Beroemde ruïnes suid van die Dooie See

  

Kasneh in PetraWaar Petra pryk...
   

Jy staan en kyk hoe die hoë fasade van Kasneh, met sy sandsteensuile in die Griekse styl, ander besoekers soos jy op die grond verdwerg. Aan die bokant merk jy ’n erdevaas of urn, waarin daar volgens ’n ou geloof die skatte van ’n Egiptiese farao sou gewees het. Dit is vroeg deur vandale beskadig wat dit onder die klippe gesteek het in die hoop dat die rykdomme op hulle sou neerreën. Dog eintlik is die hele Petra een groot skat, nie omdat hy kosbaarhede bevat nie, maar omdat hy so ’n besondere vermeniging van antieke boustyle is...

 

Foto: Jordan Tourism Board, via USAID Jordan
    

 Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld

Grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com

    Kaart

REGS: Die ligging van Petra in die teenswoordige Suidwes-Jordanië. Dit is die ruïnes van ’n ou Arabiese stad, geleë in die land van Edom, en die naam Petra is Grieks vir “stad van rots”. In die Bybel word dit Sela genoem (kyk 2 Konings 14:7).

 

Gegrond op ’n kaart van die CIA (PD)



   

 

D

IE Switserse ontdekkingsreisiger wou tot elke prys die verborge stad sien waarvan hy vertel is. Toe vermom hy hom as ’n Moslem en oorreed ’n plaaslike Arabiese gids om hom soontoe te bring—onder die voorwendsel dat hy ’n bok wil gaan offer.

 

Die gids lei die ontdekker, Johann Ludwig Burckhardt (1784-1817), en die bok in ’n nou, skemer kloof in. Die kloof is sowat vyf kilometer lank en daar is honderd meter hoë rotswande aan weerskante.

 

En skielik, toe hulle om ’n draai kom, sien Burckhardt die skouspel. Dis een van die verstommende wonders van die ou kultuurwêreld van die mens: Al Khazneh, die Skat van Farao, ’n enorme gebou wat uit die kranse van Petra gekap is.

 

  
Eureka! Die verborge stad!

  
Die gids lei die ontdekker in ’n nou, skemer kloof in...
  

En toe, skielik, sien hy die enorme gebou wat uit die kranse gekap is!

BO: Die gids lei die ontdekker in ’n nou, skemer kloof in...

  
REGS BO: Die kloof is sowat vyf kilometer lank en daar is honderd meter hoë rotswande aan weerskante. En toe, skielik, sien die ontdekkingsreisiger die enorme gebou wat uit die kranse gekap is!

   

• Foto links bo: U.S. Gov. (PD) • Foto regs bo: 1stJordan / Free picture

 

SiqREGS: Nog ’n foto van die Siq (al-Siq is Arabies vir “die skag”), soos die nou kloofingang tot Petra eintlik genoem word. Die Siq is op sekere plekke skaars drie meter breed en eindig by Petra se swierigste bouval, te wete Al Khazneh, die Skat van Farao. Met die Siq langs is daar ondergrondse kamers, maar navorsers is nog onseker waarvoor hulle eintlik gebruik is. Dit lyk nie of hulle grafkelders of selfs woonplekke kon gewees het nie. Die meeste argeoloë reken dat hulle die wagte gehuisves het wat die hoofingang tot Petra bewaak het.

 

Foto: Lynne Botes
  

 

Dit is maklik om jou in te dink in Burckhardt se reaksie, daar in die jaar 1812, want besoekers wat vandag op kamele of donkies in dieselfde lang kloof afry, kan nie anders as om ontroer te word deur die bouvalle van Petra wat in die sonskyn voor hulle te voorskyn kom nie.

 

Petra is ’n ruïne-kompleks wat weggesteek lê in ’n rotsagtige streek suid van die Dooie See, in die huidige Jordanië. Waar eenmaal gedink is dat hy ’n stad was met wonings wat in die kranse uitgekap is, word nou aanvaar dat hy ’n doolhof van graftombes was. Die huise waarin mense gewoon het, was waarskynlik kleiwonings wat sedertdien verdwyn het.

 

In die sesde eeu vC het ’n nomadiese Arabiese volk, die Nabateërs, besef dat die natuurlike verskansing in die rots gerieflik geleë was op die handelsroete oor land tussen Arabië en die hawens van die Grieke en Romeine aan die Middellandse See. Hulle het hulle toe in die vallei gevestig, hul hoofstad daar gestig en hulself begin verryk.


Tydeloos...  die kelders in die klip...
  

Grafkelders teen die kranse van Petra... in 1900 afgeneem Grafkelders teen die kranse van Petra


Grafkelders lê op verskillende vlakke teen die kranse van Petra. Die foto LINKS BO is doer in 1900 geneem en die foto REGS BO vele dekades later in die moderne kleurfoto-era. Die tydeloosheid van die plek kan kwalik beter geïllustreer word as met hierdie twee afbeeldings. Dit lyk selfs of die twee fotograwe op naastenby dieselfde plek kon gestaan het. Op die regterkantste foto is die bossies op die voorgrond weliswaar weg en die klipgrond is gelyk gestoot, maar andersins het dinge bloedmin verander. In die woestynwêreld met sy min reën en vanweë die beskutting wat Petra se kranse teen die wind bied, is verandering weens verwering minimaal. Vergelyk maar self!

Foto links bo: New York State Archives
Foto regs bo: 1stJordan / Free picture

Die Nabateërs was verseker van ’n fortuin. Al wat hulle moes doen, was om geld af te dwing van die karavaanhandelaars wat die woestyn oorgesteek het in ruil vir die waarborg dat hulle veilig sou reis. En hulle het hierdie afpersgeld gebruik om Petra ’n pragtige plek te maak.

 

Oor ’n tydperk van verskeie eeue het hulle manjifieke graftombes en monumente uit die dofpienk sandsteenkranse gebeitel. Hulle het hulle daarop toegespits om die fasades van die geboue te versier, maar het die binnekante betreklik eenvoudig gehou.

 

Manjifieke graftombes en monumente is uit die dofpienk sandsteenkranse gebeitel...REGS: Manjifieke graftombes en monumente is uit die dofpienk sandsteenkranse gebeitel...

 

Krediet: U.S. Library of Congress

      

In die middel het hulle ’n markplein gehad wat, op die hoogtepunt van Petra se glorie, werklik iets moet gewees het om te aanskou wanneer ’n karavaan van knorrige kamele hul opwagting met speserye, syklere, goud en ander skatte gemaak het.

 

Die kompleks was feitlik onaantasbaar, nie net vanweë sy ligging nie, maar ook omdat die Nabateërs dubbel seker van hul veiligheid gemaak het deur ’n muur by die ingang op te rig en, net vir geval, ’n magtige binnevesting met versteekte waterbakke gebou het.

 

In 106 n.C. het die Romeine egter die waterleiding na Petra gebreek en die toegang tot die kloof versper. Die honger en dorstige Nabateërs het oorgegee en hul hoofstad het ’n deel van die Romeinse ryk geword.

 

Die goue era van Petra was nietemin steeds nie verby nie. As ’n deel van die Romeinse beskawing het dinge soos openbare baddens, ’n teater en ’n forum bygekom. As ’n mens vandag Petra besoek, vind jy daar ’n oorvloed van suile, kollonnades (rye pilare), oordekte loopgange, triomfboë, standbeelde en dekoratiewe urne.  

 

In die derde eeu het Palmyra, ’n Siriese stad op die handelsroete tussen die Romeinse en Persiese ryke, ál belangriker geword en moes Petra geleidelik van sy handel aan hom afstaan. Kort daarna het hy ’n Christelike stad geword en in die sewende eeu het die Arabiere hom oorgeneem.

 

Tydens die Kruistogte het ’n Germaanse stam, die Franke, hom beset. Teen die einde van die twaalfde eeu is hy ontruim en aan die genade van die slytende sand en wind van die woestyn oorgelaat. Gelukkig is die kompleks darem ook goed teen die wind beskerm deur die kranse wat hom as’t ware omhels.

 

Ou foto van Petra-bouvalleLINKS: Nog ’n skouspelagtige deel van Petra op ’n baie ou swart-wit foto (in 1902 geneem) wat digitaal verkleur is.

    

Foto: New York State Archives (gewysig)

 

 

 

Só het hy dan vir Westerse oë verborge gebly tot met Burckhardt se avontuur in die vroeë 1800’s. Petra, wat ’n aantal jare gelede ’n agtergrond vir die Indiana Jones-rolprente verskaf het, het reeds een van die grootste toeriste-attraksies van die Midde-Ooste geword.

 

Dit is in 1985 tot Wêreld-erfenisgebied verklaar deur UNESCO (die agentskap van die Verenigde Nasies wat onder meer met kultuur en opvoeding gemoeid is).

 

 

’n Kameel by Petra

BO: ’n Kameel by Petra... net so tydeloos soos die ruïnes...

Foto: Lynne Botes

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad