Die
Namibwoestyn
koue
seestroom in aanraking met warm lug—om een van die dorste plekke langs
die kus te vorm wat ’n mens op aarde sal aantref: die Namibwoestyn.
Lees hieronder hoe die kragte van die natuur saamgespan het om hierdie
verlatenheid te skep... |
|||
AN matrose
wat aan land geklouter het by die Seekus van die Dood, bestaan daar talle verhale in die annale van skeepsrampe.
Eers was hierdie skipbreukelinge verlig dat hulle die verraderlike
waters van die Atlantiese Oseaan oorleef het. Die wrange ironie is dat
hulle net daarna dood is—in die ongenadige son van die Namibwoestyn. Baie sulke
matrose van weleer het moontlik gewonder waarom daar dan ’n woestyn
noord van die Steenbokskeerkring is. Sou ’n mens nie eerder ’n
stomende, vogtige woudland in hierdie wêrelddeel verwag nie? Die
Namibwoestyn is egter nie uniek nie, want daar lê ’n gordel van
woestyne by die Steenboks- sowel as die Kreefskeerkring regom die wêreld.
Die rede waarom dit so is, word elders verduidelik. Lees ook in die
bygaande brokkies wat dit is wat die Namib so ’n besonderse plek maak. Benguela-seestroom
Hierdie
smal, dorre strook land is maar net 100 km breed. Dit bestaan
hoofsaaklik uit grinterige vlaktes en groot gebiede van verskuiwende
sandduine. Omdat die reënval so laag en daar so min riviere is, is
water skaars. Tog slaag ’n
klompie geharde plantsoorte en verskeie insekte, spinnekoppe, akkedisse,
slange en soogdiere daarin om hier te oorleef. Hulle benut die weinige
lewensmiddele wat die woestyn hulle bied. Die
lewensdraad vir die meeste plante en diere is ’n digte mis wat omtrent
een maal elke drie dae hier van die see af inrol. Kewers laat die vog op
hul lywe kondenseer sodat die watertjies in hul monde kan inloop. Adders
lek die gekondenseerde waterdamp van hul velle af op. En die stoetse
welwitschia-plant het duisende klein porieë aan sy blare, wat die
gekondenseerde newel absorbeer voordat dit in die son se hitte verdamp.
Mis is
iets ongewoons in woestyne. Waarom kom dit dan so dikwels hier voor? Wes
van die Namibwoestyn lê die Atlantiese Oseaan. Die koue
Benguela-seestroom beweeg noordwaarts in hierdie oseaan—van die waters
om Antarktika af en verby die weskus van Suider-Afrika in die rigting
van die ewenaar. Die koue seestroom verkoel die lug bokant dit en veroorsaak dat die lug baie van sy vog verloor. Teen die tyd dat die wind oor die land waai, is dit so droog dat daar omtrent geen reën kan uitsak nie. Die bietjie vog wat nog oorbly, vorm slegs ’n mis.
Hoëlugdruk-gebiede OMDAT
die aarde rond is, ontvang hy nie oral dieselfde hoeveelheid hitte van
die son af nie. Naby die ewenaar, waar die son die warmste bak, styg die
warm lug op. Dit veroorsaak ’n streek van lae lugdruk. Namate die
opstygende lug afkoel, gaan baie van die vog daarin verlore in die vorm
van reën. Die lug sprei van die ewenaar af uit, en by sowat 30 grade
noorder- en suiderbreedte (rondom die Kreefs- en Steenbokskeerkring)
begin dit na die aarde toe neerdaal. Soos die
lug afsak, begin dit weer warm word, maar dit is baie droog omdat dit
die meeste van sy water verloor het. Die dalende lug veroorsaak hoëlugdruk-gebiede,
wat keer dat vogbelaaide lug inkom, en dit skep streke met baie stabiele
klimate. Dit is in
hierdie hoëlugdruk-gebiede waar die meeste van die wêreld se woestyne
lê. Die strook woestyne regom die wêreld by hierdie breedtegrade is
egter nie oral dieselfde nie. Dit is omdat windpatrone om vastelande
plek-plek die hoëlugdruk-gordels opbreek. Die Namib,
Kalahari en Sahara in Afrika, die Arabiese woestyn in die Midde-Ooste,
die Atacama in Suid-Amerika en die Sonoran in Kalifornië is voorbeelde
van woestyne wat binne hierdie hoëlugdruk-sones lê. Begraafplaas
van skepe
DIE
noordelike deel van die Namibiese kuslyn word die Seekus van die Dood
genoem—om ’n goeie rede. Digte mis, sterk winde, verraderlike
seestrome en verborge rotse en riwwe het talle skeepsrampe in dié
gebied veroorsaak. Om vandag
teen die Seekus van die Dood langs te ry, is soos ’n reis deur ’n
begraafplaas van skepe, met die een verbrokkelende wrak en hopie
verbleikte bene ná die ander. StrandlopersDIE
oorspronklike inwoners van die kusstreek van Namibië was die
Strandlopers, verwante van die San van die Kalahari. Hierdie geharde
mense het met die kus langs op- en afbeweeg en het oorleef deur vis te
vang en in hutjies van walvisbeendere te skuil. Die oorblyfsels van hul
skuilplekke kan vandag nog gesien word.
Die
Himba
REGS: ’n Jong vrou van die Hinda-volk in Namibië.
Foto: Detail van ’n werk
DIE
Himba is ’n nomadiese (rondtrekkende) volk wat in die
droogtegeteisterde noordweste van die Namib woon. Daar is sowat 7000 van
hulle in Namibië en 3000 in Angola, en hulle oorleef in die dorre
toestande deur met hul bok- en beestroppe rond te beweeg op soek na
water en vars weiding. Hulle plant in die reël nie gewasse nie, maar
ruil in die naburige dorpe hul diere vir mielies, groente, suiker,
tabak, alkohol en versiersels. Waar hulle
ook al gaan, bou die Himba hutte, wat bestaan uit raamwerke van takke
wat met ’n mengsel van modder en dieremis bepleister is. Die hutte
word so stewig gebou dat hulle jare lank onbeskadig bly staan. Minerale
BAIE
van die wêreld se woestyne is ryk aan minerale en edelstene, en die
Namib is geen uitsondering nie. Diamante lê op plekke gestrooi en die
sogenaamde Sperrgebiet—’n 200 km lange strook noord van die
Oranjerivier—is vir die meeste mense verbode. Die De Beersmaatskapy
Namdeb het die beheer daaroor verkry. Hoekom is
daar diamante in die duine? See toe gespoel deur die Oranjervier, word
die diamante deur seestrome noordwaarts gedra en teen die kus langs
uitgespoel. Die eerste
diamant in die Namibwoestyn is in 1908 ontdek. ’n Diamantstormloop het
gevolg en werkers is in diens geneem om op hul mae te kruip en die sand
te sif. Hul monde is toegebind om te keer hulle in die versoeking sou
kom om die diamante in te sluk. Prospekteerdersdorpe
met teaters, danssale en speelkamers het in die omgewing van Lüderitz
ontstaan: Kolmanskop, Elizabethbaai, en, na die suide, Pomona. Hoewel
baie diamante gevind is, het talle prospekteerders in die woestyn
verdwaal en weens die hitte en dors gesterf. Ander is geldelik geruïneer. Die
diamantvelde is in die Depressiejare van die 1920’s en 1930’s
verlaat en die nedersettings het spookdorpe geword namate die duine hul
gebied teruggeëis het. Oorblyfsels soos grawe, wat in die Depressiejare
agtergelaat is, kan nog in die gebied gesien word. Vandag is
die diamantbedrywighede meestal gekonsentreer om Oranjemund, die mond
van die Oranjerivier, en na die noorde. Daar is
ook neerslae van koper en uraan in die Namib. |
|||