S
’n olieboortoring het die Deepwater Horizon beslis
sy staal getoon. In September 2009 nog het hy die
diepste oliebron in die geskiedenis geboor toe hy in
die see meer as tien kilometer ondertoe getonnel
het. Hy sou wel deeglik sy deel doen om die wêreld
se alewige dors na olie te help bevredig.
Die
oliebron wat geboor is, is in die ekologies
sensitiewe Golf van Mexiko by Amerika. Die
olieboortoring is in 2001 in Suid-Korea gebou en aan
die oliereus BP verhuur tot 2013. Daar was blykbaar
ook geen duidelike gevaartekens op die horison dat
die Deepwater Horizon hierdie wêrelddeel spoedig in
baie diep water sou laat beland nie.
Maar toe,
op 20 April 2010, terwyl die Deepwater Horizon besig
is om ’n nuwe olieput in die Golf te boor, ruk ’n
verwoestende ontploffing die olietoring. Elf
bemanningslede word gedood, nog sewentien is beseer.
Verbete pogings om die daaropvolgende brand te blus,
is vergeefs. Die Deepwater Horizon sink.
En
nou is die ru-olie wat oor lange eeue deur
gesteentes onder die seebodem ingeperk is,
ongebreideld besig om onder groot druk uit die bron
te stroom—vanuit sowat 3000 meter onder die seevlak.
Katastrofe! Dit word die grootste oliestorting nog
vanuit die see op die strande van Amerika. Duisende
mense werk dag en nag om die gemors te probeer
skoonmaak van ’n geraamde 3,2 miljoen tot 6,4
miljoen liter ru-olie wat daagliks in die see
uitgeblaas word. Vissers en ander mense wat van die
see afhanklik is, staar ondergang in die gesig. En
wat die dik, smerige gemors aan die seelewe doen, is
hartverskeurend.
Pogings om die vloei te stuit deur op die een of
ander manier die oliebars toe te prop, werp nie juis
vrugte af nie. Dit is geweldig moeilik, gesien die
diepte waarop die gedoen moet word, en die
BP-oliemaatskappy sit met seker die taaiste,
swartste tameletjie in sy bestaan. Hy kan boonop met
’n horde eise gekonfronteer word van mense en
ondernemings wat groot skade gely het.
Intussen is opruimers naarstiglik besig om honderde
kilometers strande, vleilande en riviermondings aan
die noordekant van die Golf van Mexiko te probeer
beveilig. Daar is skepe wat olie probeer wegskep uit
die drywende oliekol van etlike duisende vierkante
meter. Daar is vliegtuie wat uitvlieg om die see te
bespuit met ’n chemikalie wat die olie kan opbreek.
Daar is drywende versperrings waarmee gepoog word om
van die olie op die see in te dam. En daar is
sand-verskansings langs die kus.
Ten
tyde van die skrywe hiervan was die uiteinde van die
geweldige ramp nie in sig nie. Die wêreld het asem
opgehou van wat kan gebeur as die massiewe stroom
olie nie gekeer kan word nie. Daar is selfs gesê dat
die uitstroming tot in Augustus kan aanhou—met
onberekenbare en bes moontlik onherstelbare skade
aan die lewende organismes in die oseaan en op land
op die drumpel van die see.
|
Opdatering middel-Julie 2010: Op 15
Julie het BP gesê dat die lek geseël is.
Werk om die oliebron permanent te sluit,
was steeds aan die gang. |
BO: Droewig besmeer deur olie
van die Deepwater Horizon-katastrofe,
wag hierdie pelikane op simpatieke mense wat
hulle sal kom skoonmaak.
Foto:
International Bird Rescue Research Center
(by Flickr op die
wêreldwye web uitgeplaas en gelisensieer ingevolge
die
Creative Commons
Attribution 2.0 Generic-lisensie,
waarvolgens hergebruik op sekere voorwaardes vergun
word)

BO: ’n See-anemoon in die Golf van Mexiko…
hoeveel van die unieke seelewe in hierdie deel
van die wêreld is reeds deur die oliestorting
uitgewis?
Foto: U.S. National Oceanic and Atmospheric
Administration