Mummie vermoedelik van Suid-Amerika Pop-agtige gesiggie van lank gestorwe Eskimo-kind

Die grillige, maar soms selfs deerniswekkende oorblyfsels van mense van lank, lank gelede... wat dalk juis in hul dood beroemd geraak het...

IN DIE suur moerasse van Noord-Europa kon die lyke nie ontbind nie, ook nie in die sneeu van die Alpe, die ys van die Noordpoolsirkel of intensief gebalsem aan die snikwarm oewers van die Nyl nie.
 

En baie jare of selfs millenniums later is die dooie liggame weer op die verskillende plekke opgespoor—om vandag in ons gesofistikeerde museums ’n laaste rusplek te vind. Hier lê hulle in hul nuwe, tegnologies gevorderde koelkaste, wat hulle voortaan verder teen enige bederf moet beskerm.

Intussen skuifel nuuskierige mense—party dalk hul eie nasate, wie weet?—in lang toue by hulle verby. Die museumgangers kyk met belangstelling en ontsag, maar ook selfs met ongeërgdheid na die eeue-oue kadawers.

Want dit bly vir baie van die kykers moeilik om aan hierdie reste as lyke te dink. Dis eerder vir hulle blote kuriositeite. Hierdie liggame het immers so lank gelede reeds hul laaste asem uitgeblaas dat ’n mens jou skaars kan voorstel dat hulle ook eenmaal soos jy asemgehaal het.

Totdat ’n museumgids jou miskien uit jou gevoelloosheid skok—deur in grafiese besonderhede te vertel hoe die mummie voor jou moontlik aan sy einde gekom het...

Pop-agtige gesiggie van lank gestorwe Eskimo-kind


Die Eskimo-baba uit die vyftiende eeu

REGS: Warmpies geklee vir sy tog na die hiernamaals is hierdie oorskot van ’n Eskimo-babaseuntjie, wat in 1972 by ’n ruwe krans in Groenland gevind is. Nog sewe kadawers is by die pop-agtige lykie van die ses maande oue kind gekry. Almal is na berekening omstreeks in die laaste kwart van die 1400’s dood—en hul gevriesdroogde liggame het verstommend onder ’n oorhangende krans behoue gebly.


Uit Ou Egipte... die wêreld se beroemdste mummies

Vir die ou Egiptenare was mummifisering sowel ’n intrinsieke deel van hul godsdiens as ’n diep gewortelde kuns. Aanvanklik is lyke deur die droë woestynklimaat ontwater en in mummies verander (foto ONDER), maar later het die natuurverskynsel in ’n kulturele religie verander. Die dooie liggaam moes nougeset gebalsem word, want—só het hulle geglo—die oorledene se geGebalsemde en versorgde mummiees moes na die grafkelder terugkeer en sy liggaam herken voordat hy vir ewig kon lewe (LINKS). As hierdie antieke Egiptenare egter kon geweet het hoe hul preserverings eeue later onteer sou word, sou hulle seker die ergste vloeke oor die heiligskenders uitgespreek het. In die negentiende eeu is baie mummie-koppe naamlik deur reisigers in Egipte opgekoop, waarna dit deur Europeërs gekoop is om in hul huise uit te stal.

Mummie van die dorre woestyn

Mummie van die Engelse matroos John Torrington
Slagoffer van ’n rampspoedige ekspedisie

REGS: Steeds  duidelik herkenbaar mens, al is hy anderhalwe eeu gelede reeds oorlede: die mummie van die Engelse matroos John Torrington.
Hy was nagenoeg in die helfte van die 1800’s lid van ’n rampspoedige ekspedisie wat die Noordwestelike Deurvaart probeer vind het, maar waarvan al die lede omgekom het. (Die Noordwestelike Deurvaart is ’n seeroete bolangs om Noord-Amerika.) Torrington en nog twee ekspedisielede se merkwaardig behoue mummies is in 1984 deur wetenskaplikes in die koue noorde van Kanada gevind
.

Mini-mummies

 

Gekrimp in die dood...

Die krimp van koppe was al erg genoeg—die grieselige gebruik van inboorlinge in die digte woude van Suid-Amerika om hul dooGekrimpte kopie slagoffers te onthoof, die kopvel van die skedels af te stroop en dit te bewerk totdat dit so klein soos ’n lemoen geword het. Die gekrimpte kop is dan deur die oorwinnaar as ’n trofee  beskou (foto REGS). Maar ’n raps erger moet seker die grilverhaal wees van die wêreld se enigste volledige mini-mummies (foto LINKS). Waar hulle vandaan gekom het, is nie seker nie en wat van hulle geword het ook nie, maar in die Museum van die Amerikaanse Indiaan in New York is nog slegs die foto-negatiewe oor van twee volledige dooie mense wat glo jare gelede deur nugter-weet-wie op die Indiaanse manier gekrimp en in die museum uitgestal is. Hulle het as die Spaanse Militêre Offisier en die Baster bekend gestaan, eersgenoemde blykbaar ’n Westerling, terwyl die ander een ’n Afro-haarstyl gehad het.


 Die sonderlinge vonds van Ötzi die Ysman

ÖtziREGS: Die wêreldberoemde Ötzi die Ysman, wat in September 1991 deur twee stappers in die Alpe gevind is. Hy is sowat 5 200 jaar gelede dood toe hy tussen veertig en vyftig jaar oud was en terwyl hy aan verskillende kwale gely het. Hy het per ongeluk (en feitlik onmiddellik) ’n mummie geword weens vrieskoue toestande wat hom in die Ysman verander het. Hy is reeds uiters intensief bestudeer, maar ongelukkig was nie al die navorsing tot dusver werklik nuttig nie. Die wetenskaplikes het eers gereken dat hy deur ’n sneeustorm oorval is, aan die slaap geraak en weens bevriesing gesterf het. Jare lank is weer vertel dat Ötzi gebreekte ribbes gehad het, en dit het ook tot eindelose bespiegelings oor die redes vir sy dood gelei. Betreklik nuwe toetse het egter nie die gebreekte ribbes bevestig nie. Dit het nietemin geblyk dat daar ’n noodlottige pylpunt van vuurklip in sy bors vassit. Toe kon daar opnuut gegis word. Was Ötzi ’n herder wat geskiet is deur ’n ander herder wat hom beroof het om meer diere tot sy eie kudde toe te voeg?

Het Ötzi min of meer só gelyk?

Ötzi-voorstelling in ’n Franse museum

Gesny uit ’n groter foto deur Gerbil,
van die Duitse Wikipedia-projek, wat dit op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 3.0-lisensie

BO: Ötzi se kop in die voorstelling van hom in Museum Bélesta (Ariège), Frankryk, een van verskillende rekonstruksies en voorstellings wat reeds van die Ysman gemaak is. Maar die kunstenaars wat hom probeer uit­Ötzi... of nie?beeld het soos hy moontlik kon gelyk het, moet dit vanselfsprekend baie moeilik gevind het. Die bevrore mum­mie se meer as vyfduisend jaar in die ys kon immers aller­hande dinge met sy gelaatstrekke laat gebeur het. Die onderskeie beelde van hom lyk dus taamlik verskillend. Dit het iemand by Mieliestronk geïnspireer om  sy “eie” Ötzi te rekonstrueer—deur bo-op ’n foto van die Ysman te werk en sy hare, baard, oë, neus, ens. daarop “in te vul”. Ötzi het ook minder tande gekry as elders. Die betreklik kru resultaat (allermins wetenskaplik) is LANGS­AAN.


 


Die sombere kadawers in die moerasse...

 

DIE moeraslyke ("bog bodies'') word hulle genoem—honderde kadawers wat reeds in die swart turf van ou moerasse in Noordwes-Europa gevind is. Party is weliswaar in stukke of blote geraamtes, maar daar is ander wat besonder goed behoue gebly het.

Hierdie dooie liggame het oor ’n lang tyd in die suur moerasse beland, maar die meeste dateer van die laaste eeue voor Christus se geboorte en die eerste aantal eeue daarna. Dis juis die suur van plant-reste en die suurstofloosheid in die moerasse wat die ontbinding van die lyke teengewerk het.

Hoe hulle daar beland het, is nie altyd duidelik nie. Party het heel waarskynlik per ongeluk in die moerasse beland en toe ’n aaklige dood gesterf. Ander was moontlik offerandes vir gode. Dit kon selfs ’n groot eer gewees het om jou einde op dié manier te vind.

In sekere gevalle is daar egter tekens van uiterse geweld wat op teregstelling of moord dui. Sulke kadawers is dié van die Grauballe-man en die Tollund-man van Denemarke, en die Lindow-man wat in Cheshire, Engeland, gevind is . . .
 

Die Tollund-manREGS: Sy gesig lyk asof hy rustig slaap, maar hy is aan die leerriem om sy nek opgehang. Hier is moontlik die beroemdste moeraslyk wat nog ooit opgespoor is—die Tollund-man (derde eeu v.C.), wat in 1950 uit ’n moeras in Denemarke gehaal is. Hy was 1,6 meter lank en sowat dertig tot veertig jaar oud toe hy dood is. Hy was naak, behoudens ’n leerhoed en gordel. Moeraslyke is al dikwels naak gevind, hoewel sommige van hulle mantels of skouermantels oor of naby hulle gehad het. ’n Studie van die Tollund-man se ingewande het getoon waaruit sy laaste maaltyd bestaan het: ’n pap van gort en talle wilde sade wat in die winter of vroeë lente beskikbaar sou gewees het. Die INLAS-TEKENING  is hoe ’n kunstenaar reken die Tollund-man kon gelyk het.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad