Verskrikkings
in die loopgrawe en die revolusionêre krygstegnieke wat oorlogvoering vir
altyd verander het
Eerste
Wêreldoorlog
|
|||
| Hoogs aanbevole buiteskakel indien jy aan die internet gekoppel is: ’n Geweldige groot album met ’n ongelooflike eenduisend agthonderd en vier- en-veertig foto’s van die Eerste Wêreldoorlog by http://www.gwpda.org/photos/greatwar.htm (maak oop in nuwe venster). |
|||
IT is die oorlog van
loopgrawe... die slote van die hel. Vanuit teenoormekaargeleë loopgrawe
wat oor die Europese landskap kriskras, knelter die strydende magte
mekaar so vas dat nie een deur die ander se linies kan dring nie.
Dag ná dag, week ná
week, maand ná verskriklike maand en selfs langer pen hul mekaar vas in
die militêre vore waar die haglikste toestande heers.
Derduisende
dapper stryders sterf soos vlieë... plek-plek kan die vloer van ’n
loopgraaf selfs sponsig word, byna soos ’n matras, weens al die dooies
daaronder. Maar dis nie net geweer- en kanonvuur en selfs gifgas en
vlammewerpers wat vir die slagtings sorg nie. Allerhande ander narighede
heers in die loopgrawe self.
Soos luise. Omdat jy jou nie hier behoorlik kan was en versorg nie, is jy en jou makkers naderhand vergewe van hierdie bloedsuiende parasiete. Boonop kom miljoene rotte snags uit om aan die lyke te vreet. En op plekke waar die loopgrawe te veel water het, raak die soldate se voete ontsteek en swel so op dat hulle nie hul stewels kan uittrek nie. Dit maak die pyn in die voete ontsettend en lei selfs tot die dood. Ook vrieskoue toestande bring meer sterftes en ellende.Só was die
Eerste Wêreldoorlog (1914 - 1918), wat voor die uitbreking van die
Tweede Wêreldoorlog die "Groot Oorlog" genoem is (ofskoon ene
luitenant-kolonel Repington reeds in 1920 die benaming Eerste Wêreldoorlog
in sy boek The
First World War 1914-18 gebruik het). Hoewel die
burgerlike lewe nie so ontwrig en eiendom nie so verwoes is soos in die
Tweede Wêreldoorlog nie, was die Eerste Wêreldoorlog in sekere opsigte
grusamer. Dit is deels omdat die wêreld destyds minder voorbereid was
op die uitwerking van só 'n groot oorlog en deels weens die onmenslike
maniere waarop dit gevoer is.
Benewens
die verbete loopgraafstryd wat hierbo beskryf is, waar stellings slegs
ten koste enorme lewensverlies verower is, is die oorlog ook gekenmerk
deur die gebruik van nuwe wapens wat oorlogvoering totaal sou verander.
Chemiese wapens, tenks,
vliegtuie... die veranderde metodes en tegnieke was dikwels ewe
revolusionêr as die vervanging van die perdekar deur die motor juis in
daardie tyd. Maar waar die motor allereers groter gerief vir die mens
beteken het, het die miljoene mense die wrange teendeel in die nuwe
soort oorlogvoering gesmaak. Dit
is nietemin insiggewend dat, hoewel die motor en die vragmotor in dié
stadium besig wat om die hele vervoerwese van die wêreld te verander,
baie min troepe en voorrade in die Eerste Wêreldoorlog nog deur
motorvoertuie vervoer is. Die meeste voorrade is steeds per trein na die
loopgraaf-linies gebring, terwyl die artillerie meestal deur perde
getrek is. Buitebande wat sterk genoeg vir die swaar kanonne was, het
toe nog nie bestaan nie. Die
nuwe krygstegnieke wat in die Eerste Wêreldoorlog op land en in die
lug aangewend is, word hieronder van nader bekyk.
(Die res van hierdie artikel is hoofsaaklik verwerk uit AFRIKAANSE
KINDERENSIKLOPEDIE onder reaksie van dr. C.F. Albertyn. Vol. 6: Die
Vliegtuig as Oorlogswapen, pp. 53-57. Vol. 5: Die Mens se Wapens, pp.
65, 66, 89, 70). a)
Metodes en tegnieke van oorlogvoering op land
(i)
Die stryd van die kanonne DIE
vernaamste wapen van die Eerste Wêreldoorlog was die kanon, hoewel dit
ook die eienaardige dooiepunt-situasie in Europa laat ontstaan het. Die
strydende magte sou dan ook mettertyd besef dat die oorlog nie deur
enigeen van hulle met kanonne alleen gewen kon nie. Om die stryd te
besleg was ander oorlogstuig nodig -- en dit het later in die vorm van
vegvliegtuie en veral tenks gekom, soos ons weldra sal sien. Maar
aanvanklik was dit die oorlog van die groot gebulder. In die
Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902 is kanonne wat baie sekuur kon skiet
reeds op die Suid-Afrikaanse slagvelde gebruik. Daardie kanonne was
egter net die voorgangers van dié wat in die Eerste Wêreldoorlog
soveel onnoemlike verwoesting gesaai het. In
die Eerste Wêreldoorlog is groter, dodeliker en meer kanonne gebruik as
ooit tevore in die geskiedenis. Waar die groot leërs mekaar in die
loopgrawe vasgelê het -- elke leër in sy eie gange wat byna regoor
Europa gestrek het -- het hulle mekaar met die koeëls uit honderde en
duisende kanonne gepeper. Met verskriklike bombardemente het elk van die
leërs ’n opening deur die
linies van die vyand probeer skiet. Reusagtige
kanonne wat uiters doeltreffend en akkuraat was, is in dié tyd
vervolmaak. Hulle kon swaar koeëls vinnig ná mekaar afvuur. Tog het
die oopskiet van die vyandelike linies nie altyd geslaag nie. Dit was
omdat die grond in die verowerde gebiede vol gate geruk is deur die
derduisende koeëls wat daarop gereën het. Dit was gevolglik onmoontlik
om swaar wapens oor die verwoeste terreine te vervoer en die opmars deur
die groot gapings voort te sit. Hoeveel
massas en massas koeëls in die kanonaanvalle afgevuur is, blyk uit
verslae uit daardie tyd. Vir ’n swaar bombardement was daar dikwels
tien of twaalf opslagplekke met ammunisie vir die kanonne en elke
opslagplek het tot omtrent tienduisend ton ammunisie gehad. Stellig
die interessantste en merkwaardigste kanon wat in die Eerste Wêreldoorlog
gebruik is, was die groot Duitse kanon wat die naam "Groot
Bertha" gekry het. Hierdie kanon is spesiaal deur die Duitsers
vervaardig om ver te kan skiet en is ook gebruik om oor ’n afstand van
sowat 120 km op Parys, die hoofstad van Frankryk, te vuur. Die
Groot Bertha het ’n koeël afgevuur wat soveel soos ’n swaar man
geweeg het en wat op pad na sy doelwit 'n hoogte van sowat 30 km bereik
het. Hierdie reuse-kanon het nagenoeg 130 metrieke ton geweeg en was so
swaar dat hy feitlik nie beweeg kon word nie. Gevolglik was die Groot
Bertha nie besonder nuttig nie -- maar dit toon wel hoe vernuftig die
wapenvervaardigers reeds destyds was. Drieduisend
kanonne het
aan een van die groot slae van die Eerste Wêreldoorlog deelgeneem --
waarvan ongeveer duisend groot swaar kanonne was. En hierdie kanonne het
tien dae lank sonder ophou geskiet. Hulle het voortdurend koeëls deur
die lug laat reën, sodat ons met reg kan praat van ’n staalgordyn wat
deur die kanonne opgewerp is. In hierdie slag was daar een kanon vir
elke sowat ’n meter wat die front lank was. In die tien dae is
altesame 4 250 000 kanonkoeëls afgevuur. Met
die kanonne kon die slag, soos ons gesien het, egter nie beslis word
nie. Die kanonne het mekaar vanuit teenoorgestelde rigtings beskiet
sonder dat dit die een kant in staat gestel het om op beslissende wyse
deur die vyand se linies te kom. Hierdie
stilstand aan die front het uiteindelik verdwyn nadat die
oorlogsvliegtuie op die toneel verskyn het en nadat die Geallieerdes
onverwags met tenks begin veg het.
(ii) Die
koms van die tenks REEDS
’n dekade of wat voor die Wêreldoorlog, in 1900, het
’n paar
Amerikaners
’n masjiengeweer op ’n ligte kar aangebring met plek vir
vier manne wat die wapen moes hanteer. Dit was in die tyd toe die motor
regdeur die wêreld sy nut as vervoermiddel begin bewys het. In
1902 het Frankryk motors begin vervaardig wat ook gepantser was. Die
pantser van staal het die motor in sekere mate teen koeëls beskerm. Die
volgende jaar het ook Duitsland sy eerste pantsermotors gemaak. Hierop
het oorlogsmotors gevolg wat met ’n masjiengeweer gewapen Toe
die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitbreek, het al die oorlogvoerendes
verskillende soorte pantsermotors besit, toegerus met masjiengewere en
skiettorings en gepantser met staalplate. Nog
voor hierdie tyd het die mens ook daarin geslaag om ’n voertuig te bou
wat in der waarheid sy eie spore gelê het. Van 1880 af is naamlik
trekkers vervaardig wat kruipbande om die wiele gehad het. Die trekkers
het op hierdie kruipbande geloop en het dus geen gebaande paaie nodig
gehad nie. In die Eerste Wêreldoorlog is trekkers eers net gebruik om die swaar kanonne oor die slagveld te verskuif. Dit was slegs ’n kwessie van tyd voordat die beginsel van die trekker en die beginsel van die pantsermotor saamgesmelt sou word. En daaruit sou die oorlogstenk ontstaan.
BO: ’n Tenk van die Eerste Wêreldoorlog. Hierdie
samevoeging van twee belangrike soorte voertuie het later in die Eerste
Wêreldoorlog gevolg en dit was omdat die oorlogsomstandighede dit
noodsaaklik gemaak het. Ons het reeds vertel hoe die leërs in hierdie
oorlog mekaar in loopgrawe vasgelê het, dat geweldige
artillerie-bombardemente die grond so stukkend en vol diep gate geskiet
het dat dit vir geen meganiese voertuie moontlik was om oor daardie
terrein te ry nie. Daar moes ’n wapen gekry word om hierdie stilstand
aan die oorlogsfronte te beëindig. Die
wapen wat toe gevind is, was die oorlogstenk. Die koms van die tenk het
'n nuwe tydperk in oorlogvoering ingelui. Die
tenk, ’n gevaarte wat onkeerbaar voortkruip, is ná baie proefnemings
in Brittanje ontwerp en is onverwags in die stryd geslinger. Dit het ook
baie daartoe bygedra om die Eerste Wêreldoorlog tot
’n einde te bring. Die
tenk was ’n ware geheime wapen. Dit is suutjies na die slagvelde van
Europa gebring en die Duitse troepe het niks van hul koms geweet nie. 'n
Mens kan dus begryp watter konsternasie daar onder die troepe ontstaan
het toe hierdie yslike voertuie van staal stadig oor die vernielde
oorlogsterrein gekruip het waaroor voorheen geen voertuig of kanon kon
beweeg nie. Die
tenks het oor loopgrawe gery en doringdraadversperrings platgetrap, en
het terselfdertyd met hul eie masjiengewere die koeëls in alle rigtings laat reën. Boonop
kon die gewone geweerkoeëls feitlik geen skade aan die gepantserde
tenks aanrig nie. Die tenks het genadeloos voortgekruip, hoewel hulle
toe nog maar uiters stadig beweeg het. Byna alles voor hulle moes die
wyk neem. Daar
was twee soorte tenks wat in hierdie veldslae gebruik is. Die een soort
was gewapen met twee sesponder-kanonne en die ander met ’n aantal
masjiengewere. Altesame 150 van hierdie tenks is vervaardig en hulle het
bekend gestaan as die Mark 1-tenks. Die tenks met die ligte kanonne is
hoofsaaklik gebruik teen masjiengeweer-vestings, terwyl die tenks met
masjiengewere die soldate self moes afmaai. Teenoor
die tenks wat later in die Tweede Wêreldoorlog gebruik is, het hierdie
eerste tenks bra koddig gelyk. Hulle was effens langwerpig, en die
ruspervormige kruipbande het tot reg bo-oor die romp van die vaartuig
gestrek. In
vergelyking met die geweldige tenks van ons tyd wat niks anders as forte
op wiele is nie, was hierdie Mark 1-tenks bra klein en stadig. Hulle is
met 'n motormasjien aangedryf en kon nie vinniger as sowat 6 km/h
aankruie nie. Hulle kon ook nie verder as sowat 20 km voortkruip voordat
daar weer brandstof ingegooi moes word nie. Die
tenks met die twee kanonnetjies was tien meter lank, nie eens twee meter
hoog nie en het sowat 25 metrieke ton geweeg. Hulle het ’n bemanning van
agt gehad. Hulle kon oor ’n muur van ’n meter hoog kruip en bo-oor
'n loopgraaf gaan wat nagenoeg drie meter wyd was. In April 1917 is die
Mark 1 opgevolg deur die Mark 4 wat nog swaarder gepantser was en oor
’n groter afstand kon optree, maar wat voorts ongeveer dieselfde as sy
voorganger was. Hoewel die tenks in hul eerste veldslae nie so ’n beslissende rol gespeel het nie, is hulle teen die einde van die oorlog met aansienlike welslae gebruik. Hierdie wapen het die aard van oorlogvoering aansienlik verander. Dit was dus onvermydelik dat tenkdeskundiges nog baie aandag aan hierdie gedugte wapen sou bestee, en toe die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitbreek, het die nasies duisende oorlogstenks gebruik wat hul voorgangers baie ver in die skadu sou stel. Hulle was groter en swaarder, baie beter bewapen, baie swaarder gepantser en baie vinniger en beweegliker. (iii) Vlammewerpers en gifgas DIS
26 Februarie 1915. Die toneel: loopgrawe êrens in Frankryk. Die Franse
soldate daarin is nie bedag op die ontsettende vuurdoop wat vandag op
hulle wag nie. Maar klokslag om twaalfuur spuit twaalf straalpype vanuit
die Duitse kant ’n moordende vuur op die Franse loopgrawe oor ’n
breedte van 700 meter. Paniek en chaos! Die eerste vlammewerperaanval
van die Eerste Wêreldoorlog is ’n werklikheid.
BO: Vuur in die loopgrawe... ’n voorstelling. Die Duitsers was ook die
eerste van die strydende magte wat hulle tot die gebruik van gifgas
gewend het (op 22
April 1915). Gasoorlogvoering lei tot verskriklike sterftes deurdat die
gas die slagoffers verblind en laat verstik. In die Eerste Wêreldoorlog
is veral drie soorte gas gebruik, aanvanklik chloor en fosgeen. Die
gasse tas die longe aan, met die gevolg dat dit met vloeistof gevul word
en ’n mens versmoor. In
1916 is ’n derde soort gas, mosterdgas genoem, vir die eerste keer
gebruik. Dit veroorsaak ernstige brandwonde en blare, sowel op as onder
die vel, wat met ontsettende pyn en soms ’n tydelike blindheid gepaard
gaan. Gasmaskers is ter beskerming teen gifgas gebruik en nadat dit aan
soldate uitgereik was, het min van hulle as gevolg van gas gesterf. b)
Metodes en tegnieke van oorlogvoering in die lug
IN
1903 het die twee broers Wright die wêreld verbaas met hul eerste vlug
in ’n masjien wat van die grond af opgestyg en ’n tyd lank in die
lug gebly het. Mense het egter nog ’n hele paar jaar skepties teenoor
die vliegmasjien gestaan, maar die Eerste Wêreldoorlog het die
ontwikkeling van vliegtuie genoodsaak -- iets wat in vredestyd miskien
baie langer sou geduur het. Al was die vliegtuie van
hierdie oorlog maar koddige en lamlendige masjiene wat nie besonder
vinnig was nie, het hulle hul waarde terdeë bewys met die nuttige
inligting wat hulle oor die troepebewegings van die vyand kon
terugbring.
BO: ’n Duitse eendekker-Kriegler-vegvliegtuig, wat in die Eerste Wêreldoorlog gebruik is. Tog bly dit eienaardig dat,
toe vliegtuie die eerste keer in die oorlog van 1914-1918 gebruik is, die vyandelike magte aan weerskante
hulle omtrent heeltemal met rus gelaat het. Feitlik geen pogings is
aanvanklik aangewend om teen die vliegtuie op te tree wat so oor mekaar
se linies gevlieg het nie. Maar toe die vegtendes besef
dat die vliegtuie dikwels baie waardevolle inligting insamel en dus ’n
nuttige oorlogswapen word, is die eerste pogings aangewend om hulle te
verdryf. Eers is gepoog om die vliegtuie met gewere en ligte
kanonnetjies van die grond af neer te skiet. Dit was in daardie tyd
nogal af en toe suksesvol, want die vliegtuie was
maar stadig en kon maklik beskadig word. Daarna
het vlieëniers mekaar in die lug probeer aanval. Dit was ’n moeilike
taak wat baie vernuf van die vegvlieëniers geverg het. Hierdie vlieëniers
het elk die ander se vliegtuig met rewolwers en gewere probeer raakskiet
sodat dit sou neerstort. Later is ’n masjiengeweer op die boonste van
die vliegtuig se twee vlerke aangebring om beter en vinniger te kan
skiet.
Mettertyd
is vliegtuie ontwikkel wat ál vinniger en verder kon vlieg. Teen hierdie
tyd het die vlieëniers deur ondervinding begin leer watter aanvalsmetodes
die beste was. Hulle het allerhande toertjies in die lug begin uithaal
deur neer te duik en dan weer skielik op te styg, vinnig weg te draai en
van ’n ander hoek af aan te val. Ratsheid was van die uiterste belang
ten einde jou teenstander se koeëls te ontwyk en hom met jou eie koeëls
te tref. Baie soos sekere van vandag se rekenaarspeletjies. Of die
ruimtegevegte in Star Wars! Die
naam "ridders van die lug" is aan hierdie eerste vegvlieëniers
gegee. Net soos die ridders van ouds mekaar die stryd met die swaard
aangesê het, só het hierdie vlieëniers mekaar in die lug een-een
tegemoetgevlieg en probeer oormeester. Deur hul eie reëls van
ridderlikheid teenoor mekaar te handhaaf, het hul kragmetings heelwat
verskil het van die bitter hand-en-tand-gevegte wat onder op die grond in
die loopgrawe van Europa aan die gang was. Dit
was die tyd van die eerste baasvlieëniers, helde wat hulle op ’n
besondere wyse onderskei het. Jeugdiges van selfs sewentien, agttien,
negentien jaar het hulle in die vliegkuns bekwaam en wondere in die
tingerige luggevaartes verrig. Die waagmoed, durf en vernuf word steeds
onthou van ’n Mick Mannock, Ball, Von Richthofen, Rickenbacker,
Immelmann, McCudden en die Suid-Afrikaner Beauchamp-Proctor wat feitlik
elke onderskeiding verwerf het wat daardie tyd vir dapperheid in die lug
toegeken is. Von Richthofen en Mannock het in hierdie oorlog elkeen meer
as sewentig vliegtuie afgeskiet. Die
era van die "ridders" was heeltemal anders as in die Tweede Wêreldoorlog
toe die individuele vegvlieënier op die agtergrond geskuif is, omdat hy
deel uitgemaak het van ’n hele groep vegvliegtuie -- die eskaders -- wat
gesamentlik moes optree. Dis
ook interessant om die verskillende vliegtuie van die Eerste Wêreldoorlog
-- die sogenaamde Fokkers, Britstols, Camels, Spads en Albatrosse -- met
die gesofistikeerde vegters van die Tweede Wêreldoorlog te vergelyk, wat
nog te sê die superblitse wat vandag deur die hemelruim klief. Maar
vliegtuie is nie net in die Eerste Wêreldoorlog vir die eerste keer teen
mekaar ingespan nie, dog ook vir die gooi van bomme. In 1914, toe reeds
besef is dat dit nuttig kan wees
om ’n bom uit die lug op stellings van die vyand neer te gooi, het die
Britse admiraliteit opdrag gegee dat 'n bomwerper vervaardig word. Hierdie
vliegtuig is ontwerp om ses bomme met 'n gewig van 45 kg elk te dra en
’n snelheid van omtrent 115 km/h te haal. Net
dertig jaar later het die Verenigde State van Amerika ’n
"superfort" in diens gehad wat duisende kilometers ver
kon vlieg en bomme kon dra wat elk meer as 9000 kg geweeg het. Die
eerste oorlogsvliegtuie kon nie bra vinniger as omtrent 112 km/h vlieg
nie. Geeneen van die vliegtuie van die Eerste Wêreldoorlog kon ook baie
ver vlieg nie. Daar is toe gepoog om met die beroemde Zeppelin skade ver
agter die vyandelike linies aan te rig. Hierdie
lugskip is gestuur om bomme op fabrieke en verbindingslinies te gaan gooi,
maar hy was nie baie doeltreffend nie. Met die verbetering van die
masjiengewere en die lugdoelkanonne is baie van hierdie lugskepe
vernietig. In die Tweede Wêreldoorlog is hierdie soort lugmonster nooit
eens gebruik nie, want hy sou ’n baie kort lewe gehad het teen die
moderner wapens wat teen vliegtuie gebruik is. Ná
die einde van die oorlog van 1914-’18 het geen jaar verbygegaan sonder
nuwe ontwikkelings in die vliegkuns en vliegtuigontwerp nie. |
|||