’n Boef en ’n dapper dame in ’n ou vervolgfliek (“serial”)Flieks en fantasie 
Die beginjare van die rolprent

Die rolprentwese was so ’n integrerende deel van die vorige eeu dat ’n mens jou kwalik die 20ste eeu se verloop daarsonder kan voorstel. Was dit dan nie flieks wat ons eerste medium vir massiewe internasionale kommunikasie geword het nie? Spoedig sou dit boodskappe oordra soos geen ander middel dit ooit tevore kon doen nie en kon dit ontspanning bied aan massas vermoeide of drama-beluste mense. Dit sou ook gemoedere kon aanblaas selfs tot by ’n teuellose histerie en nuwe geestesrigtings uitdra wat miljoene mense bedwelm. En dit sou gode en godinne maak van gewone, sterflike akteurs.  In hierdie artikel kan jy lees van die eerste rolprentprojektors en die vroeë jare van die filmbedryf—’n bedryf wat eintlik al ’n rapsie voor die 20ste eeu begin het...

Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
Nuwe foto-kompilasie deur Mieliestronk.com

Argieffoto’s: US Library of Congress / Illustrasie van ou projektor: MSARG

D

IT moet vir die Parysenaars ’n groot aardigheid gewees het om te aanskou. Die Franse broers Auguste (1862-1954) en Louis (1864-1948) Lumière het naamlik die eerste praktiese stelsel uitgevind waardeur films sowel opgeneem as vertoon kon word. In Desember 1895 het die broers rolprente in ’n kamer van ’n Paryse kafee vertoon met ’n toestel wat sowel ’n rolprentkamera as ’n projektor was.

Om die prente te vertoon het hulle ’n kragtige lamp agter die kamera geplaas en die film met ’n slinger deurgevoer.

Die broers Lumière—Auguste (links) en LouisLINKS: Die broers Lumière—Auguste (links) en Louis.

Die broers Lumière se eerste vertoning daar in die Grand Café aan die Boulevard des Capucines het reeds ’n voorsmaak gegee van die moontlikhede en verskeidenheid van die nuwe uitvinding.

Die Franse fliekkykers het vol verwondering gestaar na ’n toneeltjie in die Lumière-fabrieke, afgeneem tydens die middagete. Hulle het geskrik vir die aankoms van ’n trein in die stasie en met verbasing gekyk na die rustelose beweging van die see se branders. Aan die einde van die vertoning het hulle lekker gelag vir ’n tuiman wat besig was om sy plante water te gee net om deur iemand anders natgespuit te word.

Dit spreek vanself dat die eerste rolprente baie gebrekkig was. Boonop was die eerste projektors bra primitief in vergelyking met vandag s’n. ’n Skoorsteen sou byvoorbeeld die hitte van die lamp laat ontsnap. En houtknoppe het die beheermeganismes koud genoeg gehou om aan te raak.

’n Draaiende sluiter het ’n breukdeel van sekonde lank die projeksie afgesluit terwyl die film na die volgende raampie aangeskuif het. Die film kon egter aan die brand slaan as die persoon by projektor opgehou het om die slinger te draai wat die film laat beweeg het.

Die towerlantern was destyds ’n toestel waarmee vergrote beelde op ’n skerm gegooi is. Die eerste projektors was in der waarheid towerlanterns met ’n toestel wat die film deurgevoer het. Baie het kalklig as ligbron gebruik, maar met die toename in die gebruik van elektrisiteit, is dit deur vlamboogligte vervang. Die film is, met die draai van die slinger, deur ’n ''klitser''-meganisme op sy perforasies voortgetrek. Weens die slyting is vertonings dikwels onderbreek wanneer die film gebreek het.

Charles Pathé (1863-1957) en sy broer Emile (1860-1937) het baie van die vroeë projektors gebou en onder die naam Pathé Frères (Broers Pathé) verkoop. Die twee word egter veral onthou vir die nuusrolprente wat hul maatskappy van 1909 af gemaak het.

’n Ou projektorIn Frankryk was die ontwerp van die broers Lumière se oorspronklike  kamera/projektor op dié van ’n naaimasjien gegrond. Die naaimasjien hou die materiaal stil terwyl hy stik en stoot dit dan vinnig aan tussen die steke; net so hou die projektor die film stil wanneer elke raampie op die doek geprojekteer word en stoot dit gou vorentoe ná elke raampie-projeksie.

Die uitvinding van onbrandbare film teen 1912 het projeksie baie veiliger gemaak, en projektors vir tuisgebruik het beskikbaar geword. Die Pathéscope-tuiskinematograaf, wat ook soos ’n naaimasjien gelyk het, is ontwerp om kleiner afdrukke van professionele films te vertoon en was ’n reuse sukses.

Met die ontwikkeling van die bioskoop het projektors groter en meer gevorderd geraak. Groter bioskope het groter beelde geverg en dit het weer beteken dat die projektorlamp helderder moes wees. Die Gaumont Kalee-projektor is ontwikkel met ’n yslike lamphouer om sy groot booglamp te huisves. Die Kalee-projektor was gewild in die jare vyftig se groot bioskope. Nuwer projektors het nog baie meer outomatiese funksies.

Die ‘fliekpaleise’ van weleer

Luukse-binnekant van ’n ou bioskoopIN die goue jare van rolprente was rolprentsterre soos konings en koninginne wat te huur was: vir die prys van ’n rolprentkaartjie kon elkeen die wêreld van die Hollywoodse vorstedom betree. Fliekgangers het nie eens nodig gehad om te wag tot die projektor flikkerend begin lewe skep het voordat hulle daardie glanswêreld ervaar het nie, want die fantasie het begin sodra hulle die bioskoop binnegeloop het.

 ’n Plekaanwyser in uniform het hulle deur ’n luuksueuse, met marmer uitgevoerde saal so groot soos ’n katedraal na hul sitplekke geneem. Onder kristal-kroonkandelare het hulle op trappe met dik matte soontoe beweeg. Voordat die rolprente vertoon is, het ’n orkes en balletdansers die rolprentgangers vermaak.

Fliek en fantasie...Bioskope van die 1920’s en 1930’s was so deftig dat mense hulle fliekpaleise (''picture palaces'') genoem het. Elke denkbare gerief was daar te kry, waaronder restaurante, crèches vir kinders, gratis telefoonoproepe, kunsmuseums, dansgeriewe, tafeltennis- en biljartkamers. Een bioskoop het ’n hospitaal gehad, ’n ander ’n voetdokter. Hul doel was om mense aan te moedig om gereeld te kom fliek.

Die plan het gewerk: in 1930, toe Amerika se bevolking 122 miljoen was, het die Amerikaners elke week 95 miljoen keer bioskoop toe gegaan.

Toe die broers Lumière doer in 1895 ’n kamer in Parys gehuur het om ’n keur van hul rolprente te vertoon, het slegs 35 mense die eerste dag opgedaag. Maar gou was die bioskoop ’n weghol-sukses en is 2500 kaartjies per dag verkoop. Bioskope het spoedig regoor die wêreld verrys.

Die buiteaansig van ’n swierige ou fliekteaterDie buitekante van die bioskope van die jare twintig en dertig was ewe swierig as die interieurs. Baie is in die argitektoniese styl van die Midde-Ooste en Verre Ooste gebou, met vergulde koepels en minarette. Ander het eenvoudige, blokkerige eksterieurs gehad, terwyl nog ander gestroomlyn was soos die boeg van ’n skip. Maar byna almal was opgesmuk: snags het honderde gloeilampe en neonbuise die geboue met flitsende reklametekens en skouspelagtige ligeffekte opgehelder.

Bioskope het ook vir hul gehore se gastronomiese aptyte gesorg deur kafees en restaurante in te rig. Die soort restaurant het grootliks afgehang van die soort klandisie van die bioskoop, met deftige maaltye op die spyskaart van die mees luuksueuse bioskoop-paleise in die middestad. Kleiner bioskope het skrapser maaltye aan minder welgestelde rolprent-entoesiaste gebied.

In die tyd van die stilprente het ’n klavierspeler vir die begeleidende musikale klanke van ’n film gesorg, maar namate die bioskope gegroei het, is klaviere deur orrels vervang. Teen 1929, toe klankfilms die orrels uitgedien gemaak het, was die bioskoop-orrels sommer al baie deftig.

Helder ligte het die speeltafel, die klawerbord en orrelis se stoel versier. Die orrel het uit die vloer verrys wanneer die musiek begin het. Bioskoop-orreliste soos Reginald Dixon het uit eie reg beroemdes geword. Die swierigste orrels kon selfs vir eenvoudige byklanke sorg.

Die eerste bioskope was doodeenvoudig omgeboude konsertsale, maar teen 1910 was argitekte besig om doelmatige bioskope te ontwerp. Die argitekte is aansienlike skeppingsvryheid gebied, en bioskoopgeboue uit die jare twintig en dertig wat vandag nog staan, bevat sekere manjifieke voorbeelde van die sogenaamde ''Art Deco'', die dekoratiewe styl wat die tydperk tussen die Eerste en Tweede Wêreldoorloë (1918- 1939) oorheers het.

Die ryklik versierde interieur van die bioskoop-paleis het die gehoor na verre plekke meegevoer. Versteekte ligte het ’n sagte beligting verskaf wat geleidelik van kleur verander het. Spesiale projektors het effekte van sterlig en bewegende wolke op die plafon geskep. By party bioskope is parfuum selfs in die lugversorgingstelsels ingespuit.

Die bioskoop-paleis het verander waar dit ook al verrys het. Inryflieks het in 1933 in die motor-kultuur van New Jersey in Amerika begin, en in die Sowjet-Unie het die regering ’n bioskoop in ’n treinwa ingebou om rolprente na afgeleë gebiede te bring. Die Agit-trein het die regering se boodskap versprei deur propaganda-films te vertoon.   

Eerste flieks en fliekteaters in Suid-Afrika

DIE eerste rolprentkamera-projektor is omstreeks 1896 na Suid-Afrika gebring—nie lank nadat die broers Lumière die Franse met hul vertonings vergas het nie. Die baanbreker is ons land was die goëlaar Carl Hertz. Kort daarna het gereelde vertonings begin.

Nuusfilms (alles natuurlik nog klankloos) is kort voor die einde van die negentiende eeu in Pretoria en elders gemaak en beroepskameramanne het in die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) aan die front gewerk.

Bioskope het vroeg in die twintigste eeu in Kaapstad, Johannesburg en Durban ontstaan. Die Electric-teater in Durban was die eerste permanente teater wat in Suid-Afrika gevestig is (op 29 Julie 1909). In 1910 is The Great Kimberley Diamond Robbery uitgereik—die eerste vollengte-dramafilm (ook steeds klankloos) wat in sy geheel in Suid-Afrika vervaardig is.   

I.W. Schlesinger, wat die African Films-groep gestig het, het in 1916 rolprente begin maak in  plaaslike ateljees by Killarney, Johannesburg. In 1918 is ’n reeks groot stilfilms gemaak waarvan die mees uitstaande The Voortrekkers was, ’n rolprent oor die Groot Trek, asook The Symbol of Sacrifice, oor die Zoeloe-oorlog.

Klankfilms het Suid-Afrika in 1929 bereik. Die Capitol-teater in Pretoria is in 1931 geopen, en by die gala-opening is Suid-Afrika se eerste klankprente—Joseph Albrecht se Sarie Marais en Moedertjie—vertoon.

Ons land het ook ander imposante rolprentteaters gehad. Benewens die Capitol in Pretoria was daar ander teaters met orrels in Kaapstad (die Alhambra), Durban (Metro en Prince of Wales), Johannesburg (20th Century, Bijou, Metropolitan en Plaza) en Port Elizabeth (Grand).

Sogenaamde kafee-bioskope of "vlooiflieks", waar bioskoopgangers vir die prys van ’n fliekkaartjie ook met koeldrank getrakteer is, het in die loop van die dag dieselfde rolprent oor en oor vertoon. ’n Mens kon sit en kyk solank jy wou. Jy kon byvoorbeeld selfs in die middel van een vertoning opdaag en in die middel van die volgende een uitstap sodra jy by ’n plek gekom het waar jy die verloop van die verhaal kon snap.

Daarbenewens het Suid-Afrika tot nagenoeg die jare vyftig ook rondreisende fliekfirmas gehad wat films veral na die platteland gebring en onder meer in stad- en skoolsale vertoon het. ’n Gevestigde reisende bioskoopmaatskappy was Parkers Talkie Tours. Nog een was Theo Travelling Cinema. Raath Films het op dieselfde manier die film Daar Doer in die Bosveld, die eerste rolprent van die gevierde rolprentmaker Jamie Uys, landwyd versprei.

 

Die simulering van beweging en
die animasie in tekenfilms

HOEWEL dit lyk of ’n rolprent bewegende beelde het, is daar in werklikheid ’n reeks stilstaande beelde wat kort ná mekaar geflits word. Projektors projekteer beelde teen 24 raampies per sekonde, wat vir ons die illusie van aanhoudende, lewensgetroue beweging skep.

Maar is dit die menslike oog wat vir ons daardie illusie voortbring of die menslike brein? Hoe gebeur dit dan dat ons beweging sien wanneer ’n reeks veranderende prente vinnig genoeg voor ons oë verblyflikker?

Daar is lank gedink die rede is die nabeeldwerking van die oog. Een van die oog se eienskappe sou wees om dadelik iets te kan sien wanneer ’n mens in die lig daarna kyk. Maar die mens sou nie dadelik kon ophou sien nie—die afbeelding van dit wat deur die oog geregistreer is, sou nog ’n breukdeeltjie van ’n sekonde lank op die retina agterbly. Volg hierdie nabeelde mekaar vinnig genoeg op, sou hulle saamvloei en die illusie van beweging verskaf. Só is vas geglo.

Vandag word hierdie teorie nog wyd gehuldig, hoewel dit sowat ’n eeu gelede reeds as ’n mite afgemaak is. Ernstige navorsers reken ander komplekse prosesse is in die spel as dit by ons waarneming van gesimuleerde beweging kom. Sonder om diep hierop in te gaan, kan ons maar net sê dat dit blykbaar alles te doen het met die uitsonderlike manier waarop ons werklike sowel as skynbare beweging beleef en interpreteer.

Animasie—die gee van skynbare beweging aan tekeninge, poppe, ens. vir rolprente, die televisie of rekenaarprogramme—maak gebruik van dieselfde prinsiep van reekse stilstaande prente wat in beweging kom wanneer hulle saam vertoon word.

Pleks van ’n afgeneemde mens wat op ’n gewone rolprentfilm allerhande bewegings uitvoer, is daar egter afgeneemde tekeninge of ander lewelose voorwerpe, die een na die ander, die een raampie op die film net so ietsie anders as die volgende, soos dié hieronder:

Reeks prentjies van groen mannetjie

As elk van hierdie prentjies van ’n groen mannetjie ’n tiende van ’n sekonde lank vertoon word, lyk die resultaat só op ’n rekenaarskerm:

Geanimeerde groen mannetjie

Animasie: MSKARG

Die beginsel van animasie met rekenaars en met rolprente is baie dieselfde.  Anders as met rolprente kan die rekenaar-animeerder egter die tydsduur van elke raampie na willekeur bepaal. Onder is nog ’n kort animasie  in ’n “ewigdurende kringloop”.

Animasie

Niemand kan werklik die “vader” van animasierolprente genoem word nie, omdat soveel mense meegewerk het om die praktyk te vestig en te vervolmaak. Een van die groot geeste in die bedryf was nietemin die Amerikaner Walt Disney (1901–1966). Hy was die skepper van sulke onsterflike karakters soos Mickey Mouse, Minnie Mouse, Donald Duck, Goofy, Pluto en ’n duisternis ander.

Disney het eers net kort tekenfilms gemaak, maar in 1937 baanbrekerswerk verrig toe hy die eerste Amerikaanse vollengte-animasiefilm, Snow White and the Seven Dwarfs, die lig laat sien het. Dit was die begin van 'n goue era van Disney-films, wat vandag nog gemaak word deur die maatskappy wat hy nagelaat het.

Walt Disney

BO: Walt Disney in 1954.

Foto: NASA

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad