Napoleon soos hy deur drie verskillende kunstenaars uitgebeeld is  

BO: In sy tyd van glorie—drie uitbeeldings van die Franse leier deur verskillende kunstenaars.

Napoleon I

— sy laaste jare van vernedering

 

Napoleon in Ballingskap, 1820LINKS: Napoleon in Ballingskap, 1820, ’n werk deur Horace Vernet. Hierin word hy voorgestel as ’n enigsins onindrukwekkende pokkel wat kwalik nog ’n skaduwee van sy ou self is.

  

  
Op 15 Mei 1821 is die beroemde Napoleon l oorlede. Afgesonder en gekrenk, was die gewese Franse leier vyf en ’n halwe jaar lank ’n banneling op die Britse vulkaniese eiland St. Helena, in die Suidelike Atlantiese Oseaan. Hier het hy, ondanks al sy ongunstige omstandighede, tog die geleentheid gehad om die geskiedenis uit sy oogpunt te laat opteken. En toe het hy as ’n martelaar gesterf...
   


 

Napoleon op St. Helena — deur ’n anonieme kunstenaar
LINKS: Nog ’n voorstelling van Napoleon op St. Helena, deur ’n anonieme kunstenaar.
Dit is egter hoogs geromatiseerd omdat dit hom in sy ou mondering toon waar hy ewe paraat oor die see staar— en niks rep van die verslane veldheer wat hy inderdaad was nie. 

 

.A.

AN die eiland St. Helena het Napoleon l hom aanvanklik bloedweinig gesteur. Trouens, dit was maar net een van die Britse besittings op die lys wat hy as ambisieuse ryksbouer opgestel het—’n lys van die plekke wat hy vir Frankryk wou verower.

 

Die einste St. Helena het uiteindelik sy hele wêreldjie geword. Dit was toe die gewese keiser van die Franse as banneling daar gelewe het van 1815 af tot met sy dood in 1821.

Napoleon Steek die Alpe Oor

BO: ’n Leier van durf en daad. Napoleon Steek die Alpe Oor is ’n skildery deur Louis David. Dit dramatiseer hoe die aanvoerder in 1800 sy manskappe deur die Groot St. Bernard-pas gelei het. (Kyk ook die gedeelte oor Napoleon onderaan die Mieliestronk-artikel oor die Franse Revolusie.)


Napoleon l, oftewel Napoleon Bonaparte (1769-1821), het hom bewys as een van die uitmuntendste leiers en generaals in die geskiedenis.

 

Hy het ’n einde gemaak aan die jarelange chaos wat op die Franse Revolusie (1789-99) gevolg het, briljante goewermentele en geregtelike hervormings in Frankryk teweeggebring en sy landgenote se nasietrots herstel.

 

Toe het hy sy aandag aan verowerings gewy en, op die kruin van sy loopbaan, byna oor die hele Europa regeer.

   

Maar sy idees het te groot geraak. Hy wou ook Rusland en Brittanje verower—twee van die grootste moondhede van sy tyd.

 

In 1812 het hy Rusland binnegeval en sy leër tot by Moskou gelei. Sy soldate het verskriklik gely in die ongenadige Russiese winter, en verreweg die meeste van hulle is dood toe hulle die aftog moes blaas.

 

Aangemoedig deur hierdie terugslag van Napoleon, het sy teenstanders in Europa hulle teen hom geskaar.

 

Napoleon is in 1813 in Duitsland verslaan en die volgende jaar gedwing om te abdikeer en na Elba te vlug, ’n eiland by die Italiaanse kus.

 

Hy het in 1815 van Elba af teruggekeer, die steun van baie van sy veterane herwin en België binnegeval in die hoop om die Britse en Pruisiese magte daar te verslaan.

 

Le petit caporal (die klein korporaaltjie)REGS: Hy was die mees geliefde én mees gehate man van sy tyd—vir sy soldate le petit caporal, oftewel die klein korporaaltjie, maar “die Korsikaanse monster” vir sy vyande. Napoleon Bonaparte was ironies genoeg nie self ’n Fransman van geboorte nie, maar het die eerste lewenslig in Korsika aanskou en altwee sy ouers was van adellike Italiaanse afkoms. Sy oorspronklike Italiaanse naam was Napolione Buonaparte. Korsika was weliswaar ten tyde van sy geboorte onder Franse beheer—en Napoleon het hom later só in die Franse leër onderskei en opgang gemaak dat hy uiteindelik, toe die tyd daarvoor ryp was, die oppermag kon gryp in ’n Frankryk wat deur die Franse Revolusie in ’n chaos gedompel was.

 

Op 18 Junie 1815 het Napoleon ’n aanval geloods op die hertog van Wellington by Waterloo, in wat een van die bekendste veldslae in die geskiedenis sou word. Die geallieerdes het die Franse verpletter.

 

Napoleon het ’n tweede keer geabdikeer en na die VSA probeer vlug, maar hom uiteindelik by Rochefort, aan die Franse kus, aan die Britte oorgegee.

 

Hy het gehoop om as gevangene sy lewe as ’n plattelandse heer in Engeland te slyt. Pleks daarvan het sy vyande hom verban na ’n plek so ver as wat hulle kon vind: die eiland St. Helena in die Suidelike Atlantiese Oseaan.

 

.S.T. HELENA lê byna 2 000 km wes van die Angolese kus. Dit is sowat 17 km lank, 10 km breed en strek oor 122 vk. km, waarvan die grootste deel een troostelose, windverwaaide verlatenheid is. Baie van die eiland eindig plotseling in hoë, ystergrys kranse wat steil in die see afsak. Dit moet ’n onheilspellende gesig vir die gewese veldheer en sy gevolg gewees het toe die skip in Oktober 1815 Jamesbaai binnevaar.

 

Kaart wat ligging van St. Helena aantoonNapoleon se ballingskap op St. Helena was vir hom uiters beklemmend en vernederend. Hy was nie meer ’n monarg nie, maar ’n gevangene, nie langer die magtige keiser van die Franse nie, maar ’n werklose generaal.

 

Sy gevangenemers was vanselfsprekend bang dat hy sou probeer ontsnap, en hy is 24 uur per dag deur ’n kontingent van 4000 man bewaak. Die Britte het ook ’n aanval deur die Franse gevrees. Napoleon het glad nie van die sterk militêre teenwoordigheid op die eiland gehou nie.

 

Die amptelike woning—Longwood House, ’n huis op ’n hoë, winderige plato—was erg ontoereikend vir Napoleon, sy hofbediendes en hul gesinne, en die inwoners was maar gedurig aan die skinder en stry.

 

Longwood HouseREGS: Longwood House op St. Helena (in 1970 afgeneem).

 

Foto: ISAAC NEWTON, wat gebruik daarvan vergun op hierdie bladsy in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.5-lisensie

 

Die ergste van alles vir Napoleon was dat daar streng beperkings op sy doen en late was, waarheen hy kon gaan en saam met wie. Aanvanklik het daar darem ’n soort welwillendheid tussen hom en sy oppassers geheers en is die reëls geleidelik verslap.

 

Maar in April 1816 het ’n nuwe goewerneur, die agterdogtige sir Hudson Lowe, op die eiland aangekom. Die ou beperkings is nou weer so genadeloos toegepas dat daar geen hartlikheid meer tussen Napoleon en sy gevangenemers kon wees nie.

 

Die lewe in Longwood House was bitter eentonig. Napoleon het baie tyd daaraan bestee om sy herinneringe aan sy metgeselle te dikteer. Soos hy self gesê het, was dit die “vervulling van sy lotsbestemming”, want só kon hy sy eie weergawe op skrif stel van die dinge wat in sy lewe gebeur het en—hopelik—die weg baan vir sy seun om sy ryk te erf. (Hierdie wens van Napoleon is nooit bewaarheid nie, want sy seun, Napoleon II, is in 1832 aan tuberkulose dood.)

 

.T.EEN 1819 was Napoleon ernstig siek en het hy opgehou om sy joernale te dikteer. Met verloop van tyd het hy al hoe neerslagtiger geraak en uiteindelik nie eens meer in die lewe self belang gestel nie.

 

Hy is op 5 Mei 1821, op 52-jarige leeftyd, oorlede. Hoewel die dokters wat by sy lykskouing teenwoordig was, verklaar het dat hy aan maagkanker dood is, is agterna beweer dat hy dalk vermoor kon gewees het. Sy simptome was glo meer soos dié van iemand wat deur arseen vergiftig is as dié van ’n maagkankerlyer.

 

Omdat soveel tyd intussen verloop het, sal g’n sterfling waarskynlik ooit weet wat die waarheid is nie. Napoleon se oorskot is onder ’n klompie wilgerbome in die pragtige Geraniumvallei begrawe, naby ’n fontein waar hy graag ontspan het.

Die immer kwaadwillige sir Hudson Lowe het gelas dat die naam “Bonaparte” langs die naam “Napoleon” op die grafsteen moes verskyn. Om die gewese keiser van die Franse hierdie bespotting te spaar het sy banneling-vriende verkies om niks op die steen te skryf nie.

Napoleon se sterfte

BO: ’n Voorstelling van Napoleon se sterfte op St. Helena in ’n ou Duitse boek. (Die werk word as openbare besit [“public domain”] beskou vanweë die verstryking van kopiereg, soos trouens ook die meeste van die ander grafika by hierdie artikel.)

.I.N 1840, byna twintig jaar ná sy begrafnis, is Napoleon se oorskot na Parys teruggebring vir ’n veel glorieryker herbegrafnis.

 

Tussen tienduisende bewonderaars deur het die doodkis onderdeur die Triomfboog en af in die Champs-Elysées na sy finale rusplek in die Hôtel des Invalides beweeg.

 

Die keiser se wens, soos in sy testament beskryf, om begrawe te word “aan die oewers van die Seine, tussen die Franse volk wat ek so diep liefgehad het”, is uiteindelik bewaarheid.

  


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad