Hoe die ou Egiptenare hul dooies in styl begrawe het—en waarom


Lewende oë van die farao se mummie...

Seti I se mummie (met bewegende oë)

PiramideDie vervalle oë van die mummie van die farao gaan oop en ver­hel­der... hy knip-knip hulle en bekyk die węreld om hom ná sy heront­waking. Hierdie herontwa­king is wat die antieke Egiptenare geglo het met hul dooies sou gebeur. Dit sou egter net plaasvind indien ’n afgestorwene se siels­bewussyn een­dag in die herinamaals daarin sou kon slaag om hom met sy dooie liggaam te herenig. Daarom moes die liggaam ná die dood bewaar — gemummifiseer — word, sodat dit vir die siel herken­baar sou wees wanneer die siel na die liggaam sou kom soek. 

Maar dis natuurlik slegs danksy die moderne rekenaar­tegnologie dat ons die mummie van die farao Seti I hierbo weer “lewe” laat kry het. Seti I het nagenoeg 3200 jaar gelede tydens die negentiende dinastie in Ou Egipte gere­gereer en was blykbaar jonger as veertig jaar oud toe hy onverwags dood is. Die mummie van Seti I het besonder goed bewaar gebly, soos ook geblyk het toe die windsels om die kop in die 1800’s afgehaal is nadat sy grafkelder herontdek was. Die foto ONDER toon hoe die mummiekop ręrig gelyk het toe dit in 1889 deur die Duitse Egiptoloog Emil Brugsch (1842-1930) gefotografeer is.

Seti I se mummie

Foto: Histories Openbare Besit / “Public Domain Old”

Lees ook op die Mieliestronk-werf:
•  Mummies van oral—oor die mummies van verskillende węrelddele

•  Egipte—die verrysing van die godkonings
•  Die daaglikse lewe in Ou Egipte
•  Langs die Nyl van die farao’s

H

UMORISTIES. Spannend. Skrikwekkend. Hoeveel rolprente oor antieke Egiptiese mummies wat in ons tyd weer lewend word, het nie oor die jare heen uit Hollywood se fliekfabriek gekom nie. Vir ons is die bekendstes ongetwyfeld The Mummy en The Mummy Returns, albei met Suid-Afrika se eie Arnold Vosloo in die titelrol.

Die mens, ewig op soek na opwinding, het nou maar eenmaal ’n behoefte aan grilprente wat hom byna tot ’n paniese histerie kan skok. Net om agterna lekker te lag omdat hy so lekker geskrik het.

Maar vir die ou Egiptenare langs die Nyl, die bekendste mummifiseerders in die geskiedenis van die mens, was hul praktyk om die lyke van hul dooies te bewaar allesbehalwe lagwekkend. Trouens, dit was met die grootste gewyde erns en sorgsaamheid dat hulle die stoflike oorskotte van hul oorledenes gebalsem, in stroke linne toegedraai en in styl in grafkelders ter ruste gelę het.

Vir eendag—het hulle geglo—wanneer siel en liggaam weer bymekaar sou kon uitkom om weer een te word in die hiernamaals.

Dit was naamlik hul geloof dat die liggaam ná die dood bewaar moes word sodat die siel dit sou herken wanneer dié dit in die toekoms sou kom soek om daarmee herenig te word.

Die ou Egiptenare het in der waarheid geglo dat elke mens verskeie geestelike vorms het, waarvan die belangrikste die Ka en die Ba was. Die Ka was die essensiële energie van die lewe, wat soos elke lewende ding kos en drank moes hę. Dié het die Egiptenare verskaf deur offerande of afbeeldings van kos wat hulle in die grafkelder geplaas het.

’n Mens se karakter en vermoë om rond te beweeg, is sy Ba genoem. Die Ba was iets soos ons begrip van ’n gees of ’n siel, en is gewoonlik as ’n voël voorgestel. Om vir ewig te lewe, moes die mens se Ba en Ka in die grafhelder met die mummie herenig word. Sodra dit gebeur het, sou die mummie ’n onsterflike (of Akh) word.

 

’n Mummie in die Vatikaan

BO: ’n Mummie wat in die Vatikaan (die Rooms-Katolieke stad-staatjie binne-in die Italiaanse hoofstad Rome) bewaar word.

Detail van ’n foto deur © Joshua Sherurcij,
wat vrye gebruik vergun, insluitend kommersieel, op voorwaarde dat hy behoorlik erken word

 

Muurskildering in ’n grafkelder van Anubis wat ’n mummie versorgREGS: Anubis was die ou Egiptiese god wat met mummifisering en begrafnisrituele verbind is. Op hierdie muurskildering in ’n grafkelder versorg Anubis ’n mummie.

 

 


Die kuns van mummifisering in ou Egipte
 

DIE ou Egiptenare het aanvanklik hul dooies sommerso in klein putte in die woestynsand begrawe. (Egipte is ’n woestynland, met die Nylrivier wat soos ’n lewensaar daardeur sny.)

 

Die warm en kurkdroë sand het die lyke vinnig laat ontwater en hulle in natuurlike “mummies” verander wat baie lewensgetrou gelyk het.


Mettertyd het die ou Egiptenare hul dooies in doodkiste begin begrawe om te keer dat die woestyn se wilde diere die liggame van die hul gestorwe geliefdes opvreet. Hulle het egter besef dat die lyke in die doodkiste verword en ontbind het omdat die oorskot nie meer aan die warm, droë woestynsand blootgestel was nie.

 

Oor baie eeue heen het die Egiptenare van ouds toe ’n metode ontwikkel om lyke só te bewaar dat hulle steeds lewensgetrou sou bly lyk. Hierdie metode het tot ’n hoogs verfynde kuns ontwikkel. Die proses het behels dat die dooie liggame gebalsem en in stroke linne toegedraai word, en dit staan vandag bekend as mummifisering.
 

Die kennis dat ’n lyk met warm sand gedroog kon word om te keer dat dit verrot, het tot ’n drogingsmetode met natron gelei. Natron is ’n natuurlike sout. Daar is besef dat dit ’n lyk buigbaarder maak en lewendiger laat lyk as wanneer dit met warm sand gedroog word.

Natron absorbeer nie net water nie, maar los ook liggaamsvette op en is boonop ’n ligte ontsmettingsmiddel wat vernietigende bakterieë doodmaak.

Balseming het tradisioneel sewentig dae geduur, waarvan veertig dae bestee is aan die droging van die lyk. Maar eers moes al die lewensbelangrike organe, wat die vinnigste ontbind, verwyder word. Net die hart is agtergelaat, wat die mummie nodig sou hę ten tyde van die oordeel in die hiernamaals.

Die lyk is hierna met palmwyn en speserye gewas en met natron bedek. Later is gesmelte (vloeibare) boomgom oor lyke gegiet om dit behoue te laat bly. Om te keer dat die vel kraak, is dit met ’n mengsel van sederolie, was, natron en gom ingevryf. Dan is die lyk met stopsels linne, sand en selfs saagsels opgestop om dit vorm te gee. Hierna is honderde meters linne gebruik om dit versigtig toe te draai, onderwyl die linne voortdurend met vloeibare gom bestryk is wat die windsels aanmekaar laat kleef het.

Sowat vyftien dae is vir die toedraai opsygesit, en deur die hele proses was daar baie rituele en gebede.

 

Gebalsem en in stroke linne toegedraai...

BO: ’n Voorstelling van die proses van mummifisering. Die gestorwene se oorskot word gebalsem en in stroke linne toegedraai.

Krediet: Biblepicturegallery.com (free pic)



Dodemaskers is ook gebruik, nie net om die gesig van die mummie te beskerm nie, maar dit kon ook as ’n plaasvervangende kop dien as die mummie se regte kop verlore sou gaan of beskadig sou raak. Sou die dooie se siel dan na die grafkelder terugkeer, kon hy die mummie aan sy masker uitken.

Een van die beroemdste kunswerke ter węreld is die treffende goudmasker wat op die seun-farao Toetankamen se mummie gevind is. Dit is moontlik dat al die dodemaskers van die farao’s van soliede goud was, dikwels verder met edelstene versier. Die gebruik van goud het verband gehou met die geloof dat die songod, met wie die mummie gehoop het om verenig te word, se vlees van suiwer goud was.

 

Die beroemde dodemasker van die jong farao ToetankamenLINKS: Die beroemde dodemasker van die jong farao Toetankamen (1341 v.C. – 1323 v.C.), wat slegs nege jaar oud was toe hy farao geword het en sowat tien jaar lank geregeer het. Besluite in sy regeertyd is na alle waarskynlikheid deur raadgewers namens hom geneem. Die ontdekking in 1922 van Toetankamen se ongeskonde grafkelder het węreldwye belangstelling gewek en die belangstelling in Ou Egipte opnuut laat opvlam. Navorsers stry steeds oor presies hoe die seun-farao dood is, maar in 2005 het ’n span Egiptiese geleerdes tot die slotsom gekom dat hy oorlede is weens gangreen nadat hy sy been gebreek het.

 

Foto: © Jon Bodsworth,
wat vrye gebruik vergun, insluitend kommersieel, op voorwaarde dat hy behoorlik erken word



Minder belangrike mummies het karton-agtige maskers opgehad, gemaak van ’n soort papierdeeg van linne of afval-papirus wat met pleister of gom aanmekaar gelym is. Die nat karton is gevorm om die mummie te pas. Sodra dit verhard het, kon dit verguld (met bladgoud bedek) of met ryk kleure geverf word.

Nadat ’n ou Egiptenaar se lyk gebalsem en in linne toegedraai was, is dit in ’n mummie-kis geplaas, wat nie net die mummie teen wilde diere en grafrowers beskerm het nie, maar ook beskou is as ’n surrogaat-liggaam en ’n huis vir die oorledene se siel. Mummie-kiste lyk nie treurig of neerdrukkend nie en is met helder, vreugdevolle kleure versier. Dis omdat die Egiptenare vas geglo het dat die oorledene na ’n beter węreld verhuis het.

 

Doodkis van ’n amptenaar uit die Egiptiese Middel-KoninkrykREGS: ’n Doodkis van ’n amptenaar uit die Egiptiese Middel-Koninkryk (by benadering tussen 2040 v.C. en 1640 v.C.)
 


Ná die kisting is die dooie in ’n grafkelder neergesit—miskien saam met sy of haar pantoffels, grimering, ’n brood, ’n pragtige stoel, gunsteling-oorringe. Die mummie moes goed voorberei word om die lewe in die hiernamaals te geniet. Party mummies het die gereedskap van die werk wat hulle gedoen het, of die simbole van hul rang, saam graf toe geneem. Toetankamen is saam met sy kinderspeelgoed gevind.

Só was dit juis die ou Egiptenare se ywer om hul afgestorwenes se stoflike oorskot en besittings te bewaar, wat die węreld gehelp het om die lewenswyse in die Egipte van destyds te herontdek—en met behulp van die moderne wetenskap se x-strale en dinge kan daardie tydelose liggame ons nog selfs verstommender dinge omtrent die lewe en dood in die antieke land vertel.

Hoe anders sou ons byvoorbeeld geweet het dat ’n farao soos Ramses II erg moet gely het weens absesse in sy kakebeen en artritis in die heupe in sy later jare? Die moderne mens het inderdaad in ’n sekere sin die grieselige mummies van ouds weer “lewend” gemaak.

 

Kop van die mummie van die farao Ramses IIREGS: Die kop van die mummie van die farao Ramses II, met die linnedoeke verwyder, in 1889 afgeneem deur die Duitse Egiptoloog Emil Brugsch. Ramses II (of Ramesses II) was die seun van Seti I, waarvan die mummie bo-aan hierdie artikel afgebeeld is. (Op ’n stuitiger noot: Seti I was die pappie van hierdie mummie!)

Die Vallei van die Goue Mummies

’n Goue mummie van BahariyaREGS: ’n Goue mummie van Bahariya.

Foto uit die webblad The Oases of the Desert op die webwerf “Uncovering Egypt” van UncommonEgyptTour.com

 

SOWAT 225 km van die westelike oewer van die Nyl, in 'n groen oase wat Bahariya genoem word en ’n kort entjie per kameel van die stad Bawiti, lę ’n betreklik nuut ontdekte dodeakker uit Ou Egipte wat beroemd geword het as die “Vallei van die Goue Mummies”.

Daar word vertel dat ’n donkie in 1995 besig was om die woestyn oor te steek toe sy poot in ’n gat in die grond beland. Die donkie se baas het in die grond gewoel om die dier te bevry, maar toe net ’n groter holte ontbloot. Die nuuskierige man het dieper gegrawe en hom skielik van aangesig tot aangesig bevind met ’n mummie wat na hom toe terugstaar.

Daarna sou hy ’n onderwęreld binnegegaan het wat ’n Hollywoodse stelbouer nie maklik sou kon oortref nie—en die slaap begin versteur het van moontlik tot 10 000 mummies wat reeds baie lank hier begrawe lę. In elk van die grafkelders wat die argeoloë begin oopmaak het, is gemummifiseerde lyke gevind, uit die Romeinse tyd in die Egiptiese geskiedenis.  (Sowat 250 mummies is oor verskeie seisoene hier uitgegrawe, maar volgens die hoof van die opgrawers, dr. Zahi Hawass, is daar baie meer—selfs meer as 10 000.)

Party skitter nog soos hulle met ’n dun lagie goud oorgetrek is, maar dié van ’n laer stand lę in groepe van vyf in eenvoudige gate in die rots ingeryg. Boonop kleef die geursel steeds aan hulle van die duur bestanddele waarmee hulle behandel is op die dag toe hulle ter ruste gelę is—enige tyd van 300 v.C. tot 300 n.C.

’n Mummie uit Peru

 

’n Mummie uit Peru

BO: Soos ook elders op die Mieliestronk-werf vertel word, was die mummifisering van menselyke nie net tot Ou Egipte beperk nie—al was dit dikwels die gevolg van ’n koue of kurkdroë klimaat eerder as ’n doelbewuste preser­veringsproses. Op hierdie foto is ’n mummie van Peru wat in die Carmo-klooster (tans ’n argeologiese museum) in Lissabon, Portugal, bewaar word. Party van die bes bewaarde mummies in Suid-Amerika dateer uit die tyd van die Inkas in Peru en Chili, sowat vyfhonderd jaar gelede. Kinders is destyds ritueel geoffer en op bergkruine in die Andesgebergte gelaat.

Gewysigde weergawe van ’n foto deur Emmanuelm
by hierdie skakel in die Wikipedia-ensiklopedie op die węreldwye web, waar dit gelisensieer is ingevolge die Creative Commons Attribution 3.0-lisensie

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad