Die verbasende plante wat ‘vleis vreet’
Blare met byt!

Blaar vang insek

BO: Blaartjie maak vir gogga bang... en dis nie  net ’n bang­makery nie, hy vang boonop die insek en “sluk” hom pens en pootjies in ook! Die plant is ’n sogenaamde vlieëvanger (Engels Venus fly-trap), een van die bekendste karnivoriese plante.

Groot foto: Richard A. Howard Image Collection, Smithsonian Institution, via U.S. National Science Foundation

’n Blaar spel gevaar as een van die plantewêreld se karnivore ’n porsie stikstofryke proteïen wil bekom. Wat meer sê,  daar is baie plante wat niks­vermoedende diertjies só kan vang en verteer...


Bykomende foto's: Vlieëvanger met vlieg en enkele blaar: MSKARG Vlieëvanger in die natuur: Jane Villa-Lobos@USDA-NRCS PLANTS Database Illustrasie van Vlieëvanger Curtis’s Botanical Magazine, via U.S. Department of Agriculture (image Public Domain Old)
Bekerplante: US Fish & Wildlife Service
Sonnedou: Willis Keithley, 1957, U.S. National Park Service Botterkruid: Milo Pyne @ USDA-NRCS PLANTS Database / USDA SCS, 1991
Blaaskruidblomme: Gary M Stolz, US Fish & Wildlife Service
Blaaskruidblase: WA / US GOV


Vlieëvanger laat vlieg se turf sit

BO: Hier is dit weer ’n vlieg wat hom lelik misgis met ’n vlieëvangerplant. Mislei deur die plant se soet afskei­dings, gaan sit die vlieg argeloos op die blaar. Waps! Skielik sit die vlieg agter tralies en sy lot is beseël.

NOU toe nou, jy dog nog heeltyd alle plante is sagmoedige skepsels... milde groen organismes wat slegs lug, sonskyn, water en grond nodig het om hulle gelukkig te hou?

Verkeerd! Al die plante is nie so nie, want daar’s ook plante met byt. In streke waar die grond ’n gebrek aan minerale het, en veral in vleigrond waar minerale moeilik geabsorbeer word, is daar talle plante met die nare—of miskien moet ’n mens liewer sê vernuftige—vermoë om insekte en ander baie klein diertjies te vang en te verteer.

Hoewel hierdie plante ook wel kos maak deur fotosintese—die vorming van chemiese verbindings deur middel van water, sonlig en die koolstofdioksied in die lug—kry hulle met hul “vleisvretery” ekstra voedingstowwe in waarsonder hulle kwalik aan die lewe sou kon bly.

Roofplante kan dus oorleef in gebiede waar die meeste ander plante doodeenvoudig sou vrek.

En praat van slinkse tegnieke om hul prooi te vang. Party, soos die botterkruid (Eng. butterwort) en blaaskruid (Eng. bladderwort), wag dat insekte daarin struikel. Ander, soos die sogenaamde vlieëvanger (Eng. Venus fly-trap of Venus’s fly-trap) en sonnedou (Eng. sundew), verlei hul potensiële slagoffers met onweerstaanbare geure en kleure.

Maar kom ons bekyk ’n paar van die bekendste roofplante van naderby.


Plante wat somme maak

DIE vlieëvanger (“Venus’s fly-trap”) is berug vir die aardige, vaardige en ratse manier waarop hy sy prooi vang. Hy groei in die klam, mossige dele van Noord-Amerika, maar is regoor die wêreld ’n gewilde huisplant.


Jane Villa-Lobos@USDA-NRCS PLANTS Database 
LINKS en BO: Die ou roofvyand met die bytende blare... Hy moet nog net kan knor, sê hulle!

Die blare van die vlieëvanger groei soos ’n roset (roosvormig) naby die grond. Op die foto LINKS BO is ’n plant in die vrye natuur. Elke blaar soos die een REGS BO is ’n afsonderlike valstrik. Dit is min of meer rond en word verdeel deur ’n sentrale skarnier, wat die lobbe (dele) kan laat toeklap soos die twee helftes van ’n oester. Die rande van die blaar het sagte tande wat die strik, wanneer hy oop is, nogal soos gapende kake laat lyk.

Prooidiere word na die plant toe aangelok deur soetruikende heuningkliere aan die blare se buiterand en rooi kleurstof daarbinne. Die binne-oppervlak van elke lob bevat drie sensitiewe sneller-hare.

Ou illustrasie van ’n vlieëvangerplantREGS: ’n Ou illustrasie van ’n vlieëvangerplant.


Die sneller-hare is die plant se “brein”. En hulle kan jou werklik tel! Die vlieëvanger se blare kan slegs drie keer toeklap en weer oopgaan, waarna hulle doodgaan. Die blaar moet dus seker maak dat die voorwerp wat daarop land, inderdaad ’n prooidier is, en nie ’n
reëndruppel of stukkie plantegroei nie, voordat hy toegaan.

Word ’n sneller-haar slegs een keer aangeraak, gebeur daar niks nie. Sou dit of ’n ander haar kort daarna ’n tweede keer geroer word—soos sal gebeur wanneer ’n insek daar rondbeweeg op soek na kos—klap die lobbe blitsvinnig toe en die tande vorm die tralies van ’n geslote hok.

Die lobbe druk ferm teen die spartelende insek aan en kliere aan die binne-oppervlak van die blaar skei verteringsappe af wat oor die diertjie stroom en sy liggaam afbreek.

Wanneer die vertering klaar is, gaan die blaar oop en die insek se oorblywende dop word deur die wind weggewaai.


’n Bittere lot in die beker

NOG ’n bekende vleisvreter is die sogenaamde bekerplant (Eng. pitcher plant). Die blare van hierdie plant vorm werklik ’n beker, wat ’n dodelike dammetjie verteringsappe bevat.

Die bittersoet beker van beproewing...Daar is verskillende soorte en naas die “bekers” op die foto LINKS is daar heelparty ander wat in verskillende wêrelddele groei.

Insekte, aangelok deur onder meer die soet geur van nektar, gaan die gapende bek van die plant binne.

Sodra hulle binne is, verlei die aroma en die oorvloed van suiker-agtige nektar hulle om nog verder ondertoe te beweeg. Maar hoe dieper hulle ingaan, des te glyeriger word die beker se wande.

Skielik verloor die argelose slagoffer sy greep en tuimel in die kuil van suursappe daaronder, waar hy verdrink. Die sappe breek die dooie liggaam gou af en die plant absorbeer die nuttige minerale.


Dou van die dood... ’n taai tameletjie

PARTY vleisvretende plante gebruik klewerige afskeidings om hul prooi te vang. Die sonnedou (ook genoem sondou of sondoutjie), wat feitlik regoor die wêreld in moerassige plekke voorkom, het rosetagtige blaartrosse soos dié van die vlieëvanger.

Dou van die doodHoewel die blaarvorms van die verskillende soorte verskil, het hulle almal vangarms met ’n klewerige druppeltjie aan die bokant,
soos op die foto REGS
gesien kan word.

Verlok deur die druppeltjies wat in die son glinster, kruip insekte en spinnekoppe tot op die blare en raak in die klewerigheid verstrik. Die vangarms langsaan buig ook oor in die rigting van die worstelende prooi om hom behoorlik met gom te versmoor. Die vangarms stel ensieme vry wat die liggaampie afbreek, en die blaar absorbeer die voedingstowwe.

 

     
In die botter geval...
Klewerige ‘botter’

 

DIE botterkruid REGS (van die Noordelike Halfrond en Suid-Amerika) se stingel en blare is weer bedek met kort haartjies wat ’n klewerige, geel stof afskei wat soos botter lyk. Klein insektetjies, soos muggies, wat op die blare of stingel land, kan nie van die gom af wegkom nie. Wanneer die plant “agterkom” dat ’n worstelende insek op hom beland het, skei klierhare op die oppervlak verteringsappe af wat die liggaampie verteer.

 

 





Bokveld toe in ’n blasie

DIE blaaskruid, ’n vleisvreter van varswaterdamme en vleie, sou daarop kon roem dat hy die vinnigste plant op aarde is.

BlaaskruidblommeBinne ’n duisendste van ’n sekonde vang hy sy prooi en druk hom dood.
Op die foto LINKS is een van blaaskruidsoorte.

Maar die vangery geskied nie aan die bokant van die blomdraende plant nie. Stingels of blare, wat onder die water dryf, bevat klein ballon-agtige sakkies. Elke blasie het ’n klein valdeurtjie met sneller-haartjies.

Wanneer ’n waterdiertjie soos ’n watervlooi teen die haartjies skuur, skiet die valdeurtjie oop en die vlooi word oombliklik in die blaas ingesuig. Die deurtjie klap dan agter hom toe.

Namate die liggaampie ontbind, word voedingstowwe deur die blaaswand opgeneem.

BlaaskruidblaseGewoonlik word net klein diertjies gevang, maar soms aktiveer ’n groter een, soos ’n paddavissie of klein vissie, die strik en word hy ingesuig. Maar omdat net ’n deel van sy liggaam in die blaas kan inpas, steek die res aan die buitekant uit. Dié word eers ingesuig nadat die gevange deel verteer is. Op die foto HIERBO is die onderwaterse blasies van een sekere blaarkruid duidelik te sien. Dit is waarskynlik nie van dieselfde soort as dié waarvan die blomme naasbo gewys word nie.


Nog iets interessants... 

   Vleisvretende plante wat op droë grond groei, vang nie “graag” bestuiwende insekte soos bye en wespe nie. Hul blomme is op lang stingels ver weg van hul valstrikke.

   Party soorte krapspinnekoppe is immuun teen die verterende sappe van bekerplante. Hulle skuil binne-in die beker en bespring insekte wat soontoe aangelok word.


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad