|
|
Die Britse
komponis lord Lloyd Webber (kyk sy lewensbeskrywing onderaan hierdie
bladsy) is wêreldberoemd vir verskeie gewilde
musiekspele, wat gekenmerk word deur onvergeetlike melodieë en invloede
van klassieke musiek en rock-and-roll. The
Phantom of the Opera,
wat in ’n resensie deur die invloedryke Londense koerant The Times die
Skepper se geskenk aan die musiekteater genoem is, verpak die legendes
van Faust, Svengali en Skoonlief en die Ondier in ’n grootste finale
doodsroggel van romantiese pyn. Die
verhaal: Die afgryslik vervormde Phantom woon verskuil in die
onderaardse kelders van die Paryse Operagebou en "spook" soos
’n duistere skim by die operageselskap. Hy is bekend vir sy donker
poetse en ’n groot deel van die verhaal se lewenskragtigheid lê dan
ook in sy treitering van die operagebou se werkers en misrabele base. Maar die
Phantom ontwikkel ook ’n desperate hartstog vir die jong en onervare
sopraan Christine. Hy leer haar om soos ’n engel te sing en sorg dat
sy die prima donna van die operageselskap word. Wanneer
’n aristokratiese medeminnaar -- die galante jong Raoul -- egter op
die toneel verskyn, ontvoer die Phantom vir Christine na sy onderaardse
hool langs ’n geheimsinnige meer, waar hy sy liefde aan haar verklaar.
Maar Christine se hart lê by Raoul.
Só begin
die onheilspellende en dramatiese liefdesdriehoek en ’n rampspoedige
intrige waarin die intens sinistere figuur van ’n balletmeesteres as
’n strakke boodskapper tussen die Phantom en sy slagoffers dien.
Newels en diep, donker skadu’s vorm die agtergrond vir ’n spanningsvolle
stryd tussen Raoul en die waansinnige, gekwelde Phantom, wat uiteindelik
moet aanvaar dat hy die liefdesgeveg verloor het -- en op ’n
ongelooflik verrassende manier van die toneel verdwyn. Was hy
regtig van vlees of bloed. Of ’n blote skim? Leroux se oorspronklike
Phantom was, soos dit in sy boek geblyk het, ’n regte mens, maar Lloyd
Weber se weergawe eindig met ’n tergende vraag waarmee die teaterganger,
skoon oorweldig, huiswaarts keer. |
|
|
Phantom: Love Never
Dies HOE verloop die Phantom-verhaal verder in die opvolg-musiekblyspel, Phantom: Love Never Dies? Vanselfsprekend wil die komponis en sy medewerkers (die liriekskrywer is Glenn Slater) nog nie alles uitlap nie, maar dit blyk dat die bisarre karakter uit die kelders van die Paryse Operagebou besluit om, van alle plekke, na Amerika uit te wyk. Hy vestig hom in New York en word die eienaar van ’n onderneming wat fratse en gedrogte ten toon stel. Dit lyk voorts of Phantom: Love Never Dies ten minste deels gegrond sal wees op die boek The Phantom of Manhattan. Die beroemde Engelse skrywer Frederick Forsyth het die boek in 1999 met Lloyd Webber se goedkeuring die lig laat sien. Dit was juis bedoel as ’n opvolg van The Phantom of the Opera—Lloyd Webber se musiekblyspel, nie die oorspronklike boek van Gaston Leroux nie. In Forsyth se boek is Christine en Raoul getroud, terwyl die Phantom hom nogal as ’n skatryk teaterbaas in New York ontpop. Die Phantom skryf ’n opera in die hoop dat hy Christine na hom toe kan aanlok deur haar die hoofrol daarin te laat speel. Daar is ook ’n gierige man genaamd Darius, wat die Phantom bystaan. Die boek is egter nie goed ontvang deur bewonderaars van Gaston Leroux se Le Fantôme de l’Opéra nie en hulle beskou dit selfs as ’n belediging vir Leroux.
LLoyd Webber is sekerlik bewus hiervan en sal
stellig moeite doen om nie die mistieke beeld van die Phantom ook in sy
nuwe musiekblyspel groot skade te berokken nie. Maar selfs mense wat groot
agting het vir sy onmiskenbare talente hou asem op vir 9 Maart 2010 wanneer die stuk,
as alles volgens plan verloop, sy première in Londen sal hê... |
|
|
Andrew
Lloyd Webber
Lloyd
Webber se indrukwekkende repertoire van musiekspele sluit treffers soos
The Phantom of the Opera, Cats,
Jesus Christ Superstar en
Evita in. Hy het die musiek vir twee rolprente, Gumshoe
en The Odessa File, geskryf en die Latynse Requiem
getoonset, waarvoor hy ’n Grammy-toekenning vir die beste kontemporêre
komposisie ontvang het. Onder
sy baie toekennings is ’n verdere twee Grammies, sewe
Tony-toekennings, ’n Oscar, ’n Internasionale Emmy, ’n string
Olivier-toekennings en ’n Golden Globe-toekenning. Lloyd Webber is in 1992
tot ridder geslaan (sir Andrew) en in 1996 tot die adelstand verhef (hy
staan nou bekend as lord Lloyd Webber of Sydmonton).
Andrew
is op 22 Maart 1948 in South Kensington, Engeland, gebore as die seun
van die komponis William Lloyd Webber, ’n dosent aan die Royal College
of Music in Londen, en ’n musiekonderwyseres, Jean
Johnstone Lloyd Webber. Hy is die broer van die
bekende tjellis Julian Lloyd Webber, wat in 1951 gebore is. Andrew
het aan die Universiteit van Oxford en die Royal College of Music
gestudeer. Hy het sy eerste komposisie gepubliseer toe hy nog maar net
nege jaar oud was. In 1967 was hy nog ’n student toe hy saam met sy
vriend Tim Rice Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat vir
’n skoolopvoering geskryf het. Met Rice as liriekskrywer het Lloyd Webber in die jare sewentig en tagtig ’n reeks wêreldberoemde musiektreffers die lig laat sien, onder meer Jesus Christ Superstar en Evita, wat altwee as albums uitgereik is voordat hulle op die planke gebring is. Daarna het sy en Rice se weë geskei en het hy met ander liriekskrywers vir sulke heuglike werke soos Cats, Starlight Express en The Phantom of the Opera gesorg, wat almal jarelange speelvakke in Londen se West End en op Broadway in New York belewe het. Rolprente is van The Phantom, Evita en Jesus Christ Superstar gemaak. Cats
het die rekord opgestel vir die produksie met die langste speelvak ooit
in Londen sowel as New York en vir die musiekspel wat die meeste geld
nog by die loket verdien het. Die opvoering het op 10 September 2000 op
Broadway in New York geëindig ná ’n verstommende 7485 vertonings.
Lloyd
Webber het in 1977 ’n vermaaklikheidsmaatskappy, the Really Useful
Group, gestig wat ’n mede-eienaar van Really Useful Theatres is. In
2002 het hy die produksie behartig van die musiekspel Bombay Dreams
saam met die Indiese komponis AR Rahman. Sy eerste vrou was Sarah Hugill, wat aan die voormalige koninklike Tudor-familie verwant is. Hulle het 1972 getrou, twee kinders is uit hul huwelik gebore en die egpaar het in 1983 geskei. In 1984 is hy met sy tweede vrou, die sopraan Sarah Brightman, getroud van wie hy 1990 geskei het. Sy derde vrou is Madeleine Gurdon. Hulle is in 1991 in die huwelik bevestig en hy het nog drie kinders by haar. Hulle is steeds getroud. ••• • • ••• • • ••• • •
|
|