|
IE lewe
is snaaks en ’n mens kan baie draaie loop om uiteindelik op daardie
pad uit te kom wat vir jou as individu bedoel is.
Een van die belangrikste dinge waarvan ek al hoe meer bewus raak, is
dat niemand se pad dieselfde koers loop nie, of dieselfde ervaring
inhou nie. Hoe weet ons dan of ons pad beter of slegter is as dié
van die volgende mens?
Hoekom begin ek deur dit te sê? Omdat dit so belangrik is dat mense
nie “inspirasie” met “identifikasie” moet verwar nie.
Ek deel graag my verhaal, want dit is ’n heerlike avontuur. En tog
het elke mens sy eie unieke avontuur en doen ons onsself ’n onreg
aan wanneer ons vergelykings tref of ongeduldig raak en dinge dink
soos: “Sy het ‘dit gemaak’ en hoekom het ek nie?” Ons almal se
agtergronde verskil en daarom is ons ervarings ook verskillend van
aard en is elkeen se lewensloop uniek.
My lewe het verander toe ek die keuse gedoen het om as Connie op
7de Laan se stel te gaan speel. Dit het ’n nuwe
realiteit vir my meegebring en skielik moes ek anders na myself en
keuses en mense om my kyk. Die lewe as 'n aktrise of ’n akteur is
selde wat dit voorgee om te wees. Moenie geflous word deur die
skilderinge van ’n sogenaamde glansryke en sprokieslewe nie. Die
oomblik wanneer jy die keuse doen om as kommentator van die
samelewing op te tree, moet jy weet dat dit met ’n hele hoop
verantwoordelikheid gepaard gaan.
Al het ek die voorreg gehad om sonder formele opleiding die wêreld
van televisie, film en teater te betree, is en was my raad nog altyd
dat opleiding vooraf ’n mens net ten goede kan strek. As ek vroeër
bewus was van my eie pad en keuse, sou ek eerder gaan opleiding
gesoek het, sou ek tyd gemaak het om my meer daarop voor te berei.
Die
verskil tussen my enigsins weifelmoedige intrede in 7de
Laan en die debute van mede-akteurs soos Elma Postma (Dezi),
Vuelya Boy (Alyce) en Nina Swart (Wilmien), wat in die dissipline
opgelei is, was hul onmiddellike gemaklikheid.
Maar ook hier is nie een van ons as akteurs se paadjie dieselfde
uitgelê nie. Vir elkeen van ons is daar ’n eie storie om te vertel.
As jy op die ouderdom van 13 of 17 of selfs 19 en 20 weet jou passie
en droom is om toneel te speel, om stories te vertel, dan is jy baie
gelukkig en baie bevoorreg. Dit bied jou soveel ruimte om te ontdek
en om te leer. Moenie wegskram van die drama- en filmskool nie. Hoe
gouer jy die groter prentjie en jou eie potensiaal in die veilige
omgewing van die skool kan ontdek, hoe beter sal jy die uitdagings
van die groter wêreld kan hanteer. Want om akteur te wees beteken
dat jy weet wie jy is en dat jy bereid is om jouself en jou ervaring
ten volle te deel.
Dis nie altyd maklik om te leer deur by die diep kant ingegooi te
word nie. Ek moes baie dinge baie vinnig leer, want ek het met toe
oë ingespring sonder enige wete vooraf van dit waarin ek my
begewe. Vir my was dit ’n groot geskenk en ek is elke dag opnuut
dankbaar vir die geleentheid. Nogtans beveel ek aan dat ’n mens
liewers eers gaan studeer en leer en dan begin toneel speel. En dan
nog aanhou; dis soos om 'n doktor te wees, daar is altyd nog iets om
te leer.
As akteurs wil ons vir onsself ’n goeie basis bou. Nogtans kom dit
net met baie ervaring en oor ’n lang tyd. Hoe doen ek dit nou? Deur
met emosie en passie in die oomblik te lewe!
Ek was so gelukkig om met Annie Basson en Danie Odendaal kennis te
maak toe ek as kelnerin gewerk het om my studies te betaal. Hulle
was besig om die storie vir 7de Laan te skryf en
ek het die geleentheid gehad om ’n oudisie vir hulle te doen. Ek
het saam met Annie aan monoloë gewerk en allerhande oefeninge gedoen
om die aktrise in my wakker te maak en te ontbloot. Dit was die
begin. Ek was so gewillig om net iets nuuts en interessants te
probeer dat ek het geen benul gehad het van dit waarvoor ek my
inlaat nie.
Ná ’n paar maande op die Laan het ek besef ek het hulp nodig,
want ek het geen idee wat ek doen nie. David Dennis, ’n wonderlike
akteur en drama-onderwyser, het my gehelp en saam het ons spraak,
subteks en die filosofie van toneelspel ondersoek. Dis waar my
passie uiteindelik vlam gevat het. Klasse saam met David en
natuurlik die wonderlike voorreg om saam met Nina Swart, Anna-Mart
van der Merwe en Wilna Snyman, Helene Lombaard en Vinette Ibrahim en
so baie amazing mense te werk, het my die respek vir die
craft geleer.
Glo my, ek is nog steeds weekliks in die klas besig om te leer wat
dit beteken om te “act” en al die tegnieke en oefeninge wat daarmee
gepaard gaan, hou my voltyds baie besig.
Al het ’n mens talent, of eerder ’n natuurlike begrip vir
toneelspel, beteken dit nie dat jy nié, soos in enige sport, sekere
spiere in oefening moet hou nie. ’n Gimnas of atleet sal immers nie
sonder deeglike oefening op die veld stap nie. Dieselfde geld vir ’n
akteur.
Volgens my word ’n goeie akteur gekenmerk deur hoe goed hy homself
ken en dus sonder vrees of voorbehoud bereid is om sy gevoelens te
deel. Die meeste akteurs is skaam en stil mense en ek dink dit het
baie te doen met die feit dat ons ons so moet blootstel voor so baie
vreemdelinge.
Dit is nou bykans agt jaar dat ek my in die toneelwêreld bevind. En
elke nou en dan kan ek met oortuiging sê dat ek ’n aktrise is. Só ’n
oomblik was toe ek onlangs saam met ’n uitsonderlike groep
Amerikaanse akteurs op die verhoog in San Francisco was. Ons het ’n
werk van die beroemde Amerikaanse skrywer Neil Simon opgevoer en die
ervaring was ongelooflik! Ek was self verstom dat ek, as ’n
Afrikaanse kind van Suid-Afrika, hier tussen die Amerikaners, op
hulle verhoog, myself in hul taal en kultuur kon handhaaf.
Vir my is toneelwerk ’n kuns wat met agting en respek beskou moet
word. Ek het ware dissipline en fokus geleer in hierdie beroep en
ook wat dit beteken om regtig my siel bloot te stel. Dis ’n kuns wat
van my vereis om altyd student te bly, en ten alle tye eerlik met
myself te wees. Om sielkundige te wees en voortdurend selfondersoek
te doen.
Dis ’n verantwoordelikheid.
’n Soeke na die waarheid.
En dan moet ek erken dat ek, sedert ek as aktrise in 7de
Laan begin werk het, nog
nooit opgehou het om pret te hê nie.
Dis die
een avontuur ná die ander. Elke oomblik bring soveel genot.
Sterkte en liefde vir elkeen wat dit durf waag om in die rivier van
storie en film en drama te spring.
|