Vroeë mense en antieke beskawings (5)

 

Egipte
— verrysing van die godkonings

 

Ruimtefoto van onder meer Egipte — en die kop van ’n farao-beeldREGS: Die dorre verlatenheid van die grootste deel van Egipte en Noord-Soedan is duidelik te sien op hierdie ruimtefoto (bo is die oostekant), waarop die kop van ’n farao-beeld gesuperponeer is. Die samestelling dien om die tydeloosheid te illustreer waarmee hierdie wêrelddeel steeds bejeën word... waar die skimme van lank, lank gelede nog kennelik deel is van die wêreld van vandag...

 

Ruimtefoto: Apollo 9-sending / NASA

 

Egipte is ’n baie groot woestynland met die Nyl wat regdeur hom kronkel. En hier was die bakermat van een van die wêreld se heel grootste beskawings... gelei deur verskillende dinastieë met farao’s wat reeds baie vroeg as gode beskou is...

 

Groot Sfinks van Giza by die beroemdste piramides van EgipteREGS: Die  bekende, maar gehawende Groot Sfinks hurk op die Egiptiese landskap van Giza, ’n massiewe kalksteen-“beskermer” van die piramides, met die kop van ’n mens en die lyf van ’n leeu. Reeds van voor 2500 v.C. af trotseer dit die vretende winde van die woestyn, nadat dit vermoedelik in die vierde dinastie op bevel van die farao Chafre gebou is. Die sfinks se gesig het dan ook bes moontlik soos dié van die farao gelyk—’n indrukwekkende getuie van die uitsonderlike gesag van die farao’s wat in die antieke Egipte as gode vereer is.

 

Die sfinks-foto is ’n historiese foto wat vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom as openbare besit (“in the public domain”) beskou word; die oorspronklike is ’n swart-wit foto wat hier digitaal verkleur is


 

“I

N Egipte gaan die vroue mark toe en verkoop die produkte, terwyl die mans tuis bly en weef. Egiptiese mans dra vragte op hul koppe, die vroue op hul skouers. Die vroue urineer staan-staan, die mans terwyl hulle sit..."

 

Só het die Griekse geskiedkundige Herodotus in die laaste helfte van die vyfde eeu voor Christus oor ’n besoek aan Egipte geskryf.

 

Oor hoe noukeurig sy waarnemings was, kan ’n mens nog redeneer en straks glimlag, maar nie oor Egipte se enorme plek in die wêreldgeskiedenis nie.

 

Die land van die farao’s was trouens die bakermat van een van die wêreld se heel grootste beskawings, waarvan nie net die geskrifte van waarnemers soos Herodotus getuig nie, maar ook ’n duisternis van argeologiese monumente en artefakte.

 

In hierdie aflewering, die eerste oor Ou Egipte, word die hooffaktore wat tot die land se beskawingsontwikkeling gelei het, en sy geskiedenis bespreek.

  

Ramses IILINKS: ’n Kolossale standbeeld van die farao Ramses II by Luxor, soos in 1896 gefotografeer. Die Groot Tempel van Amon by Luxor bevat verskeie beeldkolosse van hom. Daar word gemeen dat Ramses II die farao was wat in die Bybelboek Exodus genoem word. 

 

Foto: New York State Archives / PD

 

Die vorming van ’n nasie

 

   TALLE faktore het tot die ontstaan van die Egiptiese beskawing en die land se welvaart bygedra. Die meeste geskiedkundiges benadruk egter twee belangrike invloede: die besonderse geografie van die land en die ou Egiptenare se onwrikbare geloof in die hiernamaals.

 

Egipte is ’n baie groot woestynland met die Nyl wat regdeur die land keep. Vanweë swaar reëns in sy opvanggebied het die rivier een keer per jaar sy walle oorstroom. (Sedert die bou van die hoë Aswan-stuwal gebeur dit nie meer nie.)

 

REGS: Egipte en die Nyl—’n moderne kaart.

 

 

Nadat die water weggesink het, is ’n strook ryk, vrugbare grond van sowat 10 km breed weerskante van die rivier agtergelaat. Die Egiptenare het van die Swart Land gepraat omdat die grond so donker was. Die land anderkant dit is die Rooi Land genoem.

 

Waar hulle die rivier behoorlik benut het deur dyke te bou, kanale te grawe en ander bewaringspraktyke toe te pas, was die boere feitlik elke jaar verseker van ’n vet oes.

 

Maar die Nyl was meer as net ’n bron van vrugbare grond en besproeiingswater. Goedere is ook daarlangs vervoer—in groot maat en baie doeltreffender as wat dit met kamele gedoen kon word. Dit het selfs die Egiptenare aangespoor om ’n kanaal tussen die Nyl-delta en die Golf van Suez aan te lê en seewaardige skepe te ontwikkel. Alles het die handel bevoordeel.

 

Vername stede soos Memphis en Thebes en ander vooruitstrewende nedersettings het aan die rivieroewers verrys, en hawens soos Rosetta en Alexandrië het tot stand gekom.

 

Die tweede belangrike dryfveer in die Egiptiese beskawingsontwikkeling was die geloof dat die lewe anderkant die graf ’n voortsetting van die aardse lewe is. Dit het tot talle praktyke rondom die dood en begrafnisse gelei.

 

Die mummifikasie van die liggaam is as waarborg vir ’n lewe hierna beskou. Die lyk is gebalsem, gedroog en in linne toegedraai. Hierna is dit gekis en die doodkis in ’n grafkelder geplaas.

 

Die studie van mummies het ons kennis van die ou Egiptenare baie verryk. Ons weet byvoorbeeld wat hulle geëet en aan watter siektes hulle gely het.

 

Die Egiptenare het ook geglo dat waardevolle aardse besittings in die hiernamaals gebruik kon word en verskeie dinge—van kos, drank, juwele en klere tot wapens en gereedskap—is in die grafkelders gelaat. In die rykes se kelders was daar selfs standbeelde van knegte wat hulle kwansuis kon bedien.

 

n Ingewikkelde stel gebede en towerspreuke is ontwikkel en op papirus neergeskryf met aanwysings aan die oorledene wat om te doen wanneer hy voor die laaste oordeel te staan kom.  

 

Beeld, vermoedelik van Horus

Foto’s bo en regs bo: U.S. National Institutes of Health

Papirus-geskrifLINKS: Die beoefening van die geneeskunde en godsdiens was in Ou Egipte so verstrengel dat alle gode met die een of ander vorm van gesondheid of siekte verbind is. Prominent onder die gode en godinne was onder meer Isis en haar seun Horus. Hierdie Horus is mettertyd in die religieuse geskiedenis ook met die songod Ra vereenselwig; hy sou die kop van ’n valk gehad het (lees ook die stuk oor die songod Ra reg onderaan hierdie bladsy). Voorts was daar Thoth, onder meer ’n geneesheer vir die gode wat eweneens met Ra en daarby met die ibis-voël geassosieer is (lees die byskrif ondertoe),  en Imhotep, 'n farao-dokter wat uiteindelik tot ’n god verhef is.
       

REGS BO: Deur sewe papirus-geskrifte waarvan die inhoud laat in die negentiende eeu ontsyfer is, het navorsers die eerste regstreekse kennis van die oud-Egiptiese geneeskundige gebruike verkry. Twee daarvan, wat omstreeks 1600 v.C. geskryf is uit bronne  van vermoedelik so ver terug as 2500 v.C., bevat beskrywings van kanker—die vroegste bekende geskrifte oor dié siekte.
 

Foto van Nylreier, skoorsteenveër of heilige ibis regs:
© Willie Kühn
(Die stuitigheidjie van die stralekrans verskyn natuurlik nie op die oorspronklike foto nie!)

REGS: ’n Voël met ’n stralekrans! Dié Nyl­reier of sogenaamde skoorsteenveër sal hom wat verbeel! Maar sy ander naam is die heilige ibis — en vir die Egiptenare van weleer was hy inderdaad ’n gewyde gevleuelde wese. Daar is ’n hele aantal verskillende waad­voëls in die familie Threskiornithidae wat ibisse genoem word, maar die Egiptenare het die Nylreier (Threskior­nis aethiopicus) spesiaal vir offerande geteel.
Hul heilige ibis is veral met die god Thoth
(REGS) verbind, wat ook dikwels met die kop van ’n ibis uitgebeeld is. Thoth (ook Tot gespel) was ’n  geneesheer vir die gode, asook ’n god van wysheid en van skrif, en die amptelike verslagskrywer van die gode. Hy is voorts beskou as die gedagte en die tong van die songod Ra, asook die middel waardeur Ra se wil in spraak omgeskakel is. Die groot erns waarmee die Egiptenare die gewydheid van die ibis bejeën het, blyk daaruit dat argeoloë in die Serapeum (tempel of godsdiens­sentrum) by Sakkara ’n verstommende een en ’n halwe miljoen mummies van ibisse gevind het!

Die Nylreier, skoorsteenveër of heilige ibis

Thoth

Illustrasie van Thoth: Negatief-weergawe van ’n illustrasie in The Gods of the Egyptians Vol. 1 deur E. A. Wallis Budge, omstreeks 1904. Kopiereg het verval vanweë ouderdom (“public domain old”)

    


Die Egiptenare se godsdienstige oortuigings het hulle ook aangespoor om tempels en monumente te bou. Die tempel by Karnak, byvoorbeeld, wat ter ere van die songod Amun-Ra gebou is, is die grootste tempel in die land met meer as 130 suile van sowat 24 m hoog.

 

Die bou van die piramides was waarskynlik so geslaag omdat die mense hul harde werk as toegewydheid aan die farao’s beskou het. In ’n piramide was daar ’n geheime kamer vol skatte waar die gebalsemde lyk (mummie) van die koning was. Die beroemde Piramides van Giza, naby Kaïro, bestaan uit tien afsonderlike piramides waarvan drie die grootste in Egipte is.

 

Die farao’s is reeds baie vroeg as gode beskou, maar die ou Egiptenare het ook nog baie ander gode en godinne gehad.  

 

Dodemasker van ToetankamenLINKS: Slegs ’n paar van die grafkelders van die honderde farao’s wat in Egipte se Goue Tydvak in manjifieke grafte ter ruste gelê is, het betreklik ongeskonde behoue gebly. Een van hulle is die grafkelder van die legendariese Toetankamen. Toe die Britse argeoloog Howard Carter in 1922 die graf met sy duisende skatte oopgegrawe het, was dit een van die grootste argeologiese vondste in die geskiedenis. Tutankhamen (omstreeks 1346-1328 v.C.) staan bekend as die seun-farao, want hy het die heerskappy oorgeneem toe hy slegs omtrent nege jaar oud was en tot sy dood op sowat agttienjarige leeftyd geregeer. Op die foto is sy baie bekende 54 cm hoë dodemasker, wat in die binneste mummie-omhulsel in sy grafkelder gevind is. Dit is van goud met inlegsels van sekere gesteentes (lasuursteen en kornalyn).

 

Foto: U.S. National Endowment for Humanities

 

Geskiedenis

 

   DIE groot beskawing van antieke Egipte het sowat vyfduisend jaar gelede in die vallei van die Nylrivier ontstaan, omstreeks 3100 v.C. Meer as tweeduisend jaar lank het dit gefloreer tot 1070 v.C. en teen omstreeks 30 geëindig. Dit was een van die langdurigste beskawings in die mensegeskiedenis.

 

Die eerste Egiptenare was jagters en herders wat naastenby seweduisend jaar gelede van die hooglande na die Nylvallei afgetrek het. Hulle het naderhand agtergekom dat hulle saad kon saai nadat die rivier sy walle oorstroom het. Skape en bokke is ook getem, dekkings van klei en riete gebou, potte gemaak en vlas geweef.

 

Mettertyd het hulle in gevestigde en geordende gemeenskappe begin woon. Dit was eers net in gehuggies, maar gaandeweg het dié tot stede, distrikte en uiteindelik koninkryke aangegroei. Die lewe het ingewikkelder begin raak en die ambagte en ander nerings meer geskoold en gespesialiseerd.

 

Teen omstreeks 3400 v.C. het Egipte twee hoofkoninkryke gehad: Opper- en Benede-Egipte. Dié toedrag van sake het sowat driehonderd jaar geduur totdat ’n koning, wat volgens die oorlewering Menes genoem is, Benede-Egipte verower en die twee koninkryke verenig het.

 

Menes was die eerste in ’n lang reeks farao’s wat oor Egipte geregeer het. Hy het ook die eerste dinastie (voorstehuis of regerende familie) hier gevestig. Meer as dertig dinastieë sou hierna volg.

 

Die geskiedenis van ou Egipte word in vier hooftydperke ingedeel. Die eerste, die VROEË PERIODE, het sowat vierhonderd jaar geduur. In hierdie tyd is tempels en paleise gebou en besproeiingstelsels, ploeë wat deur osse getrek is en hiërogliewe (’n vroeë soort skrif) ontwikkel.

 

Ploeëry in Ou Egipte

 
Hiërogliewe
 
BO: Hiërogliewe.

  

BO: ’n Ploeëry in Ou Egipte.     Illustrasie uit die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web waar dit as openbare besit (“in the public domain”) aangedui word.

Die tweede tydperk, die OU RYK, is ingelui deur die oprigting van die piramides en word ook die Piramidetyd genoem. Dit het ’n stuk of vyfhonderd jaar geduur.

 

Die derde, die MIDDELRYK, het twee eeue geduur en is gekenmerk deur die ontwikkeling van die kunste, veral die argitektuur en letterkunde.

 

In die NUWE RYK het Egipte tot die wêreld se magtigste moondheid verrys.

 

NefertitiLINKS: Koningin Nefertiti, ’n koningin van die Nuwe Ryk, was die hoofvrou van die farao Akhenaton, wat van omstreeks 1353 tot 1337 v.C. geregeer het. Akhenaton het slegs die kultus van die songod Aten toegelaat, waarvan Nefertiti ’n getroue volgeling was. Dit lyk egter of sy mettertyd in onguns by haar man verval het, want sy is vervang deur Meritaten, een van haar ses dogters. Hierdie beskilderde kalksteen-borsbeeld van Nefertiti is een van die groot kunswerke van Ou Egipte wat behoue gebly het en is tans in die Staatliche Museum in Berlyn, Duitsland.


Foto: AICT / Allan T. Kohl

 

Hierdie Nuwe Ryk het sowat vyfhonderd jaar geduur, waarna Egipte se lotgevalle begin verander het. Magstryde tussen mededingende families, korrupsie en ondoeltreffendheid het die gesag afgetakel. Die land het in kleiner state verbrokkel en die buitelandse grondgebiede is prysgegee.

 

In die volgende sewehonderd jaar het die land ál vinniger verval met die gevolglike oorheersing deur vreemde dinastieë, waaronder Nubië, Assirië en Persië.

 

In die jaar 332 v.C. is Egipte deur Alexander die Grote van Macedonië verower. Toe hy dood is, is die beheer van Egipte deur een van sy generaals, Ptolemaeus, oorgeneem, en in die volgende driehonderd jaar het die Ptolomeë, wat Macedonies van oorsprong was, die Griekse kultuur in Egipte uitgedra. Teen dié tyd was Egipte se geskiedenis nie meer sy eie nie, maar dié van sy veroweraars.

 

Dit was die koms van die Christendom wat oplaas die Egiptiese kultuur laat verdwyn het. Antieke tempels het ineengestort, grafkelders is verwaarloos, gode is versaak en hul beelde op geboue is geskend. Uiteindelik het die eiesoortige beskawing aan die Nyl opgehou bestaan.

 

“Cleopatra se Naald”REGS: Baie oud-Egiptiese artefakte het veral in die betreklik onlangse tye buite Egipte beland. Hierdie sogenaamde obelisk, bekend as Cleopatra se Naald, is in 1881 aan die VSA geskenk en in New York staangemaak. Die naam is egter misleidend, omdat die inskripsies op die monument onder meer die naam van die farao Ramses II bevat, wat eeue voor koningin Cleopatra in Egipte geregeer het. Die ou Egiptenare het sulke obeliske (spits suile) by hul tempelingange aangebring, en dit het verband gehou met sonaanbidding.
•  Cleopatra se Naald is terloops al meermale gebruik om die proses van verwering te illustreer. Sedert dit in New York opgerig is, het die hiërogliewe op die soliede stuk rooi graniet al byna onleesbaar geword—terwyl daar in die byna 3000 jaar toe dit in die Egiptiese woestyn gelê het omtrent geen verwering was nie. Die New Yorkse klimaat, besoedeling en suurreën kry die skuld vir die aftakeling.

 

Foto: U.S. Geological Survey

 


HoeRA vir RA!

Ya-amen wat in Memphis sit

het spoke opgeja:

"Elkeen wat so die son aanbid,

is met die maan gepla."

 

Die volk skree: "Nee, hoeRa vir Ra!

Ag mummie, jou moroon!"

"Jou ketter!" só trompetter, ja,

selfs Farao op sy troon.

 

Lewend gebalsem, werp hul hom

toe heelhuids in die Nyl
— waar hy vandag nog seil —

want geen wou ya en amen brom

op wat Ya-amen yl...

 

Vers deur Dugeot, Mieliestronk.com

D

IE gediggie hierbo, stuitig soos dit is, bevat tog interessante inligting oor die godsdiensbeoefening in die Egipte van weleer. Ra (of Re en later onder meer Amun-Ra of Re-Harakhte ) was die songod van die antieke Egiptenare—en daar was waarskynlik nie baie mense van destyds wat dit sou durf waag om die geloof in Ra openlik te veroordeel nie.

Vir die ou Egiptenare, soos vir verskillende volkere in die geskiedenis*), het die son immers lig, warmte en dus groei verteenwoordig en is hy met verloop van tyd as die heerser van alles beskou. Die son, só is daar in Egipte geglo, is óf die liggaam óf die oog van Ra.

Teen die vyfde dinastie van die Egiptiese konings van die Oudheid is hy al as ’n baie vername godheid vereer. Hy is hoofsaaklik met die middagson vereenselwig, en die belangrikste kultussentrum van Ra was heel eerste in Heliopolis, wat dan ook “Stad van die Son” beteken.

Tydens latere dinastieë is Ra vereenselwig met die god Horus, wat toe Re-Harakhte—Horus van die twee horisonne—genoem is. (Re-Harakhte is net een van verskillende spellings van die naam.) Die Egiptenare het gereken dat hy oor die lug, aarde en onderwêreld heers, en hulle het hom met ’n voël, die valk, geassosieer. Ra het, volgens sekere kenners, so ’n sentrale plek ingeneem dat die ander “gode” nie soseer as wesens uit eie reg beskou is nie, maar bloot as sekere vorms van Ra.

In behoue geblewe kunswerke word hy meestal in ’n menslike vorm uitgebeeld met die kroon van ’n farao—as teken van sy koningskap oor die gode—en die skyf van die son op sy kop. Dikwels het hy die kop van ’n valk, soos Horus.

Dit is interessant dat ons vandag meestal die naam Ra uitspreek soos dit gespel word (soos in hoera!) maar dat dit waarskynlik eerder as “Ry” uitgespreek behoort te word (soos in hoe ry die boere). Dit verklaar waarom Ra ook dikwels in Engels Re geskryf word.

Geleerders weet nie meer definitief wat die naam Ra beteken nie, maar dit is bes moontlik iets soos “skeppend”, indien dit nie ’n ou Egiptiese woord vir “son” was nie. Die mens sou uit Ra se trane of sweet geskep gewees het, met die gevolg dat die ou Egiptenare hulself die “Beeste van Ra” genoem het.

___________________________

*) In Mesopotamië was die songod Sjamasj ’n belangike godheid wat gelyk gestel is met geregtigheid. In Griekeland was daar twee songode, te wete Apollo en Helios. Die invloed van die son word ook in ander godsdienste gesien, byvoorbeeld in die Zoroastrianisme, die Romeinse religie, Hindoeïsme en Boeddhisme, asook die godsdienste van die Kelte van Engeland (met hul druïde-priesters), die Asteke van Mexiko, die Inkas van Peru en baie Amerikaanse inboorlingstamme.


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad van hierdie reeks oor vroeë mense en antieke beskawings

Klik hier om terug te keer na die hoof-inhoudsblad van die Mieliestronk-werf