POSSEËL:
Die geboorte van die nuttige kleefbewysie
IN
1834 het ’n boekhandelaar in Engeland, Chalmers, voorgestel dat spesiale
kleefetikette op briewe geplak moes word as bewys dat die posgeld betaal is.
Só het die idee van posseëls, soos ons dit vandag ken, ontstaan.
Drie
jaar later, in 1837, is ’n klein pamflet met die titel Poskantoor-hervorming:
Die Belangrikheid en Toepasbaarheid Daarvan in Londen gepubliseer. Die
skrywer van dié pamflet, Rowland Hill, het voorgestel dat posgeld deur die
afsender betaal moes word. In Brittanje het die ontvanger van ’n brief toe
steeds die posgeld betaal en nie die afsender nie.
’n
Verdere voorstel van Hill, wat in sy lewe onder meer ’n onderwyser was,
was dat die afsender die posgeld op sy brief moes kon betaal deur ’n klein
kleefetiket te koop en dit dan op die koevert te plak.
Maar hoekom het die
stelsel van betaal-by-ontvangs vir briewe nie so baie goed gewerk nie?
Een probleem was dat iemand aan wie ’n brief geaddresseer was, kon weier
om die brief in ontvangs te neem. Bedrieglike skelmstreke, soos waar
gekodifiseerde inligting op die koevert aangebring is, wat die
geaddresseerde met een kyk sou kon ontsyfer om net daarna ontvangs en
betaling van die brief te weier, was glad nie ongewoon nie.
Hoewel
Hill se planne
(soos so dikwels met nuwighede gebeur) nie deur almal en oral met ope arms
verwelkom is nie, het die Britse parlement die voorstelle ná ’n ondersoek
goedgekeur. Daar is bepaal dat kleefetikette op staatskoste gedruk en by
poskantore verkoop moes word. Hill is aangestel om die nuwe posstelsel in
werking te stel.
REGS:
Die Penny Black.
Die
eerste posseëls is op 1 Mei 1840 in Brittanje te koop aangebied. Die kop
van koningin Victoria, die destydse koningin, het op die seëls verskyn.
Twee soorte seëls is aanvanklik gedruk: ’n swart seël, wat een pennie
gekos het (die sogenaamde Penny Black) en ’n bloue ter waarde van
twee pennies. Die nuwe posstelsel het toe as die Penny Post bekend
geraak.
Die
velle waarop die eerste seëls gedruk was, was nog nie geperforeer nie, en
die seëls moes met ’n skêr uitgesny word. Die seëls het egter reeds
’n watermerk gehad om vervalsings uit te skakel.
Hierdie
nuwe stelsel was dadelik ’n groot sukses en het weldra regdeur die wêreld
versprei—ook na die Kaap, wat ’n Britse kolonie was. Trouens, party van
die wêreld se beroemdste en skaarsste seëls is deur die negentiende-eeuse
Britse kolonies uitgereik, want die oplae was dikwels klein en drukfoute het
soms op ’n deel van ’n bepaalde oplaag voorgekom.
Van
die beroemdste seëls van alle tye is die Kaapse driehoekseëls. Die eerste
Kaapse posseëls (ter waarde van een en vier pennies) is in 1853 uitgereik.
Vanweë hul uitsonderlike vorm was hierdie seëls van die begin af baie
gewild by versamelaars, en onbeskadigde eksemplare is vandag heelwat werd.
LINKS:
’n Kaapse driehoekseël.
In
Brittanje het Rowland Hill (1795-1879)
in 1846 sekretaris van die posmeester-generaal geword en hy is later (1854)
as poskantoorsekretaris aangestel. Sir Rowland is in 1860 tot ridder geslaan
en het in 1864 die tuig neergelê. Hy is in die Westminster-abdy begrawe.
Só
het posseëls dan ontstaan—die gegomde papiertjies wat, net soos banknote,
op hul eie manier baie werd kan wees en kommunikasie moontlik maak soos
selfs Rowland Hill dit seker in sy wildste drome nie kon voorsien het nie.
Die koms van e-pos het wel die konvensionele brief ’n gevoelige slag
toegedien. Maar almal het nog lank nie toegang tot rekenaars en die internet
nie, terwyl pakkies met goedere tog ook nie per e-pos gestuur kan word nie.
Daarvoor is die betroubare ou posseël dikwels steeds nodig.

BO: Is daar iets of ’n
beroemde iemand wat nog nie die een of ander tyd êrens ter wêreld op ’n
posseël verskyn het nie, kan ’n mens wel vra. Hier, van links heel bo
soos die horlosiewysers loop, is:
• Albert
Einstein, die wiskundige genie en vader van die relatiwiteitsteorie;
• ’n
hoephoep (voëlsoort);
• prinses
Grace van Monaco, die Hollywood-aktrise Grace Kelly van weleer wat met ’n
prins getrou het;
• Laika,
die eerste hond wat in die ruimte was; en
• ’n
oerdier, nogal op ’n ou Suid-Afrikaanse seël.
(Let wel: Die seëls in hierdie versamelinkie is nie noodwendig in hul regte
groottes en in die korrekte verhoudings tot mekaar nie.)
|