- Die Nommerpas-speletjie is besig om
die wêreld te verower. Dit is al selfs dié speletjie van die 21ste
eeu genoem. Kyk maar byvoorbeeld hoe is Europeërs deesdae ook op
die treine besig om te krabbel en te dink dat die breinvonke so
spat!
- Hierdie
Java-program stel Nommerpas-liefhebbers in staat om ingewikkelde
syferroosters op te los (moet egter nie toelaat dat dit jou pret om
dit self te doen te veel bederf nie!). Klik op "Wis uit" en tik die leidrade
presies in soos dit in ’n nommerraaisel in jou koerant of ander
publikasie verskyn. Klik dan op "Los op"... en die oplossing
behoort blitsig te verskyn.
-
Klik hierna twee keer op "Wis uit" as jy die rooster wil
skoonmaak om weer te begin. Om slegs een letter uit te wis, klik
’n mens op
die letter en dan tik jy die spasiebalk op jou toetsbord.
- Die program kan stellig ook met vrug deur
opstellers van Nommerpas-raaisels gebruik word. Klik eenvoudig
op
"Wis uit", tik jou leidraad-syfers rond en bont van 1 tot
9 in soos jy hulle gespasieer wil hê vir ’n billike nommerraaisel— en kyk wat is die resultaat as jy op
"Los op" klik. As die program nie in staat is om ’n oplossing te skep nie, sal hy vir jou so sê (ongelukkig in Engels,
maar dit kon ons nie verander nie!)
- Druk om die beurt die nommerraaisel en die
oplossing op jou drukker uit en kyk dan hoe vaar jy teen jou eie
uitdaging!
WAARSKUWING: Moet egter NOOIT teen die reëls
van die spel ingaan en dieselfde syfer meer as een keer in enige
reguit lyn regop of dwars op die rooster invul nie. Moet dit ook nie
in enige van die nege groter vierkante doen nie. Die herhaling kan
die blikbrein mateloos verwar. Alles kan miskien selfs oombliklik stagneer en dan sit jy met
die gebakte pere deurdat jou blaaier
("browser") vries. Die gevolg sal wees dat jy sal moet
herlaai... alles weer heeltemal van voor af sal moet doen.
-
Daar
word aanvaar dat jy vertroud is met die reëls van Nommerpas. Indien
nie, verg dit ongelukkig ’n taamlik ingewikkelde verduideliking op
skrif, al is die beginsel glad nie so ingewikkeld nie. Die basiese
reëls is darem as volg:
-
Geen
syfer van 1 tot 9 mag meer as een keer in ’n dwars ry gebruik word
nie.
-
Geen
syfer van 1 tot 9 mag meer as een keer in ’n regop ry (vertikale
ry) gebruik word nie.
-
Geen
syfer van 1 tot 9 mag meer as een keer in enige van die nege
verskillende groter vierkante gebruik word nie.
-
Deur
prosesse van uitskakelings en afleidings moet jy dan die rooster
volledig invul.
-
Die beste bly
egter nog om touwys gemaak te word deur iemand anders wat wel die
speletjie ken.
|