Flieks
en fantasie Die beginjare van die rolprent
Teks
uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld Argieffoto’s: US Library of Congress / Illustrasie van ou projektor: MSARG |
|
IT moet vir die Parysenaars ’n groot aardigheid gewees het om te aanskou. Die Franse broers Auguste (1862-1954) en Louis (1864-1948) Lumière het naamlik die eerste praktiese stelsel uitgevind waardeur films sowel opgeneem as vertoon kon word. In Desember 1895 het die broers rolprente in ’n kamer van ’n Paryse kafee vertoon met ’n toestel wat sowel ’n rolprentkamera as ’n projektor was. Om
die prente te vertoon het hulle ’n kragtige lamp agter die kamera
geplaas en die film met ’n slinger deurgevoer.
Die
broers Lumière se eerste vertoning daar in die Grand Café aan die
Boulevard des Capucines het reeds ’n voorsmaak gegee van die
moontlikhede en verskeidenheid van die nuwe uitvinding. Die
Franse fliekkykers het vol verwondering gestaar na ’n toneeltjie in
die Lumière-fabrieke, afgeneem tydens die middagete. Hulle het
geskrik vir die aankoms van ’n trein in die stasie en met verbasing
gekyk na die rustelose beweging van die see se branders. Aan die einde
van die vertoning het hulle lekker gelag vir ’n tuiman wat besig was
om sy plante water te gee net om deur iemand anders natgespuit te
word. Dit
spreek vanself dat die eerste rolprente baie gebrekkig was. Boonop was
die eerste projektors bra primitief in vergelyking met vandag s’n. ’n
Skoorsteen sou byvoorbeeld die hitte van die lamp laat ontsnap. En
houtknoppe het die beheermeganismes koud genoeg gehou om aan te raak. ’n
Draaiende sluiter het ’n breukdeel van sekonde lank die projeksie
afgesluit terwyl die film na die volgende raampie aangeskuif het. Die
film kon egter aan die brand slaan as die persoon by projektor opgehou
het om die slinger te draai wat die film laat beweeg het. Die
towerlantern was destyds ’n toestel waarmee vergrote beelde op ’n
skerm gegooi is. Die eerste projektors was in der waarheid
towerlanterns met ’n toestel wat die film deurgevoer het. Baie het
kalklig as ligbron gebruik, maar met die toename in die gebruik van
elektrisiteit, is dit deur vlamboogligte vervang. Die film is, met die
draai van die slinger, deur ’n ''klitser''-meganisme op sy
perforasies voortgetrek. Weens die slyting is vertonings dikwels
onderbreek wanneer die film gebreek het. Charles
Pathé (1863-1957) en sy broer Emile (1860-1937) het baie van die vroeë
projektors gebou en onder die naam Pathé Frères (Broers Pathé)
verkoop. Die twee word egter veral onthou vir die nuusrolprente wat
hul maatskappy van 1909 af gemaak het.
Die uitvinding van onbrandbare film teen 1912 het projeksie baie veiliger gemaak, en projektors vir tuisgebruik het beskikbaar geword. Die Pathéscope-tuiskinematograaf, wat ook soos ’n naaimasjien gelyk het, is ontwerp om kleiner afdrukke van professionele films te vertoon en was ’n reuse sukses. Met
die ontwikkeling van die bioskoop het projektors groter en meer
gevorderd geraak. Groter bioskope het groter beelde geverg en dit het
weer beteken dat die projektorlamp helderder moes wees. Die Gaumont
Kalee-projektor is ontwikkel met ’n yslike lamphouer om sy groot
booglamp te huisves. Die Kalee-projektor was gewild in die jare vyftig
se groot bioskope. Nuwer projektors het nog baie meer outomatiese
funksies. Die ‘fliekpaleise’ van weleer
Die
plan het gewerk: in 1930, toe Amerika se bevolking 122 miljoen was,
het die Amerikaners elke week 95 miljoen keer bioskoop toe gegaan. Toe
die broers Lumière doer in 1895 ’n kamer in Parys gehuur het om ’n
keur van hul rolprente te vertoon, het slegs 35 mense die eerste dag
opgedaag. Maar gou was die bioskoop ’n weghol-sukses en is 2500
kaartjies per dag verkoop. Bioskope het spoedig regoor die wêreld
verrys.
