Ons lewende strande...

 

 

 

 

 

 

 

 

Strandtoneel teen skemer met opskrif

Dis ’n hele gedoente op die strand—wanneer die diertjies snags uitkom om makietie te hou in die beskerming van die donkerte...

’n Spookkrap op ’n strand in Australië

BO: ’n Spookkrap op ’n strand in Australië. Suid-Afrikaanse spookkrappe lyk maar baie soos hierdie een, maar het jy dalk vir ons foto van ’n regte inheemse meneer? Ons sal dit veel eerder hier wil gebruik (lees ondertoe).

Foto van krap: “AYArktos”, wat dit tot openbare besit verklaar het (“release into the public domain at Wikimedia Commons”)
Foto van seetoneel heel bo: US National Park Service

•  Mieliestronk wil graag foto’s bekom van eg Suid-Afrikaanse nagdiertjies van die strande, soos dié wat in hierdie artikel genoem word. Indien jy ’n foto of twee hiervan het wat jy reken ons gebruik, pos dit gerus in JPG-formaat aan ons by dugeot@mieliestronk.com. Aanvaarde foto’s sal vergoed word na gelang van gehalte en hoe ons hulle aanwend.

DIE son gaan onder. Die aandlug is kil. Die bonte gewemelte van baaiers het met verdrag en met die son saam gekwyn. Nou lyk die kuslyn leeg en dood, en dis baie stil.

Maar is dit werklik so leweloos? Wat skarrel daar so skuins oor die raafswart rotse en wat kruip hier so sku oor die sand? As jy die strand in die nag-ure besoek, sal jy bes moontlik verbaas wees oor wat jy alles daar sal aantref.

Dit is die geheime lewe van die diertjies wat snags op die see se drumpel karnaval hou—en van besoekers uit die golwe wat dan maar net vlugtig op die strand kom toer...

Op ’n nagtelike wandeling langs die KwaZulu-Natalse of Oos-Kaapse kus kan jy moontlik ’n haastige krap raakloop wat blitsig voor jou uitskarrel.

Om hom te probeer vang is vergeefs. Die sogenaamde spookkrap is een van die vinnigste krappe op aarde. Hy kan nie net met ’n snelheid van twee meter per sekonde vorentoe en agtertoe hardloop nie, maar ook sywaarts.

Spookkrappe verskyn gewoonlik wanneer die gety afgaan en haas hulIe dan oor die duine op soek na kos. Dit kan enigiets wees van klein seeskilpadjies tot isopodes (lees ondertoe) en dooie plante- en dieremateriaal. Met hul groot stingel-oë kan hulle snags baie goed sien. En as ’n indringer naby hul lęplekke kom lol, sal hulle maak of hulle hom wil aanval om hom te verjaag.

Spookkrappe keer terug na hul hole wanneer die gety begin stoot.

EN dan is daar die seeskilpaaie. In die begin van die somer, wanneer die Agulhas-seestroom langs die kus van KwaZulu-Natal warmer word, verlaat hierdie seediere hul tuiste in die diepsee om op die strande te kom eiers Ię. Daar is twee soorte—die grootkop en die leerdop—wat snags onder die dekking van die donkerte stadig hul pad oor duine aan die ooskus baan. (Die grootkopseeskilpad stap ook by die suidkus aan wal.)

Dis net die wyfies wat dit op die land waag—die mannetjies verwyl hul hele lewe in die see—en dis ’n moeisame tog in die onherbergsaamheid. Hul vinpote is vir swem ontwerp, nie vir loop nie, en hulle sleep hul logge liggame en doppe met groot swarigheid oor die strand.

Dié leerdop-seeskilpad het strand toe gekom om haar eiers te lęLINKS: Hierdie wyfie van die leerdop-seeskilpad het strand toe gekom om haar eiers te lę. Die leerdop (Dermochelys coriacea) is nie net die grootste van alle lewende seeskilpaaie nie, maar kom ook die mees wyd verspreid op die aarde voor—van die Kaap en die suidelikste punt van Nieu-Seeland af noordwaarts tot goed binne-in die Noordpoolgebied.

Foto: NOAA


Nadat ’n wyfie verby die hoogwaterlyn gekruip het, druk sy haar neus bra onwaardig in die sand in. Só inspekteer sy die terrein. Op ’n plek wat vir haar geskik lyk, grawe sy dan ’n gat, plaas haar stomp stert daarin en Ię haar eiers, wat soos wit tafeltennisballe lyk.

Sy bedek die eiers versigtig met ’n lagie sand en maak die gat verder vol sand. Hierna beweeg sy stadig en onbeholpe terug na die see.

In die see net agter die branders wag die mannetjies op die terugkerende wyfies om onmiddellik weer met hulle te paar.

In hul sandneste sal die eiers môre deur die son verwarm word. Ná drie maande sal die seeskilpadjies uitbroei. Hulle sal uitkruip en dan instinktief na die wagtende see beweeg...

NOG kruipers wat snags op ons strande wemel, is die groot isopodes genaamd tylos.

Hulle maak slegs met laagwater hul verskyning aan die westelike en suidelike kuste van Suid-Afrika. Hulle is sowat 3 cm lank en lyk soos houtluise.

Die grootste deel van hul lewe bring hierdie eienaardige diertjies in klein “kamertjies” so 20 tot 30 cm onder die sand deur. Dit is omdat die sand bedags bolangs skroeiend warm kan word, terwyl die temperatuur verder ondertoe taamlik konstant bly.

Elke aand met laagwater, wanneer die kans skraal is dat die see hulle sal kom oorweldig, kom die tylos uit hul skuilplekke. Dan vreet hulle sowat twee, drie uur lank aan die seegras wat op die strand uitgespoel het.

Aangesien laagwater elke nag sowat 50 minute later as die vorige nag voorkom, kom die tylos ook ál later uit hul woonplekke. As die laagwater-etensuurtjies uiteindelik teen dagbreek moet geskied, slaan hierdie fassinerende kreatuurtjies oor na ’n nuwe eet-skedule: hulle verskyn eenvoudig net weer saam met die vroegaand se eb-gety.

Dit wil ál lyk of hulle ingeboude wekkers het wat dié dinge vir hulle reël.

Tylos-voorbeeldeREGS: Nie byvoorbeeld die Tylos granulatus van ons Weskus nie, maar tylos van ander węrelddele. Wie het vir Mieliestronk ’n foto (of selfs ’n illustrasie) van een of meer van ons eie sandtrappertjies?


As die tylos klaar gevreet het, skarrel hulle terug na die droë sand. Hulle boor in die grond in deur hul liggame te roteer terwyl hulle grawe, en vorm sodoende ’n tregter van los sand om hulself totdat hulle feitlik onderstebo staan. In hierdie posisie grawe hulle direk ondertoe en blokkeer in die proses die ingang tot hul skuilplek.

EEN van die bekendste boorlinge van die Kaapse strande is die bleek sandhopper (Talorchestia) wat teen sonsondergang uit die sand kruip en, met die maan as sy gids, teen die strand af trek op soek na verrotte seewier. Net soos die tylos en die spookkrap lyk dit of die sandhopper ’n ingeboude biologiese horlosie het wat hom help om sy bedrywighede tot laagwater te beperk sodat die branders hom nie kan bykom nie.

Wat die verskyning van die sandhoppers so skouspelagtig maak, is die groot getalle waarin hulle uitkom om te vreet: 25 000 per vierkante meter.

Soos hul naam aandui, beweeg die sandhoppers al springende rond. Maar anders as ander springers—die vlooi, byvoorbeeld—is hierdie boeiende klein diertjies verskriklike lomperds. Dit gebeur baie dikwels dat hulle op die rug beland ná ’n sprong en hulself eers weer orent moet woel voordat hulle kan voortgaan.

Sandhopper

BO: ’n Sandhopper (Talitrus saltator) van ’n strand doer ver aan die Oossee. Enige foto van ’n opregte Suid-Afrikaanse sandhopper enigiemand?

Foto: Arnold Paul,
wat dit by Wikimedia Commons op die węredwye web uitgeplaas en gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution-Share Alike 2.5 Generic-lisensie. Daarvolgens word herbebruik op sekere voorwaardes vergun

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad