Nuwe prestasies van Natalie du Toit

DIE artikel hieronder is geskryf kort nadat Natalie du Toit geskiedenis gemaak het deur as gestremde swemmer vir die Olimpiese Spele (Beijing 2008) te kwalifiseer en daarna ook deel te neem. In die Paralimpiese Spele, ’n rukkie daarna in Beijing, het sy vyf goue medaljes ingepalm en vier wêreldrekords verbeter. Natalie het ook China se hoogste paralimpiese toekenning, die Whang Youn Dai-prestasietoekenning, ont­vang—’n klinkklare bewys van hoe hoog die sport­administrateurs haar en haar vermoëns aanslaan.

   

 

Haar verhaal van triomf oor die struikelblok wat haar van haar lewensdroom wou beroof

 

Natalie du Toit:
    
Swem in jou reënboog terug na die son...
 

In die swembad in Beijing tydens die Paralimpiese Spele

 
BO: Natalie in 2008 in die swembad in Beijing toe sy in die
Paralimpiese Spele vyf goue medaljes ingepalm en vier wêreldrekords verbeter het.

 

Foto: Sascoc
  

                                                  

Met een van haar goues by die Paralimpiese Spele in BejingLINKS: Met een van haar goues by die Paralimpiese Spele in Bejing

 

Foto: Sascoc

 

Verreweg die meeste swemmers van formaat sou net daar halt geroep het. Hulle sou vra watter toekoms daar kan wees vir enige lig­gaamlik gestremde atleet in ’n hoogs mede­digende wêreld waar die “normales” mekaar reeds genadeloos vertrap om die boonste sport van die leer te bereik—en hulle sou dadelik tou opgegooi het.  Nie Natalie nie. Daarvoor was haar deurset­tingsvermoë, haar ingebore wil en bowenal haar drome eenvoudig te groot. Sy sou die reënboog bokant die storm raaksien—en doelgerig daarteen uitswem terug na die son....

 

Natalie duik in die water

BO: Natalie swem altyd sonder haar kunsbeen. Die agterstand wat sy het vergeleke met swemmers met twee bene, is baie duidelik op hierdie foto, wat algemeen op die wêreldwye web gekopieer is en waarvan die presiese bron onseker is.
 


 

W

AT ’n skouspel was dit nie. Die verbluffende tonele van 24 paar roterende vroue-arms op die water, soos die roerige vlerke van ’n swerm ooievaars wat onderweg is na die somer.

 

Elkeen in Suid-Afrika wat hiervoor opgestaan het in—of wakker gebly het tot—die donker vroeë oggendure, sal ook die veggees van hul eie swemheldin in die Olimpiese roeiboot-meer onthou. Hulle sou regstreeks op die televisie gekyk het na die veeleisende vroueswemnommer oor 10 km in Beijing, waar dit natuurlik reeds lankal dag was, soos die aarde om sy as tol.

 

Natalie du Toit het weliswaar nie gewen nie. Nie eens byna nie. Sy het sestiende geëindig op daardie besonderse dag in Augustus 2008, met die skrale troos dat daar darem nog agt swemsters agter haar was. Maar tog: dat sy hoegenaamd as ’n swemster vir die Olimpiese Spele kon kwalifiseer en haar toe boonop met aplomb tussen die bestes kon laat geld, is al klaar meer as merkwaardig, as ’n mens in ag neem hoe hierdie jong vrou liggaamlik gestremd is.

 

Soos die wenner van die marathon-swemnommer, Rusland se Larisa Ilsjenko, agterna te kenne gegee het: Die dapper Natalie verdien self ’n medalje en dit bloot omdat sy deelgeneem het.

 

Soos almal weet, het ons Natalie net een en ’n halwe been. Haar linkeronderbeen is in Februarie 2001 geamputeer nadat sy in die Kaap, waar sy woon, met haar bromponie in ’n ongeluk betrokke was. Sy was op pad terug skool toe nadat sy ’n swemoefening gehad het toe sy en ’n motor wat uit ’n parkeerterrein gekom het teen mekaar bots.

 

Natalie onthou hoe geskok sy destyds as ’n skoolmeisie was, ’n tiener met soveel ideale en so te sê nog op die drumpel van ’n goue era in haar lewe. Oor en oor het sy gesê: “Ek het my been verloor, ek het my been verloor.”

 

Hoewel die dokters verbete probeer het om haar beseerde been te red, moes hulle dae later regdeur haar knie sny en die onderbeen afsit. Haar dybeen was ook gebreek, maar die chirurge kon dit red deur ’n titaanstaaf daarin te plaas.

 

Verreweg die meeste swemmers van formaat sou net daar halt geroep het. Hulle sou vra watter toekoms daar kan wees vir enige liggaamlik gestremde atleet in ’n hoogs mededigende wêreld waar die “normales” mekaar reeds genadeloos vertrap om die boonste sport van die leer te bereik. Kortom, hulle sou dadelik tou opgegooi het.

 

Nie Natalie nie. Daarvoor was haar deursettingsvermoë, haar ingebore wil en bowenal haar drome eenvoudig te groot. Sy sou die reënboog bokant die storm raaksien—en doelgerig daarteen uitswem terug na die son.

 

Maar hoe het sy dan gekom tot waar sy vandag ’n ikoon vir die ganse wêreld geword het—die toonbeeld van die oorwinning van die menslike gees oor terugslae en rampspoed?

 

Haar verhaal begin op 29 Januarie 1984 in Kaapstad, toe sy gebore is as die tweede kind van ma Deidre en pa David du Toit. Geen sterfling sou egter daardie dag hoegenaamd kon voorsien het dat die klein bondeltjie vreugde wat haar eerste skreeutjie onderkant Tafelberg gegee het, haar eendag sou onderskei as een van die mees vereerde sportvroue wat Suid-Afrika nog opgelewer het nie.

 

NATALIE, wie se ma ’n ontvangdame en pa ’n voorman is, kom van vaderskant uit ’n bekende Suid-Afrikaanse Hugenote-familie met verskeie lede wat diep spore in die Suid-Afrikaanse geskiedenis getrap het. Die stamvader was François du Toit van Ryssel (Frans: Lille) in Frans-Vlaandere, wat reeds voor 1690 in die Kaap aangekom en getrou het met Susanna Seugnet van Saint Onge of Saintonge (Frankryk). Die egpaar het nege kinders gehad.

 

Waar Natalie in die ry van afstammelinge inpas, is nie eintlik ter sake nie, maar seker wel die Hugenote-volharding wat nog so warm in haar are bruis!

 

Van kleins af het sy immers haar vasberadenheid om te presteer in dit waarvoor sy ’n kennelike aanleg gehad het—swem—baie duidelik laat blyk aan wie ook al met haar liggaamlike opvoeding gemoeid was. En toe sy ’n tiener word, nog op skool aan Kaapstad se Reddam House College (Constantia-kampus), het sy gesorg dat die hele Suid-Afrika deeglik kennis neem van haar vermoë. Trouens, die talentvolle Natalie was slegs veertien toe sy internasionaal in swem begin meeding het. Dit was in 1998 toe sy aan die Statebondspele in Kuala Lumpur, Maleisië, deelgeneem het.

 

Toe volg die ongeluk wat haar haar been gekos het, maar nie haar wilskrag en haar visie nie. Toe sy haar in 2002 by die Statebondspele in Manchester, Engeland, as agttienjarige met wêreldrekordtye in vryslagnommers vir veelgestremdes onderskei, het almal geweet hier is steeds ’n wenmeisie, maar toe maak sy boonop sportgeskiedenis deur vir die finaal van die 800m-vryslag vir niegestremdes te kwalifiseer.

 

Natalie het nie gewen nie, maar dit was die eerste keer in die moderne tyd dat ’n gestremde atleet die finaal van ’n nommer vir niegestremdes in ’n internasionale swemkompetisie kon haal. Sy is aan die einde van die Manchester-Spele met die eerste David Dixon-toekenning as Uitmuntende Atleet van die Spele vereer.

In die daaropvolgende jaar het Natalie goud, silwer en brons in vryslagnommers teen niegestremdes by die Afrika-Spele en Afro-Asiatiese Spele ingepalm.

IN 2004 kon sy net-net nie daarin slaag om vir die Olimpiese Spele in Athene, Griekeland, te kwalifiseer nie. Teleurgesteld, destyds? Natuurlik. Soos Natalie self sê: “Dit was nog altyd my droom om aan die Olimpiese Spele deel te neem.”

 

Ondanks alles? wonder jy. Ten spyte daarvan dat sy so ’n ongelyke kans het teen die heel beste niegestremde vroueswemmers op aarde? Waarop Natalie du Toit steeds blymoedig en resoluut sou antwoord: “Dat ek my been verloor het, het niks verander nie.”

 

By die Paralimpiese Spele later die jaar in die einste Athene sou sy die medaljes ingeryg: vyf goues,  een silwer. In 2006, by die Statebondspele in Melbourne, Victoria, Australië, het sy goue medaljes gewen in dieselfde nommers as waarin sy in Manchester geseëvier het, en dieselfde jaar ses goues losgeswem by die vierde IPC-Wêreldswemtoernooi in Durban, Suid-Afrika, waar sy algeheel derde geëindig in ’n resies waaraan 36 mans en 20 vroue deelgeneem het.  (IPC staan vir “International Paralympic Committee”).

 

In Mei 2008 het Natalie vierde geëindig in die oopwaterresies oor 10 km by die Oopwater-Wêreldtoernooi in Sevilla, Spanje, slegs 5,2 sekonde stadiger as die wenner. Die resies het as die hoof- kwalifiserende nommer vir die 10km-nommer by die Olimpiese Spele in Beijing gedien. Uiteindelik is Natalie se groot droom verwesenlik!

 

IN Beijing het sy die Suid-Afrikaanse vlag by die luisterryke openingsplegtigheid gedra—’n gepaste verering vir ’n besonderse jong vrou van 24 jaar wat die eerste swemster sonder ’n ledemaat geword wat nog ooit vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer het.

 

Haar omhooghouding van die vlag was ook simbolies van hoe sy haar land se naam hoog hou met ’n standvastige en deurdrywende gesindheid wat bo soveel teëspoed kan uittroon. Dit was in ’n Spele wat ongelukkig andersins so bedroewend vir Suid-Afrika sou verloop.

 

Ook vir Natalie het die 10km-nommer nie so goed verloop as wat sy gehoop het nie. Haar nousluitende swemkeps het aan ’n boei vasgehaak en sy moes haar aandag verdeel deur daarmee te peuter en seker te maak dat dit nie afval nie.

 

As gevolg daarvan het sy meermale nie gebruik gemaak van die aangebode opkikkers onderweg nie en ontwater geraak. Teen die einde was die krampe in haar gesonde been en die pyn in haar groot arms byna ondraaglik.

 

“Ek kon nie eens uit die water kom nie,” het sy agterna aan die media gesê. “Dit wys dat ek my beste gegee het.”

 

Haar beste gegee het?

 

Net haar beste?

 

Nee, Natalie, ons almal wat dankbaar is vir wat jou sonnige positiwiteit vir ons beteken in ’n gebroke wêreld met sy baie pyn—ons almal weet dit was baie meer as dit.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad