Wat is die verskil tussen skrif en bv.
die tekeninge van die San?

 

   WIGSKRIF en HIËROGLIEWE  
 

Die ontstaan van skrif

 

Spykerskrif of wigskrifREGS: Spykerskrif of wigskrif, die skrifsisteem wat in die Midde-Ooste in die destydse Mesopotamië ontstaan het. “Ware” skrif, of fonetiese skrif, het onafhanklik in vier beskawings op aarde ontwikkel, te wete Mesopotamië, China, Egipte en Mesoamerika. Maar dit was die hiërogliewe van die ou Egiptenare wat ’n kardinale invloed op ons  skrifgeskiedenis gehad het, word vertel, soseer dat hulle uiteindelik ons eie alfabet geïnspireer het. Die wigskrif wat deur die Sumeriërs in Mesopotamië ontwikkel is, kon ook ’n sekere rol in hierdie verband gespeel het, maar navorsers reken tans dit was nie so instrumenteel nie. Nogtans is wigskrif vir ons belangwekkend omdat dit ’n produk was van die Midde-Ooste waar ook ons Bybel, die Heilige Skrif, ontstaan het. Dat die ou Sumeriërs wel hul besondere deel gedoen het om die kultuur van skrif te vestig, kan nie ontken word nie.

 

Krediet: Grafiese voorstelling uit Afrikaanse Kinderensiklopedie (ietwat gewysig)

 

Jy gryp ’n pen of potlood en maak ’n vlugtige aantekening—sonder om ’n oomblik te dink aan alles wat hierdie eenvoudige handeling van jou voorafgegaan het. Want baie duisende jare lank het die mense niks van skryf geweet nie. Of dalk het hulle vroeg-vroeg en baie vaagweg iets geweet, maar nie regtig nodig gehad om op hierdie wyse te kommunikeer nie. Maar toe kom mense in verskillende ou beskawings vorendag met briljante idees oor skrif... volkere soos die ou Sumeriërs van Mesopotamië en die ou Egiptenare. En dit was idees soos dié wat die wêreld dramaties sou verander...
 


D

IE weer is guur en die see onrustig aan die suidkus van die massiewe Donker Vasteland. Daarom dat die groep strandbewoners hulle vir die dag teruggetrek het in hul grot in ’n krans hier vlak by die see.

 

Die kinders lê verveeld rond op gras wat hulle vantevore van buite af gebring het om kru beddens op die ruwe grotvloer te maak. Hiér soog een vrou ’n baba, dáár is ’n ander vrou besig om mossels met ’n skerp klip oop te wring en die inhoud te eet.

 

Knorrige mans sit in ’n kring en een van hulle dreunsing ’n eentonige lied, maar dit is nie duidelik of sy kamerade sy uitvoering begryp of selfs omgee om dit te verstaan nie. Weg van hulle, teruggetrokke in ’n hoek, is ’n ou patriarg egter besig met sy eie ding.

 

Hy graveer ’n patroon, ’n komplekse meetkundige motief, op stukkies oker. Wat wil hy daarmee bereik? Wat wil hy eintlik sê?

 

Ná vele duisende jare word sy produk of kunswerk of wat dit ook al was in die sogenaamde Blombos-grot aan die Indiese Oseaan sowat 300 km oos van Kaapstad uitgegrawe. En vir die wetenskaplikes wat met die vonds gemoeid is, beteken dit ’n wonderlike ding. Hoewel hulle nie weet wat die ou Suid-Afrikaner in die gryse verlede se bedoeling daarmee was nie, maak hulle ’n opspraakwekkende afleiding.

 

Volgens hulle is daar aanduidings dat die Middel-Steentydse mense wat die grot in ’n kalksteenkrans bewoon het—voordat die San of Boesmans nog hier was—minstens sewentig-, tagtigduisend jaar gelede ’n soort moderne bewussyn gehad, abstrakte denke geopenbaar en in ’n sintaktiese taal gepraat het. Dit lei hulle ook af uit gereedskap van been in die grot, asook uit skulpe wat geperforeer is om vermoedelik as krale ingeryg te gewees het—skulpe wat glo tienduisende jare ouer is as enige ander antieke persoonlike ornamente wat voorheen geïdentifiseer is.

 

Gegraveerde oker van die Blombos-grot

  
BO: Hoe verskil dit van skrif—die komplekse meetkundige motief op een van die stukkies gegraveerde oker wat in die Blombos-grot naby Stilbaai uitgegrawe is? Die opgrawings daar is van 1991 af gedoen deur Christopher Henshilwood, adjunk-professor aan die Staatsuniversiteit van New York, saam met onder andere die Iziko Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad.


Foto: Chris Henshilwood / persvrystelling deur OLPA / U.S. National Science Foundation

Die Blombos-grot

    
BO: Die Blombos-grot aan die Suid-Kaapse kus waar opgrawings merkwaardige vondste opgelewer het. 


Foto met vergunning van C.S. Henshilwood, National Geophysical Data Center / via U.S. NOAA

Ons beskrywing hierbo van die grotbewoners se doen en late is natuurlik slegs ’n verbeeldingsvlug oor hoe die mense destyds in die grot kon gelewe het. Maar die artefakte, insluitende die twee stukkies gegraveerde oker wat gevind is—al is hulle slegs sowat vyf en agt sentimeter lank—is daar vir almal om te sien. Hierdie okerstukkies is onskatbaar waardevolle reste waardeur die mense van vergange tye steeds met die moderne mens kommunikeer.

 

Skrif soos ons dit ken, was dit weliswaar nog lank nie. Maar dit is ook ’n goeie vraag presies watter pogings van die mens om êrens iets uit sy innerlike wese “neer te pen” nou eintlik as “skrif” beskou moet word en watter nie.

 

Is byvoorbeeld die rotstekeninge van ons San (Boesmans) dan nie op hul manier ook skrif as ’n mens verhale daarin kan “lees” en die tekenaar se bedoeling kan interpreteer nie? En wat van die uitbeeldings van wigwams en sonne en dinge van die Amerikaanse Indiane?  Die ewe impressiewe en ekspressiewe rotstekeninge van die Australiese aborigines?

 

Rotstekeninge, word gemeen, het in sulke kulture nou saamgehang met die mense se godsdiens, met hul belewenisse van die sin van alle dinge, hul manier van aanbidding en hul geloof. Indrukke is op iets konkreets verewig... en, nou ja, is dit dan nie maar wat skrif ook is nie?

 

Hoe ook al, “ware” skrif, of fonetiese skrif, het onafhanklik in vier beskawings op aarde ontwikkel, te wete Mesopotamië, China, Egipte en Mesoamerika.

 

Baie belangwekkend vir ons is die skrifsisteem wat in die Midde-Ooste in die destydse Mesopotamië ontstaan het. Daardie streek het ’n onberekenbaar gewigtige rol in die geskiedenis van die mens gespeel. Dit spreek byvoorbeeld boekdele dat ons Bybel, die Heilige Skrif, ook mettertyd in die Midde-Ooste geskryf sou word.

 

Maar uiters belangrik vir ons is die skrifsisteem van die ou Egiptenare, te wete die hiërogliewe. Trouens, die geskiedenis van die alfabet het juis in hierdie land van die farao’s begin, meer as duisend jaar nadat die geskiedenis van skrif begin het. Die eerste suiwer alfabet het omstreeks 2000 v.C. tot stand gekom om die taal van die Semitiese werkers in Egipte weer te gee. Dit is afgelei van die alfabetiese beginsels van die Egiptiese hiërogliewe. Die meeste alfabette wat vandag op die aarde bestaan, stam óf regstreeks af van hierdie ontwikkeling, byvoorbeeld die Griekse en Latynse alfabette, óf hulle is deur sy ontwerp geïnspireer.

 

Sowel die Mesopotamiese wigskrif as die Egiptiese hiërogliewe was goed bekend in daardie deel van die Midde-Ooste wat die eerste wyd gebruikte alfabet opgelewer het—dié van die Fenisiërs. Soos gesê, is die invloed van die hiërogliewe ook op ons moderne alfabette onmiskenbaar. Die wigskrif van die Sumeriërs kon ook ’n sekere rol in hierdie verband gespeel het, maar navorsers reken tans dit was nie so instrumenteel nie. Dat die ou Sumeriërs wel hul besondere deel gedoen het om die kultuur van skrif te vestig, kan nie ontken word nie.

 

Die wigskrif van Mesopotamië en die hiërogliewe van ou Egipte word dan ook verder in hierdie artikel in meer besonderhede bespreek. Die skrifsisteme van China en Mesoamerika is weliswaar ook baie interessant, maar om verstaanbare redes het daardie wêrelddele nie juis die gang van ons eie skrifgeskiedenis beïnvloed nie.

 

 Wigskrif-opskrif

WIGSKRIF

(ook spykerskrif genoem)

 

MESOPOTAMIË was ’n uiters interessante wieg van skriftekens. En dit is danksy die antieke praktyk om met ’n stuk riet in klam kleitablette te skryf dat ’n menigte geskrifte uit daardie streek vir ons behoue gebly het. Die wigvormige tekens wat in die klei aangebring is, het ’n heeltemal nuwe era in die mens se geskiedenis ingelui.

 

Hierdie kleiskrywery is, soos gemeen word, die een of ander tyd rondom of ná 3300 v.C. deur die ou Sumeriërs bedink, ’n volk van die suide van Mesopotamië, in die land Sumer, in die teenswoordige Irak.

 

Nadat daar met die stiffies van riet op die nat klei geskryf was, is die kleitablette in die son neergesit om droog te word. Die klei kon hersirkuleer word indien dit nie nodig was dat ’n spesifieke geskrif blywend bewaar moes word nie. Andersins kon die kleitablette gebak word om hulle te laat verhard en die inskripsies daarop permanent te maak.

 

Dis juis te danke aan permanente voorbeelde van hierdie sogenaamde wigskrif of spykerskrif—wat die Sumeriërs uit ’n beeldskrif ontwikkel het—dat ons vandag weet hoe die taal Sumeries gepraat is. Dit is in der waarheid die oudste taal van die Midde-Ooste wat uit die Oudheid bewaar gebly het.

 

 Wigskrif op ’n bousteen in Ur

 BO: Wigskrif op ’n bousteen in Ur (of Urim in Sumeries). Ur was ’n stad in die antieke Sumerië, waar Tell el-Mukayyar in Irak vandag geleë is. Dit word deur baie mense beskou as dieselfde Ur van die Chaldeërs wat in Genesis 11 in die Bybel genoem word as die geboorteplek van die aartsvader Abram (Abraham).

 

Tersaaklike deel van ‘n foto deur “Unclefester89”, wat dit die Wikipedia-projek op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released into the public domain”)

 

Die Akkadiërs, wat omstreeks 2300 v.C uit die noorde gekom en die hele Mesopotamië, Sumerië ingesluit, verower het, het wigskrif uitgebou, terwyl die Assiriërs-Babiloniërs gehelp het om dit na ander beskawings oor te dra.

 

Die Sumeriese wigskrif het min of meer 1000 unieke tekens gehad—of sowat 1500 indien die variante bygetel word. Hierdie getal is in die begin van die Akkadiese optekeninge tot omtrent 600 verminder. Wigskrif het oor ’n tydperk van drieduisend jaar aansienlike veranderings ondergaan.

 

Dit bestaan uit ’n kombinasie van logofonetiese, konsonantaal alfabetiese en lettergrepige tekens. Die Sumeriërs het eers net skriftekens gebruik om konsepte in verskillende vorms voor te stel.  Die skrifgeleerdes van die Akkadiërs, wat hulle nie die moeite getroos het om hul eie skrifsisteem te ontwerp nie, het bloot die bestaande Sumeriese skriftekens vir hulself toegeëien. Hulle het dit óf foneties aangewend as ’n lettergreep in ’n woord óf die teken net so gebruik om die volledige woord of voorwerp aan te dui.

 

Inskripsies in wigskrif is nie net op kleitablette aangebring nie, maar ook op klippe en rotse uitgebeitel.

 

Maar dis interessant dat die mensdom later eeue lank nie meer geweet het hoe om wigskrif te ontsyfer nie—totdat die Engelsman sir Henry Rawlinson (1810-1895) dit in 1846 reggekry het. Op ’n krans van ongeveer 520 meter hoog by Behistoen in Persië is inskripsies in 500 v.C. in die tale Babilonies, Sumeries en Oud-Persies aangebring. Al die inskripsies was vir die destydse koning Darius I.

 

Die onverskrokke Rawlinson het hom op ’n lys van nagenoeg 30 cm breed en sowat 150 m hoog teen die krans begewe om die inskripsies te kopieer en met mekaar te vergelyk.

 

 Hiërogliewe-opskrif

HIËROGLIEWE

 

Die Nyl soos dit vandag lyk met ’n hiëroglifiese voorstelling van die Nylgod daarop ingelasREGS: Die Nyl soos dit vandag lyk met ’n hiëroglifiese voorstelling van die Nylgod daarop ingelas.
 

Foto van Nyl: BigFoto.com / Public Domain

 

 

DIE stelsel van hiërogliewe, wat in Egipte ontwikkel het en waarin klanke of begrippe deur prente weergegee word, verskil heeltemal van die Sumeriese wigskrif.

 

Skrifgeleerdheid was een van die hoë beroepe in ou Egipte en vir kinders was geletterdheid die sleutel tot ’n suksesvolle loopbaan. Leerlinge het leer skryf deur passasies van klassieke letterkundige tekste te kopieer en deur neer te skryf wat aan hulle gedikteer is. Daar is voortdurend op arbeidsaamheid gehamer.

 

Die antieke Egiptenare het ook papirus uitgevind, ’n papieragtige skryfmateriaal wat van dun stroke papirusriet gemaak is. Ongelukkig is papirus nie baie duursaam nie en het baie geskrifte verlore gegaan.

 

Die antieke Grieke het die eerste keer die term hiëroglief  gebruik (dit beteken “heilige kerfwerk”) vir die dekoratiewe skrif wat op Egiptiese monumente te sien was.

 

Egiptiese hiëroglifiese inskripsies bestaan uit twee basiese soorte tekens:  ideogramme en fonogramme. Ideogramme dui óf op die spesifieke voorwerp wat geteken is óf op iets wat naby in verband daarmee staan. So kan ’n prent van die son “son” of “dag” beteken.

 

Fonogramme, of klanktekens, is suiwer gebruik om klanke voor te stel en hou geen verband met die woord wat hulle weergee nie. Fonogramme kon een klank voorstel, of ’n kombinasie van twee of drie klanke in ’n spesifieke orde. ’n Teken kon in een woord as ’n ideogram dien en as ’n fonogram in ’n ander.
 

’n Paar hiëroglieftekens met, langsaan, die ooreenstemmende letters van die Romeinse alfabet

BO: ’n Paar hiëroglieftekens met, langsaan, die ooreenstemmende letters van die Romeinse alfabet.

 

Die meeste woorde is met ’n samevoeging van klank- en beeldtekens geskryf. ’n Prent van die vloerplan van ’n huis het wel “huis” beteken, maar wanneer dit deur ’n paar lopende bene gevolg is, het dit die werkwoord “uitgaan” gevorm.

 

Hierogliewe kon óf vertikaal óf horisontaal geskryf word, gewoonlik van regs na links.

 

Die Egiptenare het hierdie skrifstelsel omtrent drie millenniums lank gebruik—tot 394 n.C. toe die laaste inskripsie, sover bekend, gedoen is.

 

En daarmee is die kennis van die hieroglifiese era begrawe net soos die nalatenskappe van vele Egiptiese farao’s van weleer langs die Nyl onder die sand van die woestyn verdwyn het. Al het ou Romeine hul eie alfabet op ’n Egiptiese voorbeeld gegrond, was selfs hulle naderhand blykbaar oortuig daarvan dat die Egiptiese hiërogliewe bloot simbole was en nie klanke voorgestel het nie. Hierdie teorie is lank gehuldig.

 

Die deurbraak waardeur hierdie waanbegrip later die nek ingeslaan sou word, het eers in 1799 gekom. Dit was toe ’n soldaat in Napoleon se militêre veldtog in Egipte die sogenaamde Rosetta-steen gevind het—’n klip waarop inskripsies in 196 v.C. sowel in Grieks as hiëroglifiese en demotiese Egipties aangebring is. 

 

Die Rosetta-steenREGS: Die Rosetta-steen.

Foto: Probert Encyclopedia / Free pic

 

’n Nabyfoto van skrif op die Rosetta-steenLINKS: ’n Nabyfoto van skrif op die Rosetta-steen.

Krediet: NASA

 

 

Die betekenis van die raaiselagtige Egiptiese hiërogliewe kon dus uiteindelik vergelykenderwys uitgepluis word. Veral danksy die werk van die Franse Egitoloog Jean François Champollion is die Egiptiese skrifte later as voorstellings van klanke erken.

 

 Naskrif:  Hierdie artikel is saamgestel uit bronne wat soms lynreg met mekaar verskil en ons moes meermale ’n middeweg probeer vind.  Indien daar kenners van die antieke skrifte is wat ons kan help om die inligting so korrek as moontlik te kry, hoor ons baie graag van hulle: dugeot <BY> mieliestronk.com

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad