|
’n Bytende
verhaal vol venynige intriges
|
||||||||||||||||||
|
||||||||||||||||||
|
ZOEI-I-I-I-I-I-I...
ZIP! Daar sit sy ongevraag op jou ontblote vel en sy hou ’n
bloed-makietie. En jy besef dit moontlik nie eens nie. Eers agterna krap jy vir ’n vale aan die rooi en bultende klein gevolge van die vrypostige muskiet se brassery. Verpestelike klein Dracula! Wie gee haar die reg om jou so te treiter? Hoe ook al, as haar bietjie bloed steel maar al was, kon ’n mens miskien-miskien nog hierdie hoogs lastige bytertjie so halfpad geduld het. Wat egter veel erger is, is dat die muskietwyfie onmoontlik kan besef watter onnoemlike ellendes sy alles op aarde veroorsaak. Malaria, geelkoors, knokkelkoors, harsingsontsteking—en nog sowat tagtig virussiektes wat aan muskiete gewyt word—het saam reeds miljoene mense in hul graf laat beland. Die muskietwyfie, het ons gesê? Inderdaad. Raar maar waar, die mannetjiemuskiet is geen bloedsuier soos sy nie. Hy’s ’n doodsedige jansalie wat heeltemal tevrede is om lewenslank aan niks anders as nektar te teug nie. Ook vrugtesappe en selfs vuil water is op sy geheelonthouer-spyskaart. Dit is dus sy wyfie wat haar lyf bloedsuier hou en so venynig op jou lyf te kere gaan. Tot haar verdediging kan miskien tog gesê word dat sy die proteïen in jou bloed broodnodig het. Sonder bloed kan sy immers nie haar eiers lê sodat die muskietnasie kan voortbestaan nie. (Daar is darem ook party soorte muskietwyfies wat nooit bloed soek nie.) ’n Aantal van die meer as 3000 muskietsoorte wat wêreldwyd voorkom, is die draers van al die pestilensies waarvan ons hierbo gepraat het. Suidelike Afrika is die gasheerstreek vir nagenoeg 500 muskietsoorte. Malaria is beslis die bekendste muskietverwante siekte, en in ’n ander Mieliestronk-artikel word breedvoeriger daarvan vertel. ’n Baie gevaarlike muskiet is Aedes aegypti, die soort wat in die tropiese en subtropiese dele van Afrika en die Amerikas die virus van geelkoors versprei. Hierdie muskiet het al duisende mense doodgemaak.
MAAR kom ons bekyk ’n bietjie een of meer van die aarde se ontelbare muskiete van naderby. Miskien het jy byvoorbeeld al gewonder presies hoe hierdie verfoeilike insekte daardie gewraakte zoei-geluid maak waarvoor hulle so bekend is. Al praat die digter van ’n muskiet wat ’n aria “sing”, is daar hoegenaamd geen ooreenkoms tussen die muskiet se geluid en my en jou musikale geneurie onder die stort nie. Dit het nie eens iets gemeen met die sang van voëls nie. Die geheim van die geluid lê nie in stembande nie, maar in die wyfie se vlerkies. Dié het duisende skubvormige hare wat die zoei-klank voortbring wanneer sy die vlerkies teen ’n duiselingwekkende 200 tot 600 vlerkklappe per sekonde laat vibreer. En op hul eiesoortige manier is die muskiete se geluide tog wel “liefdesliedere”. Die mannetjie hoor die wyfie se gonsery met sy twee pluimvormige voelers. Daar is eers gedink dat die wyfie miskien doof kan wees en dat net die mannetjie kan hoor waar sy rondvlieg, maar navorsers van die Cornell-Universiteit in Ithaca, New York, het anders bevind. Hulle het die geelkoors-muskiet Aedes aegypti bestudeer en agtergekom dat vryerige muskiete ’n paringsduet lewer deur hul vlerke harmonieus saam te klap. Minnelied van die Muskiet... ’n mens staan weer verwonderd oor die harmonie in die natuur wat tot in die kleinste dingetjies bestaan! Maar só vind meneer en sy liefdesmaat dan mekaar in die donkerte. En in die maand of wat waarin die wyfie leef, kan sy vier of vyf keer eiers lê, wat sy telkens bevrug met die manlike saad wat sy in haar liggaam hou. DIS besonder interessant dat die verskillende muskietspesies elk hul eie tyd het wanneer hul bedrywig is—sowat twee uur lank uit elke 24 uur. Dit is dus nie dieselfde soort wat jou vroegaand en dan weer laat in die nag tempteer nie. Verskillende soorte byt selfs op verskillende hoogtes bokant die grond. Voorts waag party muskiete dit nooit verder as 500 meter van hul “geboorteplek” nie, terwyl ander tot 30 km in een nag kan aflê agter ’n slukkie mensebloed aan. Nie almal is egter kieskeurig nie. Sommige byt honde, beeste, hoenders, olifante, paddas, slange—enige bloedskenker wat hulle kan vind—en die mens is dan bloot ’n toevallige slagoffer. Enkele soorte suig selfs die bloed van ander insekte soos hottentotsgotte en miere. Die wyfiemuskiet is al ’n lugvaartkundige wonder genoem. Sy kan onderstebo, agteruit en selfs sywaarts vlieg—en boonop skielik versnel of stadiger vlieg om ’n klappende hand vry te spring. Party soorte, word vertel, kan selfs in ’n reënbui vir elke druppel koes en droog anderkant uitkom! WAT dit is wat muskiete na die mens toe aantrek, is steeds nie heeltemal duidelik nie. Daar is tot al vertel dat dit die reuke van ’n mens se voete is wat hulle die meeste verlei. Sodra jy jou skoene uittrek, sou hul aptyt aangewakker word deur die walms in hul onmiddellike atmosfeer—al sou jy ook self hóé oortuig daarvan wees dat jy nie met onwelriekende voete gepla is nie!
Hulle het besonder gevoelige sensors. Hiermee vang hulle jou reuk op aan die koolsuurgas wat jy uitasem en die melksuur aan jou vel. En as jy vir hulle lekkerder ruik as iemand anders, is jy die een wat môreoggend gaar gebyt is. Trouens, geleerdes reken muskiete se reukvermoë is so gespesialiseerd dat hulle ’n mens op ’n veld vol beeste kan opspoor. Vogtigheid lok ook muskiete, sodat vet mense, wat meer sweet, meer gebyt word as maer mense. Maar nou moet ’n mens uiteindelik ook sê dat die “byt” van ’n muskiet eintlik ’n verkeerde woord in die volksmond is. Wat die insek in werklikheid doen, is steek, en wel met ’n geniepsige steekbuis. Hierdie steekbuis is ’n lang snoet met messies waarmee jou vel ongeërg oopgekerf word, waarna die muskiet haar snoet ’n millimeter of wat onder jou vel in een van jou haar-aartjies indruk voordat sy begin bloed suig. Sy spuit ook speeksel in die wondjie in. Dit bevat ’n teenstolmiddel wat keer dat jou bloed op pad na haar maag stol. Dit is hierdie speeksel wat die steekplek agterna so hinderlik laat jeuk. Dit is, afhangende van die muskietspesie, ook só ’n druppeltjie spoeg waarin die kieme kan skuil wat ’n mens dalk kan laat siek word of doodmaak. Voordat sy op jou liggaam feesvier, weeg die muskiet maar ’n piepklein breukdeeltjie van ’n gram. Wanneer sy binne ’n minuut nadat sy haar sit gekry het met jou vrag bloed wegvlieg, is sy baie swaarder. Haar kosbare buit het dikwels ’n massa van meer as 5 mg—drie keer meer as wat sy self weeg. Nou het sy genoeg voeding om 70 tot 500 eiers te produseer, ook afhangende van die spesie. En daarmee word ’n nuwe geslag muskiete verwek wat jou met hernieude bloeddorstigheid in die somernagte uit die bed kan jaag. Tensy jy vooraf verstandig genoeg was om vir jou ’n doeltreffende muskietverdrywer te koop. Wyk, muskiet, wyk!
|
||||||||||||||||||
|
Foto: CEPOLINADOT.COM / FREEPHOTO |
||