|
Psoriase Die kruis van miljoene
|
|
IE mens is geen reptiel of vis nie, maar mense met psoriase het skubbe. Dit kan skifseltjies hier en daar op miskien die elmboë wees, of erg ontsierende skurwe korste op baie verskillende plekke aan die liggaam.
Oningeligte haarkappers kan volstrek weier om aan die hare te raak van mense met psoriase aan die kopvel. Kinders met die velkwaal kan harteloos deur ander kinders vermy word omdat hulle glo so “brandsiek” sou lyk. Versekerings dat psoriase hoegenaamd nie aansteeklik is nie, word wantrouig of beterweterig verwerp, want hoe sal sulke onooglike velwonde dan nou nie besmetlik wees nie?
Die waarheid is egter dat psoriase bloot ontstaan waar die immuunstelsel van ’n lyer foutiewe seine uitstuur wat die groei van sy of haar vel se selle laat versnel. Die selle van ’n mens se vel word gedurig vervang soos hulle onder die vel ontstaan en na buite uitbeweeg om te verouder, af te sterf en weg te val. In die normale gang van sake duur hierdie proses ongeveer ’n maand. By die psoriaselyer kan dit egter binne enkele dae gebeur. Die afgestorwe selle stapel dan op en vorm ’n silwerwit kors op die oppervlak.
As die kors met byvoorbeeld salwe versag en verwyder word, is die letsels daaronder rooi en opgehewe.
Die soort psoriase wat hierbo beskryf is, is die algemeenste soort en staan eintlik bekend as plaak-psoriase (psoriasis vulgaris), maar daar is ook ander vorms van hierdie baie lastige chroniese aandoening, waaronder:
Nog ’n psoriase-toestand is psoriatiese artritis, wat volgens dermatoloë voorkom by tien tot dertig persent van die mense wat aan psoriase ly. Dit is ’n chroniese ontsteking van die gewrigte. Psoriase kan ook onder die naels voorkom. By sowat tien persent van die mense met psoriase is dit slegs die naels wat sigbaar aangetas word.
Wie kry psoriase? ENIGIEMAND kan dit kry, van babatjies tot bejaardes, maar dit kom meer dikwels by volwassenes voor. Daar word geraam dat sowat twee tot drie persent van die wêreldbevolking die aandoening het. Dit kom onder mense van allerhande rasse voor, dog blykbaar minder by mense met donker velle en vreemd genoeg heel selde onder die Indiane van Suid-Amerika. In baie gevalle is daar iemand in die familie wat ook ’n psoriaselyer is. Wat meer sê, sekere gene is al geïdentifiseer wat met die kwaal verband hou. Daar is omtrent ewe veel mans as vroue wat aan psoriase ly. Maar presies wat veroorsaak dit?PSORIASE se aanvanklike oorsake is nog nie ten volle vasgestel nie. Die geleerdes weet vandag dit begin in die immuunstelsel, hoofsaaklik by ’n soort wit bloedliggaampie wat ’n T-sel genoem word. T-selle help om die liggaam teen infeksie en siekte te beskerm. By psoriase word T-selle per abuis geaktiveer. Hulle raak so aktief dat hulle ander immuunreaksies aan die gang sit. Dit lei tot swelling en ’n vinnige omset van velselle. Mense met psoriase kan vind dat hul aandoening partykeer beter raak en ander kere vererger. Dinge wat tot die verergering van die psoriase kan lei, sluit in:
Kan psoriase aangewakker word deur dit wat ’n mens eet? Daar is lyers wat byvoorbeeld voet by stuk hou dat vettighede, veral varkvleis, vir hulle taboe is, maar dit wil lyk of dit eerder voorstanders van die alternatiewe geneeskunde is wat die dieet so regstreeks met psoriase verbind. Trouens, baie wat al hieroor geskryf en vertel is, is ongelukkig misleidend, reken geleerdes in die hoofstroom van die mediese wêreld.
Maar ’n mens moet die saak tog
kwalifiseer. Want waar mense vind dat spesifieke kosse hul psoriase
laat opvlam, kan dit inderdaad dalk die gevolg wees van bepaalde
onverdraagsaamhede teenoor sekere voedselsoorte, deurdat dit die
lyers se metabolismes so verfomfaai dat dit tot ’n wanfunksie in hul
immuunstelsel lei. Net soos alle ander mense sal psoriaselyers dus
net kan wen deur eenvoudig gesond te eet. Hoe word psoriase gediagnoseer? DIT kan moeilik wees om die aandoening te diagnoseer, want dit kan dalk op die oog af soos ander velkwale lyk. Die dokter kan dit dalk nodig vind om na ’n stukkie vel onder die mikroskoop te kyk voordat daar met sekerheid gesê kan word of die pasiënt wel aan psoriase ly.
Foto: U.S. Army / U.S. Military Hoe word psoriase behandel?DIE behandeling hang af van: • hoe ernstig die kwaal is; • die grootte van die psoriase-letsels; • die soort psoriase; • hoe die pasiënte op sekere soorte behandeling reageer. Almal reageer nie dieselfde op die verskillende soorte behandeling nie. Dokters kan van die een soort behandeling na ’n ander oorskakel as die eerste behandeling nie slaag nie, daar ’n negatiewe reaksie is of as ’n beproefde soort behandeling naderhand nie meer werk nie. Behandeling met rome of salwe: Rome of salwe kan dalk help om die inflammasie van die vel te verbeter en die buitensporige selvorming te verminder.Ligterapie: Natuurlike ultraviolet lig van die son en kunsmatige ultraviolet lig word gebruik om psoriase te behandel. In een soort behandeling, wat PUVA genoem word, word ’n kombinasie aangewend van ultraviolet A-lig en ’n middel wat die vel sensitiewer vir lig maak.Sistemiese behandeling: As die psoriase baie kwaai is, kan dokters dalk sekere soorte medisyne voorskryf of ’n inspuiting toedien. Antibiotika word nie gebruik om psoriase te behandel nie, tensy bakterieë ook teenwoordig is wat die aandoening erger maak.Kombinasieterapie: Wanneer die bogenoemde drie soorte behandeling saam gebruik word, is dit dikwels moontlik om die dosisse by elkeen te verminder. Kombinasieterapie kan ook tot beter resultate lei.Waar daar in die
verlede nie altyd die beste resultate behaal is met die behandeling
van psoriase nie, maak die mediese wetenskap deesdae belowende
vordering op hierdie terrein. Dokters leer meer omtrent die kwaal as
gevolg van hul navorsing oor gene, nuwe behandelings wat
|
|
| LET WEL: Mense word ernstig gewaarsku teen allerhande “middels”, soos ook op die internet geadverteer, wat kwansuis psoriaselyers sou help. Moet niks beproef sonder dat jy eers jou dokter se raad ingewin het nie! | |