|
|
![]() LINKS: Nog ’n voorstelling van Napoleon op St. Helena, deur ’n anonieme kunstenaar. Dit is egter hoogs geromatiseerd omdat dit hom in sy ou mondering toon waar hy ewe paraat oor die see staar— en niks rep van die verslane veldheer wat hy inderdaad was nie. |
|
.A. |
AN
die eiland St. Helena het Napoleon l hom aanvanklik bloedweinig gesteur.
Trouens, dit was maar net een van die Britse besittings op die lys wat
hy as ambisieuse ryksbouer opgestel het—’n lys van die plekke wat hy
vir Frankryk wou verower.
Die einste St. Helena het uiteindelik sy hele wêreldjie geword. Dit was toe die gewese keiser van die Franse as banneling daar gelewe het van 1815 af tot met sy dood in 1821.
|
BO:
’n Leier van durf en daad. Napoleon Steek die Alpe Oor is ’n
skildery deur Louis David. Dit dramatiseer hoe die aanvoerder in 1800
sy manskappe deur die Groot St. Bernard-pas gelei het. (Kyk ook die gedeelte
oor Napoleon onderaan die Mieliestronk-artikel oor die Franse
Revolusie.) |
Napoleon
l, oftewel Napoleon Bonaparte (1769-1821), het hom bewys as een van die
uitmuntendste leiers en generaals in die geskiedenis.
Hy
het ’n einde gemaak aan die jarelange chaos wat op die Franse
Revolusie (1789-99) gevolg het, briljante goewermentele en geregtelike
hervormings in Frankryk teweeggebring en sy landgenote se nasietrots
herstel.
Toe
het hy sy aandag aan verowerings gewy en, op die kruin van sy loopbaan,
byna oor die hele Europa regeer.
Maar
sy idees het te groot geraak. Hy wou ook Rusland en Brittanje verower—twee
van die grootste moondhede van sy tyd.
In
1812 het hy Rusland binnegeval en sy leër tot by Moskou gelei. Sy
soldate het verskriklik gely in die ongenadige Russiese winter, en
verreweg die meeste van hulle is dood toe hulle die aftog moes blaas.
Aangemoedig
deur hierdie terugslag van Napoleon, het sy teenstanders in Europa hulle
teen hom geskaar.
Napoleon is in 1813 in Duitsland verslaan en die volgende jaar gedwing om te abdikeer en na Elba te vlug, ’n eiland by die Italiaanse kus.
Hy
het in 1815 van Elba af teruggekeer, die steun van baie van sy veterane
herwin en België binnegeval in die hoop om die Britse en Pruisiese
magte daar te verslaan.
REGS:
Hy was die mees geliefde én mees gehate man van sy tyd—vir sy soldate
le petit caporal, oftewel die klein korporaaltjie, maar “die
Korsikaanse monster” vir sy vyande. Napoleon Bonaparte was ironies
genoeg nie self ’n Fransman van geboorte nie, maar het die eerste
lewenslig in Korsika aanskou en altwee sy ouers was van adellike
Italiaanse afkoms. Sy oorspronklike Italiaanse naam was Napolione
Buonaparte. Korsika was weliswaar ten tyde van sy geboorte onder Franse
beheer—en Napoleon het hom later só in die Franse leër onderskei en
opgang gemaak dat hy uiteindelik, toe die tyd daarvoor ryp was, die
oppermag kon gryp in ’n Frankryk wat deur die Franse Revolusie in ’n
chaos gedompel was.
Op
18 Junie 1815 het Napoleon ’n aanval geloods op die hertog van
Wellington by Waterloo, in wat een van die bekendste veldslae in die
geskiedenis sou word. Die geallieerdes het die Franse verpletter.
Napoleon
het ’n tweede keer geabdikeer en na die VSA probeer vlug, maar hom
uiteindelik by Rochefort, aan die Franse kus, aan die Britte oorgegee.
Hy het gehoop om as gevangene sy lewe as ’n plattelandse heer in Engeland te slyt. Pleks daarvan het sy vyande hom verban na ’n plek so ver as wat hulle kon vind: die eiland St. Helena in die Suidelike Atlantiese Oseaan.
.S.T. HELENA lê byna 2 000 km wes van die Angolese kus. Dit is
sowat 17 km lank, 10 km breed en strek oor 122 vk. km, waarvan die
grootste deel een troostelose, windverwaaide verlatenheid is. Baie van
die eiland eindig plotseling in hoë, ystergrys kranse wat steil in die
see afsak. Dit moet ’n onheilspellende gesig vir die gewese veldheer
en sy gevolg gewees het toe die skip in Oktober 1815 Jamesbaai
binnevaar.
Napoleon
se ballingskap op St. Helena was vir hom uiters beklemmend en
vernederend. Hy was nie meer ’n monarg nie, maar ’n gevangene, nie
langer die magtige keiser van die Franse nie, maar ’n werklose
generaal.
Sy
gevangenemers was vanselfsprekend bang dat hy sou probeer ontsnap, en hy
is 24 uur per dag deur ’n kontingent van 4000 man bewaak. Die Britte
het ook ’n aanval deur die Franse gevrees. Napoleon het glad nie van
die sterk militêre teenwoordigheid op die eiland gehou nie.
Die
amptelike woning—Longwood House, ’n huis op ’n hoë, winderige plato—was
erg ontoereikend vir Napoleon, sy hofbediendes en hul gesinne, en die
inwoners was maar gedurig aan die skinder en stry.
REGS:
Longwood House op St. Helena
(in 1970 afgeneem).
Foto: ISAAC NEWTON, wat gebruik daarvan vergun op hierdie bladsy in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.5-lisensie
Die
ergste van alles vir Napoleon was dat daar streng beperkings op sy doen
en late was, waarheen hy kon gaan en saam met wie. Aanvanklik het daar
darem ’n soort welwillendheid tussen hom en sy oppassers geheers en is
die reëls geleidelik verslap.
Maar
in April 1816 het ’n nuwe goewerneur, die agterdogtige sir Hudson
Lowe, op die eiland aangekom. Die ou beperkings is nou weer so
genadeloos toegepas dat daar geen hartlikheid meer tussen Napoleon en sy
gevangenemers kon wees nie.
Die
lewe in Longwood House was bitter eentonig. Napoleon het baie tyd daaraan
bestee om sy herinneringe aan sy metgeselle te dikteer. Soos hy self gesê
het, was dit die “vervulling van sy lotsbestemming”, want só kon hy
sy eie weergawe op skrif stel van die dinge wat in sy lewe gebeur het en—hopelik—die
weg baan vir sy seun om sy ryk te erf. (Hierdie wens van Napoleon is
nooit bewaarheid nie, want sy seun, Napoleon II, is in 1832 aan
tuberkulose dood.)
.T.EEN 1819 was Napoleon ernstig siek en het hy opgehou om sy
joernale te dikteer. Met verloop van tyd het hy al hoe neerslagtiger
geraak en uiteindelik nie eens meer in die lewe self belang gestel nie.
Hy
is op 5 Mei 1821, op 52-jarige leeftyd, oorlede. Hoewel die dokters wat
by sy lykskouing teenwoordig was, verklaar het dat hy aan maagkanker
dood is, is agterna beweer dat hy dalk vermoor kon gewees het. Sy
simptome was glo meer soos dié van iemand wat deur arseen vergiftig is
as dié van ’n maagkankerlyer.
Omdat
soveel tyd intussen verloop het, sal g’n sterfling waarskynlik ooit
weet wat die waarheid is nie. Napoleon se oorskot is onder ’n klompie
wilgerbome in die pragtige Geraniumvallei begrawe, naby ’n fontein
waar hy graag ontspan het.
Die
immer kwaadwillige sir Hudson Lowe het gelas dat die naam “Bonaparte”
langs die naam “Napoleon” op die grafsteen moes verskyn. Om die
gewese keiser van die Franse hierdie bespotting te spaar het sy
banneling-vriende verkies om niks op die steen te skryf nie.

BO: ’n Voorstelling van Napoleon se sterfte op St. Helena in ’n ou Duitse boek. (Die werk word as openbare besit [“public domain”] beskou vanweë die verstryking van kopiereg, soos trouens ook die meeste van die ander grafika by hierdie artikel.)
.I.N
1840, byna twintig jaar ná sy begrafnis, is Napoleon se
oorskot na Parys teruggebring vir ’n veel glorieryker herbegrafnis.
Tussen
tienduisende bewonderaars deur het die doodkis onderdeur die Triomfboog
en af in die Champs-Elysées na sy finale rusplek in die Hôtel des
Invalides beweeg.
Die keiser se wens, soos in sy testament beskryf, om begrawe te word “aan die oewers van die Seine, tussen die Franse volk wat ek so diep liefgehad het”, is uiteindelik bewaarheid.
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad