Paul Kruger met Boerekrygers op diie agtergrondOom Paul

Gebeurtenisryke lewe van die legendariese pres. Kruger van die ou Transvaal

 

 

Hy het alles veil gehad vir sy mense en die burgers in die veld. Maar as ’n ou man het hy verkies om eensaam in die vreemde te sterf—eerder as om ’n onvrye leier in sy verslane land te bly…

 

 

 

 

 

S

Y volle name was Stephanus Johannes Paulus Kruger. Sy titel: die president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal). Maar vir sy mense was hy bloot Oom Paul. Getrou aan die Boeretradisie om ouer mans in die gemeenskap as “oom” aan te spreek, het sy volk hom met die hoogste agting bejeën, maar hom ook as die geliefde raadgewer beskou.

 

Paul Kruger
BO: Paul Kruger, president van die Z.A.R. (Transvaal).

En tot vandag toe is sy wyse uitsprake enigsins legendaries. Komende van ’n man wat slegs drie maande formele skoling gehad het en wie se eintlike skool maar net die veld was.

 

Die forse Paul Kruger (1825-1904), wat in sy lewe vier keer tot staatspresident van die Z.A.R. verkies sou word, is volgens die meeste bronne op 10 Oktober 1825 gebore op Bulhoek, sy oupa se plaas in die distrik Steynsburg, naby Cradock in die Kaapkolonie. Hy het op die plaas Vaalbank grootgeword, en sy meester in sy kort skoolloopbaan was ene Tielman Roos.

 

Volgens navorsing deur prof. C.J. Uys van die Vrystaatse Universiteit was Kruger egter nie by Steynsburg gebore is nie, maar op die plaas Zoutpansdrift, naby Venterstad. Sy aanvaarde geboortedatum kan dalk ook foutief wees.

 

HandtekeningHoe ook al, Paul was van Pruisiese oftewel Duitse afkoms en hy het self sy van Krüger geskryf, met ’n umlaut op die u volgens die Duitse manier. Sy oupa se oupagrootjie was die Kruger-stamvader Jacob Kruger, gebore naby Berlyn, wat in 1713 as soldaat in diens van die V.O.C. in die Kaap aangekom het.

 

(Terloops, talle Afrikaners het in der waarheid Duitse stamvaders, hoewel skrywers dikwels in die verlede slegs na die Boere se Nederlandse en Franse herkoms verwys het—die “nageslag van Geus en Hugenoot”, soos daar oor hulle geskryf is. Daar is mense wat voel dat hierdie wanvoorstelling lankal reggestel moet gewees het.)

 

Paul Kruger was die derde kind van sy pa, Casper (of Kasper) Jan Hendrik Kruger, en sy ma, ’n nooi Elsie Francina Steyn. Pa Casper en sy gesin het hulle by die trekgeselskap van Hendrik Potgieter aangesluit toe die Groot Trek in 1836 begin. Paul was toe skaars tien jaar oud.

 

Maar in die pionierswêreld van daardie tyd moet die jong Kruger gou leer om op eie bene te staan. In een van sy vroeë jagondervindings sny hy selfs onverskrokke sy eie duim af nadat dié verbrysel is toe sy geweer bars. En op vyftien word hy reeds as volwaardige burger erken in die land anderkant die Vaal, waar die Krugers hulle gaan vestig het. Paul is nog maar sestien toe hy reeds tot assistent-veldkornet gekies word.

 

Op ’n haas ewe jeugdige sewentienjarige leeftyd trou hy met Maria du Plessis, wat egter in 1946 saam met hul seuntjie sterf, waarskynlik aan malaria.

Hy hertrou in 1847 met Gezina du Plessis, en uit hul lang huwelik word sestien kinders gebore (nege seuns en sewe dogters), maar sommige van hulle sterf ook as klein kindertjies.

Tant Gezina en Oom PaulREGS: Tant Gezina en Oom Paul.

 

PAUL KRUGER en sy Gezina vestig hulle op die plaas Waterkloof, naby Rustenburg in Transvaal. Die dapper, byna vreeslose, maar ook ver­standige jong man wek vroeg reeds die openbare belangstelling—“ ‘n Boer sonder grootdoenery, genaakbaar vir die armste en eenvoudigste, maar met ’n kragtige lewensbeskouing en ’n onwrikbare geloof in God,” soos iemand hom beskryf het.

 

Elf jaar ná sy verkiesing tot assistent-veldkornet word hy volle veldkornet, ’n belangrike amptenaar wat in sy wyk die landdros moet verteenwoordig. Hy het byvoorbeeld militêre, administratiewe en regterlike pligte—kortom, hy moet die orde in sy wyk handhaaf.

 

Maar Kruger is eintlik vir veel groter dinge bestem. ’n Rukkie later word hy volksraadslid en kommandant, wat hom in gevegte met naburige inheemse groepe onderskei. Hy verwerf algemene bekendheid nadat hy in groot lewensgevaar die lyk onder koeëls gaan weghaal het van kmdt.-genl. Piet Potgieter, wat deur onderdane van Makapaan in ’n geveg gedood was.

 

Makapaan was hoof van een van die vele stamme van die Amandebéle en was met sy mense in ’n grot vasgekeer toe Piet Potgieter tydens die beleg doodgeskiet is. Paul Kruger het doodsveragtend die Boere-aanvoeder se liggaam voor die grot gaan wegraap om te keer dat dit in die vyand se hande beland.

 

Dit is egter nie net op die slagveld dat Kruger hom onderskei nie. Die beginjare van die Boere-republieke van Transvaal en die Oranje-Vrijstaat is ’n tyd van verwarring en broedertwis, maar Kruger se takt en verhewe erns voorkom in 1857 ’n gewapende botsing tussen die Vrystaters en Transvalers aan die Renosterrivier.

 

Sy aansien en statuur styg in só ’n mate dat hy, toe hy skaars 35 jaar oud is, gekies word tot kommandant-generaal, dit wil sê die opperbevelhebber van die weermag van die Z.A.R.—die tweede burger in die land naas die president.

 

Reeds in 1872 word hy gevra om hom as president verkiesbaar te stel, maar hy wys die versoek van die hand. Ds. Thomas François Burgers word toe tot die tweede president van die Z.A.R. verkies, in opvolging van pres. Marthinus Wessel Pretorius.

 

Tydens die bewind van pres. Burgers annekseer Brittanje Transvaal vir die eerste keer en hierna speel Kruger ’n leidende rol om sy land se onafhanklikheid te herwin. Hy gaan twee keer as leier van afvaardigings na Engeland om vir vryheid te onderhandel. Toe Brittanje nie wil kopgee nie, word hy saam met M.W. Pretorius en Piet Joubert in die hoedanigheid van vise-president in die sogenaamde Driemanskap aangestel om vir die onafhanklikheid van Transvaal te veg.

 

Die sogenaamde Eerste Vryheidsoorlog breek aan die einde van 1880 uit toe die Transvalers daadwerklik optree om hul vryheid met wapengeweld terug te vat. Die Britse ingryping om die rebellie te stuit, word met soveel verset begroet dat vrede op 21 Maart 1881 gesluit word. Daarna word die Pretoria-konvensie aangegaan, wat later deur die Londense Konvensie geamendeer word.

 

Kruger word naamlik in 1883 tot president van die Zuid-Afrikaansche Republiek verkies en hy vertrek na Londen, waar hy deur die sluiting van die Londense Konvensie die Britse soewereiniteit oor Transvaal opgehef kry.

 

Tog is dit lank nie die einde van die Britse betrokkenheid by die Boere nie. Die Britse regering, wat die magtige Britse Ryk van destyds beheers, wil graag ook die ganse Suidelike Afrika onder sy beheer kry, maar die twee Boere-republieke staan in sy pad.

 

Die imperialiste van die groot wêreldmoondheid word finaal oortuig dat Brittanje die hele gebied móét besit toe die rykste goudneerslae op aarde aan die Rand ontdek word. Kruger-hulle besef hier kom groot moeilikheid. Soos ’n ou Transvaler vroeg-vroeg al weeklaag: “Die ontdekking van die Witwatersrandse goudvelde is die eerste bylslag aan die wortel van ons onafhanklikheid.”

 

Die begin van die goudmynbedryf in 1886 en die stigting ’n jaar daarna van Johannesburg (wat die middelpunt van die bedryf  sal word) laat ’n magtige stroom immigrante, meestal Britte, op Transvaal toesak. Spoedig is hulle selfs meer as die Boere.

 

Om die beheer te behou weier Kruger en sy Boere dat die sogenaamde “Uitlanders” seggenskap in die Transvaalse regering kry. Dit is water op die meul van die Britse ekspansioniste (diegene wat die Britse ryk wil uitbrei).

 

Wat die ekspansioniste die “onvermydelike” oorlog met die Boere noem— en wat as die Anglo-Boereoorlog of Tweede Vryheidsoorlog bekend sal staan—breek in 1899 uit.

 

OOM PAUL ken die mag van Brittanje en probeer eers alles binne sy vermoë om die oorlog te keer, dog tevergeefs. Maar toe die Boere noodgedwonge die wapens moet opneem, is hy onversetlik. Kom wat wil, sy volk sal tot die bitter einde vir hul vryheid veg.

 

Al is hy nou reeds ’n bejaarde man van 74, laat hy sy invloed wyd en syd in die oorlog geld. Aan die front bedien hy die bevelvoerders met raad en spoor hy die burgers aan op alles in die stryd te werp. In Pretoria is Oom Paul dag en nag op kantoor.

Karikatuur van Paul Kruger wat in 1899 in ’n Britse tydskrif verskyn hetBoerse statigheid?

REGS: In Brittanje is die Boere dikwels as ’n ongesofistikeerde en ruwe spul agtervelders beskou  (hoewel die Britse eggo’s nogal seergemaak is omdat die einste “agtervelders” die magtige Brittanje so lank in ’n oorlog kon besig hou). Maar soms is tog met ietwat ander oë na die Boere gekyk—soos in hierdie spotprent van Paul Kruger wat in 1899 in ’n Britse tydskrif verskyn het. Daar is wel ’n mate van sofistikasie in dié koddige voorstelling en dalk ’n erkenning van Oom Paul se godsvresendheid deurdat hy met ’n Bybel in die hand uitgebeeld word. Of hoe moet ’n mens hierdie karikatuurtekening interpreteer?

Uiteindelik kan die Boere-republieke egter nie staande bly teen die Britse oormag wat soos ’n onstuitbare golf oor die land spoel nie. Die skrif is aan die muur. Kruger is verplig om afskeid te neem van Pretoria, en ook sy siek vrou agter te laat, en na Oos-Transvaal uit te wyk.

 

Die gevaar raak nietemin al hoe groter dat hy as krysgevangene in die Britse hande kan beland. Om te keer dat dit gebeur, maar ook sodat hy by die groot Europese moondhede kan gaan pleit om die Boere te help, besluit die Republikeinse regering in September 1900 om hom na Europa af te vaardig.

 

Hy vertrek in November 1900 soos ’n banneling na die vreemde. Hy reis met die skip die Gelderland, wat deur koningin Wilhelmina van Nederland tot sy beskikking gestel is.

 

Maar hoewel Kruger oral in Europa geesdriftig ontvang word, raak dit duidelik dat die Boere geen hulp vir hul groot verknorsing vanuit hul Europese stamlande kan verwag nie. Hy besluit om as banneling in Europa te bly en vestig hom uiteindelik in Clarens, Switserland. Hier moet hy vrede maak met die dood van sy geliefde vrou van soveel jare, Tant Gezina, en met die nuus van die Britse oorwinning oor die Boere in 1902.

 

Krugerhuis in Clarens, SwitserlandREGS: Die huis in Clarens, Switserland, waar pres. Kruger as banneling vertoef het totdat hy oorlede is.

 

Foto: Afrikaanse Kinderensiklopedie

 

Oom Paul bly in eensaamheid woon in Clarens, in die geselskap van slegs ’n klein familiegroep, totdat hy op 14 Julie 1904 daar in die vreemde sterf. Sy stoflike oorskot word met die Batavier VI na Suid-Afrika gebring en op 16 Desember 1904 by dié van sy vrou in Pretoria se ou kerkhof begrawe.

 

Minder as twee weke voordat hy siek word, stuur die ou president sy laaste boodskap aan sy verslane volk, soveel duisende kilometer ver van hom aan die ander kant van ewenaar. Die boodskap, in Nederlands,  bevat Oom Paul se bekende woorde, wat hieronder deur ons in Afrikaans vertaal word:

 

“Soek in die verlede alles wat goed en mooi is, wat daarin te ontdek is, vorm u ideaal daarna en probeer om daardie ideaal in die toekoms te verwesenlik.”

 

Wyse woorde van ’n legendariese persoonlikheid... een van die heel grootstes in ons geskiedenis.

 •  Oom Paul se destydse huis in Pretoria is nou die Krugerhuis-museum, waaroor in ’n ander artikel op die Mieliestronk-werf meer vertel word. Daar is ook ’n foto van die huis by daardie artikel. Bekende plekke wat na die ou president genoem is, is die Nasionale Krugerwildtuin en Krugersdorp.

Die standbeeld van pres. Paul Kruger op Kerkplein, Pretoria
BO: Die standbeeld van pres. Paul Kruger op Kerkplein, Pretoria.

Foto deur Georgio,

wat dit op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web geplaas het. Kopiëring, verspreiding en/of wysiging word vergun ingevolge die bepalinge van die lisensie GNU Free Documentation License, Weergawe 1.2 of enige latere weergawe soos deur die Free Software Foundation gepubliseer, sonder Invariante Dele, geen Voorbladtekste en geen Agterbladtekste. 'n Kopie van hierdie lisensie is vervat in die afdeling getiteld "GNU Free Documentation License".
  

Leeu in die Nasionale Krugerwildtuin

BO: ’n Leeu in die Nasionale Krugerwildtuin. Die wildtuin, wat na pres. Kruger genoem is. is geleë in die ooste van Suid-Afrika, in die provinsies Limpopo en Mpumalanga.
 
Met ’n oppervlakte van 18
.989 vk. km is die Krugerwildtuin een van die grootste wildtuine ter wêreld. Trouens, dit is nie veel kleiner as die staat Israel met sy 20.770 vk. km nie. Maar terwyl Israel meer as sewe miljoen mense huisves (7.112.359, volgens ’n raming vir Julie 2008), is derduisende wilde diere in 2007 in ons Krugerwildtuin getel, waaronder 31.000 buffels, 90.000 impalas en 25.000 bontsebras, om maar net sekere van die talrykste soogdiere te noem.
 
Die Krugerwildtuin het gegroei uit onder meer die Sabie-wildreservaat, wat in 1898 deur pres. Kruger in die lewe geroep is om die jag te beheer en die verminderende dierebevolkings in die gebied te beskerm. In 1926 is Sabie, die Shingwedzi-wildreservaat en sekere plase saamgevoeg en om die Nasionale Krugerwildtuin te vorm. Die wildtuin het sy eerste besoekers in 1927 ontvang.

 

Foto: Thomas A. Hermann / NBII.Gov  (“Public domain”)

Krugerpond uit 1898 Krugerrand

Z.A.R.-sjieling

LINKS BO: ’n Goue Krugerpond uit 1898.

REGS BO: In navolging van die goue ponde wat in die ou Z.A.R. gemunt is, het Suid-Afrika jare later ook die baie gesogte goue Krugerrand begin uitreik waarvan een hier verskyn. Oom Paul se kop verskyn eweneens op die kruis of voorkant van ons Krugerrande, net soos op die Krugerponde van destyds. Die eerste Krugerrande is in 1967 gemunt om Suid-Afrika se goud te help bemark. Só ’n munt is ’n wettige betaalmiddel in ons land, dog is nie werklik bedoel om as geld gebruik te word nie, maar eerder as ’n belegging.

REGS HIERBO: Paul Kruger se kop op ’n ou Z.A.R.-sjieling. ’n Mens kon twintig silwer sjielings vir ’n goue pond inruil.
 

  
Paul Kruger soos hy in 1980 op ’n Suid-Afrikaanse posseël uitgebeeld is

BO: Paul Kruger soos hy in 1980 op ’n Suid-Afrikaanse posseël uitgebeeld is. Die tyd dat ou Afrikanerleiers amptelik só vereer word, is egter verby.


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad