PalmbomeWat het jou handpalm en ’n palmboom gemeen? Heelwat meer as wat jy dalk besef…

Die handige

palm

 

 

REGS: Party soorte palmbome word tot 60 meter hoog... maar hulle is eintlik nie ware bome nie.

 

Foto: U.S. Department of Agriculture (digitaal verkleur)

 

 Twee soorte palms

BO: Waaierblaarpalms het ’n blaarstruktuur soortgelyk aan die vorm van ’n menslike hand. En albei kan teruggevoer word na die Latynse woord palma.

 

 

Twee foto’s bo deur hul eienaars tot openbare besit verklaar (“public domain”)

 

Die winste wat die mens al vir homself kon inpalm danksy die produkte van die palm, is so enorm dat dit onmoontlik is om te bereken!


Waar die palms sing van die wind en die reën,

van die wind en die reën en die lug,

waar die goud van die son in die groen versweem

en die see in die swoelte sug,

vloei ’n hemelse stroom wat die hart verbly

soos ’n milde en heerlike seën

en dit woel met die wind en word een met die see,

waar die palms sing van die reën.

– Dugeot

 

 

W

AT het ’n palmboom en die palm van jou hand gemeen? Baie. Albei kan teruggevoer word na die Latynse woord palma, die handpalm. En as ’n mens onthou dat die blare van sekere palms kennelik uitwaaier soos die vingers aan ’n oopgesperde hand, is dit glad nie moeilik om die konneksie te vind nie.

 

Ons kan sê die handpalm en die plantpalm gaan hand aan hand!

 

Die botaniese palms is immergroen plante van die familie Palmae of Arecaceae, en slegs graanplante en ander grassoorte is belangriker gewasse vir die mens. Die meeste van hierdie palms is bome (in die nie-wetenskaplike sin van die woord), maar party is lae struike of selfs rankplante. Palms kom wyd verspreid in die trope, subtropiese gebiede en warm streke van die gematigde sones voor, in sulke uiteenlopende omgewings soos woestyne en reënwoude.

 

Daar is meer as tweeduisend soorte palms. Mense in baie wêrelddele gebruik palmvrugte as stapelvoedsel, en verskillende dele van die plante dien op verskeie maniere as beskutting, brandstof en kleding. Die kokospalm, oliepalm en dadelpalm is kommersieel van groot belang.

 

DIE stamme van palmbome is óf silindries óf spitslopend van onder op die grond af tot bo by die blare. Daar is min spesies wat vertakkende stamme het. Plantkundig gesproke is die palmboom dan ook geen boom nie, maar ’n houtagtige meerjarige monokotiel (eensaadlobbige plant). Nogtans word party soorte palmbome tot 60 meter hoog.

 

Die groot blare is óf waaiervormig óf veeragtig. Die basis van die blaarsteel vorm gewoonlik ’n skede wat die stam omkring. Namate die blare oud word en afval, kan die skedes ruwe ringe aan die stam vorm.

 

WaaierpalmVeerpalmPalms word vir uitkenning juis in die twee hoofgroepe ingedeel—dié met waaierblare (LINKS) en dié veerblare

 (REGS). Die waaierblaarspesies het ’n blaarstruktuur waarin al die blaarsegmente van ’n enkele punt af uitsprei, soortgelyk aan die vorm van ’n menslike hand. Veerblaarpalms, daarteenoor, het blare aan elke kant van ’n sentrale steel, net soos die skag van ’n voëlveer waaruit die parallelle skagveertjies sprei om die “vlag” van die veer te vorm.

Klein illustrasie regs bo van Clipartheaven.com

 

Struikagtige palms het dikwels sulke kort stamme dat dit lyk of die blare regstreeks uit die grond kom. Die stamme van party soorte rankpalms kruip op die grond langs, ander steun weer op regopstaande plante om omhoog te beur.  Die rankstingels van die rottangpalms kan tot meer as 180 meter ver voortslinger. In die tropiese dele van Asië verskaf rottangpalms die grondstof vir rottangmeubels en mandjies.

 

BY die kokospalm, waarvan die vrug die bekende kokosneut is, word die blomme in bloeiwyses gedra en groei hulle by die plekke uit waar die eenjarige blare aan die stam geheg is. Die bloeiwyse word deur ’n geelbruin skede omsluit. ’n Groot aantal manlike blomme kom aan die punt van die bloeiwyse voor en die paar vroulike blomme aan die basis.

 

Die kokosneut (ook klapper genoem) wat ons in die winkels kry, lyk nie soos die kokosneut wat ’n mens aan die kokospalm vind nie. Terwyl dit nog aan die plant is, bestaan die kokosneut uit drie lae. Die skil of buitelaag, wat kenmerkend glad is en ’n groenerige kleur het, word die eksokarp genoem.

 

Die volgende laag is die veselrige omhulsel of mesokarp, die “klapperhaar”. Onder dié is die volgende laag, die harde en houtagtige sogenaamde endokarp. Die endokarp omhul die saad. Wanneer ’n mens ’n kokosneut in die supermark koop, is die eksokarp en mesokarp in die reël reeds verwyder en wat ’n mens sien, is die endokarp—die “klapperdop”.

 

Binne-in die harde dop is die albumien en endosperm. Die endosperm is deels solied (dit word die vleis genoem) en deels vloeibaar (die sogenaamde melk). Die klein embrio’tjie lê in die endosperm. Die “vleis” van die kokosneut is die deel wat dit so gesog is. Wanneer dit gedroog is, staan dit bekend as kopra. Klapperolie word daaruit gepers.

 

 Kokospalm en sy vrugte

BO: Die kokospalm—een van die nuttigste plante op aarde—met sy gesogte vrug. Lees in die artikel meer oor die bou van die kokosneut.

 

Krediet: Köhler's Medizinal-Pflanzen deur Franz Eugen Köhler, 1897 / Openbare besit vanweë verval van kopiereg weens ouderdom (“public domain old“) / Bron:  Wikimedia Commons

 

Dadels aan ’n dadelpalmREGS: Dadels aan ’n dadelpalm. Dadels is ryk aan suikers.

 

Foto: Stan Shebs / ARS / U.S. Department of Agriculture

 

By dadelbome word die manlike en vroulike blomme aan verskillende bome gedra. Die manlike blomme is klein en geel. Die vroulike blomme, waarvan daar mettertyd letterlik dadels sal kom, is rond soos bessies.

 

Gebruike

DADELS, kokosneute en ander palmvrugte word geëet. Jong palmplante word dikwels as groente benut, asook die eindknoppe van sulke variëteite soos die koolpalms. Eetbare suikers, stysels en olies word van palms verkry. Dadels kan ’n hoë persentasie suikers bevat—tot 88 persent.

 

Palmblare dien as waaiers en sambrele—reeds van eeue gelede af. Palmstamme word gebruik vir die maak van mure, heinings, brûe, hokke en meubels.  Die vesels van palmblare en -stamme word verwerk tot kwaste, besems, tou, hoede, mandjies, noem maar op. Klapperhaar, die ruwe vesels aan die buitekant van die harde deel van die kokosneut, is ’n gesogte soort stopsel vir matrasse en sitbanke. Ander palmprodukte sluit soorte was, soorte hars, industriële olies en ’n plaasvervanger vir ivoor in.

Tou wat met die hand van klapperhaar gevleg is

BO: Tou wat met die hand van klapperhaar gevleg is. Klapperhaar is die veselrige omhulsel van die harde klapperdop wat aan die binnekant van die kokosvrug aangetref word. Dit lê dus tussen die binnedop en die buitenste skil van die vrug. Die vesels in klapperhaar is in die reël van tien tot dertig sentimeter lank, en daar is twee soorte. Dit word dikwels vir matte, kwaste en sakke gebruik. Wit of ligbruin klapperhaar word van vrugte verkry wat nog nie ryp is nie en is gladder en fyner, maar ook swakker. 'n Garing word daarvan gespin wat in matte of tou gebruik word.

 

Foto: Bryan Harry / U.S. National Park Service

 

Palms word lank reeds gekweek om tuine en ander plekke te verfraai, soos langs paaie en strate. Kleiner soorte is ook gewilde potplante.

 

Die kokospalm het in der waarheid soveel gebruike dit die “Boom van die Lewe” genoem word. Selfs musiekinstrumente word daarvan gemaak. In die Tweede Wêreldoorlog en die Viëtnamese oorlog, toe dokters binneaarse vloeistowwe moes toedien maar nie genoeg van die ware Jakob gehad het nie, was die vloeistof in kokosneute ’n nuttige steriele plaasvervanger.

 

Ja-nee, die winste wat die mens al vir homself kon inpalm danksy die produkte van die palm, is so enorm dat dit onmoontlik is om te bereken!

Klik hier om terug te keer die inhoudsblad