Waarom jy die konstabel op die straathoek as jou beste vriend moet beskou

Polisie! Vang die dief!

 Polisiemotor en gevangene

Elke land het ’n polisiediens nodig. Daarsonder kan die staat maklik in anargie verval. Anargie beteken dat misdadigers kan steel, moor en te kere gaan soos hulle wil, sonder enige vrees dat hulle aan die pen sal ry vir hul bose dade…

•  Die polisieman beveilig in die reël ’n land aan die binnekant daarvan.

•  Die soldaat beveilig in die reël ’n land teen invallers van buite.

J

Y word op straat op ’n ruwe manier van jou beursie beroof, en jy haas jou dadelik na die naaste polisiekantoor om die misdaad aan te meld. Die polisiepersoneel daar is op en wakker. Hulle stuur dadelik boodskappe aan alle polisiemanne in die omgewing om op die uitkyk te wees vir ’n persoon wat met jou beskrywing ooreenstem.

 

Skaars ’n kwartier het verloop, toe hulle die astrante skelm vastrek waar hy doodluiters in die straat loop en jou beursie se inhoud ondersoek. Gelukkig vir jou het niks behalwe ’n rand of tien uit die beursie verdwyn nie, waarmee die rower vir hom ’n toebroodjie gekoop het.

 

Jou kredietkaart en sowat tweehonderd rand is ongeskonde. Dit is met groot dankbaarheid dat jy later jou beursie van die polisie terugontvang—verheug dat jy nie in ’n land woon waar misdaad totaal hand-uit geruk het nie…

ELKE staat het ’n polisiemag of polisiediens in die een of ander vorm nodig. Die polisie moet sorg dat die orde en reg binne-in daardie staat te alle tye gehandhaaf en die staatsburgers beskerm en beveilig word.

’n Polisiehoof  in DuitslandLINKS: ’n Polisiehoof van Hamburg in Duitsland sorg vir die beveiliging van die Hamburgers—en daarmee word natuurlik nie daardie frikkadelbroodjies bedoel wat ’n mens by kitskos-restaurante koop nie!

Foto deur Daniel Schwen, wat dit op hierdie bladsy in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web geplaas het en kopieëring vergun ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.5-lisensie, mits sy kopiereg behoorlik erken en dit slegs versprei word ingevolge ’n lisensie identies aan hierdie een. Amptelike lisensie

Sonder só ’n beskermingsdiens kan enige staat maklik in wanorde en wetteloosheid verval. Dan word gepraat van anargie. Dit is ’n toestand waarin elke boosdoener kan steel, moor en maak en breek soos hy wil sonder dat enige gesag hom keer en hom vir sy verkeerde dade laat boet. Geen staat sou in só chaos staande kon bly nie.

 

Die idee van ’n mag wat die orde in ’n land of gebied moet handhaaf, is dus baie oud, hoewel die antieke liggame vir die handhawing van die goeie orde aanvanklik orals anders saamgestel en ook anders genoem is. Baie wetstoepassers het swaar gewapende eenhede gehad wat gevaarlike situasies moes hanteer en oortreders moes vasvat. In die Griekeland van die Oudheid is slawe deur die magistrate as ordehouers ingespan.

 

Só was daar byvoorbeeld sowat driehonderd Skithiese slawe in die Griekse stadstaat Athene wat die oproerige skares by openbare byeenkomste moes beheer. Die slawe moes ook oortreders in hegtenis neem, terwyl daar selfs van hulle verwag is om gevangenes te martel. Ander take wat met hedendaagse polisiedienste vereenselwig word, soos om misdade te ondersoek, is egter deur die stadstaat se burgers self behartig.

 

Ou Rome het ten tyde van die heerskappy van keiser Augustus (63 v.C.-14 n.C.) byna ’n miljoen mense gehuisves, wat snags deur seweduisend lede van die sogenaamde “Vigiles Urbani ” bewaak is.  Die “Vigiles” het ook as brandweer gedien in hierdie woelige hoofstad van die Romeinse Ryk.  Hulle kon voorts, indien dit nodig geblyk het, die pretoriaanse garde ontbied het om hulle te help—lede van die keiser se lyfwag.

 

Die woord polisie (Engels police, Nederlands politie, Duits Polizei) kom uit Frans, na die Latynse woord politia, wat “burgerlike administrasie” beteken. Politia kom self uit die ou Griekse woord vir ’n polis of stad. Dink ook aan ons ander woord metropolis, wat ’n “groot stad” beteken.

 

Die eerste polisiemag wat met vandag se polisie vergelyk kan word, het in Frankryk ontstaan. Die sogenaamde Sonkoning van die Franse, Lodewyk XIV, het dit in 1667 ingestel. Daar word egter wyd gereken dat die London Metropolitan Police in Engeland die eerste moderne polisiemag was. Dit is in 1829 in die lewe geroep ter voorkoming van stedelike misdaad en oproer.

 

Suid-Afrika, waar die Kaapkolonie en Natal dekades lank kolonies van Brittanje was, kon uit die ondervinding van die Europeërs put om ’n doeltreffende polisiemag tot stand te bring.

 

In die tyd van apartheid is dit die Suid-Afrikaanse Polisie (SAP) genoem en in die nuwe Suid-Afrika staan dit bekend as die Suid-Afrikaanse Polisiediens (afgekort tot SAPD). Deur die byvoeging van die woord “diens” word beklemtoon dat dit ’n diens aan die gemeenskap is eerder as ’n hardvogtige mag wat met brute geweld sy gesag op die onderhorige mense van die land afdwing.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens

DIE missie van die SAPD is:

·         om enigiets te verhinder wat die veiligheid en sekuriteit van enige gemeenskap in ons land bedreig;

·         om te verseker dat misdagigers aangekeer word en voor die gereg tot verantwoording geroep word vir hul misdade;

·         en om deel te wees van pogings om die grondoorsake van misdaad aan te spreek.

Wapen van die SAPD

Ou polisiehoed

LINKS BO: Die wapen van die SAPD, wat in 1995 by die Buro vir Heraldiek geregistreer is.
REGS BO: ’n Ou polisiehoed wat deur ’n lid van die destydse Suid-Afrikaanse Polisie (SAP) gedra is. Die SAPD bestaan sedert 1995 toe die land en “tuislande” se elf verskillende polisieagentskappe—elk met sy eie uniforms, rangstrukture en diensvoorwaardes—in een liggaam verenig is.
  

Die SAPD val onder die Departement van Veiligheid en Sekuriteit. Ingevolge die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996, is die oogmerk van die polisiediens om misdaad te voorkom, te beveg en te ondersoek; om die openbare orde te handhaaf; om die inwoners van die Republiek en hul eiendom te beskerm; en om die wetlike gesag te handhaaf en af te dwing.

Aansluitend hierby is die lys waardes waartoe die mense in diens van die polisie hulle verbind:

  • Om elke mens se regte te beskerm.
  • Om teen niemand te diskrimineer nie.
  • Om respekvol, oop en verantwoordelik teenoor die gemeenskap op te tree.
  • Om die magte wat aan hulle verleen is, op ’n verantwoordelike wyse te gebruik.
  • Om hul pligte met eerlikheid en integriteit uit te voer en te verseker dat hulle ’n goeie diens lewer.
  • Om hul diens te evalueer en alles in hul vermoë te doen om dit te verbeter.
  • Om hul hulpbronne ten beste te gebruik.
  • Om die vaardighede van almal in diens van die polisie te ontwikkel om hulle gelyke geleenthede te bied.

Daar is verskeie loopbane in die SAPD op verskillende terreine. Mense wat hulle by die SAPD aansluit, kan óf polisiebeamptes óf siviele werkers word. Polisiebeamptes kan tot verskillende range in die polisiediens bevorder word.

Funksionele polisiebeamptes is meestal regstreeks betrokke by die voorkoming, bestryding en ondersoek van misdaad. Ander amptenare in die polisiediens en siviele personeel verrig ondersteuningsdienste soos met beroepsbestuur, personeeldienste, opleiding, finansiële dienste, om maar net ’n paar te noem.

Die SAPD bestaan sedert 1995. Voor die totstandkoming van die nuwe Suid-Afrika in 1994, was die land verdeel in die “blanke” Republiek en verskillende tuislande (party sogenaamd onafhanklik, ander selfregerend plus ontwikkelingsgebiede) wat daarop neergekom het dat daar elf polisieagentskappe was, elk met sy eie uniforms, rangstrukture en diensvoorwaardes. Hierdie polisieagentskappe is toe saamgesnoer in een polisiediens, die SAPD.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad