|
Plankton
Piepklein
lewensbronne in die see
Foto: Mikhail Matz, via NOAA
Onsigbare mikroörganismes beheers die oseane. Ontelbare bakterieë en virusse, alge en eensellige diertjies in die water kontroleer die klimaat van die aarde—en bepaal die toekoms van die mens...
● Lees ook artikel oor diatome, die adel van die fitoplankton: klik hier
|
||||||
|
IS uiters maklik om plankton te versamel. ’n Mens hoef maar net ’n bottel seewater te gaan skep en jy’t oorgenoeg daarvan. Maar om die plankton te sien, is glad nie so eenvoudig nie. Hierdie belangrike lewensvorms van ons planeet is immers mikroskopies klein.
Trouens, in ’n enkele liter oppervlakwater is ’n ganse leërskare saamgebondel: biljoene virusse, sowat ’n miljard bakterieë, nagenoeg vyf miljoen eensellige diertjies en ’n miljoen alge. Selfs as ’n mens water vanuit die liglose wêreld 6 km onder die see-oppervlak kan gaan haal, sal jy steeds honderde miljoene virusse en duisende miljoene bakterieë in elke liter vind.
As jy dus die hele mikrobevolking in die see wil probeer bereken, stuit jy teen ’n totaal onbegonne taak. In ons planeet se oseane is na berekening 1 400 000 000 000 000 000 000 000 liter water!
Al die virusse, bakterieë en klein plantjies en diertjies
(trouens, alle lewe wat in die seestrome ronddryf en te swak is
om aktief teen die strome swem) noem ons plankton.
Krediet: aanpassing van ’n illustrasie van NASA
Nog ander berg
ekstra kos as olie op, wat hulle ligter maak en naby die
oppervlak laat dobber. Sodra die fitoplankton met olie gevul is,
gaan hulle dood en sink af na die seebodem. Daar raak hulle
begrawe onder modder en sand. Met verloop van baie, baie eeue
verander hitte en druk binne-in die aarde die dooie fitoplankton
in neerslae van aardolie, wat deur die mens benut word.
In die gematigde seë wissel die konsentrasie van fitoplankton aansienlik van seisoen tot seisoen. In die winter is dit laag, want dan is daar min sonlig. Maar hewige winterstorms wat dan aan die orde van die dag is, laat die oppervlakwater met dieper water meng en bring minerale na bo wat die plankton nodig het om te groei en te vermeerder.
In die vroeë lente kan die hoeveelheid fitoplankton dus sterk toeneem. Namate die somer vorder en hulle die minerale opgebruik, neem hul getalle weer af. Só kan ons byvoorbeeld op satellietfoto’s sien hoe die Noord-Atlantiese Oseaan in die lente vanaf die Amerikaanse staat Noord-Carolina tot by Spanje vergroen.
Daarteenoor kleur die blougroen alge Trichodesmus weer soms die water rooierig wanneer dit doodgaan. Die Rooi See kry juis sy naam hiervandaan.
TEENOOR die plantaardige fitoplankton is daar die soöplankton—’n groot verskeidenheid van organismes wat deur bioloë as diere geklassifiseer word. Die meeste is mikroskopies klein, maar party soorte kan wel met die blote oog waargeneem word as ’n mens ’n bietjie seewater in ’n vlak bakkie gooi wat met swart papier uitgevoer is.
Byna alle soöplankton is deurskynend. Hulle wei op die fitoplankton of vreet mekaar en vul eweneens ’n belangrike plek in die see se voedselketting. Party soorte is hul lewe lank plankton; ander (soos visse en krappe) is dit net as larwes.
Die hoë proteïeninhoud van soöplankton het al tot navorsing gelei oor hoe dit dalk as kos vir die mens verwerk kan word.
Foto: 2007: Exploring Inner Space of Celebes Sea / NOAA
|
||||||