Noord-Korea
|
|
|
SUID-KOREA is geen onbekende land vir Suid-Afrikaners nie. Talle Suid-Koreaanse motors prut-prut
mos darem orals op ons paaie rond en, as ’n mens
aan dié land dink, sien jy dadelik ’n voorspoedige Oosterse
vryemark-staat voor jou geestesoog. As
een van die Vier Tiere van Oos-Asië het Suid-Korea in die afgelope
dekades verstommend gegroei. Trouens, sy ekonomie kan vandag selfs met
dié van die minder vermoënde lande in die Europese Unie vergelyk word,
en sy mense se lewenspeil is sewe keer hoër as dié van die massas van
Indië. Boonop
is omtrent een uit elke vier Suid-Koreane deesdae ’n Christen, en
dit laat talle Suid-Afrikaners kennelik aanvoel dat daar ’n
ekstra band tussen ons bestaan.
Maar Noord-Korea, wat op 9 Oktober 2006 sy eerste eksperimente kernbom laat ontplof het, lê kort-kort oorhoop met die vrye wêreld oor sy einste kernarsenaal. Net wanneer almal dink hy hou hom by sy ooreenkoms om sy kernwapenprogram te laat vaar, laat hy weer almal wonder presies waarom hy skielik internasionale kernkrag-inspekteurs verbied om die aftakeling van sy kernwapeninstallasie verder te inspekteer. Anerika het nietemin in 2008 besluit om Noord-Korea af te haal van sy lys state wat terrorisme bevorder. Streng sanksies word toegepas teenoor die lande op daardie lys, en die skrapping van Noord-Korea se naam baan die weg vir beter betrekkinge. As die brose vrede net kan hou... Oorgenoeg rede om Noord-Korea ’n slag van naderby te beskou en die vrae te beantwoord veral van mense wat die historiese agtergrond van hierdie stokou konflik nie ken nie. ••• •• • • • • • • • • ONINGELIGTES
sal seker heel eerste wil weet: waarom is daar dan twee Koreas? Eintlik
kan alles teruggevoer word na die Tweede Wêreldoorlog toe Duitsland,
Italië en Japan teen feitlik die hele res van die wêreld gebaklei het. Die
Koreaanse Skiereiland het, met die einde van die oorlog in 1945, ná 35
jaar van Japanse anneksasie onafhanklik geword. Die eeue voor dit is
gekenmerk deur ander besettings, onder meer deur China, soos wat
verskillende lande Korea as ’n trapklip gebruik het om mekaar militêr
by te kom. Pleks
van ná die Wêreldoorlog ’n enkele verenigde land te word, is dit
egter in twee dele opgesplits. Die Noorde, wat deur troepe van
Sowjet-Rusland beset is, het Kommunisties geword. Die Suide, waar
Amerikaanse soldate hulle ingegrawe het, het dié lot gespaar gebly.
En dis hierdie verdeling waarin daar soveel dekades daarna steeds die
kiem sou skuil van ’n broedertwis wat katastrofale gevolge vir die hele wêreld
sou kon hê. Maar
presies waar en wat is Noord-Korea? ’n Vlugtige kykie na die land se
ligging en ander statistieke is ook nodig om die hele situasie beter te
begryp... ••• •• • • • • • • • • NOORD-KOREA,
amptelik die Demokratiese Volksrepubliek van Korea, lê in Noordoos-Asië—in die noordelike deel van die Koreaanse Skiereiland. Dit word aan
die noordekant begrens deur China, aan die noordooste deur Rusland, aan
die ooste deur die See van Japan, aan die suide deur Suid-Korea en aan
die weste deur die Geel See. Dis
’n klein landjie—met sy skamele 120 410 vk. km sal daar omtrent tien
Noord-Koreas in Suid-Afrika kan inpas. (Suid-Korea is selfs kleiner met
’n landoppervlak van 98 190 vk. km.) Noord-Korea se hoofstad en
grootste stad is Pjongjang. Hierdie
uiters bergagtige land word ook deur diep en smal valleie gekenmerk.
Laagliggende valleie beslaan net sowat een vyfde van die totale
landoppervlak en is grootliks beperk tot die weskus en verskeie breë
riviervalleie in die weste. Dié riviervalleie bevat vrugbare
spoelgrond, teenoor die meestal arm en betreklik onvrugbare grond in die
berge. Noord-Korea
het ’n kontinentale klimaat, met warm somers en koue winters. Dit
verskil van die gematigde tot subtropiese klimaat van Suid-Korea. Keëldraende
bome kom in uitgestrekte woude in die bergagtige binneland van
Noord-Korea voor. Inheemse diere soos luiperds, tiere, herte, bere en
wolwe raak ál skaarser.
Volgens oorlewering het hulle reeds in 2300 v.C. hul eie beskawing gehad. Wat ook al die waarheid is, die Koreane is inderdaad ’n antieke volk, wat van sowel die Chinese as die Japanners verskil. Hulle is vermoedelik afstammelinge van Mongole én Kaukasiërs. Volgens
’n raming in 2008 woon byna 23 en ’n halwe miljoen mense in Noord-Korea
(teenoor iets meer as 48 miljoen in Suid-Korea). Die gemiddelde bevolkingsdigtheid in
die Noorde is meer as 180 per vk. km, maar die bevolking is baie ongelyk
versprei en bewoon veral die laagliggende vlaktes in die weste. Sestig
persent van die totale bevolking is ’n tyd gelede reeds as stedelinge geklassifiseer. Die
landstaal is Koreaans, wat van Chinees en Japannees verskil en in ’n
fonetiese skrif geskryf word. Die alfabet van 24 letters word reeds meer as
500 jaar gebruik. Interessant genoeg het die Koreane reeds los
drukletters uitgevind jare voordat die Europeërs los metaalletters vir
drukwerk begin giet het. Godsdiensvryheid
word in Noord-Korea deur die grondwet gewaarborg, maar in die praktyk
word godsdiensbeoefening ontmoedig en sowat twee derdes van die mense
hang geen godsdiens aan nie. Dit maak die kloof tussen hulle en hul
suidelike verwante (van wie, soos reeds gesê, heelparty boonop Christene
is) des te wyer. Die
Koreaanse Sentrale Nuusagentskap, wat deur die regering beheer word, is
die hoofbron van nuus in Noord-Korea. Daar is verskeie dagkoerante,
asook radio-uitsendings, terwyl die land in 1969 televisie gekry het. Maar die internet is taboe—of ten minste volgens beskikbare inligting. Soos een ontleder dit stel: “Die leierskap kan dit mos nie bekostig dat die volkskamerade te veel weet wat in die buitewêreld gebeur nie. Amptelik kan hulle redeneer dis om die mense te vrywaar van 'dekadente Amerikaanse invloede', maar daarmee word die massas totaal onkundig gehou oor die groener weivelde van die vrye mark.” ••• •• • • • • • • • • MET
SY streng gesentraliseerde Kommunistiese regering is Noord-Korea
prakties ’n diktatuur. Voor die dood van Kim
Il
Soeng in 1994, was die uitvoerende mag gesetel in ’n president, wat die
staatshoof was, en ’n premier, wat tegnies aan die spits van die
regering gestaan het. Kim
Il
Soeng het sy seun Kim Djong
Il
as sy opvolger aangewys, maar dié het nie die presidentskap oorgeneem
nie. Ingevolge ’n wysiging van die grondwet in 1998 sou die
voorsitterskap van die Nasionale Verdedigingskommissie, ’n posisie wat
deur Kim Djong
Il
beklee word, as Noord-Korea se hoogste amp beskou word. Die
wetgewende mag berus in teorie by die Opper-Volksraad met 687 lede wat
regstreeks vir vier jaar verkies word. Die raad vergader in die reël
net ’n aantal kere per jaar, terwyl sy daaglikse pligte deur ’n staande
komitee behartig word. Noord-Korea is in nege provinsies, drie spesiale stede en een spesiale distrik ingedeel. Die Koreaanse Werkersparty, die dominante politieke party, beheer ook die weermag. Maar die rigiede, gesentraliseerde (staatsbeheerde) ekonomie se fondamente is al ’n hele tyd lank aan die verkrummel. Ná die stigting van die Demokratiese Volksrepubliek in 1948 is alle nywerhede genasionaliseer en die landbou gekollektiviseer. Dog hier in die eerste dekade van die 21ste eeu het Noord-Korea te kampe met ernstige ekonomiese probleme. Die grootste gedeelte van die land se buitelandse handel in die 1970's was met die Sowjet-unie, China en ander Kommunistiese lande. Sedertdien is die handel egter gediversifiseer om ook nie-Kommunistiese lande in te sluit. Minerale, metale, rys en vis is die vernaamste uitvoerprodukte. Belangrike invoerprodukte is petroleum, steenkool, chemikalieë en masjiene. Noord-Korea het rede om verlig te voel dat Amerika hom van sy lys lande geskrap het wat terrorisme sou bevorder—en die opheffing van ekonomiese sanksies wat met die skrapping gepaard sou gaan. DIE
DEMOKRATIESE Volksrepubliek van Korea
is op 9 September 1948 in Pjongjang gestig, maar ’n
betekenisvoller begindatum is straks 29 Augustus 1946, toe die
Noord-Koreaanse Kommunistiese Party, bekend as die Koreaanse
Werkersparty, onder die leierskap van Kim Toebong en Kim Il Soeng tot
stand gekom het. Hoewel Kim Il Soeng vroeg-vroeg as die vernaamste leier na vore getree het, moes hy met ander om die top-posisie meeding. Kim Toebong en ander moontlike teenstanders is egter teen die einde van die 1950’s geëlimineer, wat Kim Il Soeng met die onbetwiste beheer gelaat het. Die
Koreanse oorlog (1950-'53)—waarin ook soldate van Suid-Afrika geveg
het— was ’n uitvloeisel van die Kommunistiese ekspansiepolitiek ná
die Tweede Wêreldoorlog. Dit is gevoer tussen Suid-Korea en die
Verenigde Nasies aan die een kant, en Noord-Korea en die Kommunistiese
China aan die ander. Die oorlog het op 25 Junie 1950 uitgebreek, met
’n Noord-Koreaanse inval in Suid-Korea. Die
konflik het begin by die weiering van Sowjet-Rusland ná die Tweede Wêreldoorlog
om ’n verenigde Korea tot stand te laat kom deur middel van vrye
verkiesings onder toesig van die Verenigde Nasies. Twee republieke het
gevolglik ontstaan wat deur die aarde se 38ste breedtekring van mekaar
geskei word—’n verdeling net soos in Duitsland waar die Sowjet-unie
jare lank aan sy beheer oor die oostelike deel bly kleef het. Met
Sowjet-Russiese steun het Noord-Korea toe ’n weermag opgebou wat baie
sterker as dié van Suid-Korea was. Noord-Koreaanse leiers het blykbaar
gedink dat Amerika vanweë sy destydse buitelandse beleid nie sou ingryp
nie. Voorts het hulle gereken dat die Verenigde Nasies magteloos sou
wees. Deur Suid-Korea te verower, sou die Kommuniste die hele
strategiese Koreaanse Skiereiland beheer, wat ’n brug tussen Japan en
die Asiatiese vasteland vorm. Maar
weens die ingryping van Amerika en die Verenigde Nasies het die oorlog
met ’n wapenstilstand geëindig. Ofskoon daar geen afdoende militêre
oorwinning aan enige kant was nie, is tog gekeer dat die aggressors in
hul doel slaag. In
die res van die twintigste eeu sou daar verdere staatkundige woelinge
wees waarby altwee Koreas betrek is, maar die droom van Koreaanse
eenwording het lewend gebly in die hele Koreaanse Skiereiland. Die
hemelsbreë
ideologiese kloof tussen Noord en Suid het dit egter steeds slegs ’n
droom laat bly. Aan die einde van
die intense spanning van die Koue Oorlog het Noord-Korea
in 1992 selfs sy verdrag met die Internasionale Atoomkragagentskap
onderteken. Hy sou in die jare negentig ook verder met Amerika ooreenkom
om ’n moratorium op die verdere ontplooiing van kernmissiele te plaas. Maar
toe, in April 1996, kondig Noord-Korea aan dat hy nie langer die
wapenstilstand van 1953 sou eerbiedig wat ’n einde aan die Koreaanse
oorlog gebring het nie. Noord-Korea het drie dae lank swaar gewapende
troepe na die Gedemilitariseerde Sone gestuur (’n
sone wat ná die
oorlog tussen die twee Koreas ingestel is). In antwoord daarop het
Amerika en Suid-Korea gesamentlik vredesonderhandelings voorgestel, met
China en Amerika as bemiddelaars. Die onderhandelings het tot laat in
die 1990’s voortgeduur. Intussen
het ’n landwye voedselkrisis, wat in 1995 begin het, in 1996 ’n
wydverspreide hongersnood in Noord-Korea geword. Dinge wat tot die
krisis bygedra het, was onder meer die onttrekking van voedselsubsidies
deur die Sowjet-unie en China in die vroeë 1990’s, die kumulatiewe
uitwerking van die regering se landboubeleid en ’n reeks ernstige
vloede en droogtes. Voedseltekorte word steeds ondervind. En soos so dikwels gebeur in lande met ernstige probleme, het die leierskap ongenaakbaarder en hardvogtiger geraak. Die eerste dekade van die 21ste eeu is steeds deur spanning tussen Noord-Korea en die VSA gekenmerk—totdat die realiteit van ons wêreld van internasionaal verweefde ekonomieë miskien stadigaan tot die verstokte leierskap in Noord-Korea begin deurdring het. Die wêreld hou asem op en baie mense hoop dat dit uiteindelik, wie weet, tot ’n aftakeling van die lang diktatuur in die Noorde en ’n hereniging met die Suide kan lei—en die totstandkoming van ’n groter staat wat die beginsels van die vrye mark onderskryf. |
|
(c) Mieliestronk.com