—
vrou van ontferming
Sy
het in ’n tyd geleef waarin ryk vroue vir ’n lewe van niksdoen bestem
was. Maar die jong juffrou Nightingale sou eerder deur haar gesin en die
gemeenskap verstoot wou wees as om ’n goddelike roeping te
veronagsaam... Teks
uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld Grafika
na ons wete alles openbare besit (in die “openbare domein”) omdat kopiereg
vanweë verjaring verval het |
|
|
D
IE
jong meisie van sestien sit in ’n groot, elegante woning in Hampshire,
Engeland, en sy tuur by die venster uit. Sy is lig van gelaatskleur en het
goudbruin lokke—’n tipiese ryk Victoriaanse tiener, maar tog is daar
iets anders omtrent haar. Sou
dit dalk die veraf kyk in haar oë wees? Op
hierdie oggend van 7 Februarie 1837 (in Suid-Afrika het die
Voortrekkerleier Piet Retief se
Manifes
pas in die Graham’s Town Journal verskyn) staan die meisie skielik van
haar stoel af op en loop na die middel van die vertrek. Sy
staan doodstil, asof sy aandagtig luister na iemand wat met haar praat.
Maar daar is niemand anders in die kamer nie. Sy knik met haar kop en met ’n
vreemde uitdrukking op haar gesig gaan sit sy weer op haar stoel. Die
meisie is Florence Nightingale. Die stem wat sy gehoor het,
só sou sy later in haar dagboek skryf, was dié van God. Hy sou aan haar
gesê het dat sy eendag vir ’n baie belangrike sending gebruik sal word. Wat
haar sending was, is vandag wêreldbekend. Florence Nightingale, die
beroemde "Lady with the Lamp", het die soldate in die Krimoorlog
(sien later) verpleeg en gesorg dat die beroep van verpleging die hoë
erkenning en waardigheid kry wat dit vandag geniet. Hier is haar
verhaal...
Die jong Florence
SY
is op 12 Mei 1820 in die Villa Colombaia in Florence, Italië, gebore.
Haar ouers, William en Frances, is in 1818 getroud en het ’n bra lang
wittebrood in Italië geniet. Florence was nie hul eerste kind nie. ’n
Dogter, Parthenope (na die Grieks vir Napels), is ’n jaar vroeër
gebore. Toe
Florence ’n jaar oud was, het die Nightingales na Engeland teruggekeer.
Voor sy troue het William, wat as W.E.N. bekend gestaan het, vir hom ’n
groot, skilderagtige huis genaamd Lea Hurst gebou op grond wat hy in
Derbyshire geërf het. Maar
Frances—Fanny vir haar vriende—het ander idees gehad. Vyftien
slaapkamers, het sy besluit, is eenvoudig nie genoeg vir die gesin en hul
bediendes nie. Wat meer sê, Derbyshire was te ver van die sosiale lewe in
Londen. Vier
jaar later het hulle die statige huis Embley Park in Hampshire, naby
Londen, gekoop. Daar
was al die onthaalsale en sitkamers waarvan ’n sosiale vlinder maar kan
droom. Lea Hurst is vir somervakansies behou. Die
jong Florence was van kleins af aan luukses gewoond. Sy en haar suster het
die mooiste uitrustings gedra wat Londen kon bied. Hulle het ook elke
speelding en troeteldier gehad wat ’n meisie kan begeer. Hulle
het nie skool toe gegaan nie. Fanny wou oorspronklik vir hulle ’n
private goewernante kry, maar toe sy nie die regte een kon
vind nie, het
sy haar man oorreed om vir hulle skool te hou. Hul
vakke was geskiedenis, filosofie en vyf tale—Latyn, Grieks, Duits, Frans
en Italiaans—en ’n goewernante het gekom om hulle musiek en dans te
leer. Florence
was skrander en het haar lesse geniet. Maar ’n vreemde karaktertrek het
geleidelik kop uitgesteek. Sy was ’n dromer. Partykeer, tot haar ma se
intense irritasie, het sy haar in haar eie wêreldjie onttrek en
iesegrimmig teenoor die mense om haar geword. Pleks
van om met haar suster buite te speel, sou sy binnenshuis
ineengekrimp
op ’n stoel sit en notas in haar dagboek krabbel. Om
haar ma nog verder om te krap, het Florence jammer gevoel vir die arm,
honger mense wat sy om haar gesien het—wat darem seker nie ’n
Victoriaanse dogter van soveel aansien betaam het nie. In
1837, kort nadat sy oortuig was dat sy die stem van God gehoor het, het
Florence haar gesin na Europa vergesel. Sy was bekoor deur haar
geboorteplek, Florence, en het verlief geraak op die Riviera, Genua, Genève
en Parys. Sy het baie swierige balle bygewoon waar die manne gewedywer het
om met haar te dans.
Maar
terwyl sy in Parys was, het sy ’n invloedryke en ernstige jong dame, ene
Miss Clarke, ontmoet. Dié het besef dat Florence meer as net ’n sosiale
vlinder is. "Moenie
jou lewe vermors nie, hartjie," het sy Florence aangemoedig. "Jy
het ’n taak om in die wêreld te verrig. Ek kan dit sien. Wees gereed
daarvoor wanneer God jou daarvoor roep." Terug
in Engeland was Florence weens haar sosiale status in ’n maalkolk van
partytjies vasgevang. Op ’n keer is sy aan koningin Victoria voorgestel.
Die koningin se neef Henry Nicholson het op Florence verlief geraak. Hierdie
keer was Fanny tevrede dat haar inkennige dogter in ’n sjarmante jong dame
ontluik het, wat met Henry sou trou en vir altyd gelukkig sou wees. Maar
dit was anders bestem. Vol gewetenswroeging oor ’n brief van Miss Clarke
oor "women and their endless faddling and twaddling", het ’n
skuldige Florence gevoel dat sy haar lewe verbeusel. Toe
Henry haar vra om met hom te trou, het sy geweier, alle verdere uitnodings
na sosiale geleenthede van die hand gewys en al haar kragte aan die studie
van wiskunde gewy. Dit was, wat haar geskokte ma betref, genoeg om alle mans
totaal af te skrik. Die honger veertigsDIE
1840’s was ’n verskriklike tyd in Engeland. Nie ver van Lea Hurst nie
was landhuisies vol arm, siek, verhongerde mense. Florence
het hulle begin besoek en kos, komberse, klere en medisyne vir hulle
gebring. Hierdie
ondervinding was vir haar ’n openbaring dat God wou hê sy moet haar lewe
daaraan wy om mense te help, veral die siekes. Florence
was egter nie tevrede daarmee om bloot die siekes te besoek nie. Sy wou ’n
loopbaan daarvan maak, siektes bestudeer, weet wat die simptome is, met
operasies help en leer hoe om die dood te hanteer. Kortom, sy wou
verpleegster wees. Maar
Engelse verpleegsters was in daardie dae laeklas- middeljarige vroue. Hulle
het geen opleiding
hoegenaamd gehad nie en weinig meer gedoen as om te vee, skoon te maak en
besope te raak. Die
hospitale was ook oorvol, onwelriekend en onhigiënies. Beddegoed is omtrent
een keer per maand vervang, en in die winter is die vensters met planke
toegespyker om die koue buite hou, wat ’n volmaakte teelaarde vir kieme
geskep het. Dat
’n aristokraat ’n verpleegster sou wou word? Ondenkbaar. Florence kon
nie waag om haar ouers van haar ambisies te vertel nie. Toe,
een aand tydens die aandete, vra Florence vir ene dr.
Fowler, ’n
huisvriend, of sy in sy hospitaal in Salisbury opgelei kon word.
Konsternasie. Ma Fanny gil en skreeu. Sus Parthenope raak histeries. En dr.
Fowler is verleë vort. Daarna
is Florence met soveel minagting behandel dat haar senuwees byna ingegee
het. Sekere gesinsvriende, die Bracebridges, het haar na Europa gebring waar
sy byna dadelik herstel het. Terwyl
sy in Rome was, het sy met Sidney en Elizabeth Herbert kennis gemaak, ’n
egpaar uit die hoër stand wat hartstogtelike hervormers was met ’n
spesiale belangstelling in die hervorming van hospitale. Hulle het Florence
hul steun beloof. Terug
by haar gesin in Engeland, het Florence weer siek geword. In hierdie stadium
het ’n jong man, Richard Monckton Milnes, haar om haar hand gevra. Sy het
hom afgewys, maar hom die res van haar lewe onthou. Die
Bracebridges het Florence weer na Europa gebring, en haar dié keer sonder
haar ouers se wete by Kaiserswerth gelaat, ’n gekombineerde
hospitaal-weeshuis-opleidingsentrum naby Düsseldorf, Duitsland. Die
verpleegstandaarde hier was heeltemal anders as dié in Engeland en het
bevestig waarin sy nog altyd geglo het—dat verpleging ’n respektabele
beroep kan wees. Toe
Florence ’n maand later huis toe gaan, het haar gesin haar gestraf omdat
sy na Kaiserswerth gegaan het deur haar vir ses maande ’n "slaaf
" van Parthenope te maak... Florence
het ’n aantal kere Europa
toe gereis en elke keer van die Vasteland se hospitale besoek en geïnspekteer.
By een geleentheid het sy Fliedner se Instituut vir Protestantse Diakonesse
besoek, waarheen sy later vir vier maande se opleiding teruggekeer het.
Die ystervrou
FLORENCE
was 32 jaar oud toe haar loopbaan uiteindelik begin. Elizabeth Herbert het
haar gevra om die pos te aanvaar van matrone by die sogenaamde Institution
for the Care of Sick Gentlewomen in Distressed Circumstances. Vir
die tweede keer in haar lewe het sy gevoel dat die Here haar persoonlik
aangespreek het. Sy was dus seker dat sy die regte ding doen. Florence
het met ’n ysere wil die inrigting en sy personeel begin organiseer. In
daardie dae het mense nog bloedmin van higiëniese versorging en die
verspreiding van siektes geweet, maar Florence het op sindelikheid en vars
lug aangedring.
Sy
het besluit dat die pasiënte warm kos moet kry en ’n hyser in die gebou
laat installeer. Daar moes gereeld skoon lakens wees, en blompotte met
blomme is in die sale geplaas. Baie
van die personeellede het glad nie daarvan gehou om gehiet en gebied te word
nie, en die inwonende dokter en baie van die werksters het padgegee. Maar
binne ses maande het Florence ’n omwenteling in die begrip verpleging
teweeggebring. Die nuus het versprei dat sy Engeland
se "toonaangewende deskundige oor gesondheidsake" is. Net
toe Florence na iets groters begin
soek, het die Krimoorlog uitgebreek.
Hierdie oorlog is om godsdienstige,
politieke en kommersiële redes gevoer tussen die geallieerde
magte van Brittanje, Frankryk,
die Ottomaanse Ryk (tans
Turkye) en Sardinië aan die een kant en die Russiese magte
aan die ander. Baie
van die gevegte het in die Krim self plaasgevind—’n skiereilandjie wat
in die Swart See en die See van Azof insteek. Hoewel die geallieerde magte
sekere oorwinnings behaal het, het
die Britse leër ’n ernstige tekort aan kos, beddegoed, tente, klere en
mediese voorrade ondervind. Daar
was feitlik geen chirurge wat na die gewondes kon omsien nie, en
verpleegsters is weens hul slegte reputasie nie toegelaat om naby die
soldate te kom nie. Siekes en gewondes is in skepe geprop en na kasernes in
Scutari aan die Bosporus-kus, net oorkant Konstantinopel, gebring. Die
Britse generaals het dit probeer stilhou, maar vir die heel eerste keer het ’n
Londense koerant, The Times, ’n spesiale beriggewer aangewys om ter
plaatse oor die oorlog verslag te doen soos dit verloop. Die
verslaggewer, William Howard Russell, het die skokkende behandeling van die
siekes en gewondes onthul. Die Britse publiek kon nou alles lees—Florence
Nightingale inkluis. Vir die derde keer in haar lewe, sou sy later vertel,
het sy God met haar hoor praat. Soos
dit moes gebeur, het Sidney Herbert, England se minister van oorlog,
Florence dadelik per brief versoek om ’n groep verpleegsters bymekaar te
kry en na Scutari te gaan. Dit was nie haar taak om die soldate te versorg
nie, maar om aan Engeland te wys dat verpleegsters inderdaad dames kan wees. Florence
het geen tyd verspil nie. Binne vier dae het sy ’n geselskap van 38
verpleegsters en nonne uitgesoek en kleremaaksters aangesê om uniforms te
maak. Hierdie keer het haar familie haar nie teëgegaan nie. Sy was oor die
hele land beroemd. Op 21 Oktober 1854 het Florence en haar personeel na Scutari vertrek. Namate die skip stadig weggevaar het, het ’n skare onder op die kaai gejuig en gewuif. ’n Nuwe era in die geneeskunde was ophande... |
|
|
• Klik hier vir die volgende aflewering oor Florence Nightingale |
|
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |