienskappe van water toon dat dié stof volop is, wat op ’n planeet dui wat ’n see het.Koolstofdioksied.  Hierdie sterk band vir hierdie stof toon dat ons ’n planeet met ’n atmosfeer het.Osoon.  Hierdie osoon-band dui op oorvloedige suurstof, wat waarskynlik deur lewensvorms geproduseer is.Water.  Hierdie spektrum-eienskappe van water toon dat dié stof volop is, wat op ’n planeet dui wat ’n see het.Watter gasse is teenwoordig in dié spektrum? Beweeg jou muis oor ’n vraagteken en vind uit

     
Lewe op ander planete?

WETENSKAPLIKES het nou reeds etlike planete buite die sonnestelsel opgespoor, maar dié is so bitter ver weg in die onmeetlike hemelruim dat hulle nog nie een kon kry wat met ons eie planeet ooreenstem nie. Maar sê nou dit gebeur wel dat ’n “tweede aarde” gevind word?

Só ’n planeet sal hopeloos te ver wees om per ruimteskip te besoek—met die bestaande middele kan dit hoegenaamd nie binne een menseleeftyd gedoen word nie.

Maar hoe kan ons dan weet of daar dalk lewe op só 'n “ander aarde” is of nie? Geleerdes kan na die chemiese samestelling van die hemelliggaam kyk.

Verskillende elemente straal naamlik verskillende kleure uit en deur die kleure van die planeet se infrarooi uitstraling te ontleed, kan gesien word of sulke atmosferiese gasse soos koolstofdioksied, waterdamp en osoon (verdigte suurstof) aanwesig is.

Voldoende voorrade van hierdie drie stowwe saam—soos op die aarde— sou op ’n sterk moontlik van lewe kon dui.

En tog sal dit nog geen bewys van buiteaardse lewe wees nie.

Wat meer sê, al sou die moontlikheid sterk wees, sal ons nog nie weet of die lewensvorms blote alge of wesens met 'n ontwikkelde beskawing is nie.

Baie mense—ook geleerdes—glo in elk geval dat die gevorderde lewe op aarde uniek is. Hoewel hulle miskien sal aanvaar dat iets soos mikrobes elders kan bestaan, dink hulle nie dat daar enige wesens kan wees wat hoegenaamd met die mens vergelyk kan word nie.

Dit alles ondanks die feit dat lewensvorms blykbaar baie  veelsydig en gehard kan wees, soos die groot foto’s langsaan toon—en dat daar triljoene der triljoene hemelliggame daarbuite is.

REGS: Die Orion-
newelvlek, soos gesien deur ver-
skillende filters. Swawel word as rooi gesien, waterstof as groen en suurstof as blou.

Foto-kopiereg: Russell Croman / NASA

Wyd en syd oor die aardbol is daar ’n magdom lewensvorms en moontlik ’n ewe ontsaglike menigte wat wag om nog ontdek te word. In die diepste myne, kokend warm bronwater, in ys en vretende sure... selfs waar jy dit die minste sou verwag, is daar die vreemdste spesies wat ons planeet met lewe help vul. Hierdie fotobeeld toon ’n klompie organismes wat maklik as die drie heel raarste groepe lewensvorms op ons planeet bestempel kan word...

Foto’s en spektrum-grafiek: NASA / JPG / PLANET QUEST, the search for another Earth (tensy ander vermeld)


1) Buiswurms en ander kreature van die superverhitte donker dieptes van die see

Buiswurms

BO: Hulle lyk dalk soos ’n spul verkoolde stokkies of pypies op ’n rommelhoop—miskien selfs soos sigarette wat só uitgebrand het dat elkeen se as in een stuk behoue gebly het. Maar wat jy hier sien, is organismes van ’n hidrotermiese uitlaat op die seebodem kilometers onder die seeoppervlak.

Hierdie kreature, wat blykbaar nie sonlig moet hê om te oorlewe, soos die res van ons aardse lewensvorms regstreeks of onregstreeks nodig het nie, is in 1977 die eerste keer by die Galapagos-skeur in die see by Ecuador gevind.

Wetenskaplikes het in der waarheid daar hele gemeenskappe van verskeie lewensvorms rondom uitlate van warm, mineraalryke water aangetref. Hulle kry hul energie uit die warmbronwater van diep onder uit die maag van die aarde.

Die organismes lewe in ’n diep en stikdonker wêreld onder die geweldige waterdruk, maar dit is nog die ergste nie. Boonop oorlewe hulle in die nabyheid van superverhitte water van ’n ongehoorde 350 grade C. (By seevlak, waar die druk veel minder is, kook water by 100 grade C.)

Geen wonder dit lyk byna of die buiswurms hierbo tot as verbrand het nie!
  


      
2) Wurmkolonies in die ys van die seebodem

  
Yswurm
REGS: Een van die vreemde, rosige pienk wurms van sowat 2,5 tot 5 cm lank wat  in ontsaglike kolonies in hompe metaanryke ys gevind is wat van die seebodem in die Golf van Mexiko opgewerp is. Die vonds is in 1997 nagenoeg 130 km van die kus van die Amerikaanse staat Lousiana gedoen.

(Die foto wat ons vir publikasie aanvaar het, was swart-wit, maar ons het dit ingekleur om beter by die beskrywing te pas.)

Waar die see baie diep is en geen sonlig ooit kom nie, kan dit vrieskoud wees, vandaar die onverwagte ys onder die see in ’n betreklik warm wêrelddeel.


   
Navorsers en goudmyn-bakterieë3) Bakterieë in SA goudmyne

REGS: ’n Mens sou maklik kon dink die wêreld onder in ’n goudmyn is heeltemal steriel en dat niks daar kan lewe buiten die werkers wat swoeg om die erts los te breek nie. Navorsers (soos dié op die groot foto langsaan in ’n Suid-Afrikaanse goudmyn) het egter die teendeel bewys. Nuwe spesies bakterieë in grotte en goudmyne is al so diep as 3 km ondergronds gevind.

Hierdie spesies staan bekend as termofiele, of liefhebbers van hitte, omdat hulle in baie warm omgewings floreer.

INLASFOTO: ’n Mikroskopiese beeld van metaal-oksiderende bakterieë, wat deur studente van die Universiteit van Tennessee en die Vrystaatse Universiteit in ’n gesamentlike projek in ’n Suid-Afrikaanse goudmyn gekry is.
  

 

 

  Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad