REGS: Michael Phelps spog op die oorwinningspodium in Beijing met een van sy agt goue medaljes.
Foto: U.S. White House
Wat jy oor fiksheid kan leer (of nie) van dié fenomenale Olimpiese swemmer in Beijing ...
Ag, was ek maar so fiks soos Phelps!
Moenie eens probeer om Michael Phelps dit na
te doen nie! Die man is mos is van nature “gebou soos ’n vis”.
En as jy eet soos hy, sonder om
te oefen soos hy, is jy môre, oormôre
’n goeie kandidaat vir ’n hartaanval... |
|
![]()
Ter illustrasie: foto van U.S. Department of Health and Human Services
OOS ’n vis in die water. ’n Vinnige vis. Nee, meer baie nog, ’n ongelooflike, verstommende, supervinnige vis. Die Amerikaanse swemmer Michael Phelps se rekord van agt goue medaljes in die Olimpiese swembad in Beijing het selfs die blasé Amerikaners skoon uit hul velle laat spring van blydskap.
Met goeie rede, natuurlik. Want met sy nuwe prestasie moet hul waterheld sy naam sonder veel vrees vir teenspraak in die annale verewig het as een van die heel beste swemmers wat die wêreld nog ooit geken het.
Die geheim van Michael Fred Phelps (gebore 30 Junie 1985) se fenomenale sukses? Vanselfsprekend absolute fiksheid en ’n ysere deursettingsvermoë. (En vir iemand wat as kind met aandagsgebrek-hiperaktiwiteitsindroom, of AGHD, gediagnoseer is, sê dit geweldig baie.) Maar daar is ook nog ’n hele paar ander faktore in die spel.
Kenners in die samestelling van die menslike liggaam wys daarop dat Phelps ’n aantal fisieke eienskappe het wat hom by uitstek geskik maak vir die swemsport:
Weens die ongehoorde eise wat sy sport aan hom stel, verskil Phelps ook radikaal van verreweg die meeste ander mense deurdat hy vreeslik baie moet eet om so fiks te kan bly. Vir ontbyt verober hy byvoorbeeld drie toebroodjies met kaas, tamatie, uie en gebakte eier, ’n omelet, drie snye roosterboord bedek met fyn suiker, ’n bord graanpap en drie pannekoeke met sjokoladekrummels. Hy is glo aangesê om elke dag tussen 8.000 en 10.000 kalorieë weg te pak, miskien selfs tot 12.000 kalorieë.
Soos ’n deskundige dit stel: “Hy is ’n luuksemotor met baie ruimte binne-in, hy is lank. ’n Lang, groot luuksemotor het meer petrol nodig as ’n Mini Cooper.”
Maar, soveel as wat Michael Phelps ’n rolmodel vir die moderne jeug is, waarsku fiksheid- en voedingkundiges dat ons gewone sterflinge nie eens moet durf probeer om sy eetpatrone na te volg nie. Matigheid en ewewigtigheid in ons eetgewoontes en ’n sobere oefenprogram is die ideaal waarna ons moet strewe.
Dit bring ons weer by vraag wat die “ideaal” dan nou eintlik is as dit by menslike fiksheid kom. Soveel mense, soveel menings, soos ons ondertoe in hierdie artikel sal sien. Maar met die jare het gesondheidskenners tog sekere belangrike riglyne neergelê, met die genoemde regte oefeninge en korrekte diëte as die twee onomstootlike pilare van die fiksheidskonsep...
Foto: Technology / U.S. Gov.
AS iemand jou sou vra hoe jy aan gesondheid en skoonheid dink, wat sal jy antwoord? Is dit om slank te wees? ’n Skoon gelaatskleur te hê? Atleties gebou te wees? Of dalk iets anders?
Opvattings oor wat mooi en gesond is, verskil van kultuur tot kultuur, en die drang om op die natuur te “verbeter”, kry jy byna oral en reeds van die vroegste tye af.
By party kulture is dit byvoorbeeld verkieslik om vet te wees; die jong vroue van verskeie Afrika-stamme volg ’n spesiale dieet om gewig aan te sit. Vir ander gemeenskappe is slankheid weer begeerlik—tot die punt waar sekeres oorboord gaan en hulle hulle selfs begin uithonger.
In die imperiale China is die voete van meisietjies styf verbind om te keer dat hul voete groei. Die gevolg was fyn “lotus”-voetjies, wat as mooi beskou is. Die voete was egter in der waarheid so misvorm dat die meisies hul lewe lank gebreklik was.
Sekere vroue van Myanmar (Birma) en Thailand “rek” weer hul nekke deur ál groter ringe van die mengmetaal brons daarom te sit—hoewel daar twyfel bestaan of die nek inderdaad op hierdie manier langer word en of dit eintlik die sleutelbene is wat afgedruk word en die indruk van ’n verlengde nek daardeur gewek word. Die eerste ringe word nietemin reeds om die nek geplaas wanneer ’n meisietjie nagenoeg vyf jaar oud is en hierdie versiersels word deur al hoe groter ringe vervang namate die jare aanstap.
Na vertel word, kry die vroue verskriklike rugpyne en uiteindelik kan die nek op sy eie glo nie meer die kop behoorlik stut nie, maar wat nekringe aansit, is hulle. Waarom doen hulle dit dan? Die vroue sal dikwels vertel dat die ringe verband hou met kulturele identiteit—en dat dit as sodanig met skoonheid geassosieer word.
Foto deur Steve Evans, wat dit op hierdie bladsy by flickr op die wêreldwye web geplaas en gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution 2.0 Generic-lisensie. Daarvolgens moet krediet by hergebruik altyd aan Steve Evans gegee word.
Die Maja-lndiane het destyds die vorm van hul kop verander. Die kop van ’n pasgebore baba is aan bord vasgemaak, wat die skedel mettertyd plat laat word het.
In die Middeleeue is ’n ligte soort velsiekte beskou as ’n teken dat die lyer blakend gesond is.
Maar wat beteken dit werklik om goed te lyk en te voel?
Die Wêreldgesondheidsorganisasie beskryf gesondheid as “algehele ekonomiese, fisieke, verstandelike en maatskaplike welstand. Maar een van die beste maatstawe vir gesondheid is hoe elkeen sy eie beperkinge aanvaar en verwerk.”
Gesondheid het inderdaad met die hele mens te doen. Dit is belangrik om goed te voel oor wie jy is, net soos dit belangrik is om liggaamlik gesond te wees.
Om gesond te bly, verg inspanning. ’n Mens moet gereeld oefeninge doen en ook genoeg rus kry. ’n Gebalanseerde dieet is noodsaaklik. En jy moet jou liggaam skoon hou om infeksie te keer. Om gesond te bly, beteken ook om die dinge te vermy wat vir jou skadelik is, soos om buitensporig te drink, te rook en die verkeerde soorte kos te eet.
In hierdie artikel kyk ons vervolgens na die noodsaaklikheid van oefeninge en rus, en die samestelling van die spiere, longe en hart. In ’n ander afdeling word die belangrikheid van ’n gebalanseerde dieet en sindelikheid in oënskou geneem.
Fiks bly OEFENINGE bou jou uithouvermoë. Dit versterk jou spiere en maak hulle doeltreffender en beweegliker. Omdat jy energie verbrand, help dit jou ook om jou gewig laag te hou.
Om fiks te bly, versterk jou hart en verbeter jou bloedsomloop. Dit help jou longe om hul werk behoorlik te doen en verhoog die volume suurstof wat hulle inneem.
Dis nie nodig om ’n Olimpiese atleet soos Michael Phelps te wees om fiks te bly nie. Om net ’n draaitjie in die tuin te loop, is egter ook nie genoeg nie. Die minste waarna jy moet mik, is drie halfuur-sessies per week, waarin jy jou hartklop moet laat versnel en jou asemhaling dieper laat word.
Gewilde vorms van oefening is hardloop, fietsry, swem, gimnastiek, aërobiese oefeninge en sporte soos rugby, sokker, hokkie en tennis. Om met ’n flink pas te loop, is ook goed vir jou.
Foto bo: South Carolina Gov.
Wondersoete slaap
Jou brein sif deur al jou herinneringe en gedagtes van die vorige dag en verwerk hierdie inligting.
Alle mense het nie ewe veel slaap nodig nie. Tieners moet minstens agt uur per nag slaap. Jonger kinders en babas het meer slaap nodig omdat hulle selfs nog meer moet groei.
Foto bo: U.S. Department of Health & Human Services
Spiere-maniere ’n SPIER bestaan uit dik bundels, wat weer bestaan uit klein spiervesels en dié op hul beurt uit spierfibrille. Die spier self het ’n weefselbedekking en word deur senuwees en bloedvate van die nodige voorsien. Spiere is met sterk aanhegtings- en verbindingsdrade—senings genoem—aan die beendere vas.
Spiere werk in opponerende groepe. Vir elke groep spiere wat ’n bepaalde beweging veroorsaak, is daar ’n ander groep wat die teenoorgestelde beweging voortbring. As jy byvoorbeeld jou arm by die elmboog buig, trek jy jou biseps-spiere saam. Wanneer jy jou arm reguit wil maak, ontspan jou bisepse en die trisepse trek saam.
Foto: NASA
Daar is drie soorte spiere in die menslike liggaam:
(1) skeletspiere (willekeurige spiere), wat jou arms, bene, gesig, kop en romp laat beweeg. Jy kan hierdie spiere beheer, hulle na willekeur beveel om te beweeg;
(2) die onwillekeurige spiere van ons ingewande en ander interne organe. Hulle werk outomaties;
(3) die hartspier. Jou hart is gemaak van ’n baie besondere soort spier. Elke keer wanneer dit, ook outomaties, saamtrek, pers dit bloed uit jou hart uit—dit is ’n hartklop. Die hartspier is dag en nag, ’n leeftyd lank, besig om saam te trek en te ontspan.
Navorsers het vasgestel dat nie-mensagtige soogdiere ’n vierde soort spier het wat met hul spesifieke lewenswyse verband hou. Katte het byvoorbeeld ’n spesiale soort spier in die kake wat hulle in staat stel om hul prooi baie vinnig te vang en dood te byt.
Lug en longe JY het ’n verstommende hoeveelheid suurstof nodig vir jou daaglikse handel en wandel. ’n Aktiewe volwassene neem elke 24 uur sowat vier kubieke meter suurstof in en stel dieselfde hoeveelheid kooldioksied vry. Daar is op elke gegewe oomblik sowat ’n liter suurstof in jou bloed.
Wanneer jy oefeninge doen, haal jy vinniger en dieper asem en neem meer suurstof in. Jou longe sorg vir die uitruiling van gasse.
Die lugpyp het twee vertakkings, die brongieë, wat in die longe in ’n aantal kleiner buise, die brongiole, vertak. Dié verdeel in nog kleiner buise, wat uiteindelik in klein lugsakkies, of alveoli, eindig. Daar is al bereken dat, as al die lugsakkies in jou longe plat uitgesprei sou kon word, hulle ’n gebied so groot soos ’n tennisbaan sou bedek.
Die wande van die lugsakkies is dun en ryk aan klein bloedhaarvaatjies. Suurstof gaan deur die wande in die bloed in en word na die hart vervoer. Terselfdertyd syfer afval-koolstofdioksied uit die bloed uit na die lugsakkies. Dit word uitgewerp wanneer jy uitasem.
Illustrasie bo: U.S. National Institutes of Health
Jou hart—die pomphuis JOU hart is ’n spierkragtige, tweedelige pomp: die een deel, die regterkant, pomp gedeoksigeneerde bloed (bloed sonder suurstof) van die res van jou liggaam af na jou longe toe om suurstof te absorbeer en koolstofdioksied vry te stel; die ander deel, die linkerkant, pomp geoksigeneerde bloed van jou longe af na die res van jou liggaam.
Jou hart bestaan uit vier kompartemente of kamers: twee atria (hartvoorkamers) bo en twee ventrikels (hartkamers) onder. Eenrigting-kleppe by die uitgang van elke kamer sorg dat die bloed slegs in een rigting vloei.
Wanneer die regterhartvoorkamer met gedeoksigeneerde bloed gevul is, trek dit saam en pers die bloed tot in die regterhartkamer.
Wanneer hierdie kamer gevul is, trek dit saam en stuur die bloed na die longe toe. Sodra die bloed suurstof deur die longe ontvang en koolstofdioksied vrygestel het, gaan dit die linkerhartvoorkamer binne, wat saamtrek en die bloed na die linkerhartkamer aanstu. Van hier af gaan die suurstofryke bloed deur die aorta-slagaar na die res van die liggaam.
Dit sit in die bloed “IN suspensie” beteken ’n toestand waar piepklein deeltjies min of meer egalig regdeur ’n vloeistof versprei is sonder dat hulle werklik in die vloeistof opgelos is. Só bestaan bloed uit biljoene bloedselle in suspensie in ’n geel vloeistof wat plasma genoem word.
Die drie soorte bloedselle is: rooi bloedliggaampies, wat suurstof en koolstofdioksied vervoer, wit bloedselle, wat infeksies beveg, en bloedplaatjies, wat ’n stof produseer wat bloed laat stol.
Plasma bestaan meestal uit water met klein hoeveelhede proteïene, glukose, soute, vitamiene, hormone, aminosure, ureum en opgeloste gasse.
BO: Rooi bloedliggaampies. Beeld met vergunning van 3DScience.com
Kan jy glo? • Jy is soggens langer as saans. Die kussings tussen jou rugwerwels word in die loop van die dag saamgepers, partykeer met meer as 2 cm altesaam. • As ons nie kleppe in ons are gehad het nie, sou swaartekrag die oorhand gekry en ons bloed in ons voete en bene versamel het. • Jou hart rus tussen elke klop. As jy al die rustydjies in ’n leeftyd saamgooi, sal jy vind dat jou hart omtrent twintig jaar lank stilstaan. • Die Engelse woord muscle (spier) kom van die Latynse woord musculus, wat ’n muisie beteken. Spierbewegings het die mense van die antieke tyd laat dink aan muisies wat onder die vel rondhardloop. |
|
|
• Klik hier vir afdeling 2 van “Jy en Jou Gesondheid” (dit gaan oor die belangrikheid van ’n gebalanseerde dieet en sindelikheid) |