NOTA: Hierdie artikel is in Augustus 2006 geskryf. Intusen het die dwergplaneet 2003 UB313  (bygenaamd Xena”), waarna in die artikel verwys word, op 13 September 2006 ’n amptelike naam gekry, te wete Eris. Die dwergplaneet is genoem na die Griekse godin Eris, ’n verpersoonliking van twis en onvrede. Die hemelliggaam Eris is steeds die grootste bekende dwergplaneet in ons sonnestelsel [31 Julie 2007].
Eris se maantjie Dysnomia (voorheen bygenaamd “Gabrielle”) is genoem na die dogter van die mitologiese Eris.


Pluto

Hoe en hoekom die raaiselwêreldjie aan die buitegrens van die domein van die planete gestroop is van die hoë status wat hy sedert 1930 beklee het

Pluto
— nie meer ’n volwaardige planeet nie!

FOTO REGS BO: Die enigmatiese Pluto, wat nou tot ’n dwergplaneet afgegradeer is. Die hemelliggaampie vertoon iets van sy ware kleure op hierdie teleskoop-foto—maar hy is so ver en so klein en so dof dat geen van sy terreinvorms werklik herkenbaar is nie. Sterrekundiges reken nietemin hy is ’n rotsagtige kalantjie. Daar is ligte verskuiwende streke van vermoedelik verysde stikstof en donker dele van vermoedelik metaan-ys. ’n Amerikaanse snuffeltuig is nou darem onderweg soontoe en daar word gehoop dat ons oor sowat nege jaar baie meer te wete sal kan kom van hierdie raaiselwêreldjie wanneer die sogenaamde New Horizons-ruimtetuig uiteindelik daar verbyvlieg.

Foto: NASA

Artikel deur Mieliestronk.com op web geplaas op 25 Augustus 2006


N

OU ja, nou is dit amptelik. Pluto is nie meer ’n planeet nie! Op 24 Augustus 2006 het die Internasionale Astronomiese Unie in Praag in die Tsjeggiese Republiek besluit om Pluto van sy status as volwaardige planeet te stroop.

Die beslissing behels ook dat hy voortaan as ’n "dwergplaneet" bekend sal staan. Enkele ander groterige voorwerpies in ons son se familie is weer tot dwergplanete opgegradeer. Die betreklik onlangs ontdekte ruimtelike voorwerp 2003 UB313 (bygenaamd Xena), Pluto se vernaamste maan Charon en die grootste  asteroïde in die sonnestelsel, Ceres, is nou almal dwergplanete saam met Pluto.
   
   
    Planete en dwergplanete van die sonnestelsel volgens die nuwe indeling

BO: Planete en dwergplanete van die sonnestelsel volgens die nuwe indeling.

Dit was lankal duidelik dat Pluto—aan die verre buitegrens van die domein van die planete in die sonnestelsel—nie rêrig in die liga van die agt ander planete tuishoort nie, te wete Mercurius, Venus, die Aarde, Mars, Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus.

Pluto is doodeenvoudig te klein—kleiner selfs as ’n hele klompie van die mane van die ander planete. Hy voldoen ook nie aan die nuwe definisie dat ’n planeet in staat moet wees om die omgewing van sy wentelbaan skoon te vee van ruimtelike voorwerpe nie. Hy beweeg boonop nie eens op die dieselfde vlak as die agt planete nie en volg ’n eksentieke wentelpad wat hom soms nader aan die son bring as Neptunus.

Pluto en die planeet Aarde met mekaar vergelykREGS: Pluto en die planeet Aarde met mekaar vergelyk. Dis is baie duidelik dat Pluto sommer net ’n dwergie is.

Kompilasie van NASA-foto’s

Toe Pluto in 1930 deur die Amerikaanse sterrekundige Clyde William Tombaugh ontdek is (op grond van aanvoorwerk deur Amerikaanse sterrekundige Percival Lowell) is weliswaar gedink dat hy omtrent so groot soos die aarde moes wees. Daar is nie besef dat hy ook ’n maan het nie en die hele planeet-maan-kompleks is aangesien vir ’n enkele, heel aansienlike planeet.

Eers veel later is agtergekom dat Pluto net ’n kleinerige wêreldjie met ’n maan (genoem Charon) is—dat hy in der waarheid so klein is dat hy hoogtens die naam mini-planeet of dan wel dwergplaneet waardig is. Charon is eers in 1978 ontdek. Dit is omdat hierdie maan so naby aan sy moederplaneet is dat hulle een dowwe skynsel gevorm het wanneer hulle met aardteleskope bekyk is.

Maar uiteindelik moes sterrekundiges ernstig besin of Pluto se tjank as "planeet" nie afgetrap moes word nie—want met hoogs verbeterde waarnemingsinstrumente is dit heel moontlik dat nog ’n tros Pluto’s in die sonnestelsel se buitewyke opgespoor kan word. Trouens, so onlangs as in 2003 is ’n ruimtelike voorwerp verder in die diepruim ontdek, ’n vrieskoue konglomeraat van gesteentes en ys wat, met sy deursnee van sowat 3.000 km, groter is as Pluto met sy deursnee van naastenby 2.270 km.

Hierdie "groter Pluto" sou amptelik bekend staan as 2003 UB313, totdat oor ’n naam vir hom besluit sou word. Die dwerg het ook ’n maantjie. Dié tweetal het voorlopig onderskeidelik die byname Xena en Gabrielle gekry (na karakters in 'n Amerikaanse TV-reeks, Xena: Warrior Princess), maar dit is nie hul amptelike mane nie.

Die bekendmaking van 2003 UB313 se ontdekking het gevolg kort op die bekendmaking van die ontdekking van die mini-wêreldjie Sedna, wat met groot fanfare as die "tiende planeet" bestempel is. Maar Sedna (slegs omtrent 1.770 km breed) is so klein dat dié aanspraak gou die nek ingeslaan is. Om die waarheid te sê, selfs 2003 UB313 (wat, soos gesê, 3.000 km in deursnee is) is kleiner as die aarde se maan, met sy deursnee van 3.476 km.

Die dramatiese besluit oor Pluto is geneem op ’n konferensie van 2500 sterrekundiges van 75 lande, nadat die groepleiers lank en hard gedebatteer het oor ’n ander voorstel dat ’n paar ander grotere mini-voorwerpe soos Pluto in die sonnestelsel tot volwaardige planete opgegradeer moes word. Daardie voorstel is egter afgestem.

Pluto is nog nooit deur ruimtetuie besoek nie, maar vroeër vanjaar (2006) het die Amerikaanse ruimteagentskap NASA sy "New Horizons" van $700 miljoen na Pluto gelanseer—’n onbemande snuffeltuig wat, as alles volgens plan verloop, die dwergplaneet ná sowat nege jaar sal bereik.

Die New Horizons-ruimtetuig met die lansering by Cape Canaveral, Florida, op 19 Januarie 2006LINKS: Die New Horizons-ruimtetuig met die lansering by Cape Canaveral, Florida, op 19 Januarie 2006. Daar word gehoop dat dit op 14 Julie 2015 die eerste aardse snuffeltuig sal wees wat by Pluto verbyvlieg.

Foto: NASA

Volgens ’n NASA-baas raak Pluto se "verminderde status" darem nie die New Horizons-sending nie. Hy sê NASA sal voortgaan om die wetenskaplik interessantste voorwerpe in die sonnestelsel te gaan bekyk, ongeag by watter kategorie hulle ingedeel word.

Pluto en sy maneIllustrasie van Pluto en sy mane: NASA, ESA  en Hubble Space Telescope Pluto Companion Search Team

Dit lyk immers of Pluto nie wil ophou om ons te verras nie. Vroeg in 2006 het navorsers wat met die wentelende Hubble-ruimteteleskoop werk, bevestig dat twee ander mane van Pluto ontdek is. Die ontdekking is reeds in Mei 2005 gedoen, maar daar moes tot 15 Februarie 2006 gewag word om seker te maak van die vonds. Die nuut ontdekte mane staan voorlopig bekend as S/2005 P 1 en S/2005 P 2. Hulle is egter blykbaar so klein dat hulle nie naastenby die benaming dwergplaneet waardig is soos die groter Charon nie.

Maar hoe lyk dit op Pluto?  Rotsagtig, reken die geleerdes. Daarby het hy ’n baie dun atmosfeer van waarskynlik metaan. Die atmosferiese druk is slegs sowat een 100 000ste van die druk by seevlak op die aarde. Daar is ligte verskuiwende streke van vermoedelik verysde stikstof en donker dele van vermoedelik metaan-ys.

Sekere sterrekundiges het eenmaal gedink Pluto was vroeër ’n maan van Neptunus, wat weens ’n botsing met ’n ander ruimtelike voorwerp in ’n nuwe wentelbaan om die son uitgewerp kon gewees het. Die maan Charon sou ’n samestelling kon wees van ligter rommel wat deur dié botsing ontstaan het. Daar is egter ook ander teorieë oor Pluto en dit lyk of die teorie dat hy ’n Neptunus-maan was nie juis meer aanvaar word nie.

Pluto in ’n neutedop

Deursnee: 2274 km.
Digtheid: 2,03 gram per kubieke sentimenter.
Gemiddelde afstand van die son: 5 913 520 000 km. Pluto is so ontsaglik ver in die diepruimte dat die son daar soos net nog ’n helder ster moet lyk.
Revolusie om die son: Een omwenteling in 247,7 van ons jare. Die omwentelingsnelheid is 4,74 km/sek.
Rotasie om sy as:  Een draai in 6,39 van ons dae.
Temperatuur:  -223 tot  -233 °C.
Getal mane: Drie bekende maande, waaronder die betreklik groterige maan Charon.
Charon wentel 19 640 km van Pluto af en het ’n deursnee van 1172 km. Dit wil voorkom of sy oppervlak met water-ys bedek is en hy is in dié opsig dus heel anders as Pluto met sy vermoedelike stikstof- en metaan-ys. Die grootheid van Charon relatief tot Pluto het party sterrekundiges al selfs beweeg om die twee ’n “dubbele planeet” te noem. Nou sal hulle seker kan praat van ’n “dubbele dwergplaneet”—altwee geniet nou immers die status van dwergplanete. Charon voltooi een omwenteling om Pluto in 6,39 aardse dae. Die groot interessantheid is dat hy, presies nes Pluto self, ook in dieselfde tyd—6,39 aardse dae—om sy eie as wentel. Die gevolg is dat Charon en Pluto altyd dieselfde kante na mekaar toe gedraai hou.
Oorsprong van Pluto se naam: Pluto was nie aan die antieke sterrekundiges bekend nie. Hy is in die moderne tyd genoem na Pluto—nee, nie Mickey Muis se hond nie (!), maar die Latynse eweknie van Hades, mitologiese Griekse god van die onderwêreld. Die maan Charon is weer genoem na die veerman wat die dooies oor die rivier Styx na die onderwêreld sou gebring het. Die onderwêreld self is ook dikwels Hades genoem.

Sonnestelsel: die nuwe indeling

Sentrum: Die Son.

Planete: Mercurius, Venus, Aarde, Mars, Jupiter, Saturnus, Uranus, Neptunus.

Dwergplanete: 2003 UB313 (bygenaamd Xena), Pluto se vernaamste maan Charon en die grootste  asteroïde in die sonnestelsel, Ceres, is nou almal dwergplanete saam met Pluto.

Ander: Planete se mane - Asteroïdegordel - Komete - Kuipergordel- Verspreide skyf - Oortwolk.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad