|
Illustrasie regs bo: U.S. Fish and Wildlife Service |
|
"AG sies tog, ek wil hom sommer opvreet!" Só koer ’n broeise mamma wat saam met haar gesinnetjie ’n panda in die dieretuin staan en bekyk. Opvreet? Wat die vrou duidelik nie besef nie, is dat sy die een is wat moet lig loop vir die panda se tande... dat sy dit liefs nie naby aan hierdie "oulike Chinese teddiebeer" moet waag nie!
Sy eintlike naam is die reuse-panda, maar ’n reuse-dier is hy ook darem nie. Hy is wel ’n lid van die beerfamilie wat hoogstens omtrent 1,5 m lank word en die skaal op enigiets tussen 70 en 125 kg trek. Hy word maar net ’n "reus" genoem om hom van sy "nefie", die klein panda, te onderskei. Die klein panda is ’n bruin katbeertjie wat onder meer in die Himalaja aangetref word.
Die reuse-panda self word deesdae kol-kol op slegs ses bergreekse in Suidwes-China in die vrye natuur gevind, terwyl daar maar net ’n handjievol van sy soort in verskillende dieretuine oor die wêreld is. Dit is moeilik om te bereken hoeveel reuse-pandas daar nog oor is. Die vrees is al uitgespreek dat dit dalk slegs sowat 1.000 of miskien darem so 1.500 kan wees. Wat die probleem vererger, is dat daar mense in die meeste van die valleie tussen die berge van sy hougebied woon met die gevolg dat die pandas in verskillende smal en afgeskeie kolonietjies in die bamboesbos moet oorlewe.
Pandas verkies, soos gesê, die lote van bamboes, maar dit is nie al wat hulle vreet nie, veral wanneer hulle rêrig honger raak. Dan kan hulle plundertogte op tuine of landerye uitvoer en moontlik vergeet dat hulle feitlik volslae vegetariërs is en selfs hoenders verorber. Die eerste reuse-pandas wat na die Weste gebring is en die reis oorlewe het, het in 1938 in Engeland aangekom—’n vyftal wat deur ’n sekere Floyd Smith uitgebring is. Een is na die Europese vasteland gestuur en ’n tweede na New York, terwyl die ander drie ’n woonplek in die Londense dieretuin gevind het. Hulle was die voorlopers van ander pandas wat sporadies na Westerse dieretuine gebring is waar hulle nog altyd sensasionele trekpleisters was. Maar pandas teel nie sommer in gevangenskap aan nie, met die gevolg dat daar nog nooit ’n groot teelprogram geloods kon word om dié diere in noemenswaardige getalle in dieretuine te laat vermeerder nie. Die toekoms sal dus nog leer presies wat die panda se lot op ons planeet gaan wees. Geen regdenkende mens sal egter wil hê dat daar eendag slegs opgestopte eksemplare van hom in museums te sien moet wees nie.
LINKS: ’n Reuse-panda by ’n navorsingsentrum in ’n wildtuin in Suidwes-China. In die vrye natuur is daar miskien net sowat duisend van sy soort oor of straks darem ’n klompie meer. Foto: Sue Nichols, Michigan State University / via U.S. National Science Foundation
|