|
Einde van
BO: Die pendeltuig Atlantis vertrek op 8 Julie 2011 op die heel laaste uittog in die dertig jaar oue Amerikaanse pendelprogram. Foto: NASA TV Artikel op web geplaas begin Julie 2011 DIE pendeltuig sing sy swanesang. Dertig jaar ná die lansering van die eerste ruimtetuig wat per vuurpyl opgeskiet is en as sweeftuig weer op die aarde kom land het—net om dit weer en weer en weer te doen—kom Amerika se pendelprogram nagenoeg in die middel van 2011 ten einde. Die pendeltuig Atlantis het op 8 Julie 2011 die hemelruim en die geskiedenisboeke binnegevlieg op sy laaste vlug. Met sy terugkeer aarde toe twaalf dae later, ná sy uittog na die Internasionale Ruimtestasie, sou Atlantis hom aansluit by die ander twee oorblywende pendeltuie, Endeavour and Discovery, wat altwee reeds “gepensioneer” en bestem was om museumstukke te word. Met 135 lanserings oor die drie dekades, en twee tragiese ruimterampe, sal die pendelprogram onthou word vir al die ekstase en smart wat daarmee saamgegaan het in die mens se eerste wankele treë om werklik die ruimte te probeer verower. Sonder die pendeltuie sal ruimtevaarders van die Amerikaanse ruimteagentskap NASA voortaan moet staatmaak op Russiese Sojoez-tuie om hulle te vervoer na en van die Internasionale Ruimtestasie, wat hopelik ten minste tot 2020 in werking sal bly. NASA wil hê dat private Amerikaanse ruimtetuie mettertyd die heen-en-weer-diens moet oorneem, maar dit sal waarskynlik nie oor minstens vier of vyf jaar kan gebeur nie. Die artikel hieronder is ’n aantal jare geskryf toe die pendelprogram uiteindelik hervat is ná die dramatiese verbrokkeling van die Columbia in die ruimte. Omdat dit soveel inligting oor die hele pendel-onderneming bevat, word dit as argief-artikel net so op die Mieliestronk-werf behou. |
|
Argief-artikel, op web geplaas in April 2007:
|
|
T |
WEE keer het dit die Amerikaners tot verbystering geskok. Twee maal het
’n pendeltuig, die trots van hul ruimteprogram, in ’n skrikwekkende
doodsvaart saam met al sewe sy bemanningslede doer bo in die atmosfeer
vergaan.
Maar dit mag nie weer gebeur nie, só glo hulle. Nooit weer nie. Daarom
dat die Amerikaners deesdae so oorversigtig is en geen nuwe pendelvlug
wil onderneem wat nie aan alle moontlike veiligheidstandaarde voldoen
nie.
REGS:
10-9-8-7-6-5-4-3-2-1... daar trek hy op pad na die ruimte! Die
pendeltuig Discovery dertig sekondes ná ’n lansering.
Foto: NASA
Die Amerikaanse Ruimteagentskap NASA is nie verniet in ’n verslag oor die ruimteramp van 2003 kwaai geroskam omdat hy te laks met sy veiligheidsmaatreëls was nie.
Dié
pendelongeluk het op 1 Februarie 2003 gebeur toe die oudste strydros in
die Amerikaanse pendel-stal, die meer as twintig jaar oue Columbia, op
sy 28ste sending dramaties tussen hemel en aarde verbrokkel het. Dit was
met sy terugkeer van die Internasionale Ruimtestasie, toe hy weer die
atmosfeer binnegekom het.
Vlugbeheerders van die Amerikaanse ruimteagentskap NASA het kontak met
die Columbia verloor terwyl hy teen nagenoeg 20 000 km/h sowat 70
kilometer bokant Texas gevlieg het.
Sewe
bemanningslede het die ewigheid ingeskiet toe die Columbia
gedisintegreer het, en alle vlugte met die oorblywende drie pendeltuie
is daarna summier opgeskort.
Vlugte sou eers hervat kon word nadat duidelik vasgestel is wat
met die Columbia verkeerd gegaan het.
Die rampspoedige fout met die Columbia—só het dit geblyk—was dat ’n brokstuk isoleringskuim so groot soos ’n aktetas van die buitetenk afgebreek en ’n gat in voorste rand van die pendeltuig se linkervlerk geruk het. Die intense hitte wat met die inkomslag opgewek is, het die beskadigde vlerk verswak en die pendeltuig het verbrokkel.
Meer as
anderhalf dekade tevore, in 1986, het die ander ongelukstuig, die
Challenger, wat ook die eerste skooljuffrou sou saamneem ruimte toe, met
sy sewe insittendes in ’n seekat-agtige rookwolk ontplof—’n skamele 73
sekondes ná die lansering.
REGS:
Die dramatiese, wêreldskokkende einde van die Challenger in 1986.
Later sou ’n foutiewe sluitring die skuld vir die ontploffing kry. Die fout met die ring het tot ’n reeks dinge gelei wat die vloeibare waterstof en vloeibare suurstof in die Challenger se buitetenk uiteindelik met katastrofale gevolge laat meng het.
"Ons treur
oor sewe helde," het pres. Ronald Reagan destyds aan die verpletterde
Amerikaanse nasie en ’n geskokte wêreld gesê.
En
die Columbia-ramp van 2003 het meelewende mense wêreldwyd opnuut
droefgeestig gestem. Ook sy sewe gestorwe bemanningslede was helde in
diens van die wetenskap en tegnologie.
Die pendelvloot van Amerika
AMERIKA het sy
pendeltuie in die 1970’s begin ontwerp nadat sy hoogs suksesvolle
Apollo-sendings ’n hele aantal mense op die maan geplaas en hulle veilig
teruggebring het aarde toe. Maar ruimtesendings is bitter duur en nadat
’n ruimtetuig gelanseer is en weer geland het, was die landingskapsule
vir niks meer bruikbaar as om, sê maar, in ’n museum bewaar te word nie.
Gevolglik het die klem verskuif na die goedkoper alternatief van
ruimtetuie wat oor en oor gebruik kan word—ruimtetuie wat met
vuurpylkrag in die ruimte geplaas word maar dan soos vliegtuie kan land,
tuie wat tot honderd sulke ruimtesendings kan onderneem, maar slegs
geringe onderhoud nodig het.
En só het die era van die sogenaamde "shuttles'' of pendeltuie begin.
Die wenteltuie van die pendelprojek sou dan soos vliegtuie lyk, maar
eintlik tog heeltemal anders werk. Die tuig verlaat die aarde in ’n
horisontale posisie, vasgeheg aan lanseervuurpyle en ’n enorme
brandstoftenk wat hom help om in ’n wentelbaan om die aarde te kom, maar
hierdie aanhangsels word almal in die loop van die vlug van hom
afgewerp. Aan die einde van die sending keer die wenteltuig na die aarde
terug in ’n horisontale posisie soortgelyk aan dié van ’n vliegtuig, dog
in der waarheid land hy soos ’n sweeftuig op ’n konvensionele
aanloopbaan sonder om enige enjinkrag te gebruik.
Die Columbia wat, soos ons gesê het, die eerste pendeltuig was, is in
1981 gelanseer. ’n Jaar later het die Challenger die tweede lid van die
VSA se pendelvloot geword. Hulle is in 1983 deur die Discovery gevolg en
in 1985 deur die Atlantis.
Die Challenger sou nege geslaagde ruimtesendings voltooi voor daardie
noodlottige dag in 1986. Pendelsendings is, soos in 2003 weer, destyds
tydelik gestaak, en dit is eers in September 1988 hervat met ’n vlug van
die einste Discovery, wat in 2005 weer die hervatte pendelprogram
ingelui het. ’n Nuwe pendeltuig, die Endeavour, het die verwoeste
Challenger in Mei 1992 vervang.
Die bou, funksies en vlug van
’n pendeltuig
MAAR kom ons
kyk ’n bietjie van naderby hoe ’n pendeltuig saamgestel is. Hy
bestaan uit drie hoofdele—’n wenteltuig, ’n buitetenk en twee
aanjaagvuurpyle met soliede brandstof. Die "vliegtuigagtige" wenteltuig
het
drie hoof- en twee kleiner motore.
Tot
sewe mense en ’n vrag van tot byna 30 000 kg kan met een pendelsending
die ruimte ingedra word. Die vrag kan satelliete insluit, wat ver bokant
die aarde in hul wentelbane geplaas sal word. Dit is baie meer prakties
en lonend om ’n aantal satelliete op hierdie manier saam die ruimte in
te neem as om hulle ten duurste een-een te lanseer.
Materiaal en toerusting word natuurlik ook deur pendeltuie na die
Internasionale Ruimtestasie (IRS) geneem. Maar van die begin van 2003
tot 2005 is die IRS slegs bedien deur die
Russe se Sojoez-ruimtetuie, wat natuurlik nie pendeltuie is nie.
Sojoez-kapsules wat na die aarde terugkeer, word so beskadig deur die
hitte wat deur wrywing in die atmosfeer opgewek word, dat hulle
eenvoudig nie weer gebruik kan word nie. Terloops, die leser sal onthou
dat ons eie Mark Shuttleworth in 2002 in ’n Sojoez gereis
het op sy tiendaagse tog na die Internasionale Ruimtestasie.
Maar om terug te keer tot die pendeltuig: Sy buitetenk is ’n groot silinder. Dit bevat by lansering ’n yslike hoeveelheid brandstof—1.900.000 liter vloeibare suurstof en vloeibare waterstof, wat op ’n beheerde wyse gemeng en in die wenteltuig se motore ingevoer word. Die gasse moet honderde grade onder vriespunt gehou word.
Die aanjaagvuurpyle aan weerskante van die buitetenk bevat ’n soliede
brandstof van droë chemikalieë.
’n
Pendeltuig styg met behulp van sy eie motore en die twee aanjaagvuurpyle
van die lanseerblad af op. Nagenoeg twee minute ná die lansering, op ’n
hoogte van om en by 40 kilometer, word die aanjaagvuurpyle outomaties
afgegooi en daal hulle met valskerms terug aarde toe. Hulle word dan
deur skepe in die see opgepik om later weer gebruik te word.
Omdat die wenteltuig nou nie meer aan die swaar aanjaagvuurpyle vas is
nie, beweeg hy vinniger en, net voordat hy in ’n baan om die aarde begin
wentel, word die reuse-buitetenk—nou omtrent leeg—weggewerp. Die tenk
verbrokkel en val see toe.
Binne-in die wenteltuig is ’n verrassend leefbare wêreldjie
waar ruimtevaarders selfs in gewone klere hul take kan verrig en waarin
daar ook allerhande kombuis-, badkamer-, slaap-, oefen- en
ontspanningsgeriewe is. Wanneer die bemanningslede egter die wenteltuig
in die ruimte verlaat—miskien vir die lansering van ’n satelliet of ’n
ander taak—dra hulle spesiale ruimtepakke waarin die korrekte lugdruk en
temperatuur gehandhaaf word.
Die wenteltuig kan ook aan die Internasionale Ruimtestasie vasmeer,
waarna die bemanningslede daarin sal oorklim.
Wanneer die wenteltuig se bemanning ná die voltooiing van hul take moet terugkeer aarde toe, word "rem getrap" en die tuig se snelheid word met behulp van sy kleiner motore verminder. Hy word dus uit sy wentelbaan om die aarde geruk en val nou letterlik terug aarde toe—omgeef deur ’n ontsettende hitte weens die wrywing in die atmosfeer, maar die bemanning word danksy die uitstekende isolering teen ’n aaklige vuurdood beskut. Rekenaars, of die bemanning self indien nodig, beheer ook steeds die wenteltuig se maneuvers.
Uiteindelik word die snelheid tot ’n hanteerbare spoed gerem en is die
tuig eerder ’n sweeftuig as ’n ruimtetuig.
Die vlieënier-ruimtevaarder kan dit na links of regs stuur, maar
rekenaars sorg vir die landing. Sowat ’n uur het verstryk vandat die wenteltuig sy twee
klein motore laat ontbrand het totdat hy teen sowat 320 km/h op die
aarde land.
En kort voor lank kan hy gereed wees vir sy volgende waaghalsige vlug na die buiteruim. Dit is mos waarvoor ’n pendeltuig daar is. As daar nou net vasgestel kan word hoekom hy deesdae so ietwat mankoliekig en broos geraak het...