Vroeë mense en antieke beskawings (2)

Kuns op die klippe:
kiem van die komende beskawing

REGS: Antieke rotstekeninge wat aan ’n wand in die Chauvet-grot in Frankryk gevind is. Van die tekeninge in die grot is so gesofistikeerd dat dit leke sowel as kenners verbyster. Baie mense voel dat ons met nuwe oë na die vroeë Steentyd-mense behoort te kyk—dat ons moet aanvaar dat hulle nie slegs ’n klein trappie bokant diere was nie, maar diep denkende wesens wat ondanks hul hoogs beperkende agtergrond tog ’n onmiskenbare mate van verfyning kon openbaar.

Foto: U.S. Department of Energy.

Rotstekeninge in die Chauvet-grot in Frankryk

Sowat 70 000 jaar gelede het sekere mense ’n revolusionêre tree vorentoe gegee—hulle het hul diepste gevoelens deur middel van tekeninge begin uitdruk, of aanvanklik selfs met verbasend ingewikkelde meetkundige patrone. Mettertyd het hulle ander intellektuele aktiwiteite begin beoefen—soos pottebakkery, beeldhouwerk, naaldwerk en weefwerk. Alles was stappe weg van ’n nomadiese jagter-versamelaar-bestaan na ’n meer gevestigde lewe...
  


Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
Foto-kompilasie deur Mieliestronk.com

S

TEL jou voor jy is ’n jagter van die verste, gryse verlede. Jy’t Silhoeët van jagters en wildsbok reeds heeldag iets vir jou honger gesin gesoek, maar niks gekry nie. En die nag kruip nader.

Skielik kom jy en die res van jou jaggeselskap op die een of ander soort wildsbok af. Of miskien selfs ’n oeros (nou ’n uitgestorwe soort buffel) of dalk ’n mammoet (’n prehistoriese olifant). Met die primitiefste jaggereedskap maak julle hom dood. Nou kan almal eet.

Jy is dankiebly oor die kos en wil uiting gee aan hierdie dankbaarheid—miskien om te probeer verseker dat die gode jou op jou volgende jagtog sal bystaan. Maar jy kan nie ’n gedig of ’n stuk prosa daaroor skryf nie, want skrif is nog iets van die verre toekoms. Daarom teken jy ’n prent van die jag op ’n grotmuur waar jy weet dit behoue sal bly...

Die fassinerende verhale wat in grotte vasgevang is

   

REGS: Grottekeninge wat in die Sahara in Noord-Afrika gevind is, in die streek Tassil-n-Ajjer (Plato van die Afgronde), noord van die oase-dorp Tamanrasset in Suid-Algerië. Die tekeninge hier en elders in die omgewing is deur jagters gemaak wat nog in ’n savanne-wêreld vol buffels, olifante, renosters en seekoeie gewoon het voordat die woestyn oorgeneem het. Die tekeninge bied navorsers ’n besonder volledige beeld van ’n prehistoriese Afrika-kultuur.

Grottekeninge in die Sahara

  
Met vergunning van LaVerle Berry /  U. S. Library of Congress Country Studies

Vroeg-vroeg het die mens die behoefte gevoel om uitdrukking te gee aan sy idees oor die lewe—’n eienskap wat hom beslis van die diere onderskei. Op sy omswerwinge het hy baiemaal grotte met tekeninge versier.

Maar hierby het dit nie gebly nie en die mense van die voortyd het ander intellektuele dinge leer bemeester—soos om potte en klere te maak, en ook hoe om te boer.

In hierdie aflewering kyk ons na die vroeë mense se ontwikkelings totdat boerdery hul hele lewe verander het—en die mensdom op die pad na beskawingsontwikkeling geplaas is.

Kuns

   DIE vroegste bekende kunswerke het volgens argeoloë sowat
70 000 jaar gelede ontstaan, nogal in Suid-Afrika. Dié kuns neem ’n aantal verskillende vorms aan. Geometriese patrone is die vroegste, dan volg tekeninge en gravures. Potte en beelde word nog later
vir die eerste keer geskep.

Van die bekendste tekeninge is dié van diere aan die wande en dakke van grotte soos dié van Lascaux en Chauvet in Frankryk en Altamira in Spanje. In Suider-Afrika is verreweg die meeste afbeeldings van mensefigure, hoewel baie diere ook hier afgebeeld is.

Diere en doenighede van lank vergange tye

   
Rostekeninge in Lascaux-grot in Frankryk Rotstekeninge van elande deur die San (Boesmans)
BO: Rotstekeninge van elande deur die San (Boesmans) in ons eie wêrelddeel.
  

BO: Diere teen die dak van die Lascaux-grot, Perigord, Dordogne, Frankryk.

Lascaux-tekeninge met vergunning van CNP – Ministère de la Culture, Frankryk / via U.S. Centers for Disease Control and Prevention

Tekenverf is vermoedelik gemaak van houtskool, verpoeierde mangaanerts, roes, bloed, eierwit, plantsap en wyn, asook klei wat met diervet gemeng is.

Baie kleibeelde was van vroue, veral swanger vroue. Die vroeë mense het dit moontlik met vrugbaarheid verbind.

Klere en juwele

   BAIE min is bekend omtrent die kleredrag in die Vroeë en Middel-Steentyd. In warmer wêrelddele het mense bes moontlik aanvanklik kaal geloop, maar waar dit koud was, is ruwe liggaamsbedekkings van pelse en velle gemaak.

Hoewel die mense van die Laat Steentyd naaldwerk kon doen, het die klere maar kru gebly. Dit was eers toe skape in die Midde-Ooste en Europa as vee aangehou is dat mense leer spin en weef het. Teen die Ystertyd het dit reeds ’n uitvoerige kuns geword.

Liggaamsversierings was in die ou tyd selfs belangriker as in moderne kulture. Halssnoere van skulpe en stene is onder meer gedra. Versierings is ook baiemaal in ruiltransaksies gebruik.

Godsdiens en rituele

   BUITEN tekeninge het min ander artefakte behoue gebly om ons te vertel hoe die prehistoriese mense hul towery en godsdiens beoefen het. Getuienis uit Europese grafte van tienduisende jare gelede dui daarop dat hulle toe al aan die hiernamaals geglo het.

Tekens van verassings in sekere gemeenskappe toon ook hoe belangrik die lewe hierna vir hulle was. Soms is die lyk van die oorledene saam met slagoffers verbrand. Die beendere is dan, saam met aalmoese vir die hiernamaals, in ondergrondse kamers geplaas.

Stukkie oker met meetkundige motief, minstens 70 000 jaar oud  Orakels van die oker  

LINKS: Sekere wetenskaplikes reken vandag mense het minstens sewentig millenniums gelede reeds abstrakte denke geopenbaar en soos moderne mense opgetree. Enkele jare gelede het Christopher Henshilwood, adjunk-professor aan die Staatsuniversiteit van New York, saam met onder meer die Iziko Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad, ’n belangrike ontdekking gedoen wat volgens hulle die aanname sou staaf. Die span het naamlik twee opsienbarende stukkies oker van slegs sowat vyf en agt sentimeter lank in die Blombos-grot aan die Indiese Oseaan sowat 300 km oos van Kaapstad gevind. Die stukkies oker is minstens 70 000 jaar gelede met ’n komplekse meetkundige motief gegraveer, hoewel die betekenis daarvan onbekend is, sê die geleerdes. Dit kontrasteer met gewone tekeninge van mense en diere, wat later in so baie ander grotte aangebring sou word. Boonop is skulpe in die Blombos-grot gevind wat geperforeer is om vermoedelik as krale ingeryg te gewees het—skulpe wat tienduisende jare ouer is as enige ander antieke persoonlike ornamente wat voorheen geïdentifiseer is.

Foto van gegraveerde stukkie oker van die Blombos-grot deur Chris Henshilwood / persvrystelling deur OLPA / U.S. National Science Foundation

Beskuttings

   AANGESIEN jagter-versamelaars van plek tot plek beweeg het om kos en water te soek, het hulle geen permanente tuistes gehad nie. Pleks daarvan het hulle eenvoudige tydelike verblyfplekke langs varswaterstrome en poele opgerig en onder bosse geskuil.

Daar is getuienis dat daar in Europa van tyd tot tyd tydelike skuilings opgerig is. Dié was gewoonlik rond, met ’n raamwerk van takke, olifanttande, walvisribbe, mammoetbeendere of jong boompies met gras, blare of velle daarop.

Voordat die vroeë mense geleer het om vuur te benut, het hulle selde in grotte gewoon, aangesien dit te donker en klam was.

Met verloop van tyd is meer gesofistikeerde hutte in Suider-Afrika gebou van takke wat met gras of velle bedek is.

  Khoikhoi-huise  

REGS: Die Khoikhoi (Hottentotte), wat sowat tweeduisend jaar gelede in Suider-Afrika aangekom het, het draagbare hutte gehad. Dit het bestaan uit ’n raamwerk van takke met geweefde grasmatte en velle as bedekking.

Grasmat-huise van die Khoikhoi

Boerdery

   DIT was omtrent 8000 jaar gelede, sê die wetenskaplikes, dat mense geleer het om plante te kweek en diere aan te hou en daarmee ’n belangrike stap in die rigting van hul beskawing gedoen het. Hulle het besef dat plante van saad groei en dat hulle hul eie gewasse kon kweek. Sekere diere is ook mak gemaak, sodat dit nie meer nodig was om oor berge en dale agter hulle aan te jaag nie.

Die eerste boere het hulle in die huidige Irak gevestig. Hiervandaan het boerdery met verloop van tyd na Suidwes-lran, die Griekse skiereiland, die Nylvallei en die Indusriviervallei versprei.

 Sekel van gebakte klei 

REGS: ’n Sekel van gebakte klei, wat in die oestyd gebruik sou gewees het, uit die land Sumerië van omstreeks 3000 v.C. (Sumerië was in die huidige Irak).

Foto deur Ancheta Wis, wat kopiëring en modifisering daarvan vergun in die Wikipedia-ensiklopie op die wêreldwye web ingevolge die Creative Commons Attribution 2.0 License

Sekel van gebakte klei uit ou Sumerië

Die praktyke om plante te kweek en diere mak te maak, het ook selfstandig in ander wêrelddele soos China en Sentraal-Amerika ontwikkel. Teen 4 000 v.C. was China se Huang He-vallei onder verbouing.

Boeregemeenskappe het dorpies naby hul landerye gevestig en daar gebly solank die oeste goed was. Sodra die grond uitgeput was, het hulle getrek en nuwe nedersettings gevestig.

Die belangrikste plante was onder meer mielies, rog, sorghum, boontjies, patats, koring, gort, skorsies, broodvrugte en piesangs, en die diere was beeste, bokke, varke, skape, hoenders en selfs marmotjies (by die Inkas).

Gevolge van boerdery

   DIE koms van boerdery het sekere belangrike implikasies gehad. Die boere het nou soveel kos geproduseer dat hulle ook ander mense kon voed, sodat baie nou nie meer nodig gehad om net te jag en kos te versamel nie en tyd gehad het om hul vaardighede te ontwikkel. Talle nuwe bedrywe, van weef tot die maak van potte en die dryf van handel, het ontstaan.

Die lewe het bestendiger begin lyk. Huise is met roustene, hout of klip gebou. Heinings is opgerig om wilde diere buite en vee binne te hou.

Om boerdery makliker te maak is doeltreffender gereedskap ontwikkel.

Nadat mense geleer het om potte te maak, kon kos en drank op ’n maklike, duursame en skoon manier geberg word. Die stamper en vysel is gebruik om graan te maal.  

Gebakte kleipotte  Pottebakkery  

REGS: Mense het geleer om potte te maak deur dit met klei te vorm en daarna met vuur hard te bak.

Foto: U.S. National Park Service

Sowat 7000 jaar gelede het besproeiing begin. En ongeveer 2000 jaar later is die ploeg uitgevind.

Kos was nou makliker bekombaar, met die gevolg dat die mense se getalle toegeneem het. En baie van die siekes en oues wat tydens die swerftogte sou doodgegaan het, het nou bly lewe.

Met die vermeerdering van die mense het die boeregehuggies dorpe geword. En namate dié gegroei het, is ’n uiters belangrike verskynsel in die beskawing van die mens gebore—’n gevestigde stadslewe.
  

Ou Egiptenaar agter ’n ploeg wat deur getemde diere getrek word

 Ploeg en plaasdiere 

LINKS: ’n Antieke illustrasie van ’n ou Egiptenaar agter ’n ploeg wat deur getemde diere getrek word. Die ploeg en die tem van diere was twee ontwikkelings in die landbou wat kennelik tot die ontstaan van die eerste beskawings gelei het.

 

Illustrasie uit die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web waar dit as openbare besit (“in the public domain”) aangedui word.


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad van hierdie reeks oor vroeë mense en antieke beskawings

Klik hier om terug te keer na die hoof-inhoudsblad van die Mieliestronk-werf