Vroeë mense en antieke beskawings (14) [SLOT]

    

Inkas

 Kinders van die son

 

   
Machu Picchu

 

BO: Machu Picchu, sonstad van die Inkas.

 

Foto (effens gewysig): Clive Ruggles / NASA

 

Ál langs die weskus van Suid-Amerika lê die oorblyfsels van die Inkas se glorieryke verlede versprei: imposante vestings, hutte van klip, forse tempels en hangbrûe. Terrasmure, soos by Machu Picchu, het as stutmure gedien, terwyl die Inkas ook graan op die terrasse geplant het. Maar die ware bloeityd van die Inkas was van korte duur. Hoewel die volk vroeër bestaan het, het hul beskawing minder as ’n eeu lank gefloreer...

 

Bouval van ’n Inka-sontempel

 

BO: Bouval van Ingapirca, ’n Inka-sontempel in Ecuador.

 

Foto met vergunning van Ambassade van Ecuador, Washington / via U.S. Library of Congress (digitale verkleuring van ’n swart-wit foto)

 


Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
Grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com

Inka-kind se liggaam (“CAT”-skandering)REGS: Soos waargeneem met ’n “CAT”-skandeerder (’n soort X-straaltoestel)—die opgespoorde stoflike oorskot van ’n Inka-kind wat deur die jare behoue gebly het in Peru.

Foto: GSFC / NASA

 

.I.

N sy paleis word Capac, keiser van die Inkas, in sy vorstelike bedrywighede gesteur. Dit is boodskappers wat belangrike nuus bring. Op die strand het ’n groep "koddige vreemdelinge" aangekom, hoor hy.

 

"Hul gesigte is wit en hulle het baarde en hulle is van kop tot tone geklee," stamel die verbysterde beriggewers. "Hulle lyk soos regte wildewragtigs. En hulle het in groot houthuise oor die see gekom."

 

Capac—só lui die verhaal uit die jaar 1526—word so ontstel deur hierdie tyding dat hy hom in sy kamer terugtrek en daar bly totdat dit nag word.

 

Hy het rede om bekommerd te wees. Die Inka-ryk met sy sowat twaalf miljoen siele staan voor ’n aanslag waarteen dit heeltemal weerloos sal wees...

 

Geskiedenis van die Inkas

 

   SOOS die Asteke was die Inkas ’n betreklik resente volk van die Nuwe Wêreld. Hul beskawing het minder ’n Deel van ’n Inka-kleed wat omstreeks 1550 geskep isas ’n eeu lank gefloreer—tussen 1438 en 1530—hoewel die kultuur waarop dit gegrond was, klaarblyklik baie ouer was.

 

Omdat die Inkas geen skrif van watter aard ook al gehad het nie, is baie min omtrent die vroeë geskiedenis van hierdie Suid-Amerikaanse Indiane bekend. Hulle het begin as net een van baie Peruaanse stamme en ontwikkel tot ’n magtige volk in ’n enorme ryk aan die Suid-Amerikaanse kus wat meer as 4000 km ver gestrek het.

 

In 1438 het Parachuti Inka Jupancui, die negende heerser van die Inka-volk, sy gebied daadwerklik begin uitbrei. Hy en sy seun Topa Jupancui was uitmuntende organiseerders en onder hul leiding het die Inkas die heersende mag in die Andes geword. Hulle het die grootste dele van Peru en Ecuador en groot dele van Bolivia, Chili and Argentinië beheer.

 

Topa is opgevolg deur sy seun Huayna Capac—die keiser wat die nuus van die Spanjaard Francisco Pizarro se aankoms in die Nuwe Wêreld ontvang het. Met Capac se dood in 1527 het ’n burgeroorlog tussen die volgelinge van sy twee seuns uitgebreek.

 

Francisco PizarroLINKS: Francisco Pizarro, Spaanse veroweraar (“conquistador”) van die Inka-ryk.

 

Historiese skildery word tot openbare besit (“in the public domain”) gereken vanweë die verval van kopiereg

 

Huasca was die regmatige troonopvolger, maar sy broer Atahualpa het nie so gereken nie en hom in 1523 verslaan om die nuwe keiser te word. Atahualpa het later gelas dat sy broer doodgemaak word.

 

Die Inka-ryk is erg deur die burgeroorlog verswak. In hierdie stadium het Pizarro en sy manne die land meedoënloos binnegemarsjeer. Berede Spanjaarde met vuurwapens het die Inka-leër bestorm en Atahualpa gevange geneem. Sy ontsenude vegters het op die vlug geslaan.

 

Atahualpa is opgesluit. Omdat hy geweet het dat die Spanjaarde hul siele vir rykdom sou verkoop, het hy aangebied om sy tronksel met goud te vul en nog twee kamers met silwer in ruil vir sy vrylating. Die Spanjaarde het die losprys aanvaar—en toe Atahualpa nogtans doodgemaak.

 

Die gedemoraliseerde Inkas het nou geen erkende leier meer gehad nie en was dus maklike prooie vir die Spaanse veroweraars. Die Inka-ryk het verbrokkel en die mense het Spaanse onderdane geword.

 

Wat die Inkas vermag het

 

   DIE duur van die Inka-beskawing was weliswaar kort, maar dit was glorieryk.

 

As ’n mens vandag in Peru, Bolivia, Ecuador, Chili en Argentinië reis, is die oorblyfsels van die eens manjifieke kultuur nog duidelik te sien. Oral teen die berghange is terrasse waar gewasse intensief verbou is. Imposante vestings staan soos brandwagte teen die heuwels.

 

Hiram BinghamDie Inkas was baasbouers. Soos die Romeine het hulle ’n padnetwerk gebou wat die verskillende provinsies van die ryk met mekaar verbind het. Nuut verowerde gebiede is opgemeet en planne opgestel om die produktiwiteit van die land te verhoog.

 

Machu Picchu. die Inka-vesting wat in 1911 deur die Amerikaanse ontdekkingsreisiger Hiram Bingham herontdek is, is ’n goeie voorbeeld van die Inkas se ingenieursvernuf. Dit is tydens die Spaanse verowering as toevlug vir vlugtende Inkas ontwerp. Daar was ’n sentrale plein met die paleis aan die een kant, ’n sontempel, talle openbare geboue, ’n beskermende muur en ’n doeltreffende waterstelsel wat baddens en fonteine gevoed het.

 

Machu PicchuLINKS: Nog ’n baie besondere foto van die Inkas se nou wêreldberoemde bergvesting
—Machu Picchu in Peru.

 

Foto: Allard Schmidt (Nederland), wat dit in die Wikipedia-ensiklopie op die wêreldwye web tot openbare besit (“in the public domain”) verklaar het

   

Die Inkas het gebou deur klippe opmekaar te stapel. Messelklei was daar nooit nie, maar die klippe is geduldig afgewerk, geskuur en gepas sodat ’n mes glo nie tussen hulle ingedruk kon word nie.

 

Inka-vakmanne het vele mooi skatte soos gode-beelde asook alledaagse werktuie van goud, silwer, erd en ander stowwe gemaak.

 

Boonop is katoen- en wolstowwe geweef—vaardighede wat vandag nog in die poncho’s en fyn afgewerkte tekstielgoedere van Inka-afstammelinge op die hoëvelde van die Andes te sien is.

 

Al was daar geen skrif nie, het die Inkas natuurlik mondelings, asook deur middel van boodskappers en rookseine gekommunikeer. Daarbenewens het hulle die hemele bestudeer en die jaargetye voorspel. Hulle het sekerlik ook van wiskunde gebruik gemaak om hul paaie, geboue en terrasse te bou. ’n Spesiale koord met knope van verskillende lengtes en kleure is gebruik om dinge aan te teken.

 

n Studie van die beskawing van die Inkas is werklik fassinerend. ’n Mens kan nie help om te wonder hoe dit kon ontwikkel het as dit toegelaat sou gewees het om ongehinderd voort te bestaan nie.

   

Nazca-lyne uit die ruimte gesien“Landingstroke vir ruimtewesens”—geskep deur die Inkas se voorgangers!

 

Foto: NASA / GSFC / METI / ERSDAC / JAROS en U. S./Japan ASTER Science Team

 

REGS: Die Moche, in die noorde, en die Nazca, in die suide, was beskawings wat reeds voor dié van die Inkas in Peru in Suid-Amerika bestaan het. Daar word gemeen dat die Nazca, wat tydgenote van die ou Romeine was, verantwoordelik was vir reusagtige, raaiselagtige lyne, patrone en tekeninge van tot 200 meter lank, wat soos gegraveerde orakels op die landskap aangebring is. Op hierdie foto is van die reguit lyne soos hulle selfs uit die ruimte waargeneem is!

 

Spinnekop-tekening op die landskapDie lyne, patrone en tekeninge is geskep deur die roeskleurige rotse en klippe te verwyder en die woestynsand daaronder bloot te lê. Van die tekeninge beeld diere uit: hier ’n voël, daar ’n aap, elders ’n akkedis en tot ’n walvis. Die lugfoto LINKS is van ’n spinnekop—agt pote en al.

 

Ná baie eeue weet niemand meer rêrig waarom hulle hier op die landskap gegraveer is nie en, wat meer sê, dit was maar eers met die koms van vliegtuie vroeg in die twintigste eeu, toe mense oor die gebied begin vlieg het, dat die bestaan van die vreemde strepe en vorms herontdek is.

 

Nou blyk dit dat hulle ook uit die ruimte sigbaar is. Dit gee vanselfsprekend skietgoed vir verbeeldingryke mense wat hoeka met ’n vonkeling in die oog wonder of die lyne nie eenmaal landingstroke vir buite-aardse ruimteskepe was nie!

 

Dan was die tekeninge op hul beurt seker daar om die vlugpassasiers (almal groen mannetjies, natuurlik) te vermaak!

 


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad van hierdie reeks oor vroeë mense en antieke beskawings
  


Klik hier om terug te keer na die hoof-inhoudsblad van die Mieliestronk-werf