Die opgang en die val van Napoleon Bonaparte, keiser van die Franse
(1769–1821)

 

Die liefdes, die glorie
... die skande

 

 Napoleon Steek die Alpe Oor

BO: Napoleon Steek die Alpe Oor deur Jacques-Louis David. Die beroemde skildery dramatiseer hoe die aanvoerder in 1800 sy manskappe deur die Groot St. Bernard-pas gelei het.

 

Sy idees van oorheersing het te groot geraak—maar aanvanklik het hy orde in sy ontwrigte land gebring toe dit die nodigste was. Boonop sou sy hervormings ten opsigte van burgerregte en die regstelsel uiteindelik wyd en syd buitekant Frankryk uitkring. Napoleon Bonaparte se rol in die geskiedenis kan nooit geringgeskat word nie...

 

Hierdie artikel moet liefs in samehang gelees word
met ander Mieliestronk-artikels oor:

Die Franse Revolusie

•  Napoleon se laaste jare van vernedering

Napoleon IREGS: Napoleon I op sy Keiserlike Troon deur Jean Auguste Dominique Ingres, 1806.   

 

              

                        

V

IR die uitgeputte Franse wat deur die Franse Revolusie (1789-99) in ’n bloedige chaos gedompel was, was hy die groot redder uit hul ellende.

 

Hy het nie net broodnodige orde na die land teruggebring nie, maar ook briljante goewermentele en geregtelike hervormings in Frankryk teweeggebring.

 

Ewe belangrik was dat hy sy landgenote se nasietrots herstel het.

 

Vandag word Napoleon Bonaparte (Napoleon I) steeds in Frankryk gehuldig as een van groot staatsmanne in die Franse geskiedenis. Hoe hierdie geniale veldheer die beheer in sy land oorneem het wat hom uiteindelik keiser van die Franse sou laat word, word in ons artikel oor die Franse Revolusie vertel.

 

Op die kruin van sy loopbaan het hy byna oor die hele Europa geregeer. Maar ongelukkig vir hom het sy idees te groot geraak. Dit is ’n kennelike beklemtoning van die feit dat selfs die grootste staatsmanne wat nog op die aarde gelewe het nie sonder menslike feilbaarhede was nie.

 

Napoleon Bonaparte se oorskot rus vandag in ’n praalgraf van Russiese graniet onder die koepel van die Hôtel des Invalide in die Franse hoofstad Parys. Hoewel hy deur sy teenstanders as ’n tiran beskou is, het die hervormings vir burgerregte wat hy geïniseer het, die geregtelike fondamente vir die grootste deel van Wes-Europa gelê.

 

Die sogenaamde Napoleontiese Kode—of Code Napoléon—wat onder sy heerskappy deur vooraanstaande regsgeleerdes opgestel en in 1804 in werking gestel is, het bevoorregting op grond van geboorte verbied, godsdiensvryheid toegelaat en bepaal dat regeringsposte gegee moes word aan diegene wat die beste daarvoor gekwalifiseer is.

 

Die Kode was ’n baie belangrike stap in die rigting van die vestiging van die oppergesag van die reg. Regsoewereiniteit is die leer waarvolgens die gesag van die reg onafhanklik van dié van die staat bestaan en geld vandag in alle liberale demokrasieë, ook in Suid-Afrika.

 

Om hierdie rede, indien om geen ander nie, is Napoleon Bonaparte ’n baie belangrike figuur van wie elke ernstige student in die geskiedenis moet kennis dra.

 

IN 1769 gebore as Napolione Buonaparte (sy Italiaanse naam) in Ajaccio, Korsika, was hy die tweede seun en vyfde kind in ’n Italiaanse gesin met agt kinders. Die eiland Korsika in die Middellandse See was toe pas deur Genoa aan Frankryk afgestaan en dit is vandag steeds Franse besit.

 

Napoleon se pa het goed met Franse oor die weg gekom, wat daartoe gelei het dat Napoleon hom in die militêre skool in Brienne, Frankryk, kon inskryf. Sy vroeë opgang word, soos ons gesê het, kortliks beskryf in ons artikel oor die Franse Revolusie.

 

Kort nadat hy as held van Parys uit die stryd getree het deurdat hy ’n opstand van die gepeupel in die hoofstad binne ’n ommesientjie onderdruk het, is hy getroud met Josephine de Beauharnais, ’n weduwee met twee kinders. Haar man het ten tyde van die Skrikbewind onder die valbyl gesterf.

 

Josephine de Beauharnais

BO: Josephine de Beauharnais, Keiserin van die Franse deur François Pascal Simon Gérard, 1808.

 

Napoleon het altyd sy gevoel van toegeneentheid vir Josephine behou, hoewel hy later die huwelik laat ontbind het in sy hardnekkige stryd om ’n wetlike erfgenaam te hê, ’n seun wat Josephine nie vir hom kon gee nie.

 

Ná sy troue met Josephine het Napoleon in 1796 bevelhebber van die Franse leërs in Italië geword. Die welslae wat hy daar behaal het, het die hele Europa verbaas. Min militêre leiers het hul leërs so vinnig en gepaard met soveel gevare verskuif. Teen 1797 was die Italiane en Oostenrykers onderwerp, waardeur hy die held van die hele Frankryk geword het.

 

Napoleon het hom voorts daarvoor beywer om ’n eie ryk in Afrika en Asië te vestig. In 1798 het sy vloot Toulon verlaat om Egipte te gaan verower, waarna hy die Egiptenare in die Slag by die Piramides verslaan en Kaïro tot oorgawe gedwing het.

 

 Napoleon voor die Sfinks

LINKS: ’n Gewysigde weergawe van ’n oorspronklike skildery deur Jean-Léon Gérôme van Napoleon voor die Sfinks (by die groot piramides in Egipte), geskilder omstreeks 1868.

 

Hy het daar voortgegaan met die stigting van ’n buitepos vir die nuwe Franse ryk, maar sy planne is deur die beroemde Britse vlootoffisier lord Nelson verydel. Onder Nelson se aanvoering is die Franse vloot in die Slag van die Nyl verslaan en is Napoleon sodoende van sy voorrade afgesny.

 

Ná sy terugkeer in Frankryk het Napoleon begin om die staat te reorganiseer, waarna hy die Alpe na Italië oorgesteek het. Hy Milaan in Italië verower en daarna, in die Europese somer van 1800,  die opstandige Oostenrykers in die Slag by Marengo verslaan.

 

Vir baie Franse, wat hul Italiaans-gebore oorlogsheld hoeka as hul eie beskou het, was dit niks minder nie as wonderlike nuus toe Napoleon in 1804 tot “keiser van die Franse” (Empereur des Francais)  uitgeroep word. Napoleon het selfs sover gegaan as om homself in die Notre Dame in Parys te kroon.

 

Dit het egter nie net by hierdie selfverering gebly nie. Napoleon het ook sy eie bloedfamilie ryklik bevoordeel en sy broers konings gemaak van die lande wat hy oorwin het.

 

’n Beoogde inval in Brittanje is egter verhinder deur lord Nelson, wat die Franse vloot in 1805 by Trafalgar verslaan het.

 

Napoleon, nou feitlik ’n diktator, het baasgespeel oor die kleinere volke, ’n pous in hegtenis laat neem, Oostenryk in die Slag by Austerlitz verslaan, Pruise in 1806 in die Slag by Jena oorrompel en Rusland verslaan.

 

Maar die roem vir Napoleon het nie sonder ’n prys gekom nie. Weens sy verowerings het hy vir hom baie gedugte vyande gemaak. Een gevolg hiervan was dat Spanje in opstand gekom het en, met die hulp van Brittanje, die Skiereilandse Oorlog laat ontvlam het. Ook Oostenryk het in 1809 in opstand gekom.

 

Tog het Napoleon steeds sy mes bly slyp om Brittanje te probeer onderwerp, die een land wat ’n doring in sy vlees gebly het. Vasbeslote om die Engelse deur hongersnood tot oorgawe te dwing, het hy die sogenaamde Kontinentale Stelsel ingevoer.

 

Hy die lande van Europa verbied het om met Brittanje handel te dryf en ook tsaar Alexander 1 van Rusland oorreed om hom hierin te steun. Maar toe die tsaar uiteindelik, in 1810, verklaar dat hy wel met Brittanje handel sal dryf, het Napoleon hom gedwing gevoel om militêr in te gryp.

 

Hy het Rusland in Junie 1812 met sy Groot Leër binnegeval en gehoop om Alexander die skrik op die lyf te jaag. Napoleon het die Russiese hoofstad Moskou bereik, maar sy plan met hierdie magtige opmars het aaklig geboemerang.

 

Hy het Moskou in vlamme aangetref en was genoodsaak om terug te val, in die haglikste omstandighede. Slegs sowat  30 000 oorlewendes van sy 600 000 manskappe het teen die einde van 1812 by die Oos-Europese rivier Neman aangekom. Meer as ’n halfmiljoen van hulle het in Rusland omgekom.

 

Vir Napoleon was die skrif aan die muur. Pruise en Oostenryk het hom by Leipzig verslaan en in 1814 is hy uiteindelik gedwing om te abdikeer. Hy is verban na die eiland Elba by Italië.

 

(Terloops, in Engels is daar ’n interessante palindroom oor wat Napoleon sou gesê het toe hy op Elba aangekom het: “Able was I ere I saw Elba.” Dit beteken natuurlik: “Ek was nog in staat [om dinge te doen] voordat ek Elba gesien het.” Lees nou die Engelse aanhaling ook van regs na links en die letters vorm presies dieselfde sin!)

 

Op Elba was Napoleon se blus egter nog glad nie uit nie. In Maart 1815 het hy van die eiland ontsnap. Hy het in Frankryk aan wal gestap, ’n nuwe leër op die been gebring waardeur die sogenaamde Honderd Dae begin het. Dit is in Junie beëindig toe hy by Waterloo, België, verslaan is deur geallieerde magte van onder meer die Britte onder bevel van die hertog van Wellington en Pruisiese soldate gelei deur Gebhard von Blücher.

 

Napoleon is na die eiland St. Helena in die Suidelike Atlantiese Oseaan verban, ver en geïsoleer genoeg om te verseker dat hy nie ook daarvandaan sou kon ontsnap nie. Oor sy skemerjare van vernedering tot met sy dood in 1821 word in taamlike besonderhede in ’n ander Mieliestronk-artikel vertel.

 

Die Slag by Waterloo deur die skilder William Sadler II

BO: Die Slag by Waterloo (olieverf op doek) deur die Ierse skilder William Sadler II (ca 1782–1839).

Die vorstehuis van die Bonapartes

VAN Napoleon se bloedverwante is, soos vroeër in hierdie artikel genoem is, kwistig deur hom begunstig. Sy broers was onder andere Josef (1768-1844), koning van Spanje; Lucien (1775-1840), aan wie 'n Italiaanse graafskap toegeken is; Lodewyk (1778-1846), koning van Nederland; en Jérôme (1784-1860), koning van Wesfale (’n deel van Duitsland).

 

Napoleon het een kind gehad, naamlik Napoléon François Joseph Charles (1811-1832), wat tot 1814 bekend was as die koning van Rome en daarna as die hertog van Reichstadt. Hy is deur Bonapartiste ook Napoleon II genoem. ’n Mens sou wel kon redeneer dat pa Napoleon se beheptheid met ’n opvolger vir sy dinastie ’n flagrante verbreking is van die bepaling in sy eie Napoleontiese Kode wat bevoorregting op grond van geboorte verbied!

 

Hoe ook al, Napoléon François Joseph Charles se ma was Napoleon se tweede vrou, Maria Louisa van Oostenryk, die hertogin van Parma, met wie Napoleon in 1810 getrou het nadat hy van Josephine geskei het.

 

Napoleon I se tweede vrou, Maria Louisa van OostenrykREGS: Detail van ’n skildery van Napoleon I se tweede vrou, Maria Louisa van Oostenryk, soos in 1839 geskilder deur Giovan Battista Borghesi.

 

 

Ná sy pa se abdikasie in 1814 het Napoléon François Joseph Charles aan die Oostenrykse hof gebly tot sy dood as 21-jarige jong man. Volgens die edelman wat vir sy opleiding verantwoordelik was, was hy vrypostig, lewendig, passievol en lief vir militêre aangeleenthede. Wat sy geaardheid ook al was, Europa was in daardie stadium nie gereed vir ’n tweede Napoleon nie.

 

Maar Napoléon François Joseph Charles het ook ’n “natuurlike swakheid in die bors” gehad wat vererger het, en hy is uiteindelik oorlede. In 1940 is sy stoflike oorskot op bevel van Adolf Hitler uit Wenen na Parys gebring en ook in die Hôtel des Invalides by die oorskot van sy beroemde pa herbegrawe. Die jong Napoleon se oorskot het ’n ruk langs dié van sy pa gelê, maar is later weer elders heen verskuif.

 

Napoleon I se seun, Napoléon François Joseph Charles, oftewel Napoleon IIBO: Napoleon I se seun, Napoléon François Joseph Charles, oftewel Napoleon II, maar wat slegs omtrent twee weke lank as sodanig “geregeer” het nadat Napoleon ná sy nederlaag by Waterloo ten gunste van hom geabdikeer het. Die seun het egter toe by sy ma in Oostenryk gewoon en ’n regeringskommissie van vyf lede het in der waarheid aanvanklik die beheer in Frankryk oorgeneem. Hulle het op die terugkeer gewag van koning Lodewyk XVIII, wat in ballingskap was, maar spoedig teruggekom het.

 

 

 

Napoleon III (1808-1873), gebore as Charles Louis Napoléon Bonaparte en die seun van Lodewyk Bonaparte, ’n broer van Napoleon I, het in 1852 keiser van die Franse geword. Hy is in 1848 in ’n volkstemming tot president verkies, het in 1852 diktator geword in ’n staatsgreep en die volgende jaar die troon as keiser bestyg. Hy het in die grootste weelde gelewe.

 

Napoleon III het afstand van sy troon gedoen nadat die Franse in die Frans-Pruisiese Oorlog verslaan was. Hy het na Engeland gevlug, waar hy oorlede is.

 

Napoleon IIILINKS: Napoleon III, detail van ’n skildery deur Franz Xaver Winterhalter, 1852.

 

Die doodsklok vir Bonapartisme (die strewe om die Huis van Bonaparte as ’n regerende dinastie te laat herlewe) het waarskynlik gelui toe Eugene Bonaparte, die enigste seun van Napoleon III, in 1879 gesneuwel het terwyl hy as ’n Britse leëroffisier in Zoeloeland in Suid-Afrika diens gedoen het.

 

As daar vandag ’n kroonprins moet wees, is dit ene Jean-Christophe, prins Napoléon, wat in 1986 gebore is, ’n verlangse afstammeling van Napoleon I se broer Jérôme Bonaparte. Daar is egter geen ernstige politieke beweging wat probeer om hom tot keiser van die Franse te verhef nie! Jean-Christophe se oupa in die manlike linie, prins Louis (of Lodewyk) Napoléon, wat  in 1997 oorlede is, het in sy testament bepaal dat hy Jean-Christophe as sy opvolger wou hê, hoewel dié se pa, prins Charles, nog lewe. Sover bekend, is daar geen ander afstammelinge van die broers van Napoleon I in die manlike linies nie.

 

Jean-Christophe, prins NapoléonREGS: Jean-Christophe, prins Napoléon, wat vandag die Franse kroonprins (of monarg) in die Huis van Bonaparte sou kon gewees het indien die dinastie nog in ’n regerende hoedanigheid voortbestaan het. Hy is in 1986 gebore en is ’n verlangse afstammeling van Napoleon I se broer Jérôme Bonaparte.

 

Foto deur Cyril Girault, wat dit op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web uitgeplaas en onder meer gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 3.0-lisensie, waarvolgens deling en afgeleide werke op sekere voorwaardes vergun word

 

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad