Basiese kykie na die ‘predikante’ langs ons verkeersweë en hoe hulle my en jou lewe veiliger en geriefliker maak

 

Rivieroewer-tekenPadtekens:

wegwysers vir goeie verkeer

 

Sonder padtekens sou ons die pad baie gou byster geraak het. Wat meer sê, veral in die stede sou die verkeer in spitstye maklik in chaotiese warboele ontaard het...

Plus: al die padtekens van Suid-Afrika!

•   Omvattende lyste met illustrasies van Suid-Afrikaanse padtekens van die Padverkeerbestuurskorporasie [RTMC] is deur Mieliestronk.com bekom met die vriendelike vergunning van die webwerf van Arive Alive.

Hierdie padtekens (in PDF-formaat) kan dus nou ook hier by Mieliestronk afgelaai word.

Klik  regs op enige skakel van jou keuse hieronder en dan op “Save Target As” in die tuimelkassie wat sal verskyn. Bêre vervolgens die PDF-item in enige bêrekoevert (“folder”) in jou rekenaar:

•   SA padtekens—lys een

 •   SA padtekens—lys twee
•   SA padtekens—lys drie

•   SA padtekens—lys vier

•   SA padtekens—lys vyf (die betekenisse van die padtekens, ongelukkig slegs in Engels)

   •   Kan jou rekenaar straks nie PDF-items hanteer nie? Laai Adobe Reader gratis op die web af deur hier te klik

S

ONDER hulle sou padverkeer chaoties gewees het—met motors, vragmotors, busse en motorfietse wat deurmekaar vleg sonder dat die oorhaastige bestuurders enigsins weet wié vir wié moet wag of wáár om wátter soort gevare vorentoe te verwag.

 

Ons praat van pad- of verkeerstekens. Dis daardie borde langs die pad wat vir ’n mens vertel waar jy moet stilhou, hoe vinnig jy op ’n bepaalde strook pad mag ry, waar jy kan hulp kry in geval van nood en ’n magdom ander dinge.

 

Padtekens maak net die lewe soveel veiliger en geriefliker.

 

’n Mens sou geneig wees om te dink dat die eerste padtekens hul verskyning saam met die motor gemaak het, maar hulle is baie ouer as dit. Die ou Romeine het byvoorbeeld reeds mylstene regdeur hul keiserryk opgerig langs die paaie wat na Rome gelei het, waarop die afstand na die Romeinse hoofstad telkens aangedui is.

 

Soos dit moes gebeur, was dit eweneens Rome waar die basiese patrone vir die meeste van vandag se padtekens in 1908 by die Internasionale Padkongres gevestig is.

 

Eintlik is padtekens ’n deel van die hele omvattende verkeerstelsel, waarin byvoorbeeld ook strepe op paaie bydra tot ordelike verkeer. Die instandhouding van verkeersligte, die bevordering van hoflike gedrag by motoriste, die versekering dat voertuie padvaardig is, die verbod op besturing onder die invloed van drank en dwelms, en dies meer—alles is ewe nodig vir ’n gesonde toepassing van die sogenaamde padkode.

 

Vir padtekens word dikwels gebruik gemaak van simbole, pleks van skrif, omdat ’n enkele simbool des te gouer deur ’n verbysnellende motoris gelees kan word as ’n klompie letters of selfs woorde. Pleks van die veertien letters “Stilhou verbode”, sien die motorbestuurder byvoorbeeld slegs ’n “S” met ’n skuins streep daardeur. Maar dit beteken natuurlik een en dieselfde ding.

 

Verskillende lande het wel verskillende padtekens, maar daar is heelparty ooreenkomste in die tekens plaaslik en in die buiteland. Suid-Afrikaanse padtekens is in verskillende groepe ingedeel en só kry ons dan reëlingstekens, waarskuwingstekens, inligtingstekens en gidstekens. Daar is ook verskillende soorte tydelike tekens.

 


 

Reëlingstekens

HIERDIE tekens het te doen met die ordelike reëling van die verkeer. Hulle word self in verskillende onderafdelings ingedeel wat van mekaar te onderskei is op grond van hul vorms en kleure. Die onderafdelings is onder meer beheertekens, beveltekens, verbodtekens en reserveringstekens.

 

•    Die beheertekens vir stilhou (stop) en toegee is twee baie bekende tekens wat hier tuis hoort, maar daar is ook ’n klompie ander. Beheertekens kan agtkantig, sirkelvormig of driehoekig wees, maar die agtergronde is in die reël rooi en die simbole daarop is meestal wit of soms ook swart.

 

 StoptekenToegeeteken

BO: Stopteken en toegeeteken.

 

•    Beveltekens wat byvoorbeeld minimum-snelheid, draai regs of slegs voetgangers aandui, is op hul beurt sirkelvormig met wit simbole op ’n blou agtergrond.

 

 Minimum-snelheidDraai regsSlegs voetgangers

BO: Tekens vir minimum-snelheid, draai regs en slegs voetgangers.

 

•    Verbodtekens is in die vorm van ’n rooi sirkel met ’n swart simbool op ’n wit agtergrond. Voorbeelde is die tekens van die snelheidsgrens, u-draai verbode en voetgangers verbode.

 

 SnelheidsgrensU-draai verbode Voetgangers verbode

BO: Tekens vir die snelheidsgrens, u-draai verbode en voetgangers verbode.

 

•    Reserveringstekens is tekens by plekke wat vir bepaalde voertuie of ’n sekere tydsduur gereserveer is, byvoorbeeld busreservering en beperkte parkeerreservering. Die tekens is reghoekig met ’n blou agtergrond, die simbole is meestal slegs wit en daar verskyn ook ’n “R” of “P” op die teken (vir Parkeer of Reserveer).

 

 Busreservering  Beperkte parkeerreservering

BO: Tekens vir busreservering en beperkte parkeerreservering.



Waarskuwingstekens

SOOS die naam aandui, stel hierdie tekens die motoris betyds op sy of haar hoede teen ’n bepaalde gevaar wat hy of sy onmiddellik langs die pad sal teenkom of baie moontlik daar kan vind. Bestuurders wat waarskuwingstekens ignoreer,  dobbel nie net met hul eie lewens nie, maar ook met dié van die passasiers in hul voertuie, asook met die lewens van ander padgebruikers.

 

’n Waarskuwingsteken is in die vorm van ’n rooi driehoek, meestal met ’n swart simbool op ’n wit agtergrond. Voorbeelde van waarskuwingstekens is dié vir ’n treinoorweg  en seekoei-gevaar. In wêrelddele soos Europa sou gevaartekens ’n bestuurder weer teen Europese diere soos takbokke kon waarsku—seekoeie loop natuurlik nie daar in die vrye natuur rond nie! 

 TreinoorwegSeekoei-gevaar

BO: Tekens vir ’n treinoorweg en seekoei-gevaar.

 

Ook oorwegwaarskuwingskruise hoort tot hierdie soort tekens.

 

 Oorwegwaarskuwingskruise

BO: Oorwegwaarskuwingskruise.

 


   

Inligtingstekens

DIE wit “i” op ’n groen reghoek wat aantoon dat ’n inligtingsentrum hier gevind kan word, is ’n baie bekende inligtingsteken. Nog een bevat ’n wit streep wat op ’n groen reghoek teen ’n rooi streep doodloop om doodeenvoudig ’n doodloopstraat aan te dui.

 

 Inligtingsentrum  Doodloopstraat

 
BO: Tekens vir ’n i
nligtingsentrum en doodloopstraat.

 


 

Gidstekens

GIDSTEKENS wat die motoriste wys waar hulle hul bevind, hoe om by sekere plekke uit te kom en watter paaie waarheen lei, is veral baie nodig vir toeriste wat die plekke nie ken wat hulle besoek nie.

 

•    Liggingtekens kan enigiets aandui van die Naam van ’n Stad of Dorp tot die Naam van ’n Rivier.

 

Tekens met naam van dorp en naam van rivier
  

BO: Tekens met naam van dorp en naam van rivier.

 

•    Simbool-rigtingwysers kan ’n mens byvoorbeeld deur middel van die nodige simbole na ’n lughawe of inkopiesentrum beduie.

 

 Rigtingwysers vir ’n lughawe en inkopiesentrum

BO: Rigtingwysers vir ’n lughawe en inkopiesentrum.

 

•    Roetewysers vertel jou hoe jy moet ry om by ’n plek uit te kom.

 

Roetewyser met plek- en straatname
 

BO: ’n Roetewyser met plek- en straatname.

 

•    Toeristehulptekens beduie jou met simbole na alles van ’n woonwapark tot ’n krokodilplaas.

 

Tekens vir ’n woonwapark en krokodilplaas

BO: Tekens vir ’n woonwapark en krokodilplaas.

 


 

Tydelike padtekens

TYDELIKE padtekens lyk soos ander padtekens, maar die agtergrond is geel. Dit word byvoorbeeld by padverleggings en -konstruksies gebruik.

 

Tydelike padtekens

BO: Tydelike tekens vir (van links) draai regs, stilhou verbode, beperkte parkeerreservering en ’n haarnaald-draai wat vorentoe op die motoris wag.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad