Vroeë mense en antieke beskawings (9)

 

Roemryke Rome

 

Rome is nie in een dag gebou nie, lui die ou gesegde. Baie beslis nie...

 

Bouvalle van die Romeinse Forum

  
BO: Bouvalle van die Romeinse Forum, waar die groot volksvergaderings plaasgevind en sprekers die skare van rostra af toegespreek het. Dit was ’n gebouekompleks van tempels, seremoniële boë en openbare geboue—die politieke, godsdienstige en kommersiële sentrum van Ou Rome.

    

Drie foto’s saamgeheg deur B.J. Samelsonjones, wat die kopiereg daarop opgehef en dit in die Wikipedie-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit (“in the public domain”) verklaar het
    


Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
Grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com

A

LLES het so mooi begin—as ons die legende kan glo! Die tweelingboeties Romulus en Remus is in ’n mandjie geplaas en langs die Tiber-rivier gelos. Die mandjie het stroom af gedryf en, toe dit op die land uitspoel, het ’n wolvin die babas gekry en grootgemaak.

 

Romulus en Remus drink aan die wolvinREGS: Romulus en Remus drink aan die wolvin wat hulle van ’n gewisse dood gered het.

 

Krediet: Openbare besit (“in the public domain”) vanweë ouderdom

 

 

Later het ’n skaapwagter hulle huis toe geneem en soos sy eie kinders versorg.

 

Toe hulle jong mans word, het die tweeling besluit om hul eie stad te bou. Maar hulle kon nie saamstem oor die beste plek daarvoor nie. Hulle het aan die baklei geraak en Remus is dood.

 

In 753 v.C., só lui die verhaal, het Romulus ’n stad begin bou en na homself genoem—Rome.

 

Die waarheid is nie so kleurryk nie. Die eerste mense van Rome was eenvoudige boere—vermoedelik Latyne genoem—wat omstreeks 1000 v.C. op ’n paar heuwels langs die Tiber gaan kamp opslaan het.

 

Op ’n geskikte plek het hulle ’n brug oor die rivier gebou en begin handel dryf. Dit was die begin van Rome.

 

Teen 600 v.C. het die Etruriërs uit die noorde gekom en beheer oorgeneem van Rome en ander dorpe in die streek. Hulle het Rome opgebou van ’n dorpie van herders en boere tot ’n bedrywige stad met groot geboue, paaie en tempels waar die handel gefloreer het.

 

Vreemd genoeg het Rome onder die Etruriërs so magtig geword dat die inwoners skaars ’n eeu later dié vreemdelinge kon verdryf en ’n republiek gestig het—’n staat sonder ’n koning.

 

Republikeinse Rome

 

   IN die eerste jare van die republiek was daar baie opstande. Die burgers van Rome was in twee klasse verdeel. Daar was die patrisiërs, die ryk grondbesitters, en die plebiërs, burgers sonder regte wat lelik uitgebuit is. In die jare 400 en 300 v.C. het hulle hard gestry om gelyke regte te verwerf.

 

Romeinse burger geklee in ’n togaREGS: ’n Romeinse burger geklee in ’n toga (oorkleed)—die kenmerkende kleredrag in Ou Rome.

  

Verkleurde weergawe van ’n ou swart-wit illustrasie van 1891—openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom (“public domain”)

 

Die onrus het nie gekeer dat Rome vooruitgaan nie. Die stad het vriende gemaak met mededingers en oor Italië begin heers. Teen 275 v.C. was die grootste deel van die Italiaanse skiereiland onder Romeinse beheer.

 

Op soek na nuwe handelsbande het Rome ál verder uitgebrei en uiteindelik te staan gekom voor die groot magte van daardie tyd. Een van hulle, Carthago aan die kus van Noord-Afrika, was ’n ryk staat met ’n reuse-vloot en baie kolonies.

 

In die drie Puniese oorloë het Rome en Carthago dit uitgespook om die heerskappy oor die Middellandse See. Teen die einde van die derde oorlog, waarin Carthago vernietig is, het Rome ook Spanje en Afrika in sy mag gehad.

 

Teen 140 v.C. is Griekeland en Macedonië ook ingeneem, en ’n paar jaar later het koning Attalus van Pergamum gesterf en sy koninkryk aan sy bondgenoot, Rome, bemaak.

 

Oor die Rubicon

 

   AL dié welslae het ook probleme geskep. Belasting, slawe en buit het ingestroom uit die verowerde lande, plantasies het groter geword en die kleinboere moes padgee. Die rykes het ryker geword en die armes armer.

 

Die mense het opstandig geraak en burgeroorloë het uitgebreek.

 

In die jare 60 v.C. het Rome weer oorsee uitgebrei. Pompejus, ’n Romeinse generaal, het Oos-Turkye, Sirië en Palestina binnegeval.

 

Nog ’n Romeinse leier, Julius Caesar, het Gallië ingepalm.

 

Julius CaesarLINKS: Julius Caesar— ’n voorstelling van die beroemde Romeinse veldheer en staatsman, gegrond op ’n historiese borsbeeld.

 

MSKARG

 

Pompejus en die Romeinse senaat was lugtig vir Caesar en het geëis dat hy sy mag prysgee. Maar in 49 v.C. het hy met sy soldate die Rubicon-rivier, die suidelike grens van Gallië, oorgesteek. Dit was teen die wet, wat bepaal het dat elke Romeinse goewerneur in sy streek moes bly.

 

Onmiddellik het Pompejus probeer terugslaan, maar kort voor lank het Caesar hom oorwin en teen 45 v.C. was hy in beheer van Rome en kon hy die vrede herstel. Maar ’n groepie edelmanne was bang hy sou homself koning maak en hulle het Caesar met messe doodgesteek.

 

Imperiale Rome

 

   NÁ Caesar se dood het die een burgeroorlog op die ander gevolg, totdat sy aangenome seun, Octavianus, saam met die offisier Marcus Antonius die vyande van Caesar verslaan het.

 

Nou het dié twee weer gespook om beheer van Rome. Antonius het gaan hulp soek by koningin Cleopatra van Egipte, op haar verlief geraak en met haar getrou. Maar selfs saam kon die twee nie Octavianus beteuel nie en in 31 v.C. is hulle verslaan. Die volgende jaar het Octavianus ook Egipte verower.

 

Nou was Octavianus die onbetwiste heerser van Rome. Hy het homself Augustus genoem—dit beteken verhewe—en later die eerste Romeinse keiser geword. Daar was steeds ’n senaat, konsuls en tribunes, maar die oppermag was syne.

 

AugustusREGS: Augustus, die eerste Romeinse keiser.

 

Dit was die begin van byna 200 jaar van vrede waarin die keisers mekaar vinnig opgevolg het. Dié tyd word die Pax Romana genoem—"die vrede van Rome".

 

Die orde in die weermag en regering is herstel en die verdediging van die Romeinse Ryk is versterk. Die mense van die Romeinse Ryk was versprei reg om die Middellandse See, deur Europa, Afrika en die Midde-Ooste, maar hulle is almal deur Rome beskerm.

 

Dit het hulle kans gegee om te vergeet van opstand en vooruit te strewe. Hulle het in grond belê.

 

Plase is ontwikkel en dorpe en stede is gebou. Daar was nuwe paaie en beter kommunikasie.

 

Die handel het gebloei en die kuns en letterkunde het ’n hoogtepunt bereik in die sogenaamde eeu van Augustus.

    

Pompeji — die laaste dag‘Preservering’
van Pompeji

  

REGS: Die vulkaniese uitbarsting van die berg Vesuvius in 79 n.C. was beslis katastrofaal vir die mense wat aan sy voet gelewe het—maar die verskriklike ramp het ook veroorsaak dat belangrike inligting oor die verlede vir ons behoue gebly het.

 

Die groot nedersetting Pompeji is deur die eeue wonderbaarlik  “gepreserveer” in vulkaan-as waarin dit destyds begrawe is. Gevolglik bied dit ons vandag die merkwaardige geleentheid om te sien hoe die inwoners van ’n Romeinse stad gelewe het in die tyd toe die Romeinse Ryk sy grootste bloeityd belewe het.

  

Die rekenaar-gegenereerde voorstelling van die rampdag (hierby) het in die BBC se Pompeii: The Last Day verskyn. 

  

Nadat Pompeji (in die Baai van Napels in Italië) sowat 1600 jaar lank ongestoord onder die vulkaanpuin gelê het, is in die 1700’s met opgrawings begin, waardeur die ou stad en ander buurnedersettings uiteindelik weer blootgelê is.

 

Hier is dinge nog soos hulle van ouds was: mure, strate, openbare monumente en geboue, winkels, indrukwekkende en eenvoudige wonings.

 

Gelukkig het die meeste van die inwoners destyds daarin geslaag om aan die uitbarsting te ontkom, maar dit het steeds die sombere massagraf geword van ’n paar duisend versmoorde en verkoolde mense, wat in hul huise skuiling gesoek het, maar nogtans in hul eie wonings oorweldig is.
    

•   Die rekenaar-beeld hierbo is oorgeneem uit die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web, waar ’n groter weergawe by hierdie skakel gevind kan word. Daar is wel kopiereg op, maar die kopiereghouer vergun enigiemand die reg om dit vir enige doel te gebruik. Media van die Discovery Channel se Pompeii: The Last Day, met vergunning van Crew Creative, Ltd.

 

Huis van die FaunLINKS: Huis van die Faun (bosgod) in Pompeji.

Foto met vergunning van FreeStockPhotos.com

 

 

Val van die Ryk

 

   VAN keiser Aurelius se tyd (161 n.C.) en veral in die jare 200 n.C. is die Romeine knaend aangeval deur die barbare—mense soos die Gote, Vandale en Hunne, wat buite die Ryk gewoon het.

 

Romeinse leërs het hul eie leiers tot keisers verklaar. Dit het die Ryk verswak en tot sy ondergang gelei.

 

In 306 het Konstantyn die keiser van Rome se westelike provinsies geword. Anders as Diocletianus voor hom, wat die Christene vervolg het, het Konstantyn besef dat die Christendom met sy baie volgelinge die Ryk kon red. In 313 het hy hulle vryheid van geloof gegee.

 

In 330 het Konstantyn besluit Rome met sy heidense gelowe is nie ’n goeie hoofstad vir ’n Christelike Ryk nie en het hy sy hoofkwartier verskuif na die ou Griekse handelstad Bisantium. Eers wou hy dit Nuwe Rome noem, maar die stad was gou bekend as Konstantinopel.

 

Die mense wat hom soontoe gevolg het, het ’n skatryk stad opgebou wat dekades en eeue lank—’n volle 1100 jaar—die welvarende Bisantynse Ryk gevorm het.

 

In die jare 400 is die Romeinse Ryk uit die weste aangeval deur Germaanse stamhoofde wat die grond in verskeie ryke verdeel het. Die laaste heerser, Augustulus, is in 476 uitgeskop. Dit was die einde van die grootste ryk van die mense van die antieke tyd

Negentiende-eeuse reliëfkaart van Italië

     
BO: ’n Negentiende-eeuse reliëfkaart van Italië, waarvandaan Rome eeue tevore tot ’n magtige wêreldryk uitgekring het. (Let op: Afrika lê hier aan die bokant, anders as op die kaarte waaraan ons gewoond is waar Afrika “onder” Italië lê.)

 

Kaart openbare besit (“in the public domain”) vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom 


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad van hierdie reeks oor vroeë mense en antieke beskawings
  


Klik hier om terug te keer na die hoof-inhoudsblad van die Mieliestronk-werf