Beroemde ruïnes suid van die Dooie See
|
||||||||
|
Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld Grafika-kompilasie
deur Mieliestronk.com
REGS: Die ligging van Petra in die teenswoordige Suidwes-Jordanië. Dit is die ruïnes van ’n ou Arabiese stad, geleë in die land van Edom, en die naam Petra is Grieks vir “stad van rots”. In die Bybel word dit Sela genoem (kyk 2 Konings 14:7).
Gegrond op ’n kaart van die CIA (PD)
IE
Switserse ontdekkingsreisiger wou tot elke prys die verborge stad sien
waarvan hy vertel is. Toe vermom hy hom as ’n Moslem en oorreed ’n
plaaslike Arabiese gids om hom soontoe te bring—onder die voorwendsel
dat hy ’n bok wil gaan offer. Die
gids lei die ontdekker, Johann Ludwig Burckhardt (1784-1817), en die bok
in ’n nou, skemer kloof in. Die kloof is sowat vyf kilometer lank en
daar is honderd meter hoë rotswande aan weerskante. En skielik, toe hulle om ’n draai kom, sien Burckhardt die skouspel. Dis een van die verstommende wonders van die ou kultuurwêreld van die mens: Al Khazneh, die Skat van Farao, ’n enorme gebou wat uit die kranse van Petra gekap is.
Dit is
maklik om jou in te dink in Burckhardt se reaksie, daar in die jaar
1812, want besoekers wat vandag op kamele of donkies in dieselfde lang
kloof afry, kan nie anders as om ontroer te word deur die bouvalle van
Petra wat in die sonskyn voor hulle te voorskyn kom nie. Petra
is ’n ruïne-kompleks wat weggesteek lê in ’n rotsagtige streek
suid van die Dooie See, in die huidige Jordanië. Waar eenmaal gedink is
dat hy ’n stad was met wonings wat in die kranse uitgekap is, word nou
aanvaar dat hy ’n doolhof van graftombes was. Die huise waarin mense
gewoon het, was waarskynlik kleiwonings wat sedertdien verdwyn het. In die sesde eeu vC het ’n nomadiese Arabiese volk, die Nabateërs, besef dat die natuurlike verskansing in die rots gerieflik geleë was op die handelsroete oor land tussen Arabië en die hawens van die Grieke en Romeine aan die Middellandse See. Hulle het hulle toe in die vallei gevestig, hul hoofstad daar gestig en hulself begin verryk. |
||||||||
|
|
|
![]() |
![]() |
|
|
|
Die
Nabateërs was verseker van ’n fortuin. Al wat hulle moes doen, was om
geld af te dwing van die karavaanhandelaars wat die woestyn oorgesteek
het in ruil vir die waarborg dat hulle veilig sou reis. En hulle het
hierdie afpersgeld gebruik om Petra ’n pragtige plek te maak. Oor ’n tydperk van verskeie eeue het hulle manjifieke graftombes en monumente uit die dofpienk sandsteenkranse gebeitel. Hulle het hulle daarop toegespits om die fasades van die geboue te versier, maar het die binnekante betreklik eenvoudig gehou.
Krediet: U.S. Library of Congress
In
die middel het hulle ’n markplein gehad wat, op die hoogtepunt van
Petra se glorie, werklik iets moet gewees het om te aanskou wanneer ’n
karavaan van knorrige kamele hul opwagting met speserye, syklere, goud
en ander skatte gemaak het. Die
kompleks was feitlik onaantasbaar, nie net vanweë sy ligging nie, maar
ook omdat die Nabateërs dubbel seker van hul veiligheid gemaak het deur
’n muur by die ingang op te rig en, net vir geval, ’n magtige
binnevesting met versteekte waterbakke gebou het. In
106 n.C. het die Romeine egter die waterleiding na Petra gebreek en die
toegang tot die kloof versper. Die honger en dorstige Nabateërs het
oorgegee en hul hoofstad het ’n deel van die Romeinse ryk geword. Die
goue era van Petra was nietemin steeds nie verby nie. As ’n deel van
die Romeinse beskawing het dinge soos openbare baddens, ’n teater en ’n
forum bygekom. As ’n mens vandag Petra besoek, vind jy daar ’n
oorvloed van suile, kollonnades (rye pilare), oordekte loopgange,
triomfboë, standbeelde en dekoratiewe urne.
In die derde eeu het Palmyra, ’n Siriese stad op die handelsroete tussen die Romeinse en Persiese ryke, ál belangriker geword en moes Petra geleidelik van sy handel aan hom afstaan. Kort daarna het hy ’n Christelike stad geword en in die sewende eeu het die Arabiere hom oorgeneem.
Tydens
die Kruistogte het ’n Germaanse stam, die Franke, hom beset. Teen die
einde van die twaalfde eeu is hy ontruim en aan die genade van die
slytende sand en wind van die woestyn oorgelaat. Gelukkig is die
kompleks darem ook goed teen die wind beskerm deur die kranse wat hom as’t
ware omhels.
Foto: New York State Archives (gewysig)
Só
het hy dan vir Westerse oë verborge gebly tot met Burckhardt se
avontuur in die vroeë 1800’s. Petra, wat ’n aantal jare gelede ’n
agtergrond vir die Indiana Jones-rolprente verskaf het, het reeds een
van die grootste toeriste-attraksies van die Midde-Ooste geword.
Dit is in 1985 tot Wêreld-erfenisgebied verklaar deur UNESCO (die agentskap van die Verenigde Nasies wat onder meer met kultuur en opvoeding gemoeid is).
Foto: Lynne Botes |