Vroeë mense en antieke beskawings (10)

 

Alle weë gaan na Rome...

 

Colosseum in die nag met die ligte van verbyflitsende motors daarnaas 

BO: Motors blits vandag verby die bouval van die ou Colosseum (amfiteater) in Rome, waarheen al die boustowwe destyds per ossewa aangery is nadat in 72 v.C. met die bouwerk begin was. Van die geroemde paaie van Ou Rome moet dus ook soontoe gelei het.

Foto: BackgroundsArchive.com / PD

 

Lawablokke van die Appiese WegLINKS: Die groot lawablokke waarmee die Appiese Weg hier bestraat is, is straks nie meer dieselfde as dié wat in 312 v.C. gebruik is toe dit as die hoofweg van Rome na Griekeland gebou is nie. Nogtans het die roete self deur al die eeue heen onveranderd gebly. Die Appiese Weg is genoem na Appius Claudius Caecus, die Romeinse sensor wat dit laat bou het. ’n Sensor was ’n Romeinse magistraat wat eintlik belas was met die opneem van die sensus.

Van die glorieryke paaie van Ou Rome is vandag nog net die oorblyfsels te sien (en baie is deur moderne weë vervang)—maar hulle leef kleurryk voort, selfs in ’n taal soos Afrikaans, in die bekende spreekwoord dat alle weë na Rome gaan. Die Romeinse paaie was werklik indrukwekkend. Hulle was altesaam sowat 80 000 km lank, ’n reuse-netwerk wat die soldate moes help om ’n enorme gebied te beheer. Maar hulle het ook die kommunikasie op alle gebiede vergemaklik—die kolonies saamgeweef en hulle die krag en eenheid gebied wat so kenmerkend van die ryk was...

V

ERBEEL jou jy bly jou lewe lank op ’n afgeleë Suid-Afrikaanse dorp. Jy ken net geboue soos die enkelverdieping-huise, die kruidenierswinkel, poskantoor, skool en kerk.

 

En dan laai iemand jou eendag in New York se Fifth Avenue af...

 

Besoekers aan Rome aan die einde van die 2de eeu v.C. moet min of meer só gevoel het toe hulle Rome se stadsprofiel vir die eerste keer gesien het. Hulle het ook maar net hul eenverdieping-woonplekke geken. En hier bevind hulle hulle skielik in ’n yslike stad met geboue van tot 21 m hoog.

 

Die munisipale geboue moet veral indrukwekkend gelyk het—die tempels, amfiteaters en openbare baddens van marmer, toefa, baksteen en beton; die gewelfde dakke, die brûe.

 

Om nie eens te praat van die netjiese regop huise van rooi baksteen nie. Huise met groot vensters...

 

Argitektuur en ingenieurswerk

 

   DIE Romeinse boubedryf rus op ’n paar stewige Griekse fondamente. Nogtans het die Romeine self vir manjifieke, oorspronklike strukture gesorg.

 

Die tipiese Romeinse dorp kon enigiets wees—van ’n gehuggie met ’n paar nederige geboutjies van baksteen en hout, ál langs keistrate, tot ’n besige handelsentrum wat gespog het met suilegange van marmer en fyn geplaveide boulevards.

 

Hoe ook al, al die dorpe en stede het min of meer dieselfde stadsplan gevolg: hoë mure wat op vier plekke onderbreek is deur hekke, en strate wat volgens ’n reghoekige roosterplan gerangskik is.

 

 ’n Deel van die ou Romeinse stad Pompeji

 

BO: ’n Deel van die ou Romeinse stad Pompeji, soos gesien
in die BBC se Pompeii: The Last Day

    

•   Detail van ’n rekenaar-gegenereerde beeld, oorgeneem uit die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web, waar ’n groter weergawe by hierdie skakel gevind kan word. Kopiereg geld wel, maar die kopiereghouer vergun enigiemand die reg om dit vir enige doel te gebruik. Media van die Discovery Channel se Pompeii: The Last Day, met vergunning van Crew Creative, Ltd.

 

 

Alles het, veral soggens, om die forum gedraai—’n groot, oop plein omring deur talle winkels en kantore. Dié plein was tegelykertyd ’n mark en ’n bymekaarkomplek vir sakemanne.

 

Smiddae het mense na die openbare badhuis uitgewyk. Dié was ’n ingewikkelde gebou wat uit ’n hele aantal vertrekke bestaan het. En dis hier waar die Romeine se vaardigheid met verhitting en loodgietery uitmuntend vertoon het.

 

Mense het in een vertrek afgekoel, terwyl hulle die sweet kon laat tap in ander vertrekke waar die temperatuur van lou tot warm gewissel het—beheer deur slawe wat agter die mure of ondergronds vuur gemaak het.

 

Ewe indrukwekkend was die amfiteaters. Soos die Colosseum, wat met sowat 200 000 ton voorwerkklip en net soveel bakstene, toefa en beton gebou is. Wat dit des te merkwaardiger maak, is dat al dié boustowwe per ossewa na die bouperseel aangery is.

 

Colosseum in die dagLINKS: Die Colosseum, vandag een van die groot toeriste-attraksies in Rome.

 

Foto: Cepolina.com / Freephoto (swart-wit foto digitaal verkleur)

 

Talle stede het ook groot sportterreine, of palaestra, gehad waar atlete mekaar die stryd aangesê het, wedrenbane en ’n circus—’n smal, reghoekige baan omring deur paviljoene. Dis daar waar die hardebaarde mekaar die stryd in hul strydwaens aangesê het.

 

Die gewelf, of boog, is nie werklik ’n Romeinse uitvindsel nie. Maar die Romeine het agtergekom hoe veelsydig dié struktuur is. Dit kan onder meer brûe stut, en dit het daartoe gelei dat die akwaduk uitgevind is. Só kon die Romeine waterkanale ver bo die grond bou en wyd en syd vars water by die woonplekke laat uitkom.

 

REGS: ’n Deel van ’n Romeinse akwaduk het hier behoue gebly. Die foto is vermoedelik êrens in Noord-Afrika geneem. Akwadukte was kunsmatige leikanale vir water bo-op brugstellasies. Die illustrasie ONDER van ’n akwaduk laat ’n mens besef dat die akwadukte van weleer heel indrukwekkende konstruksies moet gewees het.

Romeinse akwaduk

Illustrasie van ’n akwaduk 
Foto: U.S. Library of Congress
  

Die iIlustrasie is ’n verkleuring van ’n swart-wit skets verskaf deur Pearson Scott Foresman, wat dit tot openbare besit verklaar het (“released into the public domain”)

 

Die Romeine het ook met ruimte in hul geboue geëksperimenteer—en die gewelfde dak ontdek. Dié soort dakbou skakel die nodigheid vir pilare uit omdat die struktuur van die dak so te sê homself ondersteun.

 

Boonop het die Romeine beton uitgevind. Dié mengsel van sement, sand, gruis en water word vandag nog gebruik om mee te bou.

 

Landbou

 

   SOWAT 90 persent van die Romeinse bevolking was van hul bestaan van boerdery afhanklik, en dié antieke mense het ’n besonder gevorderde kennis van die landbou gehad.

 

Boere in die vrugbare valleie het hulle op gewasse soos koring, rog en gort toegespits, en dié op die heuwels of in minder vrugbare gebiede het olyfboorde of wingerde aangeplant, of het skape en bokke aangehou.

   

 

BO: Venus, die Romeinse godin van die liefde... en die verskriklike, “liefdelose” planeet wat haar naam dra.

 

Die reste van Ou Rome in die ruimte-eeu

DIE invloed van Ou Rome op ons Westerse kultuur kan kwalik oorskat word, en selfs hier in die ruimte-eeu  is sekere Romeinse reste nog duidelik met ons. Dink maar aan Saterdag, wat eintlik  na die Romeinse god  van die landbou, Saturnus. genoem is—of aan die planete in ons sonnestelsel wat die name van verskillende Romeinse gode dra.

 

Interessant  genoeg het die ou gode en die planete egter bloedweinig gemeen. Trouens, die grootste teenstrydigheid sover dit vernoemings aangaan, vind ons byvoorbeeld tussen die Romeine se Venus en die planeet Venus, wat ons as die “aandster” sowel as die “môrester” ken. Venus was die Romeinse godin van die tuine en velde, maar is later geïdentifiseer met  Aphrodite, die Griekse godin van liefde en skoonheid.

 

Daarteenoor is die planeet Venus allesbehalwe ’n tuin, wat nog te sê is ’n mooi en liefderyke plek! Onbemande snuffeltuie het in die afgelope klompie dekades onthul dié planeet is eintlik ’n siedende inferno met temperature van tot ’n paar honderd grade Celsius. Daar is selfs vretende swawelsuur wat in die hemele sweef.

 

Vervoer

 

   KOMMUNIKASIE het in die Romeinse tyd ’n metamorfose ondergaan. ’n Ongelooflike padnetwerk van sowat 80 000 km het die ryk deurkruis. En Rome was die plek waar sewe hoofpaaie bymekaargekom het.

 

Die paaie is ontwerp deur Romeinse ingenieurs en gebou deur die soldate—sodat hulle vinnig en flink kon reis.

 

Maar die Romeine kon nie net paaie bou nie. Hulle was net sulke goeie matrose. Die Romeinse Ryk het destyds die grootste vloot vragskepe besit—skepe wat die groot riviere soos die Ryn, die Donau en Nyl bevaar het en vragte van een kus van die Middellandse See na die ander vervoer het.

  

Mynbou

 

   MYNBOU het een van die belangrikste bedrywe geword. Griekeland en Italië het reuse marmerneerslae, en marmer het die hoofboumateriaal van die Romeinse boubedryf geword. Italië was ook ryk aan koper en ystererts, Spanje het goeie goud- en silwerbronne gehad, en Brittanje was vol lood en tin.

 

Kalender

 

   DIE moderne kalender is deur die ou Romeinse veldheer en staatsman Julius Caesar ontwerp. (Die maand Julie gedenk juis sy naam.) Caesar het die kalenderjaar ingedeel in elf maande van dertig of 31 dae elk, en een maand van 28 dae. Elke vierde jaar—skrikkeljaar—het dié kort maand 29 dae.  

 

Letterkunde

 

   TALLE woorde, uitdrukkings, selfs tale, het hul oorsprong in Rome. Ook gebruike, soos dié dat die bruidegom die bruid oor die drumpel dra.

 

Die inwoners van die Romeinse ryk het baie verskillende tale gepraat, maar regeringslui en lede van die adelstand se tale was Grieks en Latyns. Die Latynse alfabet, wat op die Griekse alfabet gegrond is, word vandag oor die hele Westerse wêreld gebruik. Latyn is die basis van Italiaans, Frans, Spaans en Portugees, en sowat ’n derde van die Engelse woordeskat het Latynse woorde as grondslag.

Griekse dramas en poësie het ’n groot invloed op die Romeinse letterkunde uitgeoefen. Van die bekendste oorspronklike Romeinse werke is gedigte deur mense soos Lucretius, Ovidius en Vergilius, die toesprake van Cicero, Horatius se satires, en briewe van Cicero en Plinius die jongere.

Skone kunste

    

REGS: Borsbeeld van ’n vrou van Rome. Sulke werke adem steeds iets van die gloedvolle siel van die sogenaamde “Ewige Stad”—soos ook so baie ander kunswerke wat deur die eeue heen deur Italiaanse meesters geskep is.   

 

Foto: FreeStockPhotos.com

 

   OOK op dié gebied het die Romeinse beeldhouers en skilders by die Griekse kuns gaan leen, maar ook by die tradisies van Italiaanse boorlinge.

 

Die Romeine het uitstekende werk gelewer, wat heelwat openbaar van die lewenswyse en denke destyds, asook ook van historiese gebeurtenisse.
       

Oorspronklik of nie?

 

LINKS: ’n Marmer-borsbeeld van Homerus—’n Romeinse kopie van ’n oorspronklike Griekse voorstelling in die tweede eeu v.C. van die beweerde skrywer van die epiese Griekse gedigte die Ilias en die Odyssee. Die oorspronklike Griekse beeld het verlore gegaan. Sulke kopiërings is egter skietgoed vir mense wat argumenteer dat die Romeine nie alte oorspronklik was nie en maar net voortgebou het op die fondamente wat reeds deur die Ou Grieke vir hulle gelê was.

 

Foto geneem in die Britse Museum in Londen en deur sy eienaar tot openbare besit (“in the public domain) verklaar in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web
   
  
       

   ONS het in hierdie artikel gekyk na die talle groot bydraes wat die Romeine tot die Westerse beskawing gelewer het. Maar was die Romeine skeppers uit eie reg, of het hulle, soos sommige kritici beweer, bloot hul Griekse erfenis aangepas?

 

Wat ook al die gevolgtrekking is, een feit bly staan en dit is dat die Romeine ’n onuitwisbare stempel op die wêreld afgedruk het.

       

    

LINKS: ’n Singende Italiaanse vrou in nagenoeg die middel van die twintigste eeu. Die emosionele aard van die moderne Italiane is goed bekend en ’n mens kan wel vra hoeveel daarvan hulle van hul Romeinse voorouers geërf het. Aansluitend hierby is dit interessant dat, hoewel die Italiane eers minder as ’n eeu en ’n half gelede as ’n nasie in een land verenig het, hulle nie aan hulself as ’n nuwe volk dink nie. Trouens, hulle beskou hulself inderdaad as die nasate van die antieke Romeine.

  

Foto ietwat gewysig—oorspronklike foto: Alan Lomax collection, 1954 / U.S. Library of Congress
  

 


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad van hierdie reeks oor vroeë mense en antieke beskawings

Klik hier om terug te keer na die hoof-inhoudsblad van die Mieliestronk-werf