Vroeë mense en antieke beskawings (12)

  

Die geboorte van
Brittanje

 

Die Wikings land in EngelandNá die Romeine het die Angele, Sakse en Jutte gekom. Maar daar was ook die Kelte en die Wikings...

  

  
LINKS
: Die Wikings land in Engeland.

  
  

Skildery (effens gewysig) van onsekere herkoms, maar daar word met taamlike sekerheid aangeneem dat dit ’n historiese werk is wat weens die verval van kopiereg tot openbare besit gereken kan word


  


Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
Grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com

S

Y naam was Arthur, en hy was een van die kleurrykste figure in die Britse geskiedenis. ’n Regverdige en dapper man wat met behulp van sy twaalf ridders die land geregeer en hul grootste besluite om ’n ronde tafel geneem het.

 

Koning ArthurLINKS: ’n Voorstelling van koning Arthur.

 

Krediet: Koning Arthur deur Peter Vischer in Hofkirche (Innsbrück) uit The Book of Knowledge, The Grolier Society, uitgegee in 1911 — Openbare besit (“in the public domain”) vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom

  
  

Maar of dié verhaal feit of verdigsel is, kan niemand met sekerheid sê nie. Talle mense weet egter van Arthur, en dat hy volgens oorlewering êrens in die "Donker Eeue" grootgeword het sonder die wete dat hy blou bloed in sy are het. Op ’n dag het hy die wonderswaard Excalibur uit ’n rotsblok getrek en homself daarmee as die ware koning van Engeland bewys.

 

Vandag sal baie mense sê dis ’n legende, gegrond op die verhaal van ’n Britse heerser wat vroeg in die sesde eeu ’n paar oorwinnings oor Germaanse invallers behaal het.

 

In die Middeleeue is die verhaal van koning Arthur egter vir die heilige waarheid oor- en oor vertel. Later is die legende met heelwat skeptisisme bejeën, maar Arthur het in die negentiende eeu sy gewildheid herwin—toe die laaste geslaagde weerstand van die Romeins/Britse burgers teen die Angel-Saksiese invalle in herinnering geroep is...

 

Voorgeskiedenis en Romeinse besetting

 

   GELEERDES sê die eerste getuienis van menslike teenwoordigheid in Brittanje was sowat 500 000 gelede. Die antieke geskiedenis strek van daardie tyd af tot met die aankoms van die Romeine in die eerste eeu n.C.

 

In daardie tyd het enorme veranderings plaasgevind. Die veranderings was nie net in die menslike samelewing te bespeur nie—van jagter-versamelaars tot gevestigde boere—maar ook in die landskap.

 

Geen van hierdie ontwikkelings is in geskrifte opgeteken nie, en dit is net danksy die argeologie dat die gebeurde in hierdie lang tyd in die Britse geskiedenis saamgeflans en begryp kon word.

 

Brittanje was aanvanklik deel van die Europese vasteland, en dit was maar eers teen 6000 v.C. dat die moerassige Noordsee-landbrug uiteindelik oorstroom en Brittanje ’n eilandgroep geword het.

Ruimtefoto van die Britse eilandeREGS: ’n Ruimtefoto van Brittanje en Ierland. In die antieke tyd sou dit bes moontlik nie veel anders uit die ruimte gelyk het nie. Van baie ver af gesien, soos hier, is daar immers vandag steeds weinig indien enige tekens van ’n beskawing op hierdie eilande!


Foto: GSFC / NASA

 

 

Die belangrikste enkele verandering in die ontwikkeling van antieke Britanje was die aanvaarding van die landbou, wat gemeenskappe in staat gestel het om hul dolende lewenstyl as jagter-versamelaars te versaak en hulle permanent te vestig.

 

Baanbreker-landbouers het stellig hul sade en veestapels oor die Engelse Kanaal gebring in bote wat van velle gemaak was. Die getal immigrante moet egter baie klein gewees het, maar hul lewenswyse is spoedig deur die res van die bevolking aanvaar.

 

Die Britse kultuur het mettertyd gevorder tot die oprigting van waarskynlik ritueel-godsdienstige klipstellasies soos dié van Stonehenge, wat in drie stadiums tussen omstreeks 3200 v.C. en 1000 v.C. gebou is.  

 

StonehengeREGS: Stonehenge, die beroemde oorblyfsels van ’n raaiselagtige klipbouwerk naby Salisbury in Engeland.

 

Foto: J. Taljaard

   

 

Die koms van die Kelte na Brittanje word verder ondertoe breedvoerig bekyk.

 

Die Romeinse inval en verowering van Brittanje in 43 n.C. het verreikende gevolge vir elke aspek van die lewe gehad. Brittanje was nou ’n provinsie van ’n magtige ryk, en die volgende 400 jaar sou hy deur Romeine beheer en sou belasting aan Rome betaal word.

 

Die Angele, Sakse en Jutte

 

   DRIE Germaanse stamme, die Angele, Sakse en Jutte, het in die vyfde en sesde eeue die Noordsee oorgesteek en Engeland binnegeval. Koning Vortigern het hulle oorspronklik gevra om hom te help om Engeland te verdedig teen die nader kruipende Pikte en Skotte van Skotland. Maar die Britte en die Germane het begin twis, en die huursoldate het die Britte uit hul eie land geskop.

 

Teen die einde van die sesde eeu het die Angele, Sakse en Jutte feitlik die hele Engeland—tot teenaan die Walliese en Skotse grense—verower. Die naam Engeland is juis afgelei van die Ou-Engelse woorde Engla en land—die land van die Angele.

 

Die Germaanse stamme het die land in sewe koninkryke verdeel—Northumbria,  Mercia, Oos-Anglia, Kent, Wessex, Sussex en Essex. Die mense het geleidelik opgehou om Latyn te praat, en die eerste groot nie-Mediterreense letterkunde het sy verskyning in die Angel-Saksiese gedigte en prosa gemaak. Vandag is sowat ’n vyfde van die Engelse woordeskat Angel-Saksies.

 

Egbert, die koning van Wessex, het in 829 n.C. die laaste van die sewe koninkryke onder sy beheer gebring.

 

Egbert, die koning van WessexREGS: Egbert, die koning van Wessex—’n ou voorstelling deur ’n onbekende kunstenaar.

 

Illustrasie word tot openbare besit (“in the public domain”) gereken vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom

  

  

In 1066 het die Angel-Sakse uiteindelik hul rieme styfgeloop. Harold, hertog van Wessex, het Willem van Normandië (in Frankryk) beloof dat hy hom sou help om die volgende Engelse koning te word.

 

Ná die dood van die regerende koning, is Harold egter verkies. ’n Woedende Willem en vyfduisend soldate het die Engelse kanaal oorgesteek. Hierdie manne, wat as die Normandiërs bekend staan, was in der waarheid Wikings wat hulle in Noord-Frankryk gevestig het.

 

Willem het Harold in die Slag by Hastings verslaan, Saksiese Engeland verower, en is as koning van Engeland gekroon.

    

Kroning van WillemREGS: ’n Toneel in die Westminster-abdy tydens die kroning van Willem deur die aartsbiskop.

 

Na die historiese werk van John Cross (detail) ; kopiereg het weens ouderdom verval en dit word gevolg as openbare besit (“in the public domain”) beskou

  
    

Die Kelte

 

   DIÉ eertydse bewoners van die Britse eilande was los groepies mense met eienaardige gewoontes, aldus Griekse en Romeinse geskiedskrywers. Hulle het glo mense aan die gode geoffer en koppesnellery toegepas. Daarby was hulle taamlik losbandig. Hulle het graag gebaklei, uitbundig feesgevier en kwaai gedrink.

 

Tog was hulle die eerste mense wat yster bewerk en verwerk het.

 

Onder hulle was die Pikte van Noord-Skotland, mense wat hul naam van die Romeine gekry het omdat hulle hul vel getatoeëer het; die Iere; en die Skotte, wat in Wes-Skotland gaan bly het nadat die Romeine uitgedryf was.

 

Die Kelte het oorspronklik in noordelike Europa gewoon. Opgrawings by Hallstatt, Oostenryk, toon Kelte was in 700 v.C. reeds daar.

 

Hulle het mettertyd in Frankryk, Portugal, Spanje, die Britse eilande, Griekeland en die huidige Bulgarye gaan woon. Hulle het Brittanje veral in twee vlae getref—eers in die vyfde eeu v.C. en toe in die derde eeu n.C.

 

Nadat die Romeinse Ryk in Europa gevestig was, en veral nadat Julius Caesar Gallië verower het, het die Kelte op die Europese vasteland deeglik ingeburger geraak in die Romeinse leefwyse. Sodoende het heelwat van die Keltiese tradisies verlore gegaan. Maar in Wallis, Ierland, Skotland, Suidwes-Engeland en in Bretagne aan die Noordwes-Franse kus het die Kelte hul kultuur behou.

 

Die meeste barbare het Germaanse tale gepraat, maar in Wes- en Noord-Brittanje en in Bretagne is Kelties gepraat.

 

Offa, ’n Engelse koning, het in die agtste eeu ’n streep ál langs die Walliese grens getrek om Brittanje in ’n gebied met twee tale te verdeel—Kelties in Wallis, en Germaans in Engeland. Dié taalkaart se grense lyk vandag nog net so.

 

Die Wikings

 

   ENGELAND is in 793 n.C. geruk deur ’n afgryslike gebeurtenis op Lindisfarne (ook genoem Holy Island), aan die noordooskus. Te midde van ’n stormsterk wind, blitse en donderslae het ’n horde wilde, woeste manne met flitsende swaarde, spiese en byle, en beskerm deur skilde en helms, van hul sloepe afgesluip en oor die rotsagtige kus na die klooster by Lindisfarne geklouter.

 

REGS: Lindisfarne is ’n gety-eiland. Dit word vandag deur ’n laagwaterbrug met die hoofland verbind, maar twee keer per dag word die verbinding deur die getye verbreek. Die Lindisfarne-kasteel op die eiland (op hierdie foto) is ontwerp deur sir Edwin Landseer Lutyens (1869 – 1944), in sy tyd ’n toonaangewende Engelse argitek.

Lindisfarne

 

Foto in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web deur sy fotograaf, ene “Nommonomanac”, tot openbare besit (“in the public domain”) verklaar

  

 

Binne enkele minute het die woestaards hul pad letterlik oopgekap onder moontlike teenstanders en soveel waardevolle goed gegryp as wat hulle kon. Dit wat hulle nie kon dra nie, is aan die brand gesteek.

 

Dié plundertog by Lindisfarne was die eerste van ’n tydperk van terreur wat Europa se geskiedenis tot omstreeks 1100 n.C. oorheers het—die Wiking-era.

 

Die Wikings was Germaanse stamme afkomstig van drie gebiede in Skandinawië—Denemarke, Noorweë en Swede. Die naam Wiking is eers ná dié terreur-tydperk aan dié wrede woestaards gegee. Dit is vermoedelik afgelei van Vik, ’n gebied in Suid-Noorweë wat berug was as die vergaderplek van seerowers.

 

Maar vir die Europeërs was hulle die Noormanne of die Dene.

 

Die hewige oorbevolking van Skandinawië het talle inwoners genoop om te migreer op soek na woongebied of die een of ander bron van rykdom. Dié mense het gou agtergekom dat dit makliker is om ander mense se besittings af te vat, en dit het vir sommige ’n leefwyse geword.

Die wildste Wikings is die Berserkers genoem. Sommige historici meen dié Berserkers het ’n soort sampioen of een of ander bedwelmende kossoort geëet wat hulle vreesloos gemaak het.

WikingLINKS: Wild en vreesloos gemaak deur ’n soort sampioen?

Illustrasie word tot openbare besit gereken (“in the public domain”) vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom

 

Die Wikings het in die driehonderd jaar van hul oorheersing dele van Engeland, Frankryk, Duitsland, Ierland, Italië, Rusland en Spanje verower of geplunder, en daar handelsentrums opgerig.

 

Die drie Wiking-koninkryke in Skandinawië het uiteindelik gelei tot die vestiging van drie onafhanklike nasies—Denemarke, Noorweë en Swede.

 

Die Wikings het ook Groenland en Ysland ontdek en gekoloniseer. Hulle het hulle permanent op Ysland gevestig, en die gemeenskap daar toon vandag nog tekens van sy Wiking-tradisie.

 

Die vreeslose veroweraars het selfs verder as die Engelse kanaal gevorder. Leif Ericson, ’n bekende Wiking-ontdekkingsreisiger—of bes moontlik eintlik die Yslandse handelaar Bjarni Herjólfsson voor hom—het Noord-Amerika sowat vyfhonderd jaar voor Christopher Columbus "ontdek". Hoe ook al, hoewel Leif Ericson wel daar ’n gemeenskap met die naam Viniand gevestig het, het dié gemeenskap maar min invloed op die Amerikaanse geskiedenis gehad.

 

Leif EricsonLINKS: ’n Ou foto van ’n standbeeld van Leif Ericson in Milwaukee, Wisconsin, in die VSA.

 

Foto: American Memory / U.S. Library of Congress

  

   

Maar die Wikings het ’n blywende indruk op die Europese geskiedenis gemaak. Hul strooptogte in Wes- en Oos-Europa het die mensdom nog honderde jare ná die Wiking-era bygebly.

 

Nogtans het die Wiking-invalle in Engeland in die negende en tiende eeue daarin geslaag om die Engelse te verenig en die koninkryk te versterk. Willem die Veroweraar, wat die Engelse in 1066 verslaan het, was ’n Wiking-afstammeling.

 

Maar moontlik die belangrikste uitwerking van die Wikings—en feitlik al die barbare—op hul verowerde lande was hul bekering tot die Christendom. Deurdat hulle van hul veroweraars Christene gemaak het, het die verowerdes op die ou end die oorwinnaars geword—en sodoende die bestaan van Europa verseker.

 

Die antieke wêreld het gesterf—en die Middeleeue is gebore.  

 


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad van hierdie reeks oor vroeë mense en antieke beskawings
   


Klik hier om terug te keer na die hoof-inhoudsblad van die Mieliestronk-werf