|
Delwers-lewe
Die
onstuimige wêreld van die
avonturiers van weleer
IE
het rêrig die eerste diamant
in Suid-Afrika ontdek? Ons weet nie. Bes moontlik het ’n
jagter-swerwer in die gryse verlede deur ’n droë rivierloop
gestrompel en die blikkering van die son op ’n sierlike klippie
gewaar.
Miskien
het hy dit opgetel en na sy nagskuiling saamgeneem, dit vir sy vrou en
kinders gewys—en toe daarvan vergeet. As ’n mens gedurig in die
wildernis moet worstel om siel en liggaam aanmekaar te hou, gaan jy geen
benul hê van enige waardeverskil tussen ’n ruwe diamant en, sê maar,
’n mooi stuk kwarts nie.
| |

BO: 'n Deel van die Groot Gat
van Kimberley soos dit in 1913 gelyk het.
Foto: New York State Archives
Met
pik en graaf uitgehol—die
Groot
Gat van Kimberley
IMBERLEY is
beroemd vir die Groot Gat, ’n reuse-put, 215 meter diep, wat
ontstaan het nadat koorsige delwers die vulkaan-gruis van
Colesberg Kopje in die teenswoordige Noord-Kaap met ’n dolle
drif getakel het.
Colesberg
Kopje het spoedig verdwyn en in ’n holte verander en kort voor
lank was die holte ’n verskriklike uitholling wat vandag
steeds dikwels die diepste met die hand gegrawe gat ter wêreld
genoem word. (Om te sê dis die diepste mens-gemaakte gat is
egter ’n aanvegbare aanspraak, want wat van byvoorbeeld die
goudmyne waar daar al tot meer as 3 km ondertoe getonnel is?)
Diamante
word in loodregte vulkaanpype gevorm. Bolangs verweer die
uitgewerkte vulkane se gesteentes met die verloop van die eeue
en die diamante spoel met reënwater tot in rivierbeddings waar
hulle as spoeldiamante gedelf word. Baie meer diamante kan egter
nog in die onverweerde dele van die vulkaanpype gevind word—soos
inderdaad gebeur het op die plaas wat twee broers in 1871 gekoop
het.
Nadat
die broers Johannes Nicolaas en Diederik Arnoldus de Beer moes
uitvind dat hulle letterlik op ’n potensiële diamantmyn boer, het
dit vir hulle onmoontlik geraak om hul grond te behou. Al hoe
meer indringers het op die plaas toegesak, sodat die broers
verplig was om hul grond te verkoop. Maar hoewel hulle self nie
mynbase geword het nie, is hul familienaam darem verewig in die
De Beers-maatskappy, wat vandag wesentlik die hele
internasionale diamantbedryf beheer.
Die
chaotiese grawery in die begin moes tot konsolidasie lei om die
orde enigsins te herstel. Eers is twee groot myne gestig, die De
Beers- en die Kimberley-myn. Cecil John Rhodes en Charles Rudd
het die beheer oor altwee myne verkry en hulle in 1888 laat
saamsmelt in die De Beers Consolidated Mines Limited.
Die
Groot Gat is volgens die oopmyn-tegniek met pik en graaf grawe
en het 2722 kg diamante opgelewer voordat die myn in 1914
gesluit is. Die Groot Gat is vandag sowat 215 m diep, maar 40 m
grondwater laat net 175 m daarvan sigbaar. Die gat was
oorspronklik 240 m diep, maar dit is ná die sluiting van die
myn vir die storting van vullis gebruik. Die ondergrondse
Kimberley-myn is tot ’n diepte van 1097 m gegrawe.
Vandag
bied die Kimberley-mynmuseum die besoeker ’n wonderlike blik
op die geskiedenis met ’n volledig herskepte ou delwersdorpie
aan die rand van die Groot Gat.

BO:
Namate die Groot Gat ál dieper geraak het, moes die delwers en
gereedskap met kabels op- en afbeweeg soos op die
“lugspoorlyn” op die foto ONDER.

|
Die
Westerse mens, met sy totaal ander waardes en alewige sug na rykdom,
vertel ’n heel ander storie oor hoe Suid-Afrika se "eerste"
diamant ontdek is.
Die
verhaal is bekend: hoe ’n seun, Erasmus Jacobs, by die Oranjerivier ’n mooi klippie
opgetel het wat nie dadelik geëien is as die waardevolle siersteen wat
dit inderdaad was nie. Die
klippie was ’n diamant, wat later paslik Eureka (“ek het dit
gevind!”) genoem is—die voorloper van hoeveel ander fantastiese
vondste en die aanstigter van ’n geweldige stormloop wat die
Suid-Afrikaanse geskiedenis verander het.
Die
eerste diamante wat in die 1860’s gevind is, was weliswaar
spoeldiamante—gesogte blink klippies wat in die beddings van riviere
gevind is. Dit het egter nie lank geduur nie voordat daar besef is dat
hierdie diamante maar net deur reënwater daarheen gespoel is en dat
hulle eintlik afkomstig was van uitgewerkte vulkaanpype.
Die
eintlike, fabelagtige rykdom het dus in die vulkaanpype gelê—
en hoopvolle fortuinsoekers het in hul duisende daarop toegesak
en freneties begin grawe om die verborge skatte te vind. Dit is dan ook
hoe Kimberley tot stand gekom en een van die boeiendste episodes in die
Suid-Afrikaanse geskiedenis hom afgespeel het. Hieronder word vertel van
die harde, moordende, maar ook kleurryke bestaan van die
delwersgemeenskappe in daardie byna waansinnige tyd.
Die
menigte delwers en hul werkers het in tamaai groot delwerskampe om die
diamantmyne gewoon. Uit hierdie kampe het mettertyd twee groot dorpe
ontstaan. Die een was Dutoitspan, wat later tot Beaconsfield hernoem is,
na die Benjamin Disraeli, die eerste graaf van Beaconsfield, wat
kortliks in 1868 en toe weer van 1874 tot 1880 die premier van Brittanje
was.
Die
ander plek is Kimberley. Dié is weer genoem na John Wodehouse, die
eerste graaf van Kimberley, wat in die 1870’s en 1880’s die
Britse minister van kolonies was. Kimberley het sneller gegroei as
Beaconsfield en laasgenoemde was naderhand wesentlik bloot die voordorp
totdat die twee plekke uiteindelik saamgesmelt het.

Wilde wanorde van die eerste jare
PRAAT
van ’n dolle deurmekaarspul in die oortreffende trap! Van heinde en
ver het die delwers op die diamantwêreld toegesak met groot drome van
rykdom in hul verlangende, moeë oë.
En
omdat daar aanvanklik geen beplanning was nie, is tente en geboue van
sink en hout letterlik hot en haar opgerig. Binne en buite die
wanordelike nedersettings het die boere boonop met hul waens uitgespan,
terwyl hul diere oral rondgewaal het vir weiding of soms miskien sommer
vir kwaadgeld. Die woonplekke het van nogal respektabele tuistes tot
hokke en pondokke gewissel.
Vervoer
was ’n behoorlike nagmerrie. Waens en karre moes nie net her- en
derwaarts tussen die wonings deur kronkel nie, maar ook plek-plek bo-oor
die gruis en grint van die kleims tussenin bokspring en voorts hul
moeisame weg deur die bonte gewemel van delwers probeer baan.
Behoorlike
winkels was daar nie. Die delwers moes hulle dus dikwels op die boere
van die omgewing verlaat om kos, boumateriaal en gereedskap vir die
bewerking van hul kleims te kry. Voorrade is wel ook van die Kaap en
elders gekarwei, maar die groot afstande het vanselfsprekend hul eie
probleme geskep.
Die
produkte is op groot markpleine in Beaconsfield en Kimberley opgeveil—die
groente en vleis van die boere en smouse, en artikels soos drank en
graan van elders. Die
veilings op die markte was gewoonlik op Saterdae en op só ’n markdag
het die delwers ’n hond uit ’n bos gekuier en gesels.
Water was
ook van meet af ’n probleem—hopeloos te min vir eie gebruik, wat nog
te sê vir die was van die diamantgruis. In die somer en reëntyd kon
damme nog so min of meer vir ’n modderige voorraad sorg, maar in die
winter was daar baiemaal omtrent niks om saans die stof van die
uitgeputte delwerslywe af te spoel nie. Dis dan ook nie vreemd dat die
higiëne dikwels veel te wense oorgelaat het nie. Boonop was drinkwater
so skaars dat die delwers ’n sjieling vir ’n emmervol moes betaal.
En
dan was daar die nypende tekort aan hout. Die landskap by Kimberley is
immers geen boomwêreld nie, soos elkeen sal weet wat al daardie geweste
besoek het. Maar die delwers het hout nodig gehad om vuur te maak en so
te sê elke boom digby en ’n hele ent van Kimberley is al in die
vroegste jare afgekap. Gevolglik moes hout ten duurste uit die noorde en
elders oor groot afstande per ossewa aangery word. Uiteindelik is tot
meer as dertig pond vir ’n vrag hout betaal (weens inflasie is dit
moeilik om dit tot vandag se geld om te reken, maar in daardie tyd was
dit sommer ’n yslike klomp geld).

Delwerskultuur: die euwels en
hoe
hulle hul vrye tyd verwyl het
DIE
lewe in Ou Kimberley was ’n bittere oorlewingstryd wat die manne van
die muise geskei het. Hierdie dorsland met sy skroeiend warm dae en
ysige nagte, gepaard met die rugbreek-werk en die tekort aan water en
belangrike lewensmiddele, het groot taaiheid en die uiterste
deursettingsvermoë van die delwers geverg.
Vir
party het die rykdom blinkpens bo op die diamantgruis geknipoog, maar
talle ander was nie naastenby so gelukkig nie. En as die blanke delwers
dit bitter gehad het, was dit ’n galbitter tyd vir die duisende swart
werkers wat in die swakste toestande onder bosse en takskuilings buite
Kimberley gewoon het. Partykeer het van die delwers wel tente aan hul
werkers werskaf, maar behoorlike en genoeg kos was daar nie.
Waar
soveel hardebaarde—spierbuffels en seningtoue—in sulke haglike
toestande bymekaar was, is dit eintlik nie verbasend dat die delwers
hulle dikwels aan drank vergryp het nie. Ook nie dat drinkplekke en
kantiene soos paddastoele opgeskiet het om die slaafse swoegers se
dorstige kele te verkoel en hul sakke leeg te melk nie.
Daarmee
saam is hul dobbelsug tot die koorsigste hoogtes aangeblaas deur faro-
en roulettetafels in baie van die kantiene. Baie het platsak en bedroë
van die dobbelplekke weggestap, maar enkeles wat hul siel aan die
geluksgodin verkoop het, het daarmee ’n fortuin ingepalm. Só was daar
David Harris, die latere sir David, wat sy sakeryk as diamantmagnaat
gebou het op 1400 pond wat hy op ’n keer in ’n kantien gewen het.
Ook
perdewedrenne, ofskoon nie so suspisieus soos die talle dobbeltafels
nie, was gewild en daar is eweneens dikwels hier geprobeer om ’n
onverdiende fortuin los te slaan.
En
dan was daar die prostitute van Ou Kimberley. Honderde los vroue wat
besef het dat baie delwers in die beginjare nie hul vroue saamgebring
het nie, het soontoe uitgewyk vir ’n betalende sondelewe saam met die
skattejagters. Die manne moes in die kroeë vir hul bie en die hoogste
bieders kon dan die nag saam met hulle verwyl.
Nog
’n euwel van daardie tyd was diamantsmokkelary, waar skelm blankes
baiemaal die diamante van swart werkers bekom en dan in die geheim
verkwansel het. Dit het nie net die mynbase jaarliks miljoene gekos nie,
maar ook die prys van diamante laat daal. Oortreders wat gevang is, is
wel swaar gestraf, maar die euwel kon nie heeltemal hokgeslaan word nie.
Maar vir
vermaak is daar darem nie net breidelloos en ontugtelik op die delwerye
gerumoer nie. Daar was vanselfsprekend ook geleenthede vir respektabele
en gekultiveerde mense om hul vrye tyd nuttig bestee te bestee, soos in
die Lanyon
Theatre in Kimberley
en die Theatre Royal in Beaconsfield, waar opvoerings en konserte
gereeld gehou is. Daarbewens kon verskillende
soorte sport beoefen word, veral krieket, asook boks, atletiek, sokker
en om jou vernuf op die skietbaan teen ander skuts te meet.

BO: Die “plan van eienaarskappe”
van die Kimberley-myn in 1882. Omdat kleims in die begin hot en
haar afgepen is en aan Jan Rap en sy maat behoort het, het dit tot
’n chaotiese grawery gelei. Beplanning en konsolidasie sou dus
broodnodig blyk te wees om die orde enigsins te probeer herstel. Die
eienaarskap van die kleims het met verloop van tyd in die hande van
groot maatskappye beland wat op hul beurt later sou saamsmelt om die
De Beers Consolidated Mines Limited te vorm.
Krediet: Openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens
ouderdom (“Public Domain Old”)

Dienste,
opvoeding, godsdiens en ontwikkeling—die einde van die chaos
TWEE
koerante, wat eers in die rivierdelwerye uitgegee is, het saam met die
delwers na die ”droë" delwerye van Kimberley en Beaconsfield
versit: The Diamond Field na Kimberley en The Diamond News na
Beaconsfield. En met die totstandkoming van ’n openbare biblioteek in
1882 was die leeslustiges van oorgenoeg literatuur verseker.
Hospitale
wat reeds in die vroegste jare opgerig is, het op hul beurt ’n groot
rol bly speel om die mense gesond en fiks te hou, terwyl daar ook
spoedig kerke, sinagoges, ens. sou verrys. Leraars sou uitstekend wal
gooi teen ’n geestelike bankrotskap by die ou delwerye wat so maklik
andersins endemies kon gebly het.
In
aansluiting hierby is die matelose deurmekaarspul van die eerste jare
van Kimberley en Beaconsfield met verloop van tyd georden. Kimberley het
in 1878 ’n munisipaliteit gekry, terwyl die totstandkoming van
De Beers Consolidated Mines Limited vanselfsprekend ook ’n groot rol
gespeel het om groter bestendigheid te bring.
Die
munisipale bestuur kon nou woonbuurte beplan en die lukrake oprigting
van huise en ander geboue stuit. Dienlike strate met elektriese
straatligte (die eerste in Suid-Afrika in 1882) en behoorlike sanitêre
geriewe kon aangelê word. Boonop is teen 1880 met ’n groot projek
begin om water meer as 30 km ver van die Vaalrivier af hierheen te
herlei.
Die
eerste trems het ook teen hierdie tyd hul opwagting gemaak. Hulle is
eers deur perde of muile getrek, maar dié is teen die eeuwisseling
vervang deur trekkers wat met stoom gewerk het.
Ook
teen die eeuwisseling was Kimberley ’n gevestigde groot dorp en die
wilde bestaanslewe van die ou delwers ’n deel van die geskiedenis. Tog
sou die Diamantstad nie die spil bly waarom Suid-Afrika se
mineraalbedryf en groot nywerheidsontwikkeling sou draai nie. Hy is
onttroon deur Johannesburg en die Witwatersrand waar alles om goud sou
wentel.
Erkenning
met dank: Belangrike inligting vir die teks van hierdie artikel is
verkry uit die baie lesenswaardige en insiggewende boek DIE ONTDEKKING
VAN RYKDOM deur Diko van Zyl; uitgegee deur Don Nelson, Kaapstad; eerste
uitgawe 1986; ISBN 1 86806 013 6; pp. 39-48.
|