Bioskope
het ook vir hul gehore se gastronomiese aptyte gesorg deur kafees en
restaurante in te rig. Die soort restaurant het grootliks afgehang van
die soort klandisie van die bioskoop, met deftige maaltye op die
spyskaart van die mees luuksueuse bioskoop-paleise in die middestad.
Kleiner bioskope het skrapser maaltye aan minder welgestelde
rolprent-entoesiaste gebied. In
die tyd van die stilprente het ’n klavierspeler vir die begeleidende
musikale klanke van ’n film gesorg, maar namate die bioskope gegroei
het, is klaviere deur orrels vervang. Teen 1929, toe klankfilms die
orrels uitgedien gemaak het, was die bioskoop-orrels sommer al baie
deftig. Helder
ligte het die speeltafel, die klawerbord en orrelis se stoel versier.
Die orrel het uit die vloer verrys wanneer die musiek begin het.
Bioskoop-orreliste soos Reginald Dixon het uit eie reg beroemdes
geword. Die swierigste orrels kon selfs vir eenvoudige byklanke sorg. Die
eerste bioskope was doodeenvoudig omgeboude konsertsale, maar teen
1910 was argitekte besig om doelmatige bioskope te ontwerp. Die
argitekte is aansienlike skeppingsvryheid gebied, en bioskoopgeboue
uit die jare twintig en dertig wat vandag nog staan, bevat sekere
manjifieke voorbeelde van die sogenaamde ''Art Deco'', die dekoratiewe
styl wat die tydperk tussen die Eerste en Tweede Wêreldoorloë (1918-
1939) oorheers het. Die
ryklik versierde interieur van die bioskoop-paleis het die gehoor na
verre plekke meegevoer. Versteekte ligte het ’n sagte beligting
verskaf wat geleidelik van kleur verander het. Spesiale projektors het
effekte van sterlig en bewegende wolke op die plafon geskep. By party
bioskope is parfuum selfs in die lugversorgingstelsels ingespuit. Die
bioskoop-paleis het verander waar dit ook al verrys het. Inryflieks
het in 1933 in die motor-kultuur van New Jersey in Amerika begin, en
in die Sowjet-Unie het die regering ’n bioskoop in ’n treinwa
ingebou om rolprente na afgeleë gebiede te bring. Die Agit-trein het
die regering se boodskap versprei deur propaganda-films te vertoon. Eerste
flieks en fliekteaters in Suid-Afrika
DIE
eerste rolprentkamera-projektor is omstreeks 1896 na
Suid-Afrika gebring—nie lank nadat die broers Lumière die Franse
met hul vertonings vergas het nie. Die baanbreker is ons land was die
goëlaar Carl Hertz. Kort daarna het gereelde vertonings begin. Nuusfilms
(alles natuurlik nog klankloos) is kort voor die einde van die
negentiende eeu in Pretoria en elders gemaak en beroepskameramanne het
in die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) aan die front gewerk. Bioskope
het vroeg in die twintigste eeu in Kaapstad, Johannesburg en Durban
ontstaan. Die Electric-teater in Durban was die eerste permanente
teater wat in Suid-Afrika gevestig is (op 29 Julie 1909). In 1910 is The
Great Kimberley Diamond Robbery uitgereik—die eerste
vollengte-dramafilm (ook steeds klankloos) wat in sy geheel in
Suid-Afrika vervaardig is. I.W.
Schlesinger, wat die African Films-groep gestig het, het in 1916
rolprente begin maak in plaaslike ateljees by Killarney,
Johannesburg. In 1918 is ’n reeks groot stilfilms gemaak waarvan die
mees uitstaande The Voortrekkers was, ’n rolprent oor die
Groot Trek, asook The Symbol of Sacrifice, oor die
Zoeloe-oorlog. Klankfilms
het Suid-Afrika in 1929 bereik. Die Capitol-teater in Pretoria is in
1931 geopen, en by die gala-opening is Suid-Afrika se eerste
klankprente—Joseph Albrecht se Sarie Marais en Moedertjie—vertoon.
Ons
land het ook ander imposante rolprentteaters gehad. Benewens die
Capitol in Pretoria was daar ander teaters met orrels in Kaapstad (die
Alhambra), Durban (Metro en Prince of Wales), Johannesburg (20th
Century, Bijou, Metropolitan en Plaza) en Port Elizabeth (Grand). Sogenaamde
kafee-bioskope of "vlooiflieks", waar bioskoopgangers vir
die prys van ’n fliekkaartjie ook met koeldrank getrakteer is, het
in die loop van die dag dieselfde rolprent oor en oor vertoon. ’n
Mens kon sit en kyk solank jy wou. Jy kon byvoorbeeld selfs in die
middel van een vertoning opdaag en in die middel van die volgende een
uitstap sodra jy by ’n plek gekom het waar jy die verloop van die
verhaal kon snap. Daarbenewens het Suid-Afrika tot nagenoeg die jare vyftig ook rondreisende fliekfirmas gehad wat films veral na die platteland gebring en onder meer in stad- en skoolsale vertoon het. ’n Gevestigde reisende bioskoopmaatskappy was Parkers Talkie Tours. Nog een was Theo Travelling Cinema. Raath Films het op dieselfde manier die film Daar Doer in die Bosveld, die eerste rolprent van die gevierde rolprentmaker Jamie Uys, landwyd versprei.
Die simulering van beweging
en
HOEWEL
dit lyk of ’n rolprent bewegende beelde het, is daar in werklikheid ’n
reeks stilstaande beelde wat kort ná mekaar geflits word. Projektors
projekteer beelde teen 24 raampies per sekonde, wat vir ons die
illusie van aanhoudende, lewensgetroue beweging skep. Maar is dit die menslike oog wat vir ons daardie illusie voortbring of die menslike brein? Hoe gebeur dit dan dat ons beweging sien wanneer ’n reeks veranderende prente vinnig genoeg voor ons oë verblyflikker? Daar is lank gedink die rede is die nabeeldwerking van die oog. Een van die oog se eienskappe sou wees om dadelik iets te kan sien wanneer ’n mens in die lig daarna kyk. Maar die mens sou nie dadelik kon ophou sien nie—die afbeelding van dit wat deur die oog geregistreer is, sou nog ’n breukdeeltjie van ’n sekonde lank op die retina agterbly. Volg hierdie nabeelde mekaar vinnig genoeg op, sou hulle saamvloei en die illusie van beweging verskaf. Só is vas geglo. Vandag word hierdie teorie nog wyd gehuldig, hoewel dit sowat ’n eeu gelede reeds as ’n mite afgemaak is. Ernstige navorsers reken ander komplekse prosesse is in die spel as dit by ons waarneming van gesimuleerde beweging kom. Sonder om diep hierop in te gaan, kan ons maar net sê dat dit blykbaar alles te doen het met die uitsonderlike manier waarop ons werklike sowel as skynbare beweging beleef en interpreteer. Animasie—die gee van skynbare beweging aan tekeninge, poppe, ens. vir rolprente, die televisie of rekenaarprogramme—maak gebruik van dieselfde prinsiep van reekse stilstaande prente wat in beweging kom wanneer hulle saam vertoon word. Pleks van ’n afgeneemde mens wat op ’n gewone rolprentfilm allerhande bewegings uitvoer, is daar egter afgeneemde tekeninge of ander lewelose voorwerpe, die een na die ander, die een raampie op die film net so ietsie anders as die volgende, soos dié hieronder:
As elk van hierdie prentjies van ’n groen mannetjie ’n tiende van ’n sekonde lank vertoon word, lyk die resultaat só op ’n rekenaarskerm:
Animasie: MSKARG Die beginsel van animasie met rekenaars en met rolprente is baie dieselfde. Anders as met rolprente kan die rekenaar-animeerder egter die tydsduur van elke raampie na willekeur bepaal. Onder is nog ’n kort animasie in ’n “ewigdurende kringloop”.
Niemand kan werklik die “vader” van animasierolprente genoem word nie, omdat soveel mense meegewerk het om die praktyk te vestig en te vervolmaak. Een van die groot geeste in die bedryf was nietemin die Amerikaner Walt Disney (1901–1966). Hy was die skepper van sulke onsterflike karakters soos Mickey Mouse, Minnie Mouse, Donald Duck, Goofy, Pluto en ’n duisternis ander. Disney het eers net kort tekenfilms gemaak, maar in 1937 baanbrekerswerk verrig toe hy die eerste Amerikaanse vollengte-animasiefilm, Snow White and the Seven Dwarfs, die lig laat sien het. Dit was die begin van 'n goue era van Disney-films, wat vandag nog gemaak word deur die maatskappy wat hy nagelaat het.
BO: Walt Disney in 1954. Foto: NASA |
|