Vroeë mense en antieke beskawings (13)

    

Maja en Asteke

— beskawings in die oerwoud

 

REGS: ’n Blik op die antieke Maja-stad Tikal in Guatemala.

 

Foto met vergunning van National Oceanic and Atmospheric Administration Paleoclimatology Program / U.S. Department of Commerce

 

Ses eeue lank het die Maja ’n verstommend gesofistikeerde beskawing in die oerwoude van Sentraal-Amerika in stand gehou—en toe is hulle skielik verslaan. Die Asteke, wat wes van die Maja gewoon het, het ’n selfs korter geskiedenis gehad het...

 


Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
Foto-kompilasie deur Mieliestronk.com

“H

ULLE het na ons skepe toe uitgeswem en vir ons papegaaie, bolle katoengare, spiese en baie ander goed gebring... Ek het geen dierlikes onder hulle gesien nie... Inteendeel, hulle was baie eerbiedig en vriendelik."

 

Só het Christopher Columbus op 12 Oktober 1492 in sy skeepsjoernaal geskryf. Dit was die eerste opgetekende kontak tussen Europeërs en inwoners van die Nuwe Wêreld.

 

REGS: ’n Historiese skildery van Columbus se aankoms in die Nuwe Wêreld in 1492.

Krediet: An Ongoing Voyage Exhibition, U.S. Library of Congress

 

Teen die tweede dekade van die 1500’s het die Spaanse veroweraars egter deeglik besef dat die inwoners van wat ons nou as Mexiko en Sentraal-Amerika ken,  glad nie die "edele barbare" is soos hulle aanvanklik gedink het nie.

 

Só was daar byvoorbeeld Hernán Cortés, ’n ywerige Spaanse kolonis. Hy was eers verblind deur die rykdom en weelde van die Asteekse stede en al die skatte waarmee die Asteke hom en sy avonturiers belaai het. Maar ’n skok het op hom gewag toe hy op hul hooftempel afkom.

 

Die binnekant was besaai met bloedspatsels, en daar was oral tekens van menslike offerandes—klipblokke waarop die slagoffers uitgestrek is, messe waarmee hul hart uitgekerf is, boombas deurdrenk met bloed...

 

Maar wie was hierdie vreemde, bloeddorstige mense dan?

 

Geskiedenis van die Maja

 

MET die koms van die Spanjaarde het veral twee beskawings ver bo die ander in Sentraal-Amerika uitgetroon: die Maja en die Asteke.

 

Die Maja het in die Yucatan-skiereiland in Mexiko gewoon, in ’n gebied wat vandag feitlik heeltemal deur Guatemala, Belize, Honduras en El Salvador in beslag geneem word.

 

Die Maja-kultuur het sy bloeityd tussen omstreeks 250 en 900 nC beleef—vandag bekend as die Klassieke Tydperk. In dié tyd het hulle groot stede gebou en vinnige vooruitgang in die kunste, argitektuur en wetenskappe gemaak.

 

Godsdiens het hul kultuur oorheers en tot die oprigting van reusagtige seremoniële geboue gelei.  

 

LINKS: Tempel I by Tikal.

 

Foto: Department of Petén, Guatemala / David A. Hodell, Department of Geology, University of Florida / National Oceanic and Atmospheric Administration Paleoclimatology Program / U.S. Department of Commerce

 

Die Maja-tydperk is onderbreek met die inval in 950 deur die Tolteek-Indiane van Mexiko. Die Tolteke het in die tyd van hul oorheersing, bekend as die Mexikaanse tydperk, ’n groot invloed op die Maja-kuns en -argitektuur gehad. Die Maja-kultuur het herleef met die einde van die Tolteek-oorheersing in 1200, maar die handel het ’n baie groter rol as godsdiens begin speel. Die Maja-stede het florerende handelsentrums geword en die seehandel het vinnig vooruitgegaan.

 

Die rede vir die ineenstorting van die Maja-beskawing  in  die sestiende eeu bly ’n raaisel. Al wat bekend is, is dat interne struwelinge in die middel van die vyftiende eeu die volk se weermag uitgeput het. Dit het daartoe bygedra dat die Spanjaarde hulle kon oorrompel.

 

Wat die Maja vermag het

 

   DIE Maja-kultuur verteenwoordig die toppunt van die Sentraal-Amerikaanse lewenswyse. Hulle het ’n eie skrif ontwikkel wat uit baie simbole bestaan het. Die simbole het kombinasies van klanke en idees weergegee, soortgelyk aan die Egiptiese hiërogliewe. Die Maja het hul skrif gebruik om gebeurtenisse in die daaglikse lewe van hul leiers en dié se familielede neer te skryf, om sterrekundige waarnemings op te teken, en belangrike datums aan te teken.

 

Daar is geskryf op mure, op groot klipmonumente of stelae, geboue en selfs meubels. Die Maja het tot boeke van gevoude papierblaaie gehad wat van vesels van die maguey-plant gemaak was. Ongelukkig is baie van dié boeke deur die Spanjaarde vernietig.  

 

REGS: ’n Maja-klipmonument in Gautemala.

 

Die Maja het selfs twee kalenders ontwikkel. Een is gebaseer op die bewegings van die aarde om die son (al het hulle dit nie werklik besef nie). Dit het 365 dae gehad, wat verdeel is in agttien maande van twintig dae elk. Aan die einde van ’n kalenderjaar het vyf "ongelukkige dae" oorgebly.

 

Die ander kalender is in 260 dae verdeel. Dit het twintig name vir verskillende dae gehad. Dié name is met die name van gode en godinne geassosieer. Priesters het dié kalender gebruik om iemand se goeie of slegte geluk te bepaal.

 

Die Maja het talle akkurate sterrekundige waarnemings gedoen deur die bewegings van die son en die planete relatief tot die horison dop te hou deur ’n paar gekruiste stokkies. Boonop was die Majas se wiskundige vermoëns van ’n besonder hoë standaard.

 

Hulle het ’n getallestelsel met net drie simbole uitgevind: ’n skulp was ’n nul, ’n strepie was die getal vyf, met ’n kolletjie vir elke eenheid tot met die getal vier. Alle getalle is as ’n kombinasie van strepies en kolletjies geskryf. Die posisie van die skulpie het die waarde aangedui.

 

Die Maja was ook uitstekende skilders, pottebakkers en beeldhouers. Hulle het mure met kleurryke tekeninge versier en beelde van klei en klip gemaak. Hulle het hoë piramides gebou met tempels bo-op en steil trappe teen die kante uit. Hulle het die oënskynlike hoogte van hul geboue verder verhoog met versierings wat op die hoogste punt van die dak aangebring is.

 

Die godsdiens van die Maja het om die aanbidding van groot aantal natuurgode gesentreer.

 

Geskiedenis van die Asteke

 

VOLGENS Asteek-oorlewering het hul voorvaders van ’n gebied ver noord van Mexiko, genaamd Astlan, suidwaarts geswerf en is hulle eers in 1345 toegelaat om hulle permanent op die Mexikaanse hoogland te vestig.

 

REGS: ’n Asteek-beeld van 900-1000 n.C., Museo Nacional de Antropología in die stad Mexiko.

 

Foto: Kopiereg © 2007 National Gallery of Art, Washington D.C. (foto slegs vir persoonlike, opvoedkundige, nie-kommersiële gebruik)

 

Die Asteke het dié gebied Tenochtitlan genoem, die "Plek van die turksvy-kaktus". Tenochtitlan is uitgelê volgens ’n spesifieke rooster met kanale en strate—baie soos Venesië. Die stad het gefloreer, sy onafhanklikheid verkry en ’n stadstaat geword.

 

Tenochtitlan en vyftig ander onafhanklike stadstate het mettertyd verenig.

 

 

BO:  Tenochtitlan (oos is bo)—van ’n muurskildery in die Nasionale Museum vir Antropologie in die stad Mexiko (1930).

 

Krediet: Die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web, waar dit as openbare besit (“in the public domain”) aangedui word

 

REGS: ’n Beeld van Tlaloc, ’n Asteek-god van reën en weerlig.

 

Foto: Cortina Ramírez Andrés Samael, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit (“in the public domain”) verklaar het

 

 

Een van die bekendste Asteek-heersers was Montezuma I, ’n man wat baie gebiedsgrond vir die Asteke verower het. Sy opvolgers het ook nie op hul louere gerus nie, en met die kroning van Montezuma II in 1502 tot keiser, was die Asteekse ryk op sy hoogtepunt.

 

Die meeste Sentraal-Amerikaanse volke het menslike offerandes gebring, maar die Asteke het dit tot ’n fyn kuns verhef. Een Spaanse veroweraar het glo 136 000 skedels langs die tempel van Huitzilopochtli getel. Tog het die Asteke menslike offerandes as ’n heilige daad beskou.

 

Cortés en sy troepe—versterk deur oorwonne Indiane wat omgekrap was oor die swaar belasting-las op hulle—het in 1519 na die Asteekse hoofstad opgeruk en Montezuma II gevange geneem. In 1520 het die Asteke die Spanjaarde verdryf, maar die Europeërs het teruggeveg en uiteindelik geseëvier.

 

Wat die Asteke vermag het

 

   DIE meeste van die Asteekse geboue is deur hul Spaanse veroweraars vernietig. Tenochtitlan is gelyk gemaak met die grond en die stad Mexiko oor die bouvalle gebou.

 

Gelukkig het argeoloë voorbeelde opgegrawe van Asteekse juwele, pottebakkersware en beeldhouwerke—van die fynste kunsskatte wat deur Sentraal-Amerikaanse volke gemaak is.

 

Hul skrif het uit klein prentjies bestaan, en skrifgeleerdes het gedigte en volksverhale daarin geskryf.

 

Die Asteke het ook twee kalenders gebruik. Een was gegrond op ’n siklus van 365 dae en is gebruik om geskikte saai- en oestye vas te stel. Die ander kalender het 260 dae gehad en is vir godsdienstige geleenthede gebruik.

 

Baie van vandag se inwoners van Mexiko is afstammelinge van die Asteke. En ’n groot deel van die bevolking van Guatemala stam van die Maja af.

   

  

LINKS: ’n Ou voorstelling van vermoedelik ’n Asteek-leermeester en sy leerlinge.

   


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad van hierdie reeks oor vroeë mense en antieke beskawings
  


Klik hier om terug te keer na die hoof-inhoudsblad van die Mieliestronk-werf