Pragstad van ’n antieke beskawing
 

Persepolis
Die trots van Ou Persië
 

Persepolis, volgens ’n ou gravure

 

BO: Persepolis, volgens ’n ou gravure.

 

 Foto: Openbare besit (kopiereg het weens ouderdom verval)

   

Persepolis met sy menigte suile is vandag ’n stille getuienis van die grootsheid van die Persiese konings van weleer....

 

•  Kyk ook Persië: Die onstuimige verlede van die teenswoordige Iran en Alexander die Grote in ons “Laslappie”-afdeling
     

KaartGOD beskerm hierdie land teen vyand, hongersnood en bedrog.” Só lui die inskripsie op die suidelike stutmuur van Persepolis. Die inskripsie is ’n beroemde gebed van koning Darius die Grote, die stigter van Persepolis, vir die mense van die veelvolkige Persiese Ryk.

Die kaart hierby is ’n aanpassing en verafrikaansing van ’n kaart in die World Factbook van die CIA; alle materiaal in die World Factbook is tot openbare besit verklaar

Maar Darius kon natuurlik nie rekening hou met die ontsagwekkende mag van Alexander die Grote nie. Hy was die finale “vyand” wat, minder as 200 jaar later, Persepolis sou verwoes en die eens magtige ryk sou vernietig.

 

Wat was die Persiese Ryk? Vir die antwoord moet ons teruggaan na die antieke Persië, die groot beskawing wat omstreeks 900 v.C. in die teenswoordige Iran en Afganistan verrys het.

 

Persië het geleidelik magtiger geword en was teen die jare 500 v.C. die middelpunt van ’n ontsaglike ryk wat byna regoor die destyds bekende wêreld gestrek het, van Suidoos-Europa en Noord-Afrika in die weste tot Indië in die ooste. Hierdie Persiese Ryk het sy toppunt bereik onder Darius I (522-486 v.C.), wat in die Ou Testament genoem word.

 

Die Persiese konings het, afhangende van die seisoen, in verskeie hoofstede gewoon: Ecbatana, wat in die somer gebruik is; Susa, wat in die winter verkies is; en Babilon. Nadat hy ’n paar jaar lank regeer het, het Darius I ’n indrukwekkende nuwe hoofstad, Persepolis, begin bou, in ’n bergagtige gebied in die teenswoordige Suidwes-Iran.

 

Dit is spesiaal as ’n sentrum vir godsdienstige plegtighede ontwerp, veral die Fees van die Nuwe Jaar. Omdat dit so afgeleë was, is Persepolis slegs in die lente en herfs bewoon, terwyl die Persiese Ryk steeds vanuit óf Ecbatana óf Susa óf Babilon bestuur is.

 

Persepolis—die bouvalle van bo gesienREGS: Persepolis—die bouvalle van bo gesien.

 

Foto deur sy eienaar tot openbare besit ("public domain") verklaar in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web


 

Darius I is deur sy seun Xerxes I opgevolg, wat met bouwerke in die stad voortgegaan het. Ná sy dood het die glorie van die Persiese Ryk begin verdof. Desondanks het ’n reeks heersers steeds paleise in die stad gebou of herbou. Die laaste heerser in Persepolis was Darius III, want in 331 v.C. het die leërs van Alexander die Grote van Macedonië die hoofstad geplunder en afgebrand.

 

Volgens die Griekse geskiedkundige Plutarchus het Alexander
10 000 muile en 5 000 kamele nodig gehad om die buit weg te dra. Party geskiedkundiges glo dat Persepolis geplunder is om die Persiese verwoesting van die Akropolis in Athene in die vorige eeu te wreek. Hoe ook al, die verwoesting van Persepolis het die doodsklok vir die Persiese Ryk gelui.

 

In die 1930’s het argeoloë die bouvalle van Persepolis begin opgrawe. ’n Doolhof van mure, trappe, gange, kamers en portale met suile is oor ’n gebied van sowat 450 by 300 meter blootgelê.

 

Die bouvalle van PersepolisREGS: Die bouvalle van Persepolis.

 

Foto: "F. Ameli A Persian and PARSI", wat kopiëring en modifikasie vergun in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.5 Licence

 

Dit is op ’n verhewe platform van kalksteen gebou, op die Marv Dasht (Vlakte van die Grasland) in die streek Fars, sowat 55 km noordwes van die teenwoordige Shīrāz in Iran.
Vanweë ’n reeks oninneembare heuwels aan die oostekant, kan die platform slegs deur middel van ’n groot trap aan die westekant bereik word.

 

Van die bokant van die trap af beweeg die besoeker deur die Poort van Alle Nasies met sy toringhoë stier- en stier-mens-beelde na die ingangsaal van die Poort van Xerxes. Hiervandaan word ’n tweede trap bestyg. Dié lei na die Gehoorsaal, waarvandaan die Saal van Honderd Suile bereik word.

 

Die dubbele trap (met altesaam 111 trappe) is duidelik noukeurig beplan. Die trappe is breed maar laag, sodat die klimmer gedwing word om stadig op te klim en die beelde in vlakreliëf aan die mure te bewonder. Die trap is ook ontwerp sodat ’n mens dit te perd kon bestyg.

 

Die Gehoorsaal van Darius, ook die Apadana genoem, was die belangrikste gebou in die hele kompleks. Dit staan op sy eie platform wat, soos dit al beskryf is, deur ’n ''woud van suile'' gestut word. Hierdie saal van 61 vk. meter, met ses rye suile van 18 meter hoog, was ’n onthaalsaal vir ’n geraamde 10 000 mense.

 

Die Saal van Honderd Suile (73 vk. meter) was selfs groter. Hoewel slegs die klipwerk vandag nog staan, was die saal in sy glorietyd helder geverf en versier met pragtige teëls, goud, silwer, ivoor, marmer en hout.

 

Maar Persepolis se blywende glorie is ongetwyfeld die beeldhouwerk aan die mure van die trappe, gange, kamers en sale en aan die suile. Party beeld plante en diere uit, ander amptenare en diensknegte wat die koninklikes bedien.

 

’n Toneel uit die Persiese mitologieREGS: ’n Toneel uit die Persiese mitologie.

 

Foto is die eiendom van britishmuseum.com, wat nogtans gebruik daarvan vergun asof dit in die openbare domein is

   

Verreweg die mees oorweldigende tema is dié van optogte van afgesante wat van heinde en ver kom met Nuwejaarsgeskenke vir die koning—’n nuttige herinnering vir besoekers van destyds en vandag aan waarvoor Persepolis nou eintlik gebou is.

 

•   Persepolis is in 1979 deur UNESCO  as ’n Wêrelderfenisgebied aangewys. (UNESCO is die opvoedkundige, wetenskaplike en kulturele agentskap van die Verenigde Nasies).

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad