“Die enigste metaal wat ’n koning waardig is”

Op ’n ander Mieliestronk-blad word goud die koning van die metale genoem. Eintlik moet platinum miskien daardie betiteling met goud deel, want dit is seldsamer en dit was lank ook duurder as goud. Dit hoef boonop niemand te verwonder dat selfs koning Lodewyk XVI van Frankryk dit glo in 1780’s die enigste metaal genoem het wat ’n koning waardig is nie...

Amerika se sogenaamde Platinum Eagle-munt, wat een ons platinum bevat

BO: Muntstukke en gedenkpennings van platinum is duur en gesogte beleggersitems of versamelstukke—ook in Suid-Afrika, die wêreld se grootste produsent van dié edelmetaal. Hier, van weerskante gesien, is Amerika se sogenaamde Platinum Eagle-munt, wat een ons platinum bevat.

ONS sien daagliks in die nuusprogramme op die televisie hoe die gesogte metaal platinum se prys saam met dié van goud en olie gelys word.

 

Nie verniet dat die drie so uitgesonder word nie.

 

Ons land is immers aanvanklik op die pad van relatiewe welvarendheid geplaas deur die glansende goud uit ons eie bodem en ons is boonop hoeka die heel grootste produsent van platinum op aarde. En olie... nou ja, ons almal stel daarin belang omdat die petrolprys elkeen van ons se sak raak.

 

Van goud, olie en platinum maak platinum sonder twyfel die kleinste deel uit van die meeste van ons se alledaagse gesprekke. Nie dat baie van ons nie weet hoe belangrik hierdie silwerwit kosbaarheid vir ons ekonomie is nie. Maar wie kan nou byvoorbeeld werklik romanties wees oor platinum of daaroor liries raak soos oor goud en silwer? Soos om te hunker na die sorgelose platinum-dae (pleks van die goue dae) van jou laaste vakansie of te dink dat elke donker wolk darem ’n platinum-randjie het!

 

Dit het bes moontlik daarmee te doen dat ons so betreklik kort gelede  die eerste keer van hierdie metaal bewus geword het. Dit het dus nog nie veel tyd gehad om selfs in Westerlinge se idiomeskatte opgeneem te word nie. Want dis ’n enigsins verrassende feit dat platinum nog tot in die agttiende eeu so goed as onbekend in die Westerse wêreld was.

 

Die eerste Europese verwysing daarna was wel reeds in 1557 in die geskrifte van die Italiaanse humanis Julius Caesar Scaliger. Hy het dit beskryf as ’n onbekende edelmetaal wat in Sentraal-Amerika tussen Darién (in Panama) en Mexiko aangetref word. “Geen vuur of die aanwending van enige Spaanse vaardigheid kon tot dusver nog daarin slaag om dit te laat smelt nie,” het hy geskryf.

 

Maar die Spaanse veroweraars in die Nuwe Wêreld was destyds so koorsagtig op soek na goud dat Scaliger se “raaiselmetaal” volgens alle aanduidings ’n hele tyd lank heeltemal vergeet of ten minste feitlik geïgnoreer is. Min het die ou Spanjaarde geweet dat hulle met ’n metaal te doen gehad het wat kosbaarder is as goud self.

 

Dit was eers in die 1700’s dat platinum deur Westerlinge in Columbia in Suid-Amerika ontdek en as ’n afsonderlike metaal erken is. Weens sy silweragtige voorkoms het die ontdekkers die naam “platinum” daaraan gegee, ’n woord wat afgelei is van die Spaanse frase “platina del Pinto”, wat letterlik vertaal kan word met “klein silwertjie van die Pintorivier”.

 

Dog soos iemand dit al gestel het: Om darem te impliseer dat dit ’n kleinboetie van silwer is net omdat dit ook ’n silweragtige glans het, is om platinum se onoortreflikheid as ’n metaal te misken en dit byna gelyk te stel aan lood! Waarom sou selfs koning Lodewyk XVI van Frankryk dit dan glo in 1780’s die enigste metaal genoem het wat ’n koning waardig is?

Lodewyk XVIREGS: Lodewyk XVI van Frankryk, soos geskilder deur Antoine-François Callet.

 

PLATINUM is baie smeedbaar en pletbaar, met ander woorde dit kan tot fyn draadjies getrek word of in verskillende fatsoene uitgeklop word. Een van sy opvallendste eienskappe is dat dit so swaar is—drie keer so swaar as staal en agt keer so swaar as marmer.

 

Sy massa is 21,45 maal dié van water, wat daarop neerkom dat ’n platinumkubus met sye van een meter elk meer as 21 metrieke ton sal weeg, teenoor die skamele een ton van ’n kubus water met dieselfde afmetings.

 

Die feit dat platinum ’n uiters doeltreffende katalisator is, maak dit vanselfsprekend ’n besonder nuttige metaal in industrieë. Met “katalisator” word ’n stof bedoel wat ’n chemiese reaksie tussen ander stowwe laat plaasvind of dit versnel, sonder om self deur daardie chemiese reaksie verander te word.

 

Platinum word byvoorbeeld as katalisator gebruik om ammoniak op groot skaal te vervaardig deur verhitte waterstof en stikstof te laat verbind. Dit word ook aangewend in die vervaardiging van swawelsuur uit die gasse suurstof en swaweldioksied.

 

Maar platinum is veral gesog as ’n metaal vir die uitlaatstelsels van motors.

 

Platinum in uitlaatstelselLINKS: Die vernaamste gebruikswaarde van platinum is in motors waar dit as ’n katalisator in uitlaatstelsels gebruik word. Dit sorg vir die volledige verbranding van lae konsentrasies onverbrande koolwaterstofverbindings en skakel dit om in koolstofdioksied en waterdamp.

 

Trouens, van die 239 ton platinum wat in die jaar 2006 verkoop is, is meer as die helfte, te wete 130 ton, in uitlaatstelsels aangewend. Vir juweliersware is 49 ton gebruik, terwyl 13,3 ton deur die elektroniese bedryf opgeneem is. Altesame 35,5 ton het sy weg na ander gebruiksartikels soos elektrodes, middels teen kanker, vonkproppe en turbine-enjins gevind.

 

’n Trouring van platinumREGS: ’n Trouring van platinum.

 

Platinum staan bekend as 'n edelmetaal, net soos goud en silwer. Met “edelmetale” word bedoel dat hierdie metale nie met suurstof verbind as hulle daaraan blootgestel word nie. Hulle roes of slaan dus nie aan as gevolg van die suurstof in die lug nie. En soos goud word platinum ook nie deur sure gevreet nie, hoewel ’n suurmengsel soos koningswater (drie dele soutsuur en een deel salpetersuur) wel goud en platinum kan oplos.

 

Terloops, al is die woord platinum nog nie eintlik in idiome opgeneem nie, soos ons in die begin gesê het, het dit hom tog reeds deeglik gevestig as ’n statussimbool. Sogenaamde “platinum”-debietkaarte bied meer voordele as “goue” kaarte, terwyl musiek-CD’s wat “platinum”-verkope haal, beter op die musiekmark vaar as dié met ’n “goue” bekroning.

 

In die juweliersbedryf is goud en silwer wel gewilder, maar tog word platinum baiekeer in ’n allooi saam met goud of silwer gebruik, veral in die montering van diamante. Interessant genoeg is daar ’n platinum-raam in die kroon wat wyle die Britse koninginmoeder (die ma van koningin Elizabeth II) destyds met haar kroning gedra het as die gemalin van koning George VI. Wys jou dis darem rêrig ’n metaal vir koninklikes!

 

Die metaal is uiters geskik vir gebruik in laboratoriumtoerusting, omdat sy uitsettingskoëffisiënt byna dieselfde is as dié van glas. Dit sit minder uit as die meeste ander metale wanneer dit verhit word en kan gevolglik in glasware verseël word sonder om die glas te laat kraak.

 

Platinum en vyf ander elemente—osmium, iridium, palladium, rodium en rutenium—vorm die platinum-groep van metale. Dié metale is verwant in die sin dat hulle soortgelyke fisiese en chemiese eienskappe het. Hulle neig ook om saam voor te kom in dieselfde mineraalneerslae.

 

Erts van die platinum-groep van metaleREGS: Erts van die platinum-groep van metale.

 

Foto uit  “Minerals in Your World”,
’n gesamentlike projek van die U.S. Geological
Survey en die Amerikaanse Mineral
Information Institute

 
 

DAT Suid-Afrika nie net ’n goudland is nie, maar ook besonder ryk bedeel is met platinum, laat ’n mens dankbaar besef hoe mild ons hier onder die suiderson begunstig is.

 

Die grootste bekende platinum­afsettings ter wêreld kom in Suid-Afrika voor in die sogenaamde Bosveldstollings­kompleks in die omgewing van Rustenburg in die Noordwes-provinsie. Dit lê in gestolde magma (gesmelte gesteente) wat uit die maag van die aarde gekom het toe ons planeet nog baie jonger was.

 

In die natuur word platinum slegs in die metaaltoestand gevind, dikwels saam met die ander metale in die platinum-groep—soos reeds genoem—maar ook saam met yster, nikkel en koper.

 

Platinum is nie magneties nie, terwyl nikkel en yster altwee magneties is. Om dus platinum uit ’n mengsel van platinum en nikkel of platinum en yster te win, word ’n elektromagneet eenvoudig oor die mengsel gestryk.

 

Onder die ander metodes vir die skeiding van verskillende mengsels is wassery. Omdat platinum so dig en swaar is, bly dit onder in die waterbad lê terwyl die res van die mengsel weggespoel word. Deurdat platinum boonop ’n hoër smeltpunt as die meeste ander stowwe het, kan baie onsuiwerhede weggebrand word of deur smelting wegvloei sonder dat die platinum smelt. Ander metale en stowwe kan ook verwyder word deur sure wat geen uitwerking op platinum het nie.

 

Tot vroeg in die twintigste eeu is verreweg die meeste platinum uit alluviale afsettings gehaal. Dit is stowwe wat deur riviere afgeset is. Hier kom die platinum voor as klein korreltjies in die klei, en die metaaldeeltjies word met ’n wasproses uit die klei gewin.

 

Platinum kom egter ook voor in erts-are of erts-afsettings wat eweneens die ertse van ander metale bevat, en hierdie ertsafsettings is nou die vernaamste bron van die platinum wat ontgin word. Die metaalerts waarin dit voorkom, staan bekend as platina, hoewel baie mense is geneig of die metaal self ook platina te noem.

 

Die platinum is in die vorm van klein skilfers, korreltjies of klonte in die erts. Heel stukke klontplatinum van tot 9,5 kg is al gevind.

 

Platinum se chemiese simbool is Pt en sy atoomgetal is 78. Dit smelt by 1768,3 °C en kook by 3825 °C. Dit is nagenoeg die 72ste volopste element in korsgesteentes van die aarde—dus allermins volop! Trouens, platinum is juis so kosbaar vanweë sy seldsaamheid.

 

Maar die belangrikste vir beleggers is dat niemand maklik platsak kan raak met platinum nie. Dit word bewys deur die prys van die metaal wat ons aand vir aand tydens die nuusuitsending op die televisie sien.

 

Versamelings klontplatinum

BO: Stukke klontplatinum van die Amerikaanse staat Kalifornië (links bo) en die Wes-Afrikaanse land Sierra Leone (regs bo en onder), soos dit te sien is in die Natural History Museum in Londen, Engeland.

 

Foto: Aram Dulyan,
wat dit by die Engelse Wikipedia-projek op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released into the public domain”)

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad