Die verstommende
geskiedenis van musiek

 

Melodies, harmonies,

ritmies... lawaaierig!

Musiek kon begin het by die vroeë mense se eenvoudige nabootsing van voëlgeluide... of hul han­degeklap en voetegestamp om aan intense gevoe­lens uiting te gee. Maar die ontwikkeling van musiek by die mensdom en veral in die Weste kan omtrent met geen ander woord as verbysterend beskryf word nie...

 

Klavesimbel

BO: ’n Klavesimbel in die Vlaamse styl met die Latynse inskripsie SINE SCIENTIA ARS NIHIL EST (“Sonder kennis is vaardigheid niks”) en DUM VIXI TACUI MORTUA DULCE CANO (in Latyn: “Toe ek gelewe het, was ek stom, in die dood sing ek soet”). Lees ’n bietjie meer oor die klavesimbel heel onderaan hierdie artikel

 

Krediet: Foto en instrument van Gérard Janot,

wat die foto op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web geplaas en dit ook daar gelisensieer het. Kopiëring, verspreiding en/of wysiging word vergun ingevolge die bepalinge van die GNU Free Documentation License, Weergawe 1,2 of enige latere weergawe soos gepubliseer deur die Free Software Foundation; sonder Invariante Seksies, sonder Omslagtekste vir die Voorkant en sonder Omslagtekste vir die Agterkant. ’n Kopie  van die lisensie is vervat in die afdeling getiteld "GNU Free Documentation License".

    
Opera is waar ’n kêrel in die rug gesteek word... en hy dan sing in plaas van om te bloei
  

—Komediant in ’n ou radioprogram

1. Musiek in die daeraad van kulturele
ontwikkeling en in die Oudheid
 

M

USIEK... waar het dit alles begin? By verskillende kulture was die musiekontwikkeling anders, maar die begin kon tog plek-plek baie dieselfde gewees het. Iemand kon byvoorbeeld na die soete gekweel van voëltjies geluister en toe geprobeer het om dit na te boots. Of hy kon sy liggaam as ’n musiekinstrument gebruik het deur ritmies met sy hande te klap of ewe reëlmatig met sy voete te stamp.

 

Vir vanmelewe se Australiese inboorlinge het musiek nie eens by die mens begin nie, maar het die mens juis sy ontstaan gehad as gevolg van musiek. Hulle het vroeër geglo (maar glo darem nie meer so nie) dat musikale geeste in die voortyd uit die grond gekom en die lewende wesens van die wêreld geskep het. Die geeste sou sing-sing oor die land geloop het—en waarvan hulle ook al gesing het, dié het uit hul gesingery ontstaan: die mense, die voëls, die vlinders en die kruipende diere.

 

Die Australiese inboorlinge (aborigines) het ook geglo dat hulle deur middel van byvoorbeeld sang, dreunsang en danse hul bande met daardie skeppende geeste van ouds kon behou. Dit het dikwels gepaard gegaan met ’n geklik van stokke, boemerangs en ander wapens en die spookagtige klank van blaasinstrumente genaamd didgeridoos.

 

In Afrika word tot vandag toe nog tradisioneel geglo dat ’n verbinding tussen die natuurlike en bonatuurlike met musiek, sang en danse bewerkstellig kan word.  Só sou ook die Khoisan in Suid-Afrika in die ou dae snags om vure gedans het om in verbinding te kom met hul eie persepsie van die krag van God.

 

By Amerika se Indiane was daar eweneens baie danse met godsdienstige motiewe, soos die buffeldans, mieliedans en reëndans. Tradisionele Indiaanse musiek het dikwels tromspelery ingesluit, en ander kere sou enkelinge op fluite speel. Rammelaars is ook by geleentheid geskud.

 

Dit alles dien as voorbeelde van hoe musiek in natuurgebonde gemeenskappe aangewend is—en dalk vandag steeds aangewend word soos hul voorouers dit miskien reeds duisende jare gelede gedoen het.

 

Die ontwikkeling van musiek was inherent in die ontwikkeling van kulture. Muurskilderings van musiektonele, argeologiese vondste en antieke geskrifte vertel so iets van die instrumente wat in antieke tye gebruik is.

 

Niemand weet egter vandag presies hoe die musiek van die musiekmakers in die daeraad van kulturele ontwikkeling geklink het nie. Dit kon nietemin baie naby gewees het aan die musikale klanke wat steeds in hoogs afgesonderde gemeenskappe gehoor word, waar mense nog skaars kennis gemaak het met wat as die “moderne beskawing” beskryf word.

 

Hoe ook al, geleerdes stem saam dat die vroegste musiek monofonies moet gewees het—dit wil sê eenstemmig, met ’n enkele melodie—al het geen enkele noot daarvan vir ons behoue gebly nie.

 

Volgens oorlewering het Chinese musiek omstreeks 2700 v.C. ontstaan. Onder die tradisionele Chinese instrumente is ’n soort mondfluitjie en die siter-agtige  Chinese luit.

 

Die baie verwysings na musiekinstrumente en liedere in die Bybel dui daarop dat die ou Israeliete ’n hoogs ontwikkelde musiekkultuur gehad het. Trouens, die Bybelboek van die Psalms is die oudste bestaande liederebundel, en die Joodse tempelgesange het die grondslag van die vroeë Christelike kerkmusiek gevorm.

 

Die eerste mense van wie ons vir seker weet dat hulle musiek gemaak het, was die ou Egiptenare. Hierdie liedjie (ietwat vry vertaal) was ’n tipiese werklied van die ou Egiptiese landvolk agter die ploeg:

 

 Dit is ’n koel en goeie dag.

Die beeste trek die ploeg met krag,

die weer is nes ons dit begeer —

Kom laat ons werk vir ons edele heer!”

 

Op die Egiptenare se behoue geblewe skilderye en beelde word ook ’n groot verskeidenheid van musiekinstrumente afgebeeld, onder meer tamboere, simbale, trompette, fluite, luite en harpe. Baie van hierdie instrumente toon verbasende ooreenkomste met ons moderne musiekinstrumente. Die ou Egiptiese musiek was waarskynlik heel stemmig en beheers.

 

In die antieke Griekeland was musiek nie net ’n wesenlike deel van die lewe nie, maar vir die Grieke was dit boonop ’n goddelike gawe en ook onmisbaar in die opvoeding van die jeug.  Gevolglik het die musiekkuns hier nuwe hoogtes bereik.

 

Die ou Grieke het gereeld musiekwedstryde tot lof van die gode aangebied en nuwe musiekvorme ontwikkel. Die Griekse drama was ’n samevoeging van musiek, poësie en dans—en die musiekdeel het hoofsaaklik bestaan uit solo’s deur die akteurs en sange en danse deur die koor.

 

Hoewel hierdie musiek, sover ’n mens kan aflei, baie ingewikkeld en genuanseerd was, het dit slegs uit alleenstaande melodieë bestaan, met die ritme wat dié van gesproke woord gevolg het. Die melodie was dikwels geornamenteerd, want van die harmonie het die Grieke nog niks geweet nie.

 

Hulle het nogtans baie goed besef hoe geestesverheffend en strelend vir die sinne musiek kan wees, en die Griekse musiekteorie het ’n besliste invloed op die vroeë Europese musiek uitgeoefen.

 

Ongelukkig het slegs ’n paar fragmente die ou Griekse musiek behoue gebly.

 

Omdat die musiekgeskiedenis van die Weste die beste gedokumenteer is, word dit hieronder breedvoeriger behandel. Musiek het immers in die Weste verder ontwikkel as in enige ander beskawing, hoewel dit natuurlik mettertyd ook deur invloede van buite verryk is.

 

2. Vroeë Christelike tydperk

 

DIE eerste formele musiek in die Weste was dié van die Christelike kerk, waar musiek van die begin af ’n groot rol in die erediens gespeel het. ’n Nuwe tydperk in die musiekgeskiedenis het dan ook in 313 n.C. begin toe keiser Konstantyn geloofsvryheid aan die Christene gegee het.

 

Die kerkmusiek het uit ’n versmelting van Griekse en Joodse invloede ontwikkel—die psalms en dreunsange van die Hebreeuse musiek vermeng met die musiek van ou Griekeland. In die vroeë Christelike eredienste is van die gelyksang (eenstemmige liturgiese sang) gebruik gemaak.

 

Maar toe, in die vierde eeu n.C., word die musiekskat van die vroeë Christelike kerk aansienlik uitgebrei deur die werk van Ambrosius, biskop van Milaan. Hy het nuwe gesange uit die Ooste in Europa ingevoer en ook die vier outentieke modusse (toonlere wat as skema vir die vorming van melodieë gedien het) vasgelê.

 

Enkele  eeue later is die gelyksange versamel en georganiseer toe pous Gregorius die Grote (590-604) die vorm van die Christelike liturgie (die gebruike en formuliere vir die erediens) op ’n vaste grondslag geplaas en ’n musiekskool in Rome gestig het met die doel om die tradisionele kerkmusiekerfenis te bewaar en uit te brei. Die georganiseerde gelyksange het tot die ontstaan van ’n sangtradisie in die Rooms-Katolieke Kerk gelei wat vandag as die Gregoriaanse sang bekend staan.

 

3. Middeleeuse tydperk (800-1450)

 

’n Musikant besig om ’n boogsnaarinstrument te bespeel op ’n ou Middeleeuse manuskrip

REGS: ’n Musikant besig om ’n boogsnaarinstrument te bespeel op ’n ou Middeleeuse manuskrip.

 

DIE Gregoriaanse sange het omstreeks in die jaar 900 ’n hoogtepunt in hul ontwikkeling bereik. Dieselfde tydperk is deur die begin van polifonie of meerstemmigheid in musiek gekenmerk.

 

Die invoering van polifonie (van die Grieks vir “baie stemme”) was waarskynlik die belangrikste gebeurtenis in die musiekgeskiedenis. Waar musiek aanvanklik slegs uit die suiwer melodie bestaan het—selfs al is dit deur verskeie sangers met instrumentale begeleiding uitgevoer—is geleidelik ontdek dat pragtige effekte verkry kan word deur verskillende melodieë te kombineer en saam te speel.

 

Polifonie word omskryf as ’n komposisiestyl waarin verskeie melodieë (vokale of instrumentale stemme) van eweveel belang tegelykertyd optree.

 

In organum, een van die vroegste soorte polifonie, het een stem ’n vooraf bestaande melodie genaamd cantus firmus (vaste melodie) gesing, terwyl ’n tweede stem dieselfde melodie by ’n vierde of vyfde interval ondertoe gesing het. (’n Interval is die verskil in hoogte tussen twee tone wat ná mekaar gehoor word.) Die stemme het in parallele beweging gesing.  Diskant was ’n ingewikkelder vorm van meerstemmige sang. Die stemme het ’n teenoorgestelde beweging gevolg, met die een stem wat opwaarts beweeg het terwyl die ander een afgegaan het.

 

Polifoniese musiek het groot nuwe moontlikhede aan die komponiste gebied, en die vaslegging van reëls vir harmonie wat tot in ons eie tyd geld, het hieruit ontstaan.

 

In die elfde eeu was daar ’n belangrike voorwaartse ontwikkeling toe Guido d’Arezzo, ’n Benediktyne-monnik, die blink plan gekry het om die toonhoogte van note deur ’n stelsel van horisontale lyne aan te dui. Op sy vierlynige notebalk het hy van sowel lyne as spasies gebruik gemaak en die tone op die notebalk ut, re, mi, fa, sol, la genoem. (In Guido se tyd het die toonleer slegs ses tone gehad.) Om die leesbaarheid te verhoog, was die lyne dikwels in kleur.

 

Hierdie noteskrif het as grondslag gedien vir alle latere metodes om musiek op papier neer te skryf—iets wat, om die minste te sê, vantevore bra baie onbevredigend en ondoeltreffend gedoen is.

 

Die musiek van die twaalfde en dertiende eeu word dikwels Ars Antiqua (“ou kuns”) genoem. Nuwe vorme van polifonie is deur die skool van die Heilige Martialis in Limoges, Frankryk, en die skool van Notre Dame in Paris, Frankryk, ontwikkel.

 

Toonaangewende musici van die veertiende eeu het na hul kuns as Ars Nova (“nuwe kuns”) verwys. Nuwe vorme wat in hierdie tyd ingevoer is, was grootliks sekulêr, dit wil sê ongewyd of wêreldlik of nie-godsdienstig.

 

Die tegniek van die kanon—met die klem op die eerste lank uitgespreekte  lettergreep, dus -non en nie die kanón wat ’n stuk grofgeskut is nie—is in die Italiaanse caccia, ’n jaglied, ontwikkel en dikwels in tweedelige Italiaanse madrigale. (Die madrigaal was oorspronklik ’n Italiaanse herdergedig; sedert die veertiende eeu was dit egter ’n begeleide liedvorm, en sedert die sestiende eeu ook ’n onbegeleide wêreldlike lied vir meer as een stem. )

 

In die Ars Nova-periode is ’n stelsel van notasie of noteskrif bedink wat ritme aangedui het.. Note is puncta (“punte”) genoem en die musiekterme “kontrapunt” en “kontrapuntale skrif” kom van die frase punctum contra punctum (dit beteken “noot teen noot—en dit kontrasteer natuurlik weer met die frase “Noot vir Noot”, wat vandag in Suid-Afrika die naam van ’n gewilde televisieprogram is!)

 

Hoe ook al, kontrapunt is die kuns om twee of meer gelykwaardige melodieë harmonies saam te voeg sonder dat die selfstandigheid van die melodieë aangetas word.

 

Talle gewilde musiekstukke en volksliedere het neffens die liturgiese musiek van die kerk ontstaan. Oor sekulêre musiek voor die tiende eeu is weinig bekend. Liedere wat moontlik meer ritmies as die gelyksang van die eredienste was, is met instrumentale begeleiding gesing.

 

Die minnesange en drinkliedere van swerwer-studente was gewild van die laat tiende tot vroeë dertiende eeu. Hierdie volkskuns het musikale lede van die adelstand geïnspireer, en van die elfde tot die veertiende eeu het minnesangers in Frankryk en Duitsland ’n stewige klomp liedere gekomponeer. Die beroemdste van hierdie aristokratiese musici was die sogenaamde troebadoers van Provence in Suid-Frankryk, wat gedigte geskryf en getoonset en dan gewoonlik self gesing het.

 

Onbeholpe of primitief was die troebadoerskuns nie. Allesbehalwe. Trouens, in die voorbeelde van hul digkuns wat behoue gebly het, kan sowat 900 verskillende vorme van versmaat en strofebou onderskei word. Hierdie liedere staan byna almal in die ridderlike tradisie, en die meeste is minneliedere.

 

Maar hoewel selfs konings—soos Richard Leeuehart van Engeland—die troebadoerskuns beoefen het, het dit uiteindelik uitgesterf. Dit was hoofsaaklik weens die ondergang van die ridderdom, wat die draer van hierdie kunsvorm was.

 

In die eerste helfte van die vyftiende eeu het die sentrum van musiek na die Lae Lande verskuif. Die Middeleeuse tydperk is tot ’n einde gebring deur die Boergondiese skool onder leiding van Guillaume Dufay en Gilles Binchois. Die Boergondiese skool is ’n term wat gebruik word om ’n groep komponiste te beskryf wat bedrywig was in wat vandag Noord- en Oos-Frankryk, België en Nederland is.  Beïnvloed deur die Engelse komponis John Dunstable, het die Boergondiërs hoogs uitdrukkingsvolle liedere geskryf.

 

4. Renaissance (1450-1600)

 

IN DIE tweede helfte van die vyftiende eeu het die Vlaamse skool van komponiste polifoniese tegnieke gevestig wat die musiek van die Renaissance oorheers het.  ’n Vierde stem, die bas, is bygevoeg by die mottete (meerstemmige godsdienstige sang) en die musiek van die Mis (Rooms-Katolieke offerande van brood en wyn op die altaar). Van die Vlaamse meesters het wyd in Europa gereis en hulle in belangrike stede gevestig. Teen die einde van die vyftiende eeu het hulle hul kontrapuntale kuns regoor Europa versprei.

 

In die sogenaamde “Goue Jare van Polifonie”, in die sestiende eeu, het polifoniese sangmusiek ’n trap van volmaaktheid bereik. Terselfdertyd het die Hervorming—die godsdienstige beweging wat gelei het tot die afstigting van die Protestante van die destydse Rooms-Katolieke Kerk—’n aanmerklike uitwerking op musiek gehad. Die Vader van die Protestantisme, die Duitse teoloog Martin Luther, was ook ’n fluitspeler, wat die Duitse koraal, die kerklike koorsang, help ontwikkel en gemeentlike sang in die kerk aangemoedig het.

 

Die sekulêre musiek van die Renaissance is deur die madrigaal oorheers. Instrumentale musiek, veral vir die luit, klavesimbel en virginaal, het gewild geword. Verskillende instrumentale vorme het fantasias ingesluit, wat dikwels op volksliedere en -danse gebaseer was.

 

Die luit is natuurlik ’n baie ou snaarinstrument met ’n peervormige kas. Die klavesimbel (lees ietsie meer daaroor heel onderaan hierdie artikel) is ’n vleuelvormige klawerbordinstrument. Die virginaal is ’n soort klavesimbel, reghoekig en sonder pote, met snare wat loodreg staan op die rigting van die toetse.

 

5. Baroktyd (1600-1750)

 

’N OPVOERING van die opera Euridice in 1600 het een van die mees gebeurtenisryke tydperke in musiek ingelui. Die Barok was ’n tydperk van kontras en verandering. Dit het in Italië begin as ’n opstand teen polifonie en in Duitsland geëindig waar polifonie sy grootste ontwikkeling geniet het in die werk van Johann Sebastian Bach. Namate die adelstand meer in musiek begin belang stel het, het sekulêre musiek belangriker as gewyde musiek (kerkmusiek) geword.

 

Met die ontwikkeling van die opera-resitatief en -aria het homofoniese musiek ’n nuwe belangrikheid verwerf. Harmonie is op ’n nuwigheid gebou, die besyferde bas, en kerktoonsoorte is geleidelik deur die toonlere majeur en mineur vervang.

 

Verbeterings in musiekinstrumente het tot die ontstaan van die orkes en nuwe instrumentale vorme gelei. Nuwe speeltegnieke soos byvoorbeeld die viool-pizzicato is bedink, waar die snare nie gestryk nie, maar met die vingers gepluk word.

 

Onder die instrumentale vorme wat deur Vivaldi, Corelli, Frescobaldi, Purcell en ander ontwikkel is, is die suite, concerto grosso, ouverture, fuga, passacaglia en chaconne. Die kantate, oratorium en passie het saam met opera ontwikkel. Die arias in hierdie werke het tot die bel canto-sangstyl gelei.

 

Die Baroktyd het sy hoogtepunt bereik in die instrumentale werke van Bach en in die dramatiese operas en oratoriums van George Frideric Handel.

 

6. Die Rococotyd (1725-75)

 

TERWYL Bach en Handel besig was om hul majestueuse werke te skep, was ander komponiste op hul beurt besig om die grootsheid van die Barok vir ’n grasieuse Rococo-styl te verruil. Die Rococotyd, wat met die klawerbordwerke van François Couperin in Frankryk begin het, oorvleuel met sowel die Baroktyd as die Klassieke tydperk.

 

Die genoeglike, hoogs geornamenteerde en dikwels oppervlakkige musiek van hierdie oorgangstydperk het bekend geraak as die style galant. K.P.E. Bach, Domenico Scarlatti en Giovanni Sammartini was onder die toonaangewende komponiste.  Saam met die komponiste van die Mannheim-skool, onder leiding van Johann Stamitz, het hierdie manne met homofoniese tekstuur, nuwe vorme en dinamiek geëksperimenteer en die fondament vir die Klassieke komponiste gelê.

 

7. Klassieke tydperk (1750-1820)

   

DIE musiek van dié tydperk is bekend vir sy helder en formele struktuur, emosionele beheerstheid en objektiwiteit. Ofskoon hierdie klassieke ideale in alle musiektydperke teenwoordig was, was hulle in die laaste helfte van die agttiende eeu oorheersend. Wene in Oostenryk het die middelpunt van musiek geword en hierdie era word dikwels die Weense klassieke tydperk genoem.

 

Die Klassieke tydperk se grootste ontwikkeling was die sonate, wat die basis van die simfonie, concerto en kwartet geword het. Dit het tot die organisering van die orkes gelei, met sy groepering van snaar-, houtblaas-, koper- en slaginstrumente.

 

Byna alle instrumentale musiek was homofonies. Kontrapunt is net af en toe gebruik.

 

Die  besyferde bas-tegniek het verdwyn en die harmonie is eenvoudig en konvensioneel aangewend. Melodie het kompakter geraak, en daar is meer van kontraste in hardheid en sagtheid gebruik gemaak.

 

Haydn, Mozart en Beethoven was die Klassieke meesters. Christoph W. Gluck was bekend vir operas en operahervormings. Die simfonieë van Franz Schubert, en tot ’n sekere hoogte dié van Beethoven, het die einde van Klassisisme en die begin van Romantisisme aangedui.

 

 Ludwig van Beethoven: manuskripskets

BO: Ludwig van Beethoven se manuskripskets vir Klaviersonate No. 28, Beweging IV, Geschwind, doch nicht zu sehr und mit Entschlossenheit (Allegro), in sy eie handskrif. Die stuk is in 1816 voltooi.

 

Krediet: Wikipedia, kopiereg het verval weens ouderdom, “in the public domain”

 

8. Romantiese tydperk (1820-1900)

 

STAATKUNDIGE en maatskaplike praktyke van die agttiende eeu is deur die Franse Revolusie en Industriële Omwenteling omvergewerp. Musiek het die opkomende vryheid van die gewone mense weerspieël. Komponiste wat hulle teen die Klassieke beheerstheid verset het, het groter vryheid en meer individuele seggingskrag nagejaag.

 

In hul poging om musiek met poësie en drama te verenig, het die Romantiese komponiste hulle tot programmusiek gewend. In die moderne idioom dink die oningewyde seker aan programmusiek as iets wat hy of sy tydens radio- of TV-uitsendings sal hoor, maar in die musiektaal is dit natuurliks iets heeltemal anders! Die woordeboek omskryf dit dan ook as musiek wat stemminge en indrukke met allerhande hulpmiddele noukeurig probeer weergee.

 

Die Hongaarse Franz Liszt het die belangrikste vorm van programmusiek ontwikkel—die simfoniese gedig. Romantisisme word ook gekenmerk deur die begin van ’n belangstelling in volksmusiek. Die Romantiese komponiste het geweldig baie skeppinge nagelaat. Baie van die musiek wat agterna op die konsert- en operaverhoog gehoor sou word, is van hierdie tydperk.

 

Die einde van die negentiende eeu het ’n reaksie teen Romantiese musiek meegebring. Die Impressionisme van die Franse komponis Claude Debussy het die nuwe musiek van die twintigste eeu ingelui.

 

9. Moderne musiek

 

IN DIE eerste dekades van die twintigste eeu het komponiste vrylik geëksperimenteer en met nuwe beskouings van ritme, melodie en harmonie vorendag gekom. Nuwe akkoorde en toonlere is gebruik. Arnold Schönberg, Anton von Webern en andere het die tradisionele gebruike verontagsaam deur die gewone vaste toonsoortstelsel te laat vaar en atonale musiek te skep. Igor Stravinsky en Darius Milhaud was onder die komponiste wat tegelykertyd verskeie toonsoorte gebruik het om politonale musiek te lewer. Nog ’n proefneming was met poliritmes, die gelyktydige gebruik van verskeie ritmes.

 

Jazz het ’n sterk impak op ernstige musiek gehad. Die kontrapuntale tekstuur en sinkopasies van jazz is deur Stravinsky, Hindemith, Krenek en andere gebruik.

 

In vroeë 1920’s het die Neoklassieke beweging begin. Ferruccio Busoni en Paul Hindemith het ’n terugkeer na die vorme en objektiewe ideale van die agttiende eeu bepleit. Waar dit dikwels kontrapuntale en moderne tegnieke gekombineer het, het Neoklassieke musiek skerp dissonant en ritmies kompleks geraak.

 

Musiek is in die twintigste eeu gekenmerk deur ’n nuwe vryheid en ’n uitgebreide eksperimentering met nuwe musiekstyle en -vorme wat die aanvaarde musiekreëls van die vroeëre tydperke uitgedaag het.

 

Maar ook die ongehoorde vooruitgang in die tegnologie sou in die musiek weerspieël word. Die uitvinding van elektroniese instrumente en die sintetiseerder in die middel van die twintigste eeu het ’n omwenteling in populêre musiek teweeggebring en die ontwikkeling van nuwe musiekvorme verhaas.

 

Vinniger maniere van vervoer het sangers, musici en musikante en hul aanhangers in staat gestel om meer en verder te reis om op te tree of na die optredes te gaan luister. Danksy klankversterking kon selfs dié met minder duur kaartjies na reuse-konserte luister, terwyl die goedkoop reproduksie en uitsaai van musiek die rykes en armes byna gelyke toegang tot musiekopvoerings van hoë gehalte gebied het.

 

Op die gebied van populêre musiek is die lang lys van verskillende style ’n goeie aanduiding van hoe gevarieerd en kompleks die populêre musiektoneel geword het: alternatiewe rock, blues, country-musiek, jazz, rock & roll, progressiewe rock, punk rock,  reggae, heavy metal, soul, funk, salsa, disko, hip hop & rap, electroniese musiek, wêreldmusiek, new age-musiek...

 

Internasionaal was Elvis Presley, die mopkop-viertal van die Beatles, die groep ABBA, Frank Sinatra en etlike meer onder die heel bekendste sangers in die bedryf.  ’n Uitstekende internasionaal bekende komponis van moderne musiek in die musiekspel-idioom is Andrew Lloyd Webber van Engeland, wie se werke gekenmerk word deur onvergeetlike melodieë en invloede van klassieke musiek en rock & roll. In die baie kort Afrikaanse musiekgeskiedenis sou ernstige komponiste soos S. le Roux Marais en ’n aantal ander, en populêre liedjiemakers soos Danie Bosman, Nico Carstens en Anton Goosen kon figureer. 

 

Maar dit is vrywel onmoontlik om binne die bestek van een onderafdeling van ’n artikel soos hierdie reg te laat geskied aan musiekgeskiedenis van die afgelope eeu of wat. Daarvoor sou ’n mens, om dit sag te stel, minstens nog drieduisend woorde nodig hê—indien nie baie, baie meer nie!


Hoofbronne:

New Standard Encyclopedia

Kennis-ensiklopedie

Die oupa van die klavier...

DIE klavesimbel is die ware oupa van die klavier en daar is opmerklike ooreenkomste tussen hierdie twee musiekinstrumente. Albei soorte is natuurlik snaarinstrumente met ’n stel klawers wat klanke uit die snare voorbring.

Maar anders as by klaviere, waarin hamers op die snare slaan, word die snare in klavesimbels letterlik getokkel. Daardeur word ’n kenmerkende klank geskep, wat nogal met dié van ’n getokkelde viool vergelyk kan word.

Die klavesimbel het uiters gewild geword nadat dit in die veertiende eeu uitgevind was tot met die popularisering van die klavier. Selfs daarna het verskillende komponiste nog spesifiek vir die klavesimbel gekomponeer.

•  As jy wil weet hoe ’n klavesimbel naastenby klink, klik regs op hierdie skakel om ’n “wav” daarvan af te laai. Dan klik jy links op "Save Target As..." in die tuimelkassie wat sal verskyn. Bêre vervolgens die item op jou “desktop” of in enige bêrekoevert (“folder“) van jou keuse.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad